Uit Kommando - Van Perde en Manne
deur Deneys Reitz
“Die avonture van hierdie handjievol onverskrokke manne, aangevoer deur generaal Smuts, vorm een van die interessantste episodes in die hele verloop van die guerrilla oorlog.” – The Times History, v, 302.
Die plek waar ons generaal Smuts en sy kommando ontmoet het, was binne sig van die klein dorpie Zastron wat omtrent vyftien myl van die Oranjerivier af is. Sy voorneme was om gedurende die dag nader te beweeg en dan in die donkerte van die nag die rivier oor te steek. Teen die middag het ons begin beweeg en omtrent vyfuur die aand kon ons ’n donker streep voor ons sien. Dit was die kloof en op die bodem daarvan, tussen hoë rotskranse, het die rivier gevloei.
Ongelukkig was dit nie al wat ons gesien het nie. Aan ons kant van die canjon, vir myle aaneen na beide kante toe, was daar ’n kordon van Britse troepe. Hulle is daar gestasioneerd om enige deurgang te verhoed. Waar daar ook al ’n voetpaadjie was wat onder na die rivier toe gelei het, het daar tentkampe gestaan. Die area tussen die kampe is gepatrolleer deur berede soldate wat klaarblyklik geweet het van ons koms.
Toe generaal Smuts dit gesien het, het hy ons teruggelei na ’n reeks koppies waar ons tot die volgende dag gewag het. Intussen is manne uitgestuur na buiteposte in daardie omgewing op soek na verkenners wat vir ons as gidse kon dien.
Teen skemering daardie aand het ’n jong offisier, Louis Wessels, daar aangekom met vyftig manskappe. Dit was ’n geharde span wat alreeds vir meer as ’n jaar saam met hom bedrywig was.
Hy het vir ons vertel dat die Engelse kolonne besig was om van agter nader te beweeg. As ons nie daardie nag daarin slaag om oor die rivier te kom nie, sou ons vasgekeer wees. Hy het verder bygevoeg dat die rivier orals moeilik gaan wees as gevolg van die diepte van die kloof en die loodregte kranse. Maar hy het ’n veteraan van die Basoeto-oorloë saam met hom gebring wat geweet het van ’n paadjie wat moontlik gebruik sou kon word.
Generaal Smuts het besluit om dadelik die taak aan te pak. In die naderende donkerte het ons saam met Wessels en sy manskappe verder gery. Hulle het toegestem om saam met ons die Kolonie binne te gaan. Vir ure aaneen het ons oor ongelyke terrein beweeg en toe teen ongeveer drie-uur die oggend, het ons ’n wit glinstering daar ver onder opgemerk – daar waar die Oranjerivier gekook en gekolk het in sy nou kanaal. Dit was nog steeds pikdonker toe ons die kant van die rivier bereik het, ná ons die laaste steil afdraande waarheen ons gids ons gebring het, aangedurf het. Gewis het geen ander berede mag voorheen daar deurgegaan nie. Op ’n streep het ons begin om die rivier oor te steek. Dit was ’n sterk, onstuimige stortvloed van water – nie breed nie, maar so vinnig-vloeiend dat ons perde skaars hulle balans kon behou. Toe die oggendstond die kranse verhelder, was die laaste man deur, en ek het ten einde laaste in die Kaapkolonie gestaan.
Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt
Dis nou die tyd vir waterblommetjies.
My oorlede tannie Trifosa het my altyd vertel dat die eintlike waterblommetjie-oes in die lente moet wees. Haar grootjie het haar vertel dat in die ou Kompanjiesdae die Hantam-volk gekom het om die regte waterblommetjie-uintjies uit te grawe. Maar dit doen ons nie meer vandag nie. Ons eet net die boonste deel, die blomme. Wat sy vertel het, is ook waar: Thunberg [’n Sweedse botanis, 1943-1828], wat glo ’n soort smous hier rond was [Thunberg het tussen 1772 en 1775 in die Kaap gebly en het 3 000 plantsoorte versamel, waarvan 1 000 nuut was tot die botanie], vertel dat die skepsels dit ook in sy tyd gedoen het, en dat die waterblommetjies die bolle en nie die blomme is nie. Maar die enigste keer wat ons dit probeer opgrawe het, kon ons net potklei en ’n dooie water-muishond vind.
Dus beperk ons die waterblommetjies vandag tot die blomme en die stengels. En selfs daarvan kan ons ’n lekker bredie maak. Dis jammer genoeg dat die goed nou so skaars is. Vroeër was dit moontlik om op die Parade of by elke straathoek ’n klonkie te kry met ’n halfdosyn kooksels, vir trippens die kooksel. Nou moet jy wrintig tot twee sjielings vir ’n kooksel betaal en dan nog dankiebly wees as jy dit kry. Voorverlede week het ek die vlei vol gesien van die blommetjies, maar was daar ’n klonkie te kry wat wou instap om die goed te gaan pluk? Nie een nie. Ek moes self broek oprol, en natuurlik, die eerste ding waarop ek trap, was ’n oorblyfsel van ’n jeropeikbottel waarvan ek nog hink. Maar ons het darem teruggekom met drie, vier kooksels.
Die geheim van ’n goeie waterblommetjieskottel – soos dan ook die geheim van elke loofgroentegereg – is die huwelik van die groen – in hierdie geval wit – groente met vet. Die fondament van elke bredie behoort te wees ’n paar stukkies goeie vet skaapribbetjie, deeglik gesmoor, òf in sy eie vet òf met behulp van ’n bietjie netvet. Tant Trifosa het my eenmaal gewys hoe sy beesmurg gebruik vir haar bredie, maar ek is nie daarvan oortuig dat murgvet so ’n loofbredie smaakliker maak nie. Ek dink die besondere lekker smaak wat tant Trifosa s’n gehad het – en ek gee toe dat niemand ’n beter bredie as sy kon kook nie – te danke was aan die plukseltjie roosmaryn wat sy altyd bygevoeg het.
Smoor die vleis dus goed. Werklik smoor, nie braai nie. Stadig en versigtig, want soos die Suinige Keukenmeid sê: “Dat goed schijnt zeer lightelijck aan te branden en vereijscht dus met voorzicht gehanteerdt te worden”.
Was intussen die waterblommetjies – neem net die blomme en blomblare en die jongste, sagste stengels – in soutwater; droog af, en sit dit op die vuurherd in ’n ysterpot met genoeg water om dit te bedek. Laat dit opkook. Die water trek die bruin, bitter sap uit die stengels, en sodra die water rooibruin is, moet die pot afgehaal word. Gooi deur ’n vergiettesen en gooi die rooi water weg (oorlede tannie Trifosa was eerlik oortuig daarvan dat dit haar jakobregoppe ’n veel beter kleur gegee het). Voeg nou die waterblommetjies by die gesmoorde vleis, en sit ’n klont vet by. Voeg na smaak by ’n lourier- of suurlemoenblaar of ’n plukseltjie van watter ander kruie jy verkies. Ek het reeds al opgemerk dat my ou tannie bra gesteld was op roosmaryn, en dit is die moeite werd om dit te probeer. Sit die deksel op en laat goed smoor, twintig minute lank; skud gereeld en sorg dat dit nie brand nie.
Neem nou twee, drie hande vol suringblare – die geel suring wat in die wingerd groei is die beste. As jy tuinsuring gebruik, sny die dik stengel eers weg en kerf die blare goed. Gooi kokende water op en droog weer goed af. Met die wilde suring, wat veel sagter is, hoef jy nie eens die blare op te kerf nie. Druk dit net goed uit in water om die blare te kneus. Voeg dit dan by die bredie en laat weer smoor. Roer goed sodat die groente mooi in die vet smoor, en deur en deur daarmee geolie word. Sorg dat die hitte van die vuur nie te sterk is nie, anders verloor die bredie sy groen kleur.
Eindelik die speserye: sout na smaak, ’n stukkie groengemmer, ’n flentertjie groenrissie, ’n vingerhoedjievol fyn witpeper. Skep op en bedien met pap rys.
Wat om daarby te drink? ’n Goeie wit wyn, goed afgekoel en nie alte droog nie. ’n Riesling-soort as dit te kry is of anders ’n Sauvignon. Altwee akkordeer eersteklas met die fyn smaak van die waterblommetjieblare, waarmee die vleis dan ook deurtrek is.
24 September 1943
deur Herman Charles Bosman
Al langs die Kaapse strande het ek duisende en nogmaals duisende van hierdie middelmatige skilderye gesien, en hulle was ’n eindelose bron van ellende vir my. Al wat hulle nodig gehad het, was rame. En daarna het dit vir my so geword dat ’n klomp van die skilderstukke werklik rame omgehad het, en sommige van die rame het selfs klein rooi strokies op hulle gehad. En eendag toe ek verby ’n hele klomp van die beplakte goed geloop het, het ek agtergekom dat ek onbewustelik my hand in my sak gesteek het om die katalogus te kry. Toe het ek geweet dat ek nooit weer langs enige deel van die Kaapse Skiereilandse kusfront moet gaan wandel nie.
Maar dis anders om ’n paar myl buitekant Johannesburg op ’n bus of plaaslorrie op die paaie van die Transvaalse hoëveld voort te snel in die doudeurweekte lig van die nuwe dag voor die son uit is. Hierdie is geheel en al ’n ander soort van werk. Een van die dinge is dat dit baie vlugtige waterverfstrepe met ’n volle kwas is – dikwels sommer op enige wyse neergewerp op deurweekte papier, asemloos meesterlik, met die uitnemende agterlosigheid van oortuiging. En dis alles vroeë impressionisme, voor die impressioniste wiskundiges geword het. En net buitekant die Johannesburgse munisipale area is daar ’n manjifieke voorbeeld van byna-fauvisme, ’n buitengewone stukkie werk, ’n opwindende vlek van donker bome met silwer lig wat deur hulle breek, teen ’n agtergrond van verdoeselde heuwels en aardse lug.
Daar is ook ’n interessante skilderstuk, hoër op langs die Muldersdrifpad, met rye bome en ’n paar plaashuise versigtig uitgelê in ooreenstemming met ’n ingewikkelde stelsel van dalende vlakke. Maar terwyl ek die vernuftigheid van die skilwerdoek kan bewonder, lok dit my nie sterk, direk en emosioneel nie. Daarin kan ek die begin van die trompe l’oeil van die verval van die laaste jare van die negentiende eeu aanvoel.
Die laaste deel van die vroeë impressioniste op die pad word sigbaar net op daardie oomblik dat die son opkom. Ek kan nie nou die naam van dié skilderstuk onthou nie. En ek kan ook nie die kunstenaar se handtekening uitmaak nie – dit lyk soos ’n geskrabbelde “G” met ’n paar wriemelinge wat daarop volg (wat my laat dink dat dit moontlik Gauguin mag wees voor hy na die Suidsee gegaan het); andersyds mag dit net sowel ’n “S” wees met ’n gekrap wat volg. Seurat, miskien? Ek het al baie daaroor gewonder.
Ek het die busbestuurder gevra, maar hy sê hy weet nie.
Naskrif
Dit is lente op die plaas. Die amandelbome en die appelbome, die perske en appelkoos en kersiebome, is oortrek van pienk en wit bloeisels. En ek, ’n neurotiese stadsjapie, vir wie die lentetye van die afgelope vier of vyf jaar met bestudeerde ongeërgdheid verbygegaan het – dit bring my nòg bekoring nòg ekstase nòg hartseer – beskou die jaarlikse wonder van ontluikende blomme sonder die ontwaking van herinneringe en sonder verwondering.
deur Herman Charlse Bosman
Gedurende die afgelope paar weke het ek op ’n plaas naby die Muldersdrifpad, dertien myl van die stad af, gewoon. ’n Private bus het omtrent sesuur in die oggend verby die plaas op pad stad toe, daar verbygeloop. Daardie tyd in die oggend is dit nog donker, en dis nie altyd maklik om in die ligte van die voertuie te onderskei tussen ’n bus en die plaaslorries met hulle produkte op pad mark toe nie. Gevolglik, omdat daar nie die gewone busstoppe op die roete is nie, is dit vir my nodig om die aanvaarbare arm- en duimbeweging van ’n ryloper te gebruik elke keer wat ek die kopligte sien. Soms na ek ’n lorrie gesein het, en dit gebeur dat hy stilhou, laai hy my op en ry ek saam tot by Newtown.
Die fassinering om vroeg in die môre op die plaaspaaie in die buitewyke van Johannesburg te ry, het ek nog glad nie moeg van geword nie. En ek het verskeie kere gewonder hoekom ons Suid-Afrikaanse kunstenaars nie die vroeë oggend-landskap meermaal verf nie. Wanneer die koppies en valleie in die mistigheid sweef. En die plantasies is donker massas met sagte grys lig daaragter. En die verdoeselde horisonne is toegevou in teologie. In plaas daarvan, amper sonder uitsondering, beperk hulle hulself met skilderdoeke van landskappe waar die dag in volle glorie is of met flambojante opkomende of ondergange van die son. Miskien laat hulle daardie tyd van die dag met rus – daardie tyd voor die lug rooi is – want dit is baie moeiliker om daardie gryserige kleurtoon vas te vang. Loodkleurig en assilwer getint en nutrale groen en plek-plek die kleur van ’n duif se vlerke. Dis nie sommer enigeen wat op ’n skilderdoek verskillende soorte leiagtige greiskleure kan voortbring nie, en tog nie die ding laat lyk soos ’n nagtoneel nie. Dit verg ’n ware kunstenaar om ’n landskap in vaal kleure te verf – en om dit nogtans te openbaar as ’n wêreld vol van die oggend se skoon lug.
Dis ook moeilik om daardie besonderse deel van oggend op die skilderdoek vas te lê, want dit is ’n effek wat nie vir lank daar bly nie. Binne tien minute is die lug deurtrek met rooi strepe en die towerkrag van die vroeg-oggend is daarmee heen, en wat oorbly is die ortodokse “Sonsopkoms oor die Veld”. Nog ’n rede waarom skilderye van die mistige oggend voor sonop raar in Suid-Afrikaanse kuns is, is omdat die Suid-Afrikaanse kunstenaar dit moeilik vind om so vroeg op te staan.
deur Herman Charles Bosman
Daar was kenmerke van die Marico-bosveld wat amper te bont was. Daardie gedeelte van die land was sedert die Anglo-Boereoorlog en die runderpes so te sê vervalle. Baie van die plase noord van die Dwarsberge was vir net ’n bietjie langer as tien jaar bewoon deur plaasboere wat van die Noord-Kaap en Wes-Transvaal die Marico binne getrek het. Dié plaasboere was ware Boere.
Daar word van my gesê dat ek ’n diepe insig het in die karakter van die Afrikaner wat op die platteland woon. Hierdie kennis het ek in die Marico opgedoen, waarnatoe ek gestuur was toe my gees nog die ontvanklikste vir indrukke was.
Dan was daar die bos. Doringbome. Withaak- en kameeldoringbome. Die kremetartboom. Swarthaak en blinkblaar en wag-’n-bietjie. Moepels en maroelas. Die songebakte vlaktes en die doringbome en Suid-Afrika. Bome is meer as plantegroei en meer as simbole en meer as flou sentimentaliteit. Dit nieteenstaande, wat die eikeboom en die esseboom en die sipres vir Europa is, so is die doringboom vir Suid-Afrika. En as lourier en mirt vir snoere en kranse is, so is dorings vir ’n kroon.
Die bos was bewoon deur koedoes en koeie en duikers en steenbokkies en osse en gemsbokke en donkies en af en toe luiperds. Daar was ook ribbokke in die kranse en groen en swart mambas, waaroor daar skrikaanjaende stories vertel is, en muile wat gebruik was om karre te trek, want dit was ’n ongesonde area vir perde. Oor muile is ook bloedstollende stories vertel.
Die sonsondergange in die Marico-bosveld is ongelooflike dinge, swaar gestreep soos tronktralies en flambojant soos Afrikane se komberse.
Dan was daar boorgate, honderde voete diep, waaruit water in droogtetye met die hand in beestrôe gepomp moes word. En daar was ’n Betchuana-hoofman wat eens op ’n slag in Londen was, waar hy in oudiënsie ontvang was deur Sy Majesteit George V, ’n vorige Engelse koning. En toe, onderweg van Buckingham paleis af, op ’n vraag van die Hoë Kommissaris oor watter vorm die gesprek aangeneem het, het hy, die Betchuana-hoofman, eenvoudig geantwoord: “Ons konings weet wat om te bespreek.”
Met geleenthede was daar besoeke van die Nederduitse Gereformeerde predikante. En ’n paar vergaderings van die Dwarsbergse Debatsvereniging. En daar was verskeie plaaslike vetes. Want, hoewel die bos oneindig ver uitgestrek het, en die plase myle ver van mekaar af was, het ek agtergekom dat die paadjies deur die doringbome nou was.
Dit was na hierdie gedeelte van die land, die noordelike omgewing van die Marico-bosveld, waar Transvaal ophou en die Betchuanalandse grens begin, waarheen ek, na die afwesigheid van baie jare, weer vir ’n kort besoekie teruggekeer het. En ek het ontdek wat ek al lankal moes geweet het, dat dit in die huidige is waar spoke ronddwaal, en dat die verlede nie vol spoke is nie. Die spoke is dit wat jy in jou binneste ronddra, in jou kop, soos jy drome onder jou arm dra.
En wanneer jy ou tonele herbesoek, is dit jouself soos jy in die verlede was, wat jy daar ontmoet. En as jy verlief is op jouself – soos almal op hulself verlief behoort te wees, want dit is net op dáárdie manier, soos Christus aangedui het, dat ’n mens sy medemens kan liefhê – dan is daar ’n soete droefheid in ’n ontmoeting van dié aard. Daar is ’n sagte melankolie van die skemerte, donker oë in gesigte wat bleek in vervoering boontoe kyk. En geure. En gedagtes soos sagte reën op ou grafstene.
Toe ek vir die eerste keer Marico toe gegaan het, was die moepels amper ryp. En toe ek jare later weer teruggekeer het, was dit om te vind dat die moepels in die Marico weer aan die ryp word was.
deur Herman Charles Bosman
’n Maand gelede het ek die Marico bosveld weer besoek. Dis ’n distrik in Transvaal waarheen ek ’n lang ruk gelede as ’n onderwyser gestuur was. In die jare wat gevolg het, het ek ’n aantal eenvoudige stories oor dié deel van die land geskryf wat ek glo, na my beskeie mening, nie sonder ’n sekere mate van literêre meriete is nie.
Daardie nag op die trein op pad terug Bosveld toe, het ek langs ’n soldaat gesit wat aan my gesê het: “So gou as ek nie meer hierdie uniform hoef aan te trek nie, gaan ek weer met beeste smokkel.”
Hierdie woorde het my met opwinding vervul. ’n Klomp van my stories het juis gegaan oor die aloue Marico gebruik om beeste oor die grens van die Bechuanalandse Protektoraat te smokkel. Ek het hom dus gevra of die smokkelry steeds plaasgevind het. “Meer as ooit,” het die soldaat my vraag beantwoord. Hy het deur die treinvenster na die donkerte buite gestaar. “En ek sê vir jou, soos ek op hierdie oomblik met jou sit en gesels, is daar iemand daar buite wat beeste deur die grensdraad inbring.”
Ek was baie bly om dit te hoor. Ek was bly dat die enigste gedeeltes van my stories wat verouderd kon geraak het, dit vrygespring het. Dis net dinge wat indirek met die ekonomie te doen het, wat kan verander. Nie so met droogtes en die menslike natuur nie.
Die volgende oggend was ons in Mafeking. Mafeking val buite Transvaal. Dis omtrent twintig myl binne die grense van die Noord-Kaap. En om Ramoutsa, ’n swart dorp in die Betchuanalandse Protektoraat, te besoek, moes ons eers ’n permit van die immigrasie-amptenaar in Mafeking verkry. Ramoutsa is die naaste punt langs die spoorlyn na daardie gedeelte van die Groot Marico waarheen ons van plan was om te gaan. Dit het alles op een of ander manier heel verwarrend gelyk. Ons wou maar net van Johannesburg na ’n area in die Noordwes-Transvaal gereis het, maar om daar te kon kom, moes ons eers die Kaap-provinsie binnegaan, en van daar af moes ons deur die Betchuanalandse Protektoraat, ’n kroonkolonie, reis. En die kroonkolonie kan jy nie binnegaan nie, voordat die immigrasie-beampte nie eers Pretoria gebel het nie.
Ons het Ramoutsa laat daardie middag eers bereik.
Van daar af het ons per motor Marico toe gery. Binne ’n uur het ons die grens oorgesteek en was ons weer in Transvaal. Ons was nou uiteindelik op Transvaalse grond, en natuurlik was ons vol verlange aangesien ons sedert vroeg daardie oggend al op vreemde plekke was. Op daardie oomblik dus, toe ons die doringdraadheining wat die Betchuanalandse Protektoraat van die Marico skei, oorgesteek het, het ons die kar gestop en die veld in gestap. Ons het gesê dit was lekker om jou voete weer op Transvaalse grondgebied te sit. Ons het ook gesê hoewel dit gaaf was om deur die buiteland te reis, wat ons sedert sesuur daardie oggend gedoen het, en dat buitelandse reise ’n verbreding van die gees is, was ons bly dat dié ervarings nie na ons koppe toe gegaan het nie, en dat ons nie toegelaat het dat ons deur uitlandige lewenswyses en filosofieë beïnvloed was nie.
Ons het deur die bos gery op klipperige paadjies wat nie veel meer as spore tussen die bome onder deur die takke was nie. Die dorings het teen die voorruit en die masjienkap gekrap op dieselfde manier as jare gelede toe ek vir die eerste keer die Marico besoek het. Ek was bly om te weet dat niks verander het nie.
Met sononder was ons in die skadu van die Dwarsberge, nie te ver weg van ons bestemming af nie, en ons het op ’n plek in die veld aangekom wat ek herken het. Dit was een van die busstoppe waar die twee-weeklikse regeringslorrie van Zeerust af op sy pad na die Limpopo toe, stilgehou het. Die lorriedrywers het jare gelede al geweet dit was ’n stilhouplek, want daar was ’n groot miershoop en bo-op was daar ’n koedoehoring ingedruk. Die plek het nie verander nie. Die miershoop was nog steeds bekroon met wat gelyk het na dieselfde koedoehorings. Die stilhouplek het deur die jare tussenin nie juis opmerklik ontwikkel nie. Die enigste teken van vooruitgang was, as ’n byvoeging tot die horings bo-op die hoop, die verdere verfraaiing van ’n geroeste melkkan waarvan die bodem uitgestamp was.
En so het teruggekeer na daardie deel van die land waarheen die Transvaalse Onderwysdepartement, in wat hulle goed geag het om te doen, my jare gelede gestuur het. Ek weet van geen ander plek nie waar die atmosfeer so gelade, so vreemd en donker deurdrenk is met daardie stof wat die outentieke stempel van Suid-Afrika dra.
Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt
Ek kan my verstout om te sê dat ons beste wynbrandewyn met die allerbeste buitelandse soorte – selfs die befaamde Cognac-soorte, afkomstig uit die Charente-streek van Frankryk – kan wedywer, en daarvoor nie hoef terug te staan nie.
Daar word baie onsin uitgekraam oor “ou brandewyn”. ... In die praktyk is dit egter ondoenlik om brandewyn alte lank in die vat te laat bly; hy verasem, en ’n klein vaatjie brandewyn sal na tien jaar opgedroog wees. Dit is dus duidelik genoeg dat geen brandewyn ’n honderd jaar lank in ’n vat kan bly lê nie. Net so duidelik is dit dat ’n “Napoleon-brandewyn” van 1815 wat in ’n bottel bewaar is vandag nie beter is as wat hy destyds was nie, en ons het vandag brandewyn wat ontsaglik beter is as dié van destyds.
Die waarheid is dat stokou brandewyn byna ondrinkbaar is, omdat dit so deurtrek is met esters en vlugtige sure dat die mond en lippe verbrand. ’n Klein hoeveelheid van so ’n stokou brandewyn word gebruik om goeie, jonger soorte te sny; dit maak die jonger vogte lywiger en gee hulle ’n heerlike geur, nasmaak en olieagtigheid. Sulke byvoegsels moet egter uiters versigtig gebruik word; die “sny” van brandewyn is ’n saak vir die kundige kenner en dit is dus uitsluitend die werk van deskundiges verbonde aan die groot firmas.
Vir die gewone liefhebber is ’n goeie wynbrandewyn, so binne tien en twaalf jaar oud, net so lekker en smaaklik as ’n veel duurder soort wat met ’n stokou vog gesny is, hetsy dit ingevoer of inheems is. Ons het nou baie sulke goeie brandewynsoorte in die handel, en jy kan dit van enige wynhandelaar kry. Probeer die verskillende soorte. Gooi van elkeen ’n paar druppels in ’n droë wynkelkie – dit is glad nie nodig om ’n groot “brandewynbokaal” te gebruik nie – en keur elkeen eers met neus en tong. Verwarm die kelkie tussen jou hande om die vlugtige sure te laat verasem. Gee nie te veel ag aan die kleur nie; mits dit nie te donker is nie; meestal word die kleur gewysig deur byvoeging van gebrande suiker of so iets, wat eintlik nie die smaak veel beïnvloed nie. ’n Alte ligte kleur laat jou vermoed dat die brandewyn nie alte lank in eikevate gelê het nie, maar jou tong en verhemelte is ’n beter gids as jou oog. Proe nou die verwarmde vog; “voel” dit op jou tong en laat dit verder verwarm, sodat die agter-verhemelte die geur daarvan kan smaak. Probeer om te skat in hoeverre die smaak egaal, olieagtig, sonder “byt” maar tog met ’n aangename prikkel is. Sluk dit dan in en proe die nasmaak. Neem daarna ’n slukkie water en probeer die ander monster op dieselfde manier en oordeel na jou eie smaak watter een jy verkies.
Spuit nou ’n paar druppels sodawater in een van die kelkies en probeer weer. Kyk watter een van die verskillende monsters die mengselproef deurstaan. Die eersteklas soort sal dadelik sy goeie hoedanighede aan die mengsel meedeel; sy geurigheid word deur die koolsuurgas as ’t ware ontkiem; sy prikkelende smaak word in sekere mate versterk. Daarenteen sal jy, as jy ’n gevoelige smaak het, dadelik die slegter soort, dié met nog ’n klein bietjie van die vlugtige sure wat ’n goeie brandewyn aan die hout van die vat behoort af te gee, bespeur. ’n Klein veranderinkie in die bysmaak toon die teenwoordigheid van die sekondêre wyngees-soorte; selfs miskien ’n ietsie bitter is daar te bespeur. Vergelyk nou jou waarnemings na die mengselproef met dié wat jy opgedoen het toe jy die suiwer vog gesmaak het en maak jou keuse.
Die brandewyn wat jy die lekkerste vind, is die soort wat met jou die beste sal akkordeer. Moenie geïmponeer word deur etikette of advertensies nie; maak jou eie keuse volgens jou eie smaak. En behandel daarna jou keuse met liefde en verstand. Gebruik hom met matigheid, liefs na ’n goeie middag- of aandete, saam met of na die koffie, as jy hom in sy naakte reinheid wil inslurp. Anders, en weer in matigheid, met skoon bronwater, of, as jy verkies, met spuitwater. En op ’n koue winteraand, as die wind buite huil en jy daarvan oortuig is dat jou lammers veilig beskut in die kraal is, met warm water, ’n stukkie kaneel, ’n klontjie suiker en ’n skilfertjie suurlemoenskil as ’n warm drankie.
10 September 1943