Zoeloe en Renoster-Indrukke – 1923

Posted on July 22, 2014 by Cape Rebel


deur Deneys Reitz


In die winter van 1923 het Deneys Reitz en Jan Smuts, respektiewelik kabinets- en eerste minister en kamerade sedert die Anglo-Boereoorlog, saam deur Zoeloeland getoer op iets wat vir hulle soos ’n vakansie was. In No Outspan, die derde boek in die gepubliseerde trilogie Adrift on the Open Veld, beskryf Reitz hulle ontmoeting met ’n samekoms van tienduisend Zoeloe-stryders. Met ’n paar renosterstories en ander aangeleenthede op die koop toe, sluit hy as volg af:

“Mankulumane was ’n manjifieke barbaar van oor die negentig jaar, lank en regop en elke gelaatstrek van sy sterk gesig het van krag en karakter getuig. Hy was die hoof-raadsman van Cetewayo en Dinuzulu soos hy op daardie tydstip ook van Solomon was. Die Zoeloes het hom as die grootste orator van alle tye beskou.

Die Zoeloe-taal wat hy gepraat het, was formeel en ingewikkeld soos in ’n vergadering van die oudstes van die ringkoppe met die opperhoof en nie die alledaagse gebruikstaal nie, maar omdat ek ’n bietjie Zoeloe verstaan en met die hulp van ’n tolk, kon ek volg wat hy sê.

Hy het sy gehoor meesterlik beheer. Een oomblik het hy ’n hele impi woedend laat opspring om in die rigting van hulle oorgeërfde vyande anderkant die gemeenskaplike, afgebakende grens onheilspellend te gluur, en dan weer heel knap kon hy hulle laat uitbars van die lag met ’n grappige vertelling van ’n jagtog of ’n storie oor beeste.

Vervolgens, in ’n gedempte stem, het hy gepraat oor vroeëre glorieryke tye wat die Zoeloes beleef het, die voorvadergeeste en veldslae van die verlede. En wanneer hy hulle berispe het oor hulle struwelinge, het hulle neergesak met hulle koppe tussen hulle knieë en so saam al klaende heen en weer gewieg.

Wat my die meeste beïndruk het in sy redevoering, was sy verwysing na Dinizulu, sy vorige heerser.

Dinizulu is in 1906 deur die Natalse Hof tronk toe gestuur vir sy beweerde medepligtigheid in die Bambata opstand. Ten tye was daar heelparty mense wat die regverdigheid van die uitspraak betwyfel het, en ’n oom van my wat destyds ’n advokaat was, W.P. Schreiner, het groot persoonlike ongerief verduur en hom kosteloos verdedig in ’n hofgeding wat maande lank geduur het. In 1910, toe generaal Botha eerste minister van die unie geword het, het hy Dinizulu vrygelaat, maar kort daarna is hy egter oorlede. Sy skuldigbevinding en tronkstraf het die stamme steeds erg gegrief.

 Mankulumane het die begrafnis van Dinizulu bygewoon en toe hy daarna verwys het in sy toespraak, het hy gesê: ‘Ek is nie ’n Usutu nie. Ek behoort aan die M’Gangkwe-stam. Panda het ons verslaan. Na ons ons onderwerp het, het die Usutus hul vertroue aan ons gegee. Alhoewel ons teen hulle baklei het, het ek ’n hoë, eerbare posisie bereik, en was selfs aangestel as hoof-raadgewer van hulle konings. Hierdie vertrouens-ooreenkoms is deur baie jare nooit verbreek nie.

‘Maar let op hoe die witman Dinizulu behandel het! Hy het hom aan hulle oorgegee en hulle het voorgegee dat hulle sy woord aanvaar het, maar dit was nie waarlik so nie. Toe Bambata in die woude van Nkandhla in opstand gekom het, het hulle die koning met mooi woordjies gepaai terwyl hulle hom omring het. ’n Gebroke hart het tot sy dood gelei.’

Op ’n stadige afgemete toon het Mankulumane sy toespraak afgesluit, en aan die einde was daar ’n doodse stilte. Ons was almal beïndruk deur wat hy gesê het en sommige selfs ietwat beskaamd.

’n Oorlogsdans het hierna gevolg; elke stam in sy eie afgebakende gebied. Dit was manjifiek, maar ons was almal verlig toe dit geëindig het sonder ’n verbreking van die vrede. Ons het te perd teruggekeer Nongoma toe terwyl die impi’s heel indrukwekkend in ’n stofwolk wegbeweeg het.

Die volgende oggend het ons ons reis huiswaarts hervat en op ons pad verby ’n hele paar Europese dorpies gereis. By een van die plekke het die mense ons vertel van ’n witrenoster wat hulle kort van tevore besoek het. Daar is twee soorte renosters in Zoeloeland, die witte en die swartrenoster. Laasgenoemde is kleiner, maar heel befoeterd en nie so rustig soos die witrenoster nie. Altwee is bysiende en geneig om op enigiets af te storm wat hulle kan ruik, maar nie kan sien nie. Op die geleentheid het die witrenoster deur ’n hele paar tuine geloop en aan die anderkant uitgekom met stukke van die heinings om sy kop gewoel. Toe het hy straat af die dorpie binne gewandel. Hy het die oop deur van ’n huis opgemerk, sy kop daar ingesteek, en die elektriese klokkie en battery ontwrig sodat beide om sy horing gehang het toe hy in trurat oorgeskakel het. Ongesteurd hierdeur het hy by ’n agterplaas ingeslenter, die wasgoedlyn met die familie se wasgoed raak gestroop en saam met hom verder gesleep. Met dié het die klokkie kontak gemaak en aan het luie gegaan. Hy was soos ’n oorlogskip op ’n feesdag met veelkleurige kledingstukke al fladderende aan sy sye terwyl hy weer die bosse in verdwyn het.

’n Wildwagter van Zoeloeland het my vertel dat hy eendag met ʼn piekanien agter hom in ’n paadjie afgestap het, toe hulle op ’n witrenoster afgekom het wat in ’n opening in die bos gelê en slaap het. Die piekanien het vooruit gehardloop en die dier in die ribbes geskop. Die dier het verwoed opgespring, maar met die sien van die klein aanvallertjie, het hy net gesnork van verontwaardiging en die aftog geblaas.

Via Eshowe en Melmoth het ons verby die plek gegaan waar Dingaan se hoofstat eens gestaan het. Hier onder ’n onversorgde klipstapel het die gebeentes van Piet Retief en sy manskappe gelê wat daar in 1838 vermoor is.

Verder het ons die plek besoek waar die Vorstelike Prins, die seun van verwaande Napoleon III, deur die Zoeloes doodgemaak is. Ek het sy ma, die keiserin Eugénie, in 1917 in Aldershot gesien. Sy het oud en vervalle daar uitgesien, maar my pa het haar in die fleur van haar lewe by die Paryse Uitstalling gesien, en hy het my vertel dat sy toe ’n beeldskone vrou was.

’n Spesiale trein het op ons gewag toe ons die Natalse spoorlyn bereik het. Ons het in Julie 1923 teruggekeer Pretoria toe.”

Posted in Afrikaans


Next

Previous