deur Hennie Jansen
Generaal Jan Smuts en sy kommando het in die winter van 1901, gedurende die Anglo-Boereoorlog, in die omgewing van Zastron die Oranjerivier oorgesteek en die Kaapkolonie binnegeval. Hulle het geglo dit sal die vyand se magte verdeel en die druk op die twee republieke verlig deur hulle guerrilla taktiek ook in die Kolonie toe te pas. Die Britse magte was bewus van hulle bewegings en het hul bes probeer om die Boere se planne in die wiele te ry.
Ongeveer die 11de September is die kommando van omtrent tweehonderd en vyftig man en vyfhonderd perde deur ’n Engelse kolonne teen ’n bergpas in die Stormberge opgedwing. Bo-op die kruin was daar egter nie ’n wegkom-roete nie. Die plato is afgesluit deur kranse wat skielik weggeval het tot by die vlaktes wat onderaan die voet van die berg begin. Toe van die berede soldate ook op die kruin begin aankom, het die burgers besef hulle is op die berg vasgekeer, want die Britte was ook in beheer van die ander passe. Teen laat in die middag was die Boere so te sê omsingel deur soldate en kranse. Die kommando het intussen geringe skuiling gevind in ’n leegte by ’n klein plaasopstal met ’n kraal.
Die Kakies het geglo dat hulle die Boere in ’n hoek gedryf het. Hulle het blykbaar toe besluit om tot die volgende oggend te wag vir die kommando om oor te gee.
Deneys Reitz in sy Kommando – Van Perde en Manne, vertel wat hierna gebeur het:
“Generaal Smuts en sy twee luitenante het voor die huis in ’n fluistergesprek verkeer, terwyl ons op ons gewere geleun het, te moeg om om te gee oor wat sou gebeur. En toe kom daar ’n kreupel man met ’n boggelrug by die huis uit. Hy het gesê dat hy ons deur die troepe tot by die rand van die plato kon neem. Dis al langs ’n paadjie waarop ons heel moontlik nie gesien sou word nie, want dit was deur vleigrond. Sy aanbod is gretig aanvaar en bevele is gegee om dadelik ons perde te kry. Ses of sewe manskappe is gedurende die dag gewond en twee so swaar dat hulle agtergelaat moes word, maar die ander het verkies om saam met ons te gaan. Binne ’n paar minute het ons geruisloos die donkerte ingestap met die gebreklike man ongemaklik op ’n perd voor ons. Hy het ons vir ’n myl of twee met ’n modderpaadjie so naby die troepe wat ons omsingel het, verbygeneem dat ons hulle stemme en die geluide van die perde kon hoor. Maar aan die einde van ’n senutergende uur het hy ons onopgemerk tot aan die rand van die eskarpement gebring. Van daar af het die berghelling afgedaal tot in die donker dieptes daar onder. Hy het van die perd af geval-klim en die nag op sy krukke ingestrompel met ons innige dankbetuigings om saam met hom te neem. Hy het sy lewe vir ons gewaag.”
Die afgrond was seker die naaste aan vertikaal wat enige berede mag gedurende die oorlog aangedurf het. Hulle het al glyende na benede gestort, holderstebolder en stampende teen alles en almal op pad ondertoe. Die Britte het nooit kon dink dat die Boere gek genoeg gaan wees om met hulle perde teen ’n krans af te val-ry-loop nie, maar hulle was onbewus daarvan dat dié gedeelte van die helling bedek was met ’n dik grasmat sonder rotse, en die burgers en die perde het onder aangeland sonder enige ernstige ongevalle.
Next →
← Previous