Coen Brits – Enig In Sy Soort

Posted on August 15, 2014 by Cape Rebel


deur Deneys Reitz

Gedurende die 1914 Rebellie

Generaal Botha was in daardie tyd nog in die weste, en ou Coen Brits was in beheer. Ek het by hom aangemeld, en hy het my gegroet met ’n klap van sy rouriem-sambok, wat sy idee van ’n militêre saluut was. Hy was ’n amusante karakter, ses voet ses lank, en hy kon nie ʼn woord Engels praat nie. Hy kon enorme hoeveelhede alkohol wegslaan sonder enige teken dat hy aangeklam was, en in Transvaal was hy algemeen bekend vir sy pittigheid en Rabelaisige stories. Maar hy was egter ’n goeie soldaat. Gedurende die Anglo-Boereoorlog was hy ’n bekwame en dapper vegter aan die Republieke se kant, en generaal Botha was die enigste man wat hom kon beïnvloed. Toe Botha hom getelegrafeer het om sy manne te mobiliseer vir ’n Suidwes-ekspedisie, het hy terug laat weet dat hy gereed was, maar hy wou nogtans weet of hy teen die Duitsers of die Britte moes veg. Hy was heeltemal bereid om beide te doen, want hy het Botha verafgod, en hom blindelings gehoorsaam.

Daar was ’n Skot saam met my wat ’n doedelsak besit het, wat hy in die aande om die kampvuur gespeel het. Ou Coen het skynbaar gedink dat dit ’n godsdienstige plegtigheid was. Een oggend het ’n Duits Gereformeerde predikant geskryf vir toestemming om die manne toe te spreek. Coen, wat ietwat heidens was, het terug geantwoord dat hy nie ’n geprekery in sy kamp wou hê nie. Hy het na my toe gedraai en gesê dat hy geweier het om die predikant toe te laat om te kom, maar hy moet regverdig wees teenoor die sektes, en ek moet daardie verdomde Skot van my stop om sy doedelsak te speel.

Duits Suidwes-Afrika

Generaal Botha het my opdrag gegee om by Coen Brits vir diens aan te meld, en so het ek en Ruiter hom in Karabieb gaan opsoek, waar die ou man my verwelkom het met die gewone geklap van sy sambok.

Ou Coen was so joviaal en vermaaklik soos altyd. Hy het my van ’n perd voorsien waarmee ek heen en weer op lang ritte gery het met opdragte aan verafgeleë buiteposte. Op ’n slag het hy ’n telegram van ’n Suid-Afrikaanse burger af ontvang wat sy dienste aangebied het. Dié man was egter ook heel lief vir die bottel, en Coen het laat weet: “Moenie kom nie. Al die drank wat hier in Suidwes-Afrika is, is net genoeg vir my.”

Daar is aan my gesê dat met die opmars van die kus af, sy voorraad alkohol uitgeput geraak het, en die enigste oorblywende bottel in die brigade het aan ’n gewone soldaat behoort. Aan Coen is voorgeskryf dat, as brigadier, hy nie veronderstel was om saam met ’n gewone manskap te drink nie. Hy het egter die probleem maklik omseil. Die eienaar is daar en dan tot tweede-luitenant bevorder, en na die twee die bottel geledig het, het hy die man se aanstelling herroep, heeltemal tevrede dat hy die militêre gebruike deeglik nagekom het.

 

 

Posted in Afrikaans


Next

Previous