Rebellie in Heilbron – Om Doodgeskiet Te Word, Of Nie?

Posted on July 24, 2014 by Cape Rebel

deur Deneys Reitz

 

Op die oggend van 23 Oktober 1914 het ’n man by my kantoor ingekom, die deur agter hom gesluit en in my oor gefluister dat David van Coller, die distrikskommandant, daardie nag met ’n sterk mag op pad was om die dorp namens generaal De Wet in te neem, en dat ek in my agterplaas doodgeskiet gaan word. Nadat hy van hierdie mondvol ontslae geraak het, het hy die deur oopgesluit en vinnig verdwyn.

Ek het generaal Smuts in Pretoria geskakel en hierdie inligting aan hom oorgedra. Ek het voorgestel dat ek vrywilligers bymekaar moet kry en so die plek verdedig. Hy het my besliste bevele gegee om niks van die aard te doen nie – as Van Coller daar aankom en ons skiet op sy manne, sal die Nasionaliste reg oor die land ’n keel opsit en sê dat ons die moeilikheid begin het. Hy het gesê dat hy nie daarvan hou om my in die steek te laat nie, maar dat hulle ook oproer in ander landsdele verwag, en dat ek vir myself moes sorg.

In die lig hiervan het ek geen rede gesien waarom ek ewe gedwee daar moes bly om deur my politieke opponente gevange geneem te word nie. Ek het nie geglo dat hulle my sou skiet nie, want van nature is die Boere nie geneig tot sluipmoord nie, maar in die hitte van langdurige geskille het ek baie vyande gemaak, en die minste wat met my sou gebeur, is arrestasie en vernederinge.

En so het ek besluit om liewer te ontsnap. Dit was vir my moontlik om vas te stel dat daar alreeds, onopsigtelik, brandwagte opgestel was op elke pad wat by die dorp uitgaan. ’n Ontsnapping helder oordag was dus buite die kwessie, en my enigste hoop was om in die donkerte van die nag weg te kom.

Intussen het ek voorgegee dat ek onbewus was van die moeilikheid op hande, en aandag aan my sake gegee tot vieruur die middag. Toe het ek huis toe gegaan en myself voorberei vir die ontvlugting, en Ruiter opdrag gegee om die perde gereed te kry. Ruiter was al jare lank saam met my. Hy was ’n Hottentot, klein van figuur met krom bene; die lelikste en lojaalste bediende wat ’n mens kan wens om te hê. My perd was ’n volbloed met die naam van Bismarck, een van die beste in die land, en Ruiter het ’n vinnige Basoeto-ponie gehad. Toe ek die situasie aan Ruiter verduidelik het, het hy net gesê dat ons perde stof in enige ander diere se oë sou kon skop.

Terwyl ons daar gestaan en wag het vir die donkerte van die nag met ons perde gereed en opgesaal, het twee jong plaasboere, Daniel Malherbe en Fritz Weilbach, al galoppende by my huis aangekom. Hulle was regeringsmanne wat beide ’n prominente standpunt in die politieke oorlog ingeneem het, en so het hulle besluit dat die dorp die beste plek vir hulle was. Hulle het gesê dat die hele platteland in opstand was, en dat gewapende bendes besig was om oraloor te patrolleer, en dit was net deur so vinnig te ry as wat hulle kon, dat hulle deurgekom het. Na ek hulle vertel het van die opdragte wat ek van generaal Smuts ontvang het, het hulle ingestem om saam met my te probeer vlug.

Van waar ons in my tuin gestaan het, kon ons rebelle op hulle perde teen die horison waarneem. Daar was dus geen tyd om te mors nie, en die oomblik toe dit donker genoeg was, het ons laat spat – eers al sluipende verby die tronk en die munisipale gronde en toe geluidloos die dorp uit.

Dit was blykbaar nie ’n oomblik te vroeg nie, soos ons later uitgevind het. Twintig minute na ons weggekom het, was elke uitgang beset deur brandwagte wat ten tye van ons vertrek, seker reeds besig was om posisie in te neem.

Die Volgende Dag

Omstreeks drie-uur die middag het ons Wolwehoekstasie genader, al langs die spoorlyn wat deur die Vrystaat na Johannesburg en Pretoria loop. Ons het toe omtrent vyf en twintig myl ver gery, maar teen daardie tyd het die meeste rebelle tou opgegooi. Daar was egter omtrent ’n dosyn van hulle, met beter perde of met meer determinasie as die res, wat ’n finale poging aangewend het om ons in te haal voor ons die beskerming van die stasiegeboue kon bereik. Hulle het met spoed in ’n stofwolk op ons afgejaag. Ons was onseker of die stasie deur rebelle beset was of nie, maar ons was verlig, terwyl ons gery het, om die postrein van die suide af al stomende te sien aankom. Dit was die laaste trein wat deurgekom het voordat die spoorlyn opgebreek was, en passasiers het by elke venster uitgeleun om te kyk na iets wat seker vir hulle gelyk het na ’n vertoning in ’n bioskoop: drie gewapende manne en ’n bediende wat soos die duiwel gejaag het terwyl iets soos ʼn “sheriff’s posse” op hulle sterte was.

Posted in Afrikaans


Next

Previous