Stories

Kommandant Hennie van Rensburg

Posted on April 30, 2014 by Cape Rebel

deur by Marthinus van Bart

 

James Barry Munnik Hertzog, een van die Boere se voorste strydsleiers gedurende die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die derde premier  van Suid-Afrika ná Uniewording, was ook ’n advokaat en ’n regter. Toe hy na afloop van die oorlog as advokaat die laaste leier van die Theron’s Verkennings Corps, kommandant H.J.J. (Hennie) van Rensburg, in die Britse krygshof moes verdedig omdat hy as Kaapse Rebel teen die Britte geveg het, het Herzog geen regskoste vir sy regshulp gevra nie. “Wat dié man vir ons volk gedoen het, kan ons nooit terugbetaal nie,” het hy gesê. 

Die Theron’s Verkennings Corps was die mees gedugte verkenningseenheid van die hele ABO. Die stigter en eerste kommandant daarvan, Danie Theron, gebore op Tulbagh, was ook ’n regsman. Hy was ’n prokureur op Krugersdorp en burger van die Transvaalse Boererepubliek toe die oorlogswolke oor Suid-Afrika begin saampak het. Nadat die redakteur van The Star, W.F. Moneypenny, snedighede oor die Afrikaners in sy kolommme kwytgeraak het, het Theron hom in Johannesburg op kantoor gaan opsoek. Hy het die redakteur met sy leuens en beledigings gekonfronteer. Toe Moneypenny egter ook hom beledig, het Theron hom met die vuis bygedam. Theron is weens aanranding in die landdroshof veroordeel en beboet. Die aanwesiges, meestal sy ondersteuners, het in die hof onder ’n groot gelag ’n hoed omgestuur en die boete daar en dan betaal.

Theron was ’n topfiks-atleet en kampioen-fietsryer. Toe die oorlog uitbreek, het hy ’n fietsryerskommando, Wielrijders Rapportgangers Corps, gestig omdat hy gemeen het die tweewielfiets was doeltreffender as die ryperd in oorlogstoestande. Wat hy nie in berekening gebring het nie, was dat elke lid van die korps soos hy ’n topfiks-atleet moes wees met die uithouvermoë van ’n ysterman. Die fietsryerskorps was dus nie geslaagd nie, maar die vernuftige Theron is aangestel as hoof van die Zuid-Afrikaansche Republiek se verkenners met die rang van kaptein. Hierdie Theron’s Verkennings Corps was legendaries in die oorlog. Op 5 September 1900 is Theron by Gatsrand aan die Wesrand deur die Britte vasgekeer en met ’n kanonkartets doodgeskiet. 

Die laaste leier van die Theron’s Verkennings Corps was kommandant Hennie van Rensburg. Hy was, soos Theron, ook in die Kaapkolonie gebore. Hy was van die plaas Langnek by Modderfontein in die distrik Cradock, Oos-Kaap, afkomstig. Toe die oorlog uitbreek, het hy steeds daar gewoon en hy was dus ’n Britse onderdaan. In Mei 1901 het Van Rensburg, toe pas 21 jaar, hom by die kommando van kmdt. Wynand Malan aangesluit. In die volgende maand is die jong Rebel in ’n aanval op Richmond in die gesig gewond. Die Engelse koeël is by sy neus in en by sy nek, onder sy linkeroor, uit. Hy was egter ’n taai Boerseun en het geweier om die kommando te verlaat. Die wond het mettertyd genees, maar Van Rensburg het later doof geword. Hy het tot September 1901 in die Kaapse Middellande geveg, onder meer saam met Gideon Scheepers se kommando. Daarna is die korps na Calvinia om onder genl. Manie Maritz te veg. Dié formidabele generaal het Van Rensburg die rang van veldkornet toegeken, en genl. Malan het hom kort daarna tot kommandant en hoof van die verkenningskorps bevorder. 

Toe die Boere op 5 Junie 1902, amper ’n week ná die vredesluiting by Vereeniging, die wapens neerlê, is Van Rensburg deur die Britte gevange geneem en in Cradock se tronk opgesluit. Hy het voor ’n krygshof op ’n aanklag van hoogverraad en nege aanklagte van moord tereggestaan. Toe hy genl. J.C. (Jan) Smuts, een van die hoofonderhandelaars namens die Boere by Vereeniging, versoek om hom in die hof te verdedig, het Smuts geweier. “Ek is jammer, maar vrede is klaar gesluit en die kommandante mag vervolg word,” was sy antwoord. Smuts het by Vereeniging toegegee aan die eise van lord H.H. Kitchener, opperhoof van die Britse magte, dat die Kaapse Rebelle geen amnestie mag kry nie. Dit was uitdruklik teen die wens van presidente Paul Kruger (van Transvaal) en M.T. Steyn (van die Oranje Vrijstaat). Dat Smuts die jong Rebel geken het, het vir hom geen verskil gemaak nie.

Van Rensburg het hom daarna tot genl. Hertzog gewend, hoewel die generaal hom glad nie geken het nie. Hy was wel daarvan bewus dat Van Rensburg baie dapper geveg het en dat hy ’n waardige kommandant van die Theron’s Verkennings Corps was. Hertzog het dadelik ingestem, na Cradock gereis, en met groot moeite daarin geslaag om Van Rensburg op borgtog van £4 000 uit die tronk te kry. Voordat die verhoor hervat kon word, het die Kaapse parlement besluit dat Van Rensburg amnestie mag kry, en is hy vrygespreek. 

Toe hy Hertzog vir sy onkoste en regsdienste wou betaal, het die generaal 
dit vriendelik van die hand gewys en gesê: “Wat Hennie van Rensburg vir ons volk gedoen het, kan ons nooit terugbetaal nie.” Hierdie ridderlike gebaar van Hertzog was ’n waardige teenprestasie vir Van Rensburg se bereidwilligheid om as Kaapse Rebel sonder enige vergoeding sy jong lewe in die spel te plaas ter wille van reg en geregtigheid vir sy mede-Afrikaners in die Boererepublieke.

Posted in Afrikaans

Die Kaapse Rebel

Posted on April 07, 2014 by Cape Rebel

vertaal deur Marthinus van Bart


’n Senior regsgeleerde het onlangs gesê hy kon dit nog nooit begryp waarom sy oupa – op die ouderdom van 56 jaar – op ’n dag ten tyd

e van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) sy perd opgesaal en na die Boere-kommando’s koers gekies het om as Kaapse Rebel saam met hulle teen die Britte te gaan veg nie. Die antwoord lê straks opgesluit in C. Louis Leipoldt se historiese roman Stormwrack, waarin beskryf word dat burgerlikes indertyd gedwing is om ingevolge Britse krygswet te aanskou hoedat Kaapse Rebelle, ter dood veroordeel weens hoogverraad, gefusilleer word. Daar was geen doeltreffender manier om Kaapse Rebelle te werf as juis hierdie vorm van dwingelandy nie.

Die Kaapse Rebel hier ter sprake is uiteindelik gevang en in die tronk gestop, waar hy ná die vredesluiting van 31 Mei 1902 steeds opgesluit gebly het. Die owerhede was slegs bereid om hom vry te laat indien ’n welvarende bereid was om borg van £1 000 te staan – wat sou toesien dat hy hom in die toekoms goed sal gedra. Sy gesin was nie vermoënd genoeg om aan die vereistes van borgstaan te voldoen nie, en so het hy maande nadat die oorlog reeds ten einde geloop het, steeds in gevangenskap gebly.

Uiteindelik het ’n totale vreemdeling van Transvaal van die Kaapse Rebel se benarde situasie verneem, ingestem om borg te staan, en sodoende toegesien dat die gevangene vrygelaat word. Al wat die gesin ooit oor die vreemdeling kon vasstel, was sy familienaam. Gevolglik was hulle nie in staat om hul dankbaarheid persoonlik aan hom oor te dra nie. Sodanig is hierdie grootse gebaar van die vreemdeling deur die Rebel en sy naasbestaandes waardeer, dat die seun en kleinseun van die Kaapse Rebel – albei regsgeleerdes – nooit enige regskostes verhaal het van enige kliënt met dieselfde familienaam as dié van die vreemdeling nie. Op hierdie manier, sonder verduideliking, het hulle die algehele vreemdeling se stille ruimhartigheid van jare tevore vereffen.

Een van die karakters in Stormwrack, wat dié oorlog as ’n burgeroorlog in die Kaapkolonie uitbeeld, verklaar: “Die wonde van burgeroorlog laat letsels waarvan die gevoeligheid nie altyd deur die verloop van tyd afneem nie.” Dit blyk, paradoksaal, die geval te wees met die dankbaarheid van dié regsfamilie wat tot vandag toe nooit die stille ruimhartigheid van egte heldhaftigheid vergeet het nie. Daardeur word die edelste in die gees van die ware Kaapse Rebel gedemonstreer.

Posted in Afrikaans

« Previous 1 15 16 17