In die Skadu van die Withaak – 'n Uittreksel

Posted on July 10, 2014 by Cape Rebel

deur Herman Charles Bosman

 

Luiperds? – het oom Schalk Lourens gesê – O, ja, daar is twee soorte aan hierdie kant van die Limpopo. Die grootste verskil tussen hulle is dat die een tipe ’n paar meer kolle het as die ander een. Maar as jy onverwags op ’n luiperd in die veld afkom, doen jy selde die moeite om die kolle te tel om uit te vind watter een van die twee dit is. Dis onnodig. Want watter soort luiperd dit ookal is wat jou pad op hierdie manier kruis, daar is net een soort hardloop wat jy gaan doen. En dit is die vinnigste.

Ek onthou die geleentheid toe ek onverwags op ’n luiperd afgekom het, en tot vandag toe kan ek jou nie vertel hoeveel kolle hy gehad het nie, alhoewel ek al die tyd in die wêreld gehad het om hom te bestudeer. Dit het in die middel van die dag gebeur, toe ek op die verste end van my plaas, agter ’n koppie, op die soek was na afgedwaalde beeste. Ek het gedink dat die beeste daar sou wees, want dit was skaduryk onder daardie withaakbome, met lekker sagte gras om op te sit. Na ek omtrent ’n uur lank na die beeste op hierdie manier gesoek het, met my rug rustende teen die boomstam, het dit tot my deurgedring dat ek net so goed na hulle kon soek, of miskien selfs beter, as ek plat gaan lê. Selfs ’n kind weet dat beeste nie so klein is dat jy op stelte moet wees om hulle ordentlik te sien.

So lê ek toe op my rug, met my hoed skuins oor my gesig, my bene gekruis, en wanneer ek my oë so effens toegeknyp het, het die punt van my skoen wat toe boontoe gewys het, net soos die kruin van Abjaterskop gelyk.

Bo in die lug het ’n eensame aasvoël om en om gesirkel sonder om sy vlerke te klap, en ek het geweet dat selfs nie ’n kalf in enige deel van die lug tussen die punt van my skoen en daardie aasvoël kon verskyn sonder dat ek hom dadelik gaan raaksien nie. Wat meer was, ek kon die hele dag daar onder die withaak lê en soek na die beeste as dit nodig was.

Hoe meer ek my oë op skrefies getrek het en na die punt van my skoen gestaar het, hoe meer het dit na Abjaterskop gelyk. Na ’n rukkie het dit gelyk asof dit werklik Abjaterskop was, en ek kon die rotse bo op die kruin sien, en die bosse wat teen die kranse probeer boontoe groei, en in my ore was daar ’n sagte, veraf gonsende geluid soos bye in ’n boord op ’n stil dag. Soos ek gesê het, dit was heel aangenaam.

Toe het daar ’n snaakse ding gebeur. Dit was asof ’n groot wolk, in die vorm van ’n dier se kop met kolle, bo-op Abjaterskop tot ruste gekom het. Dit het so snaaks gelyk dat ek lus was om te lag. Maar ek het nie. Inteendeel, ek het my oë so effentjies groter oopgemaak en bly gevoel om te weet dat ek net gedroom het. Anders sou ek moes glo dat die wolk met die kolle bo-op Abjaterskop in werklikheid ’n luiperd was, en dat hy na my skoene gestaar het. Weer was ek lus om te lag. Maar toe, skielik, het ek geweet.

Ek het nie meer so vrolik gevoel nie, want dit was ’n luiperd. Waarlik – ’n groot, hongerlykende luiperd, en hy het agterdogtig aan my voete geruik. Ek het ongemaklik gevoel. Ek het geweet dat niks wat ek ookal kon doen die luiperd sou wysmaak dat my toon Abjaterskop was nie. Ek wou opspring en weghol. Maar ek kon nie. My bene wou nie beweeg nie.

Elke grootwildjagter wat ek teëgekom het, het my dieselfde storie vertel van hoe, op een of ander geleentheid, hy van leeus en ander wilde diere ontsnap het deur doodstil te lê en voor te gee dat hy dood was, sodat die roofdier belangstelling in hom verloor het en weggeloop het. Toe ek nou so daar in die gras gelê het terwyl die luiperd besig was om oor my te besluit, het ek verstaan hoekom ’n jagter in so ’n situasie nie beweeg nie. Hy kan eenvoudig net nie. Dis al. Dis nie sy slimmigheid wat hom daar op die grond hou nie. Dis sy bene.

Dit was verskriklike oomblikke. Ek het baie stil gelê, te bang om my oë oop te maak of om asem te haal. Al snuifende het die kolossale dierasie om my beweeg en sy warm asem het hygend oor my gesig geveeg. Mens hoor baie van die vreesaanjaende ervarings in mense se lewens. Ek self was al in ʼn hele paar lewensgevaarlike situasies gewees, maar as jy iets soek wat jou sommer skielik oud maak en jou hare binne oomblikke laat grys word, dan is daar niks wat kers vashou by ’n luiperd nie – veral as hy bo-oor jou staan met sy kake aan jou keel, besig om ’n lekker plek te soek om jou te byt nie.

Die luiperd het diep gegrom en regoor my liggaam geklim, my hoed afgestamp, en weer gegrom. Ek het my oë oopgemaak en die dier lomperig sien wegbeweeg. Maar my verligting was egter van korte duur. Die luiperd het nie te ver weggestap nie. In pleks daarvan het hy omgedraai en langs my kom lê.

Ja, daar op die gras in die skaduwee van die withaak, het ek en die luiperd langs mekaar gelê. Die luiperd het half opgerol gelê, nes ’n hond, en wanneer ek probeer het om weg te beweeg, het hy gegrom. Ek is seker dat in die hele geskiedenis van die Groot Marico daar nog nooit twee vreemder metgeselle was wat saam in die ondankbare taak betrokke was om na afgedwaalde beeste te soek nie.

Die volgende dag in Fanie Snyman se voorkamer wat as ’n poskantoor gedien het, het ek my storie aan die boere van die omgewing vertel, terwyl hulle koffie gedrink en gewag het vir die lorrie van Zeerust af.

Die mense het aanvanklik die gek geskeer oor hierdie luiperd. Hulle het gesê dat dit nie regtig ’n luiperd was nie, maar liewers net ’n dier met kolle wat uit Schalk Lourens se droom weggeloop het, en die nadraai van die hele affêre was dat ek ook begin twyfel het aan die bestaan van die luiperd.

Maar sake het ’n ander wending geneem toe daar ’n paar dae later ’n luiperd langs die pad naby die poort gesien is, en toe weer deur Mtosas op pad na Nietverdiend, en weer in die turflande langs die Malopo. En toe sy spore by ’n hele paar watergate gevind is, het die mense glad nie meer getwyfel aan die bestaan van die luiperd nie. Dit was gevaarlik om in die veld rond te loop, het hulle gesê.

Opwindende tye het aangebreek. Daar was ’n grootskaalse geskietery op die luiperd en ’n grootskaalse weghollery van die luiperd af. Die aantal Martini en Mauserskote wat ek uit die kranse aangehoor het, het my meer aan die Eerste Boereoorlog as enigiets anders laat dink. En die mate van weghollery het my meer aan die Tweede Boereoorlog laat dink as enigiets anders.

Maar elkers het die luiperd ongeskonde daarvan afgekom. Op ’n manier, het ek jammer vir hom gevoel. Die manier wat hy aanvanklik aan my geruik het en toe langs my kom lê het daar onder die withaak, was ’n vreemde ding wat ek nie verstaan het nie. Ek het aan die Bybel gedink, waar daar geskryf staan dat die leeu langs die lam sal gaan lê.

Ek het ook gewonder of dit nie net alles ’n droom was nie. Die manier wat ek hierdie dinge ervaar het, was bowenaards, en baie van my gedagtes het oor die luiperd gegaan. Verder was daar niemand met wie ek kon praat wat my op enige manier kon help nie. Selfs nou, terwyl ek die storie vertel, verwag ek dat jy vir my sal knipoog net soos Krisjan Lemmer. (Jy ken daardie soort van knipoog. Dit was om my te laat weet dat daar nou ’n nuwe verstandhouding tussen ons was, en dat ons in die toekoms met mekaar kon praat soos een Marico leuenaar met die ander.)

Steeds egter, kan ek jou net die dinge vertel soos ek dit gesien het, en waaroor die res gegaan het, weet net Afrika.

Dit was ’n ruk daarna dat ek weer op die paadjie deur die bos geloop het na die withaakbome. Maar ek het nie weer op die gras gaan lê nie, want toe ek die plek bereik het, het ek gesien dat die luiperd voor my daarheen gegaan het. Hy het daar op dieselfde plek gelê, half opgekrul in die skadu van die withaak, en sy voorpote was oormekaar gevou net soos ʼn hond soms doen. Maar hy het baie stil gelê. En selfs van die afstand vanwaar ek gestaan het, kon ek die rooi bloedkol op sy bors sien waar die Mauserkoeël hom getref het.

Posted in Afrikaans


Next

Previous