Uit Kommando – Van Perde En Manne
deur Deneys Reitz
Na omtrent ’n uur het ek die geluid van ’n gesang en ’n huisorrel gehoor. Dit was die soort geluid wat in omtrent elke Boere plaashuis gevind kon word. Ek het geweet ek was naby vriende. Toe ek aan die deur geklop het, was daar eers ’n doodse stilte. In daardie onrustige tye het ’n klop laat in die nag beteken daar was ’n militêre ondersoek aan die gang, maar toe het ek voetegeskuifel gehoor en die deur is oopgemaak.
Die hele familie het van binne af angstig toegekyk. Toe ek hulle vertel het wie ek was, het hulle my so te sê die huis ingesleep, so gretig was hulle om te help. Ek moes seker sò verwaaid gelyk het, want die vrouens het uit jammerte selfs ’n traan gestort terwyl die skoen van my seer voet afgehaal is. En ook toe hulle gedurende die meer pynlike proses om ’n doring, amper ’n duim lank, wat in my handpalm gesteek het toe ek daardie middag van die perd afgegooi was, uitgetrek het. Hulle het warm water gaan haal en skoon lakens opgeskeur vir verbande. Ek het ’n bord kos en koffie gekry, en die wonderlike mense het selfs gestry oor wie my gaan bedien. So gretig was hulle om hulle meegevoel te betuig, alhoewel hulle geweet het dat dit boetes en tronkstraf kon beteken. Nadat hulle na my omgesien het, het hulle verder beraadslaag. Almal het saamgestem dat ek nie daar kon bly nie, want selfs as die voortdurende patrollies my nie sou uitsnuffel nie, sou van die gekleurde werkers my teenwoordigheid wel rapporteer, aangesien hulle almal in die Kaap aan die Britte se kant was. Ek het hulle verseker dat ek met gemak kon loop, en dit is toe besluit ek moes aanhou om weswaarts te beweeg met die hoop dat ek generaal Smuts sou raakloop. ... Ek het gereedgemaak om te vertrek en het net gewag vir my stewel om reggemaak te word.
Die hoof van die familie, ’n patriarg van sewentig, het daarop aangedring om op die eerste deel van my reis my gids te wees. Sy seuns het aangebied om dit te doen, maar hy het hulle aanbod van die hand gewys. ’n Streepsak is vol kos gepak en na ’n roerende afskeid het ek en die ou oom vertrek. Vir ure aanmekaar het ons aangestap totdat ek kon sien dat sy kragte hom in die steek begin laat het. Ek wou nie hê hy moes verder stap nie, en met ’n bewoë stem het hy my die Here se bystand toegewens. ...
Ten einde laaste, toe die dag al gebreek het, het ek die sagte gerunnik van ’n perd gehoor. Ek het versigtig vorentoe beweeg en die sewe manne vas aan die slaap onder die bome gevind. Hulle was uiters verbaas om my te sien, want hulle het gedink dat ek òf dood òf gevang was.
deur Marthinus van Bart
In Oktober is dit ’n eeu gelede dat ’n rebellie teen die destydse Suid-Afrikaanse regering uitgebreek het wat die land tot in sy fondamente geskud het. Die gewapende opstand deur meer as 12 000 Afrikaners het einde Oktober 1914 uitgebreek. Teen die Kersfees was dit met groot geweld en lewensverlies onderdruk. Vooraanstaande oud-Boereleiers was betrokke, soos generaals C.R. de Wet, Koos de la Rey, Manie Maritz, J.C.G. Kemp en C.F. Beyers. De la Rey en Beyers is doodgeskiet, terwyl van die ander in die tronk beland het en swaar beboet is. Ander, soos Maritz, het land-uit gevlug.
Duisende rebelle is beboet en boonop moes hulle ’n enorme oorlogskuld weens skade en die opkommandering van voorraad en eiendom delg. Die meeste rebelle was arm, kon nie betaal nie, en eissake het in die howe gevolg. Veilings van huise, huisraad en ander eiendom het landwyd soos ’n swaard oor hul kop gehang.
Een veiling wat op die dieretuin-terrein van Pretoria gehou is, het egter nie regstreeks met die skuldeisers te doen gehad nie, maar wel met ’n spontane, kragtige helpmekaar om duisende van ondergang te red.
Op Woensdag 4 Augustus 1915 het 6 000 Afrikanervroue na Pretoria opgeruk om ’n petisie, onderteken deur 65 000 vroue vanoor die hele land, aan die goewerneur-generaal, lord Sidney Charles Buxton, by die Uniegebou te oorhandig. Daarin is die vrylating van die rebelle-offisiere en die vermindering van die boetes en eise geëis. Aan die spits van die optog was mev. Hendriena Joubert (85), weduwee van kommandant-generaal Piet Joubert, weermagshoof van die gewese Zuid-Afrikaansche Republiek van president Paul Kruger. Die vroue het in rye van ses by mekaar ingehaak die hoofstraat afgestap, met mans aan die flanke om intimideerders en molesteerders weg te hou.
Buxton wou nie op die petisie reageer alvorens hy met die eerste minister, generaal Louis Botha, en die minister van justisie en oorlog, generaal Jan Smuts, gekonsulteer het nie. Die vroue het hom ’n dag tyd gegee om te antwoord.
Die volgende oggend is die vroue by die Dieretuin deur leiers toegespreek om die gemoedere hoog te hou. Die Helpmekaar-fonds, wat kort tevore op Reitz in die Vrystaat gestig is sodat die Afrikaners mekaar geldelik kon bystaan om die boetes en oorlogskuld te betaal, is druk bespreek. Dit is toe dat mev. Joubert, wat die Groot-Trek as kind, die Eerste Vryheidsoorlog van 1980-1881 as jong eggenote van die generaal, en die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 as bejaarde meegemaak het, die vroue toespreek en ’n Voortrekker-lappop, geklee in die tipiese Voortrekker-kleredrag, ten bate van die Helpmekaar-fonds laat opveil. Die hoogste bod is ingesit deur ’n boerevrou van Victoria-Wes, mev. G.W. van Heerden van die plaas Beestekraal. Sy het 6 pond 5 sjielings aangebied, ’n aardige bedrag vir daardie tye van groot armoede en swaarkry.
Lord Buxton het die volgende dag geen antwoord vir die vroue gehad nie. Boonop was Botha en Smuts woedend dat hierdie vroue, wat geen stemreg of regstatus in die gemeenskap gehad het nie, dit durf waag het om eise aan die regering te stel. (Stemreg is eers in 1930 deur die toedoen van generaal J.B.M. Hertzog deur wetgewing aan wit vroue toegeken.)
Die Helpmekaar-fonds was daarna so suksesvol, dat nie net al die skuld betaal kon word nie, maar dat ’n Helpmekaar Studiefonds gestig kon word om Afrikaanse studente geldelik te help om geleerd te kom. Professor Christiaan Barnard, die beroemde hartsjirurg, was een van dié Helpmekaar-studente.Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt
Daar is miskien geen enkele ander gereg wat as meer eg-Afrikaans beskou kan word as sosaties nie. En tog is dit hoegenaamd nie enig aan Suid-Afrika nie, maar ’n gereg wat onder verskillende name alom in die wêreld bekend is. In Rusland kry ’n mens bv. stukkies kalfs-, varkvleis, uie of ingelegde komkommer langs mekaar in ’n stokkie geryg en op die rooster gebraai. Die stukkies vleis word eers in suurmelk gelê, daarna in peper en sout gerol, met ’n huisie knoffel gevryf en dan gebraai. Die smaak is natuurlik glad nie soos dié van sosaties nie, maar die manier van doen daarmee is min or meer dieselfde. In die suide van Frankryk in daardie pragtige Adoerdal waarvandaan ons sommige van ons geregte gekry het, vind ’n mens ’n ander soort sosatie. Die vleis word eers gemaal, dan deurspek en in dermpies gestop. Hierdie worsies word dan in ’n pekel gelê, daarna in ’n houtpennetjie aan mekaar geryg en onder die as of ook op ’n rooster gebraai.
Tant Alie sê: “Dis glad nie sosaties nie; dit is sommer een van die soorte Franse gemors wat ’n mens in hul restaurants kry.” Sy weet daarvan, want toe sy nog jonk genoeg was om met haar manlike tydgenote op te sit, het sy Parys besoek. Volgens haar was dit destyds ’n snaakse Parys, sekerlik nie soos dit vandag is of in my tyd was nie. Ek het ten minste nooit ’n gemors daar geëet nie, hoewel ek saamstem dat ek nooit egte sosaties daar teengekom het nie.
“Nee,” sê tant Alie, “om die waarheid te sê, kind, kry ’n mens nou nie meer sosaties soos oorlede ouma Liesbet gemaak het nie. Dit was vir jou sosaties, hoor!”
Sy het my omslagtig vertel watter soort sosaties dit was. En aangesien ek erken dat ouma Liesbet – ek het haar nooit geken nie, want toe ek gebore is, het sy die aardse vir die hemelse verwissel, en al wat oorgebly het, was die herinnering aan haar ongeëwenaarde kookkuns, veral wat betref die maak van pannas, sult, en Spaansriet-karmenaadjies, waaroor ek miskien later iets sal vertel – dat ouma Liesbet dus buitengewoon ortodoks en volgens reël haar sosaties gemaak het, kan ek niks beter doen as om die leser te vertel hoe sy dit geprakseer het nie. …
13 Junie 1945
deur Marthinus van Bart
Maria Koopmans-De Wet (1834-1906) was lid van ’n prominente Afrikaanse gesin in Kaapstad. Haar vader, Johannes de Wet, LL.D., was ’n advokaat en waarnemende voorsitter van die Kaapse Wetgewende Raad. Hierdie gekultiveerde, welbelese en hoogs intelligente vrou het by almal respek afgedwing, maar sy is ook gevrees deur Cecil John Rhodes en sy dampkring: Rhodes het haar die gevaarlikste persoon in die Kaapkolonie genoem, “selfs gevaarliker as Onze Jan Hofmeyr van die Afrikaner Bond”. Vanweë haar skerp intellek en welsprekenheid was sy ’n gedugte opponent van Rhodes.
Toe Rhodes ’n deel van die Kasteel wou sloop om voorsiening te maak vir ’n tremspoor na Seepunt, het sy hom teengestaan. Hy het teengestribbel dat dit net ’n klein puntjie van die vesting was wat afgebreek sou word. Maria het teruggekap: “Mnr. Rhodes se neus is net ’n klein puntjie aan sy gesig. Laat hy dit afsny en dan in die spieël kyk hoe dit lyk.”
Ook het sy gekeer dat ou akkerbome in die Kompanjiestuin afgekap word om plek te maak vir ’n nuwe hooggeregshof tussen die Parlementsgebou en Tuynhuis. Dit is later tussen Keeromstraat en Koningin Victoriastraat opgerig.
Maria was ’n leidinggewende organiseerder van massa-protesvergaderings teen die Anglo-Boereoorlog, die verskroeide-aarde-taktiek van die Britse leër, die konsentrasiekampe en die verbanning van Boere-krygsgevangenes. Die Britse militêre owerhede het haar gebrandmerk as synde ’n Kaapse Rebel, en die Empire-gesinde koerante het haar die skeldnaam “Koningin van die Rebelle Dames” gegee. Nadat die krygswet in Kaapstad afgekondig is, is sy in huisarres geplaas en haar woning aan Strandstraat 23 is daagliks deur die militêre polisie deursoek.
Hoewel sy dit nooit bevestig het nie, was sy inderdaad een van die hooforganiseerdes van ’n Boere-vrouespioenasienet, met die bynaam die “Kappie Kommando”, wat aan die Boere se geheime diens, Speciale Diensten der Z.A. Republiek, in Pretoria verslag gedoen het. Toe die militêre polisie se speurders op ’n dag onverwags opdaag om Maria se woning te deursoek, was sy juis by haar werkstafel met spioenasiebriewe besig. Sy het haar naaldwerkmandjie, wat ook op die tafel was, geneem en aan die speurders gegee met die sarkastiese opmerking dat hulle dit nog nie deurgesoek het nie. Hulle was toe so verleë, dat hulle die inkriminerende briewe voor haar skoon misgekyk het.
Maria het ook nou met Emily Hobhouse, verskeie bystandkomitees – sommige ook in die buiteland – asook die Rooi Kruis saamgewerk om geld in te samel vir die aankoop van kos, medisyne en klerasie wat na die konsentrasiekampe en die krygsgevangenekampe versprei is. Die proviand is in haar woning verpak en van daar versprei. Sy het gereeld met vooraanstaande Britse pro-Boer intellektuele, soos William Stead, gekorrespondeer.
Die neoklassieke Koopmans-De Wet-woning, ontwerp deur Louis Michel Thibault, is ’n verklaarde gedenkwaardigheid. Na Maria se dood op 2 Augustus 1906 is die huis in ’n 18de-eeuse huismuseum verander en dit bestaan steeds so voort.
In die goeie ou dae, toe Kaapstad nog die kentekens gedra het van ’n egte moederstad van die Westerse beskawing, was dit moontlik om hier op ’n ouderwetse manier iets van die egte Afrikaanse kookkuns te leer. ’n Land se kookkuns kan nooit eintlik beoordeel word volgens wat aan die lekkerbek in hotels en openbare eethuise voorgesit word nie. Om dit behoorlik te waardeer, moet die kenner sy toevlug neem tot sy partikuliere vriende wat deeglike koks besit. Dit is ’n aksioom dat ons die beste volkskos in private huise aantref, nie in openbare restaurants nie.
Dit was ook die geval in Kaapstad. Die kos wat ’n mens ’n vyftig jaar gelede in die hotels en die besonder goed ingerigte kafees, soos bv. dié van Kamp, kon kry, was grotendeels gekook en opgedis volgens Europese modelle. Daar was natuurlik belangrike uitsonderings. Een daarvan was die destyds beroemde Withuis in Strandstraat, waar daar in die agterplaas ’n mooi versameling wilde diere was – ek onthou veral ’n jong kameeltjie, wat helaas nie alte lank aan die lewe gebly het nie. Die Withuis was welbekend vir sy voortreflike tafel. Selfs by die agtuur kon ’n mens daar sosaties met die gebruiklike gebraaide piesangs en ’n sestal verskillende sambals kry. Die middagete was veral smaaklik, en op die lys van skottels kon die kenner soms lekkernye soos raap-en-tamatie-bredie, kerrie-kreefsop, saffraan-bobotie met amandels en rosyntjies, en gestoofde veldkool teëkom. Onder die soet geregte was daar een wat elke plattelander en menige Kapenaar hoog geskat het – die dun, sappige, geurige pannekoekies met ’n heerlike sous van eier, room en Van der Hum daaroor. ’n Ander hotel waar die ete net so goed was en die wynkelder ook iets voortrefliks opgelewer het, was die ou Royal in Pleinstraat. Die latere Queens in Seepunt was ewe goed bekend vir sy goeie tafel, maar hy het hom nie juis daarop toegelê om eg Afrikaanse geregte op te dis nie.
Vir sulke ouderwetse Afrikaanse skottels moes jy na private huise en na die kleiner losieshuise gaan. Daar kon jy smul aan eersteklas ouderwetse kos, behoorlik gaargemaak oor die getemperde hitte van ’n houtvuur – want destyds het ons nie daaraan gedink om ons kos met ’n warm draad te verskroei nie! Die bes bekende van die Afrikaanse losieshuise was waarskynlik dié van ou juffrou Wahl in die Koningin Victoriastraat, die populêre verblyfplek van elke plattelandse volksraadslid. Die gasvrou was self ’n uitstekende kok, wat die gawe besit het om eenvoudige maar uiters smaaklike skottels te berei, en sommige van die “huisresepte” – soos haar kreefslaai, kreeffrikkadel, boontjiesop en melktert – was reg uit die ou doos. Een van die beste dinge wat die kenner daar kon kry, was die koffie, bedien met sandkoek en een of ander konfyt.
Wat ons ouderwetse Afrikaanse kookkuns noem, kan vergelyk word met die kookkuns van die streek ten suide van die rivier Adour in Frankryk. Daar vind ons die naaste verwant van ons boerewors. Ook daar bestaan die gewoonte om ’n oskop, kompleet met horings en vel, in die oond te braai en in al sy grimmige heerlikheid op te dis, iets wat hier te lande heeltemal uit die mode is, maar wat ek tog in Transvaal aangetref het. Die laaste maal wat ek dit geniet het – en dit was werklik ’n genot – was in geselskap van generaal Botha, wat uitdruklik verklaar het dat die kiesvleis van ’n oskop wat op hierdie manier gebraai is, die lekkerste vleis is wat die menslike gebit ooit kan kou.
Die kookkuns is, in sy kern beskou, die kuns om kos smaakliker en voedsamer te maak. Byvoegsels is nuttig en nodig om daarin te help. ’n Soutlose gereg is nie slegs smakeloos nie, maar ook minder voedsaam as een wat behoorlik gesout is; sout is ’n spesery wat net so versigtig maar net so dapper gebruik moet word as gemmer of vinkel of kaneel. Ek weet van een soort salie wat as byvoegsel tot ’n aartappelbredie die smaak van daardie skottel twintig maal verbeter, en van ’n malfablaar – van ’n soort wat êrens in die Oostelike distrikte groei – wat die geurigheid van ’n karmenaadjie aansienlik verryk. As dit ons erns is met ons kookkuns, sal ons probeer om van ons inheemse skatte op die veld en in die kloof gebruik te maak. Sonder profenemings, sonder probeerslae, is daar geen vooruitgang nie.
7 Augustus 1942
Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt
Mak vleis, of dit nou skaap- of varkvleis mag wees, is wat die kamplewe betref altyd op sy beste in die gedaante van karmenaadjies. Om hulle behoorlik gaar te maak, het jy ’n warm vuur nodig, van hardekool in Transvaal of van doringboomhout, en hier in die suidelike geweste van enige hout wat mooi kole maak. Ons het in die Kaapprovinsie die voorreg dat ons oor die kole ’n laag renosterbos kan plaas, wat aan die karmenaadjie ’n eienaardige geurige smaak verleen, maar dit is ’n raffinement wat by die meeste kampeerplekke ontbreek, en as plaasvervanger daarvoor kan ons die vleis invrywe met kruie, na verkies word.
Maar kies jou karmenaadjies goed en sorg dat hulle sag en teer is. Klop hulle eers met ’n skoon stukkie klip of met ’n stuk hout – nie te hard nie, want jy moet nie die weefsels stukkend slaan nie; jy moet hulle net ’n bietjie kneus om die styfheid daarvan weg te kry. Sout hulle in; ’n grypie fyn gemmer in die sout kom van pas, en sommige mense hou baie van koljander of anyssaad. Droog hulle goed af; ’n nat karmenaadjie braai nooit soos hy moet nie.
Sit hulle dan op die rooster; as jy nie een saamgebring het nie, kan jy desnoods van Oom se doringdraadheining een maak, maar in die algemeen is dit verkiesliker om jou eie saam te bring. Smeer eers ’n bietjie vet op die rooster en sorg dat dit goed warm is voordat jy die vleis daarop lê. Drie, vier kan tegelykertyd die vuurproef deurstaan, maar pas hulle goed op en sorg dat jy hulle omdraai sodra hulle aan die een kant mooi bruin is. As hulle gaar is, bedien dadelik met of sonder ’n klont botter. As daar sulke oorbeskaafde goed is soos messe en vurke, dan is die klont botter ’n aanbeveling, maar ’n karmenaadjie moet jy eintlik eet soos koning Lodewyk die Veertiende altyd syne geëet het – met jou vingers. Sy Majesteit het dit egter aan tafel gedoen, nie as hy gekampeer het nie. Sy liefling, tannie De Maintenon, het dit so onhebbelik gevind dat hy altyd sy baadjie – nogal met die Goue Vlies daarop – bevuil het met die druppende vet dat sy aan die kok bevel gegee het dat die koning se karmenaadjies altyd opgedis moet word met ’n stuk papierkant om die been. Daardeur kry ons Cotelets à la Maintenon, wat niks anders is as skaapkarmenaadjies met ’n verfrommelde stukkie papier om die stukkie been nie. Om die waarheid te sê, soos ons hulle gewoonlik nou in die hotels kry, is daar nie veel onderskeid tussen die papier en die vleis wat smaak en sappigheid betref nie.
Sorg dus dat jou kampvuurkarmenaadjies nie onder so ’n verwyt sal ly nie. Hulle moet geurig, sag en smaaklik wees. En dis nie ’n maklike saak om dit alles reg te kry met ’n rooster nie. Daarom verkies sommige mense om hulle in ’n pan te braai. Ek het daar niks op teë nie; ’n in die pan gebraaide kampkarmenaadjie kan iets heerliks wees, maar dit kan ook uiteindelik net die teenoorgestelde wees. Alles hang af van die manier waarop dit gebraai word. ’n Behoorlike karmenaadjie moet al sy sappigheid behou, dus moet die vuur gloeind-warm wees, om die oppervlakte van die vleis goed te skroei, en daarna moet dit net ’n rukkie deurbraai. Die resultaat is ’n stukkie mollig-sappige vleis wat amper wegsmelt in jou mond.
Wat om daarmee saam te eet? Wat my betref, ek kan my niks beters voorstel nie as ’n stuk wit plaasbrood, goed met plaasbotter gepleister, met sy binnekant net so sag soos die vleis behoort te wees, en met ’n mooi goud-bruin kors waarop jou tande, of hulle nou kunstande of natuurlikes is, met welgevalle kan byt. Groente en ander toevoegsels – nou ja, ek weet dat die kampgasvryheid gewoonlik dit alles byderhand het, maar ek dink dit is oorbodig. ’n Goeie sny brood en ’n karmenaadjie – hulle pas by mekaar net soos man en vrou by mekaar pas, en om hulle van mekaar te skei, is ’n aanstoot en ’n sonde.
29 Maart 1946
vertaal deur Marthinus van Bart
David Ross is op 24 Mei 1831 in Skotland gebore. Hy het universiteitsgrade in die opvoedkunde en teologie verwerf, en ook die geneeskunde en die regte in die loop van sy studietydperk bestudeer. Nadat hy sy nagraadse studies in Nederland voltooi het, het hy na Suid-Afrika geïmmigreer. In 1863 het hy die dominee van die nuut gestigte Nederduitse Gereformeerde Kerk op Lady Grey geword en die uitgebreide plattelandse gemeente bearbei. Daarvoor moes hy groot afstande te perd aflê.
Die 68-jarige Ross was 36 jaar lank leraar van die Lady Grey-gemeente toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek. Hy het die imperialistiese ambisies van Rhodes en ander skeef aangekyk, en was die Boere simpatiek gesind. Sy seun was ʼn skoolhoof in Pretoria en het hom by die Boere aangesluit om vir die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek te gaan veg.
Aangesien Lady Grey binne die grondgebied van die Kaapkolonie geval het, was Ross deeglik bewus van die gevolge indien lidmate van sy gemeente die wapen vir die Boere sou opneem. Gevolglik het hy hulle aangeraai om dit nie te doen nie, behalwe as hulle geen keuse gehad het nie (Lady Grey was in stadium sowat vier maande lank deur Boerekommando's beset). Sy raad is nie altyd gevolg nie, en toe die Britte in Maart 1900 weer beheer oor Lady Grey verkry, is krygswet afgekondig. Die inhegtenisneming van een van sy ouderlinge een Sondag pas na afloop van ʼn oggenddiens, het daartoe aanleiding gegee dat Ross sterk aanstoot geneem en met die Britse kolonel in ʼn woordewisseling betrokke geraak het. Dit het daartoe gelei dat Ross se pastorie omsingel en deursoek is. Hy is daarvan beskuldig dat hy gehelp het om Kaapse Rebelle te werf, en dat hy wapens in sy woning verberg. Dit het meegebring dat hy in hegtenis geneem en op aanklag van hoogverraad voor die hof gedaag is.
In die hof het Ross sy eie verdediging behartig. Hy is gevolglik vrygespreek en het groot bewondering afgedwing – selfs van sy vyande – vir die bedrewe manier waarop hy die kruisverhoor van diegene wat teen hom getuig het, behartig het. Hy is vrygelaat, maar beperkings is op hom geplaas: Hy kon slegs reis indien hy ʼn pas gehad het, en op sy perd is beslag gelê. Ross het in ʼn brief aan lord Roberts hieroor beswaar gemaak, wat daartoe gelei het dat die beperkings op hom opgehef is. Hy is egter gedagvaar om in die verhoor van ʼn lidmaat van sy gemeente in die hof op Aliwal-Noord te gaan getuig. Aangesien sy perd nie aan hom terugbesorg is nie, was hy genoodsaak om die afstand van 26 myl (42 km) na Aliwal-Noord te voet af te lê om getuienis te gaan aflê, en om weer na Lady Grey terug te stap. Onderweg is hy deur lidmate van sy gemeente bygestaan.
By sy terugkeer op Lady Grey was Ross vasbeslote om nooit weer eredienste in Engels te lei nie. En hy het dit inderdaad toe nooit weer gedoen nie.