Vir amper so lank as wat ek kan onthou, was straatoptogte in my bloed. Wanneer ek ’n lang ry mense deur die strate sien loop – hoe langer die ry, hoe meer hou ek daarvan – roer daar ’n oeroue iets in my binneste en word ek deur die drang oorval om aan te sluit, en my plek êrens aan die einde van die prosessie in te neem. En so was dit my hele lewe lank met my. Daar is iets omtrent die waarneem van en die gedagte aan ’n lang ry mense wat deur die strate van ’n stad marsjeer, wat my met eerbied en bewondering vervul, en dit kan ek nie maklik verduidelik nie. Maar dit moet deur ’n stad wees; ’n optog deur ’n dorp of die veld sou nie dieselfde ding wees nie.
Die ideale omstandighede vir ’n straatoptog is bewolkte weer en nat paaie. En daar moet so ’n motreëntjie val. Uiterstes, soos ’n hewige sneeustorm of ’n tropiese stortreën, val nie in my smaak nie. Donderslae en weerlig is onvanpas. Al wat mens nodig het, is die aanhoudende gedrup van sagte reën wat alles bleek en triesterig laat lyk, sonder die gerief van oorgawe aan die uiterste verlatenheid. Dan, deur die grou strate, moet daar ’n lang tou mense stap met hulle gesigte ’n bleekgrys kleur, drie of vier langs mekaar met modder besmeerde skoene en klere (verkieslik) toiingrig wat, as gevolg van die reën, soos sakke aan hul hang. Hulle kan so ’n bietjie sing, as hulle daarvan hou, om hulself so ietwat op te beur – natuurlik sonder enige sukses. En daar, tesame met hierdie sombere voortstrompeling van duisende gestewelde voete op klip- of teerstrate, lê my hart. Ek word vasgegryp deur ’n intense gevoel van deel wees van die dom, worstelende, vrotsige, heldhaftige menslikheid, en in hierdie kleurlose optog is daar ’n sterk simbolisme, waarvan ek die elemente nie probeer verstaan nie, want die onderdele daarvan mag minder wees as die geheel; en ten spyte van die riglyne van gesonde verstand, swig ek voor die drang om te probeer om êrens agter, nader aan die stertkant van die prosessie, vir my ’n plek te vind.
En, o ja, daar is nog iets wat ek amper vergeet het, en dit is die beweegrede wat die dinamiek is om ’n optog van so ’n omvang te organiseer en aan die gang te kry. Eerlikwaar, ek dink nie die rede is van veel belang nie. Ek het ’n natuurlike voorliefde vir enige ongewilde rede en, bowenal, vir ’n verlore, wanhopige saak. Of hierdie besonderse eienaardigheid van my afkomstig is van ’n gewone perversiteit, of van ’n edelmoedige siel, kon ek nog nooit vasstel nie. En so, terwyl ek altyd voel dat dit baie lekker is, en so aan, as die marsjeerdery deur die deelnemers gedoen word in ’n gees van trotse idealisme, want ’n baie belangrike beginsel is hier op die spel, is ek net so tevrede – solank die modderige skoene en die bewolkte hemel teenwoordig is – as die geestelike faktore van die demonstrasie nie te erg verhewe of onbaatsugtig is nie.
Ek het laas so onlangs soos verlede Saterdagmiddag in so ’n optog gestap. Ek was op die boonste dek van ’n Malvern-trem op pad huis toe, toe ek voor Jeppestasie ’n straatoptog gadeslaan wat besig was om op dreef te kom. Ek het dadelik besef die omstandighede was presies reg. Dit het saggies gereën. Die paaie was nat en grou en modderig. Die lug was toegetrek en somber. Ek het reggemaak om af te klim. Ongelukkig was die trem propvol, en gevolglik kon ek eers by die Bergstraat-stop afklim. Van daar af het ek ’n ander trem gekry terug Jeppestasie toe, waar ek aangekom het net toe die prosessie begin beweeg het. Ek het my plek iewers agterlangs ingeneem. Ons het in ’n noordelike rigting aangestrompel en in Commissionerstraat afgedraai. Strompelend. Voortslepend. Misreën. Modder. Nat skoene en fatsoenlose klere. Ek het nie gevra waaroor die optog gegaan het nie. Ek wou nie my onkunde uitblaker nie, want die moontlikheid het bestaan dat daar dan neusoptrekkerig na my gekyk sou word. Ek was al voorheen deur ’n straatoptog uitgelag, en ek het nie daarvan gehou nie.
Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt
Dis gewoonte – myns insiens ’n goeie gewoonte – om iets voor die aandete te gebruik. Ons voorouers het dit van ouds af gedoen. ’n Pimpeltjie wyn voor die maal was die uitdrukking in die oeroue dae, toe daardie seemansterm nog burgerreg besit het; vandag weet niemand natuurlik wat ’n pimpeltjie is nie. In my jong dae het die ou aias in die koel, half-donker groentemark, wat destyds een van die vernaamste besienswaardighede van Kaapstad was, dit geheg aan wat ons nou ’n pierinkievol sou noem; hulle het ook gepraat van ’n pimpeltjie as hulle ’n bossie bedoel het. Maar oorspronklik was ’n pimpeltjie ’n wynmaat, ’n klein kelkie drank wat voor die maal genuttig is.
Uit ’n gesondheidsoogpunt beskou, is daar iets voor te sê om voor die hoofeetmaal van die dag ’n ietsie wyn te drink. Dis nie net die wyngees, die alkohol, wat prikkelend werk en die maagsappe beïnvloed nie. Dis waarskynlik meer te danke aan die amiensure en die olieagtige bestanddele van die wyn dat so ’n voorafgaande slukkie drank jou beter in staat stel om lekker kos ’n twintig minute later te waardeer.
Die vraag is dus wat om te drink? Tog nie daardie swaar mengsels van sterk alkoholiese wynsoorte, likeure, jenewer, Kanadese graangees, Engelse bierbrandewyn, of selfs Russiese wodka, en nog minder die honderd-en-drie wysigings van die Amerikaanse cocktail nie. Hulle bederf die smaak en rinneweer die aptyt. Die enigste uitsondering op die reël is miskien – en ek durf ’n vraagteken daaragter te sit – die lemmetjie-pait wat bestaan uit een-derde lemmetjiesap en twee-derdes eersteklas Bols.
Nee, die allerbeste drankie voor die aandete is ’n kelkie egte sjerriewyn. Dit bevat alles wat nodig is vir die voorbereidende prikkeling van die maagslymvliese, en dit het te min wyngees om skadelik op die eetlus te werk. Sjerrie, dus.
Sjerrie is ’n wyn wat oop kan staan sonder om te verslaan. Inderdaad, dit is beter om ’n bottel sjerrie ’n paar uur voordat jy dit skink, te ontkurk. Drink dit liefs sonder om warm of koud te maak; die gewone kamerhitte is genoeg om die olieagtige smaak sy volle waarde te gee. Die onvervalste fino, amper kleurloos, geurig, kurkdroog en met ’n bitter smaak waarin daar geen brak is nie, kry ’n mens nie in die handel nie; die K.W.V. het dit egter, vir diegene wat daar kan gaan pamperlang.
Die voortreflikheid van sjerrie lê in sy hoë gehalte van allerhande bybestandele, waaronder die olie, vetsure en amiensure die vernaamste en sy alkoholgehalte die minste is. Hy is by uitstek ’n wyn wat stadig en met nadruk gedrink moet word, liefs op sy eie. As tafelwyn beveel ek hom aan kort voor die maal, soms by die sop (mits die smaak daarvan nie te melerig is nie; dus nie by ’n puree nie), en soms ook by ’n vissoort soos katonkel of halfkoord. Met iets suikerigs akkordeer hy sleg; hy is te trots op sy eie geur om selfs in snuiterspan met vrugte en okkerneute te loop, want sy eie neutagtigheid en sy eie vrugolies is vir hom genoeg.
Neem hom dus as ’n pimpeltjie voor die ete – liefs nie die soet tipe hiervoor nie; of as ’n drankie op sigself; hiervoor die oleroso – of donkerder en half-soet tipes – so om elfuur in die môre, veral op ’n mooi sonnige dag as die vygies aan die bloei is en die gerwe uit die lande aangery word.
29 Mei 1942
deur Deneys Reitz
Gedurende die 1914 Rebellie
Generaal Botha was in daardie tyd nog in die weste, en ou Coen Brits was in beheer. Ek het by hom aangemeld, en hy het my gegroet met ’n klap van sy rouriem-sambok, wat sy idee van ’n militêre saluut was. Hy was ’n amusante karakter, ses voet ses lank, en hy kon nie ʼn woord Engels praat nie. Hy kon enorme hoeveelhede alkohol wegslaan sonder enige teken dat hy aangeklam was, en in Transvaal was hy algemeen bekend vir sy pittigheid en Rabelaisige stories. Maar hy was egter ’n goeie soldaat. Gedurende die Anglo-Boereoorlog was hy ’n bekwame en dapper vegter aan die Republieke se kant, en generaal Botha was die enigste man wat hom kon beïnvloed. Toe Botha hom getelegrafeer het om sy manne te mobiliseer vir ’n Suidwes-ekspedisie, het hy terug laat weet dat hy gereed was, maar hy wou nogtans weet of hy teen die Duitsers of die Britte moes veg. Hy was heeltemal bereid om beide te doen, want hy het Botha verafgod, en hom blindelings gehoorsaam.
Daar was ’n Skot saam met my wat ’n doedelsak besit het, wat hy in die aande om die kampvuur gespeel het. Ou Coen het skynbaar gedink dat dit ’n godsdienstige plegtigheid was. Een oggend het ’n Duits Gereformeerde predikant geskryf vir toestemming om die manne toe te spreek. Coen, wat ietwat heidens was, het terug geantwoord dat hy nie ’n geprekery in sy kamp wou hê nie. Hy het na my toe gedraai en gesê dat hy geweier het om die predikant toe te laat om te kom, maar hy moet regverdig wees teenoor die sektes, en ek moet daardie verdomde Skot van my stop om sy doedelsak te speel.
Duits Suidwes-Afrika
Generaal Botha het my opdrag gegee om by Coen Brits vir diens aan te meld, en so het ek en Ruiter hom in Karabieb gaan opsoek, waar die ou man my verwelkom het met die gewone geklap van sy sambok.
Ou Coen was so joviaal en vermaaklik soos altyd. Hy het my van ’n perd voorsien waarmee ek heen en weer op lang ritte gery het met opdragte aan verafgeleë buiteposte. Op ’n slag het hy ’n telegram van ’n Suid-Afrikaanse burger af ontvang wat sy dienste aangebied het. Dié man was egter ook heel lief vir die bottel, en Coen het laat weet: “Moenie kom nie. Al die drank wat hier in Suidwes-Afrika is, is net genoeg vir my.”
Daar is aan my gesê dat met die opmars van die kus af, sy voorraad alkohol uitgeput geraak het, en die enigste oorblywende bottel in die brigade het aan ’n gewone soldaat behoort. Aan Coen is voorgeskryf dat, as brigadier, hy nie veronderstel was om saam met ’n gewone manskap te drink nie. Hy het egter die probleem maklik omseil. Die eienaar is daar en dan tot tweede-luitenant bevorder, en na die twee die bottel geledig het, het hy die man se aanstelling herroep, heeltemal tevrede dat hy die militêre gebruike deeglik nagekom het.
Op die oggend van 23 Oktober 1914 het ’n man by my kantoor ingekom, die deur agter hom gesluit en in my oor gefluister dat David van Coller, die distrikskommandant, daardie nag met ’n sterk mag op pad was om die dorp namens generaal De Wet in te neem, en dat ek in my agterplaas doodgeskiet gaan word. Nadat hy van hierdie mondvol ontslae geraak het, het hy die deur oopgesluit en vinnig verdwyn.
Ek het generaal Smuts in Pretoria geskakel en hierdie inligting aan hom oorgedra. Ek het voorgestel dat ek vrywilligers bymekaar moet kry en so die plek verdedig. Hy het my besliste bevele gegee om niks van die aard te doen nie – as Van Coller daar aankom en ons skiet op sy manne, sal die Nasionaliste reg oor die land ’n keel opsit en sê dat ons die moeilikheid begin het. Hy het gesê dat hy nie daarvan hou om my in die steek te laat nie, maar dat hulle ook oproer in ander landsdele verwag, en dat ek vir myself moes sorg.
In die lig hiervan het ek geen rede gesien waarom ek ewe gedwee daar moes bly om deur my politieke opponente gevange geneem te word nie. Ek het nie geglo dat hulle my sou skiet nie, want van nature is die Boere nie geneig tot sluipmoord nie, maar in die hitte van langdurige geskille het ek baie vyande gemaak, en die minste wat met my sou gebeur, is arrestasie en vernederinge.
En so het ek besluit om liewer te ontsnap. Dit was vir my moontlik om vas te stel dat daar alreeds, onopsigtelik, brandwagte opgestel was op elke pad wat by die dorp uitgaan. ’n Ontsnapping helder oordag was dus buite die kwessie, en my enigste hoop was om in die donkerte van die nag weg te kom.
Intussen het ek voorgegee dat ek onbewus was van die moeilikheid op hande, en aandag aan my sake gegee tot vieruur die middag. Toe het ek huis toe gegaan en myself voorberei vir die ontvlugting, en Ruiter opdrag gegee om die perde gereed te kry. Ruiter was al jare lank saam met my. Hy was ’n Hottentot, klein van figuur met krom bene; die lelikste en lojaalste bediende wat ’n mens kan wens om te hê. My perd was ’n volbloed met die naam van Bismarck, een van die beste in die land, en Ruiter het ’n vinnige Basoeto-ponie gehad. Toe ek die situasie aan Ruiter verduidelik het, het hy net gesê dat ons perde stof in enige ander diere se oë sou kon skop.
Terwyl ons daar gestaan en wag het vir die donkerte van die nag met ons perde gereed en opgesaal, het twee jong plaasboere, Daniel Malherbe en Fritz Weilbach, al galoppende by my huis aangekom. Hulle was regeringsmanne wat beide ’n prominente standpunt in die politieke oorlog ingeneem het, en so het hulle besluit dat die dorp die beste plek vir hulle was. Hulle het gesê dat die hele platteland in opstand was, en dat gewapende bendes besig was om oraloor te patrolleer, en dit was net deur so vinnig te ry as wat hulle kon, dat hulle deurgekom het. Na ek hulle vertel het van die opdragte wat ek van generaal Smuts ontvang het, het hulle ingestem om saam met my te probeer vlug.
Van waar ons in my tuin gestaan het, kon ons rebelle op hulle perde teen die horison waarneem. Daar was dus geen tyd om te mors nie, en die oomblik toe dit donker genoeg was, het ons laat spat – eers al sluipende verby die tronk en die munisipale gronde en toe geluidloos die dorp uit.
Dit was blykbaar nie ’n oomblik te vroeg nie, soos ons later uitgevind het. Twintig minute na ons weggekom het, was elke uitgang beset deur brandwagte wat ten tye van ons vertrek, seker reeds besig was om posisie in te neem.
Die Volgende Dag
Omstreeks drie-uur die middag het ons Wolwehoekstasie genader, al langs die spoorlyn wat deur die Vrystaat na Johannesburg en Pretoria loop. Ons het toe omtrent vyf en twintig myl ver gery, maar teen daardie tyd het die meeste rebelle tou opgegooi. Daar was egter omtrent ’n dosyn van hulle, met beter perde of met meer determinasie as die res, wat ’n finale poging aangewend het om ons in te haal voor ons die beskerming van die stasiegeboue kon bereik. Hulle het met spoed in ’n stofwolk op ons afgejaag. Ons was onseker of die stasie deur rebelle beset was of nie, maar ons was verlig, terwyl ons gery het, om die postrein van die suide af al stomende te sien aankom. Dit was die laaste trein wat deurgekom het voordat die spoorlyn opgebreek was, en passasiers het by elke venster uitgeleun om te kyk na iets wat seker vir hulle gelyk het na ’n vertoning in ’n bioskoop: drie gewapende manne en ’n bediende wat soos die duiwel gejaag het terwyl iets soos ʼn “sheriff’s posse” op hulle sterte was.
deur Deneys Reitz
“Mankulumane was ’n manjifieke barbaar van oor die negentig jaar, lank en regop en elke gelaatstrek van sy sterk gesig het van krag en karakter getuig. Hy was die hoof-raadsman van Cetewayo en Dinuzulu soos hy op daardie tydstip ook van Solomon was. Die Zoeloes het hom as die grootste orator van alle tye beskou.
Die Zoeloe-taal wat hy gepraat het, was formeel en ingewikkeld soos in ’n vergadering van die oudstes van die ringkoppe met die opperhoof en nie die alledaagse gebruikstaal nie, maar omdat ek ’n bietjie Zoeloe verstaan en met die hulp van ’n tolk, kon ek volg wat hy sê.
Hy het sy gehoor meesterlik beheer. Een oomblik het hy ’n hele impi woedend laat opspring om in die rigting van hulle oorgeërfde vyande anderkant die gemeenskaplike, afgebakende grens onheilspellend te gluur, en dan weer heel knap kon hy hulle laat uitbars van die lag met ’n grappige vertelling van ’n jagtog of ’n storie oor beeste.
Vervolgens, in ’n gedempte stem, het hy gepraat oor vroeëre glorieryke tye wat die Zoeloes beleef het, die voorvadergeeste en veldslae van die verlede. En wanneer hy hulle berispe het oor hulle struwelinge, het hulle neergesak met hulle koppe tussen hulle knieë en so saam al klaende heen en weer gewieg.
Wat my die meeste beïndruk het in sy redevoering, was sy verwysing na Dinizulu, sy vorige heerser.
Dinizulu is in 1906 deur die Natalse Hof tronk toe gestuur vir sy beweerde medepligtigheid in die Bambata opstand. Ten tye was daar heelparty mense wat die regverdigheid van die uitspraak betwyfel het, en ’n oom van my wat destyds ’n advokaat was, W.P. Schreiner, het groot persoonlike ongerief verduur en hom kosteloos verdedig in ’n hofgeding wat maande lank geduur het. In 1910, toe generaal Botha eerste minister van die unie geword het, het hy Dinizulu vrygelaat, maar kort daarna is hy egter oorlede. Sy skuldigbevinding en tronkstraf het die stamme steeds erg gegrief.
Mankulumane het die begrafnis van Dinizulu bygewoon en toe hy daarna verwys het in sy toespraak, het hy gesê: ‘Ek is nie ’n Usutu nie. Ek behoort aan die M’Gangkwe-stam. Panda het ons verslaan. Na ons ons onderwerp het, het die Usutus hul vertroue aan ons gegee. Alhoewel ons teen hulle baklei het, het ek ’n hoë, eerbare posisie bereik, en was selfs aangestel as hoof-raadgewer van hulle konings. Hierdie vertrouens-ooreenkoms is deur baie jare nooit verbreek nie.
‘Maar let op hoe die witman Dinizulu behandel het! Hy het hom aan hulle oorgegee en hulle het voorgegee dat hulle sy woord aanvaar het, maar dit was nie waarlik so nie. Toe Bambata in die woude van Nkandhla in opstand gekom het, het hulle die koning met mooi woordjies gepaai terwyl hulle hom omring het. ’n Gebroke hart het tot sy dood gelei.’
Op ’n stadige afgemete toon het Mankulumane sy toespraak afgesluit, en aan die einde was daar ’n doodse stilte. Ons was almal beïndruk deur wat hy gesê het en sommige selfs ietwat beskaamd.
’n Oorlogsdans het hierna gevolg; elke stam in sy eie afgebakende gebied. Dit was manjifiek, maar ons was almal verlig toe dit geëindig het sonder ’n verbreking van die vrede. Ons het te perd teruggekeer Nongoma toe terwyl die impi’s heel indrukwekkend in ’n stofwolk wegbeweeg het.
Die volgende oggend het ons ons reis huiswaarts hervat en op ons pad verby ’n hele paar Europese dorpies gereis. By een van die plekke het die mense ons vertel van ’n witrenoster wat hulle kort van tevore besoek het. Daar is twee soorte renosters in Zoeloeland, die witte en die swartrenoster. Laasgenoemde is kleiner, maar heel befoeterd en nie so rustig soos die witrenoster nie. Altwee is bysiende en geneig om op enigiets af te storm wat hulle kan ruik, maar nie kan sien nie. Op die geleentheid het die witrenoster deur ’n hele paar tuine geloop en aan die anderkant uitgekom met stukke van die heinings om sy kop gewoel. Toe het hy straat af die dorpie binne gewandel. Hy het die oop deur van ’n huis opgemerk, sy kop daar ingesteek, en die elektriese klokkie en battery ontwrig sodat beide om sy horing gehang het toe hy in trurat oorgeskakel het. Ongesteurd hierdeur het hy by ’n agterplaas ingeslenter, die wasgoedlyn met die familie se wasgoed raak gestroop en saam met hom verder gesleep. Met dié het die klokkie kontak gemaak en aan het luie gegaan. Hy was soos ’n oorlogskip op ’n feesdag met veelkleurige kledingstukke al fladderende aan sy sye terwyl hy weer die bosse in verdwyn het.
’n Wildwagter van Zoeloeland het my vertel dat hy eendag met ʼn piekanien agter hom in ’n paadjie afgestap het, toe hulle op ’n witrenoster afgekom het wat in ’n opening in die bos gelê en slaap het. Die piekanien het vooruit gehardloop en die dier in die ribbes geskop. Die dier het verwoed opgespring, maar met die sien van die klein aanvallertjie, het hy net gesnork van verontwaardiging en die aftog geblaas.
Via Eshowe en Melmoth het ons verby die plek gegaan waar Dingaan se hoofstat eens gestaan het. Hier onder ’n onversorgde klipstapel het die gebeentes van Piet Retief en sy manskappe gelê wat daar in 1838 vermoor is.
Verder het ons die plek besoek waar die Vorstelike Prins, die seun van verwaande Napoleon III, deur die Zoeloes doodgemaak is. Ek het sy ma, die keiserin Eugénie, in 1917 in Aldershot gesien. Sy het oud en vervalle daar uitgesien, maar my pa het haar in die fleur van haar lewe by die Paryse Uitstalling gesien, en hy het my vertel dat sy toe ’n beeldskone vrou was.
’n Spesiale trein het op ons gewag toe ons die Natalse spoorlyn bereik het. Ons het in Julie 1923 teruggekeer Pretoria toe.”
Luiperds? – het oom Schalk Lourens gesê – O, ja, daar is twee soorte aan hierdie kant van die Limpopo. Die grootste verskil tussen hulle is dat die een tipe ’n paar meer kolle het as die ander een. Maar as jy onverwags op ’n luiperd in die veld afkom, doen jy selde die moeite om die kolle te tel om uit te vind watter een van die twee dit is. Dis onnodig. Want watter soort luiperd dit ookal is wat jou pad op hierdie manier kruis, daar is net een soort hardloop wat jy gaan doen. En dit is die vinnigste.
Ek onthou die geleentheid toe ek onverwags op ’n luiperd afgekom het, en tot vandag toe kan ek jou nie vertel hoeveel kolle hy gehad het nie, alhoewel ek al die tyd in die wêreld gehad het om hom te bestudeer. Dit het in die middel van die dag gebeur, toe ek op die verste end van my plaas, agter ’n koppie, op die soek was na afgedwaalde beeste. Ek het gedink dat die beeste daar sou wees, want dit was skaduryk onder daardie withaakbome, met lekker sagte gras om op te sit. Na ek omtrent ’n uur lank na die beeste op hierdie manier gesoek het, met my rug rustende teen die boomstam, het dit tot my deurgedring dat ek net so goed na hulle kon soek, of miskien selfs beter, as ek plat gaan lê. Selfs ’n kind weet dat beeste nie so klein is dat jy op stelte moet wees om hulle ordentlik te sien.
So lê ek toe op my rug, met my hoed skuins oor my gesig, my bene gekruis, en wanneer ek my oë so effens toegeknyp het, het die punt van my skoen wat toe boontoe gewys het, net soos die kruin van Abjaterskop gelyk.
Bo in die lug het ’n eensame aasvoël om en om gesirkel sonder om sy vlerke te klap, en ek het geweet dat selfs nie ’n kalf in enige deel van die lug tussen die punt van my skoen en daardie aasvoël kon verskyn sonder dat ek hom dadelik gaan raaksien nie. Wat meer was, ek kon die hele dag daar onder die withaak lê en soek na die beeste as dit nodig was.
Hoe meer ek my oë op skrefies getrek het en na die punt van my skoen gestaar het, hoe meer het dit na Abjaterskop gelyk. Na ’n rukkie het dit gelyk asof dit werklik Abjaterskop was, en ek kon die rotse bo op die kruin sien, en die bosse wat teen die kranse probeer boontoe groei, en in my ore was daar ’n sagte, veraf gonsende geluid soos bye in ’n boord op ’n stil dag. Soos ek gesê het, dit was heel aangenaam.
Toe het daar ’n snaakse ding gebeur. Dit was asof ’n groot wolk, in die vorm van ’n dier se kop met kolle, bo-op Abjaterskop tot ruste gekom het. Dit het so snaaks gelyk dat ek lus was om te lag. Maar ek het nie. Inteendeel, ek het my oë so effentjies groter oopgemaak en bly gevoel om te weet dat ek net gedroom het. Anders sou ek moes glo dat die wolk met die kolle bo-op Abjaterskop in werklikheid ’n luiperd was, en dat hy na my skoene gestaar het. Weer was ek lus om te lag. Maar toe, skielik, het ek geweet.
Ek het nie meer so vrolik gevoel nie, want dit was ’n luiperd. Waarlik – ’n groot, hongerlykende luiperd, en hy het agterdogtig aan my voete geruik. Ek het ongemaklik gevoel. Ek het geweet dat niks wat ek ookal kon doen die luiperd sou wysmaak dat my toon Abjaterskop was nie. Ek wou opspring en weghol. Maar ek kon nie. My bene wou nie beweeg nie.
Elke grootwildjagter wat ek teëgekom het, het my dieselfde storie vertel van hoe, op een of ander geleentheid, hy van leeus en ander wilde diere ontsnap het deur doodstil te lê en voor te gee dat hy dood was, sodat die roofdier belangstelling in hom verloor het en weggeloop het. Toe ek nou so daar in die gras gelê het terwyl die luiperd besig was om oor my te besluit, het ek verstaan hoekom ’n jagter in so ’n situasie nie beweeg nie. Hy kan eenvoudig net nie. Dis al. Dis nie sy slimmigheid wat hom daar op die grond hou nie. Dis sy bene.
Dit was verskriklike oomblikke. Ek het baie stil gelê, te bang om my oë oop te maak of om asem te haal. Al snuifende het die kolossale dierasie om my beweeg en sy warm asem het hygend oor my gesig geveeg. Mens hoor baie van die vreesaanjaende ervarings in mense se lewens. Ek self was al in ʼn hele paar lewensgevaarlike situasies gewees, maar as jy iets soek wat jou sommer skielik oud maak en jou hare binne oomblikke laat grys word, dan is daar niks wat kers vashou by ’n luiperd nie – veral as hy bo-oor jou staan met sy kake aan jou keel, besig om ’n lekker plek te soek om jou te byt nie.
Die luiperd het diep gegrom en regoor my liggaam geklim, my hoed afgestamp, en weer gegrom. Ek het my oë oopgemaak en die dier lomperig sien wegbeweeg. Maar my verligting was egter van korte duur. Die luiperd het nie te ver weggestap nie. In pleks daarvan het hy omgedraai en langs my kom lê.
Ja, daar op die gras in die skaduwee van die withaak, het ek en die luiperd langs mekaar gelê. Die luiperd het half opgerol gelê, nes ’n hond, en wanneer ek probeer het om weg te beweeg, het hy gegrom. Ek is seker dat in die hele geskiedenis van die Groot Marico daar nog nooit twee vreemder metgeselle was wat saam in die ondankbare taak betrokke was om na afgedwaalde beeste te soek nie.
Die volgende dag in Fanie Snyman se voorkamer wat as ’n poskantoor gedien het, het ek my storie aan die boere van die omgewing vertel, terwyl hulle koffie gedrink en gewag het vir die lorrie van Zeerust af.
Die mense het aanvanklik die gek geskeer oor hierdie luiperd. Hulle het gesê dat dit nie regtig ’n luiperd was nie, maar liewers net ’n dier met kolle wat uit Schalk Lourens se droom weggeloop het, en die nadraai van die hele affêre was dat ek ook begin twyfel het aan die bestaan van die luiperd.
Maar sake het ’n ander wending geneem toe daar ’n paar dae later ’n luiperd langs die pad naby die poort gesien is, en toe weer deur Mtosas op pad na Nietverdiend, en weer in die turflande langs die Malopo. En toe sy spore by ’n hele paar watergate gevind is, het die mense glad nie meer getwyfel aan die bestaan van die luiperd nie. Dit was gevaarlik om in die veld rond te loop, het hulle gesê.
Opwindende tye het aangebreek. Daar was ’n grootskaalse geskietery op die luiperd en ’n grootskaalse weghollery van die luiperd af. Die aantal Martini en Mauserskote wat ek uit die kranse aangehoor het, het my meer aan die Eerste Boereoorlog as enigiets anders laat dink. En die mate van weghollery het my meer aan die Tweede Boereoorlog laat dink as enigiets anders.
Maar elkers het die luiperd ongeskonde daarvan afgekom. Op ’n manier, het ek jammer vir hom gevoel. Die manier wat hy aanvanklik aan my geruik het en toe langs my kom lê het daar onder die withaak, was ’n vreemde ding wat ek nie verstaan het nie. Ek het aan die Bybel gedink, waar daar geskryf staan dat die leeu langs die lam sal gaan lê.
Ek het ook gewonder of dit nie net alles ’n droom was nie. Die manier wat ek hierdie dinge ervaar het, was bowenaards, en baie van my gedagtes het oor die luiperd gegaan. Verder was daar niemand met wie ek kon praat wat my op enige manier kon help nie. Selfs nou, terwyl ek die storie vertel, verwag ek dat jy vir my sal knipoog net soos Krisjan Lemmer. (Jy ken daardie soort van knipoog. Dit was om my te laat weet dat daar nou ’n nuwe verstandhouding tussen ons was, en dat ons in die toekoms met mekaar kon praat soos een Marico leuenaar met die ander.)
Steeds egter, kan ek jou net die dinge vertel soos ek dit gesien het, en waaroor die res gegaan het, weet net Afrika.
Dit was ’n ruk daarna dat ek weer op die paadjie deur die bos geloop het na die withaakbome. Maar ek het nie weer op die gras gaan lê nie, want toe ek die plek bereik het, het ek gesien dat die luiperd voor my daarheen gegaan het. Hy het daar op dieselfde plek gelê, half opgekrul in die skadu van die withaak, en sy voorpote was oormekaar gevou net soos ʼn hond soms doen. Maar hy het baie stil gelê. En selfs van die afstand vanwaar ek gestaan het, kon ek die rooi bloedkol op sy bors sien waar die Mauserkoeël hom getref het.
deur Hennie Jansen
Generaal Jan Smuts en sy kommando het in die winter van 1901, gedurende die Anglo-Boereoorlog, in die omgewing van Zastron die Oranjerivier oorgesteek en die Kaapkolonie binnegeval. Hulle het geglo dit sal die vyand se magte verdeel en die druk op die twee republieke verlig deur hulle guerrilla taktiek ook in die Kolonie toe te pas. Die Britse magte was bewus van hulle bewegings en het hul bes probeer om die Boere se planne in die wiele te ry.
Ongeveer die 11de September is die kommando van omtrent tweehonderd en vyftig man en vyfhonderd perde deur ’n Engelse kolonne teen ’n bergpas in die Stormberge opgedwing. Bo-op die kruin was daar egter nie ’n wegkom-roete nie. Die plato is afgesluit deur kranse wat skielik weggeval het tot by die vlaktes wat onderaan die voet van die berg begin. Toe van die berede soldate ook op die kruin begin aankom, het die burgers besef hulle is op die berg vasgekeer, want die Britte was ook in beheer van die ander passe. Teen laat in die middag was die Boere so te sê omsingel deur soldate en kranse. Die kommando het intussen geringe skuiling gevind in ’n leegte by ’n klein plaasopstal met ’n kraal.
Die Kakies het geglo dat hulle die Boere in ’n hoek gedryf het. Hulle het blykbaar toe besluit om tot die volgende oggend te wag vir die kommando om oor te gee.
Deneys Reitz in sy Kommando – Van Perde en Manne, vertel wat hierna gebeur het:
“Generaal Smuts en sy twee luitenante het voor die huis in ’n fluistergesprek verkeer, terwyl ons op ons gewere geleun het, te moeg om om te gee oor wat sou gebeur. En toe kom daar ’n kreupel man met ’n boggelrug by die huis uit. Hy het gesê dat hy ons deur die troepe tot by die rand van die plato kon neem. Dis al langs ’n paadjie waarop ons heel moontlik nie gesien sou word nie, want dit was deur vleigrond. Sy aanbod is gretig aanvaar en bevele is gegee om dadelik ons perde te kry. Ses of sewe manskappe is gedurende die dag gewond en twee so swaar dat hulle agtergelaat moes word, maar die ander het verkies om saam met ons te gaan. Binne ’n paar minute het ons geruisloos die donkerte ingestap met die gebreklike man ongemaklik op ’n perd voor ons. Hy het ons vir ’n myl of twee met ’n modderpaadjie so naby die troepe wat ons omsingel het, verbygeneem dat ons hulle stemme en die geluide van die perde kon hoor. Maar aan die einde van ’n senutergende uur het hy ons onopgemerk tot aan die rand van die eskarpement gebring. Van daar af het die berghelling afgedaal tot in die donker dieptes daar onder. Hy het van die perd af geval-klim en die nag op sy krukke ingestrompel met ons innige dankbetuigings om saam met hom te neem. Hy het sy lewe vir ons gewaag.”
Die afgrond was seker die naaste aan vertikaal wat enige berede mag gedurende die oorlog aangedurf het. Hulle het al glyende na benede gestort, holderstebolder en stampende teen alles en almal op pad ondertoe. Die Britte het nooit kon dink dat die Boere gek genoeg gaan wees om met hulle perde teen ’n krans af te val-ry-loop nie, maar hulle was onbewus daarvan dat dié gedeelte van die helling bedek was met ’n dik grasmat sonder rotse, en die burgers en die perde het onder aangeland sonder enige ernstige ongevalle.