Kaapse Kombuis

Posted on June 04, 2014 by Cape Rebel

Uit Polfyntjies vir die Proe 
deur Dr. C. Louis Leipoldt

 

In die goeie ou dae, toe Kaapstad nog die kentekens gedra het van ’n egte moederstad van die Westerse beskawing, was dit moontlik om hier op ’n ouderwetse manier iets van die egte Afrikaanse kookkuns te leer. ’n Land se kookkuns kan nooit eintlik beoordeel word volgens wat aan die lekkerbek in hotels en openbare eethuise voorgesit word nie. Om dit behoorlik te waardeer, moet die kenner sy toevlug neem tot sy partikuliere vriende wat deeglike koks besit. Dit is ’n aksioom dat ons die beste volkskos in private huise aantref, nie in openbare restaurants nie.
 
Dit was ook die geval in Kaapstad. Die kos wat ’n mens ’n vyftig jaar gelede in die hotels en die besonder goed ingerigte kafees, soos bv. dié van Kamp, kon kry, was grotendeels gekook en opgedis volgens Europese modelle. Daar was natuurlik belangrike uitsonderings. Een daarvan was die destyds beroemde Withuis in Strandstraat, waar daar in die agterplaas ’n mooi versameling wilde diere was – ek onthou veral ’n jong kameeltjie, wat helaas nie alte lank aan die lewe gebly het nie. Die Withuis was welbekend vir sy voortreflike tafel. Selfs by die agtuur kon ’n mens daar sosaties met die gebruiklike gebraaide piesangs en ’n sestal verskillende sambals kry. Die middagete was veral smaaklik, en op die lys van skottels kon die kenner soms lekkernye soos raap-en-tamatie-bredie, kerrie-kreefsop, saffraan-bobotie met amandels en rosyntjies, en gestoofde veldkool teëkom. Onder die soet geregte was daar een wat elke plattelander en menige Kapenaar hoog geskat het – die dun, sappige, geurige pannekoekies met ’n heerlike sous van eier, room en Van der Hum daaroor. ’n Ander hotel waar die ete net so goed was en die wynkelder ook iets voortrefliks opgelewer het, was die ou Royal in Pleinstraat. Die latere Queens in Seepunt was ewe goed bekend vir sy goeie tafel, maar hy het hom nie juis daarop toegelê om eg Afrikaanse geregte op te dis nie.
 
Vir sulke ouderwetse Afrikaanse skottels moes jy na private huise en na die kleiner losieshuise gaan. Daar kon jy smul aan eersteklas ouderwetse kos, behoorlik gaargemaak oor die getemperde hitte van ’n houtvuur – want destyds het ons nie daaraan gedink om ons kos met ’n warm draad te verskroei nie! Die bes bekende van die Afrikaanse losieshuise was waarskynlik dié van ou juffrou Wahl in die Koningin Victoriastraat, die populêre verblyfplek van elke plattelandse volksraadslid. Die gasvrou was self ’n uitstekende kok, wat die gawe besit het om eenvoudige maar uiters smaaklike skottels te berei, en sommige van die “huisresepte” – soos haar kreefslaai, kreeffrikkadel, boontjiesop en melktert – was reg uit die ou doos. Een van die beste dinge wat die kenner daar kon kry, was die koffie, bedien met sandkoek en een of ander konfyt.
 
Wat ons ouderwetse Afrikaanse kookkuns noem, kan vergelyk word met die kookkuns van die streek ten suide van die rivier Adour in Frankryk. Daar vind ons die naaste verwant van ons boerewors. Ook daar bestaan die gewoonte om ’n oskop, kompleet met horings en vel, in die oond te braai en in al sy grimmige heerlikheid op te dis, iets wat hier te lande heeltemal uit die mode is, maar wat ek tog in Transvaal aangetref het. Die laaste maal wat ek dit geniet het – en dit was werklik ’n genot – was in geselskap van generaal Botha, wat uitdruklik verklaar het dat die kiesvleis van ’n oskop wat op hierdie manier gebraai is, die lekkerste vleis is wat die menslike gebit ooit kan kou.
 
Die kookkuns is, in sy kern beskou, die kuns om kos smaakliker en voedsamer te maak. Byvoegsels is nuttig en nodig om daarin te help. ’n Soutlose gereg is nie slegs smakeloos nie, maar ook minder voedsaam as een wat behoorlik gesout is; sout is ’n spesery wat net so versigtig maar net so dapper gebruik moet word as gemmer of vinkel of kaneel. Ek weet van een soort salie wat as byvoegsel tot ’n aartappelbredie die smaak van daardie skottel twintig maal verbeter, en van ’n malfablaar – van ’n soort wat êrens in die Oostelike distrikte groei – wat die geurigheid van ’n karmenaadjie aansienlik verryk. As dit ons erns is met ons kookkuns, sal ons probeer om van ons inheemse skatte op die veld en in die kloof gebruik te maak. Sonder profenemings, sonder probeerslae, is daar geen vooruitgang nie.
 
7 Augustus 1942

Posted in Afrikaans


Next

Previous