Die Kaapse Rebel

Posted on April 07, 2014 by Cape Rebel

vertaal deur Marthinus van Bart


’n Senior regsgeleerde het onlangs gesê hy kon dit nog nooit begryp waarom sy oupa – op die ouderdom van 56 jaar – op ’n dag ten tyd

e van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) sy perd opgesaal en na die Boere-kommando’s koers gekies het om as Kaapse Rebel saam met hulle teen die Britte te gaan veg nie. Die antwoord lê straks opgesluit in C. Louis Leipoldt se historiese roman Stormwrack, waarin beskryf word dat burgerlikes indertyd gedwing is om ingevolge Britse krygswet te aanskou hoedat Kaapse Rebelle, ter dood veroordeel weens hoogverraad, gefusilleer word. Daar was geen doeltreffender manier om Kaapse Rebelle te werf as juis hierdie vorm van dwingelandy nie.

Die Kaapse Rebel hier ter sprake is uiteindelik gevang en in die tronk gestop, waar hy ná die vredesluiting van 31 Mei 1902 steeds opgesluit gebly het. Die owerhede was slegs bereid om hom vry te laat indien ’n welvarende bereid was om borg van £1 000 te staan – wat sou toesien dat hy hom in die toekoms goed sal gedra. Sy gesin was nie vermoënd genoeg om aan die vereistes van borgstaan te voldoen nie, en so het hy maande nadat die oorlog reeds ten einde geloop het, steeds in gevangenskap gebly.

Uiteindelik het ’n totale vreemdeling van Transvaal van die Kaapse Rebel se benarde situasie verneem, ingestem om borg te staan, en sodoende toegesien dat die gevangene vrygelaat word. Al wat die gesin ooit oor die vreemdeling kon vasstel, was sy familienaam. Gevolglik was hulle nie in staat om hul dankbaarheid persoonlik aan hom oor te dra nie. Sodanig is hierdie grootse gebaar van die vreemdeling deur die Rebel en sy naasbestaandes waardeer, dat die seun en kleinseun van die Kaapse Rebel – albei regsgeleerdes – nooit enige regskostes verhaal het van enige kliënt met dieselfde familienaam as dié van die vreemdeling nie. Op hierdie manier, sonder verduideliking, het hulle die algehele vreemdeling se stille ruimhartigheid van jare tevore vereffen.

Een van die karakters in Stormwrack, wat dié oorlog as ’n burgeroorlog in die Kaapkolonie uitbeeld, verklaar: “Die wonde van burgeroorlog laat letsels waarvan die gevoeligheid nie altyd deur die verloop van tyd afneem nie.” Dit blyk, paradoksaal, die geval te wees met die dankbaarheid van dié regsfamilie wat tot vandag toe nooit die stille ruimhartigheid van egte heldhaftigheid vergeet het nie. Daardeur word die edelste in die gees van die ware Kaapse Rebel gedemonstreer.

Posted in Afrikaans


Next

Previous