Vir amper so lank as wat ek kan onthou, was straatoptogte in my bloed. Wanneer ek ’n lang ry mense deur die strate sien loop – hoe langer die ry, hoe meer hou ek daarvan – roer daar ’n oeroue iets in my binneste en word ek deur die drang oorval om aan te sluit, en my plek êrens aan die einde van die prosessie in te neem. En so was dit my hele lewe lank met my. Daar is iets omtrent die waarneem van en die gedagte aan ’n lang ry mense wat deur die strate van ’n stad marsjeer, wat my met eerbied en bewondering vervul, en dit kan ek nie maklik verduidelik nie. Maar dit moet deur ’n stad wees; ’n optog deur ’n dorp of die veld sou nie dieselfde ding wees nie.
Die ideale omstandighede vir ’n straatoptog is bewolkte weer en nat paaie. En daar moet so ’n motreëntjie val. Uiterstes, soos ’n hewige sneeustorm of ’n tropiese stortreën, val nie in my smaak nie. Donderslae en weerlig is onvanpas. Al wat mens nodig het, is die aanhoudende gedrup van sagte reën wat alles bleek en triesterig laat lyk, sonder die gerief van oorgawe aan die uiterste verlatenheid. Dan, deur die grou strate, moet daar ’n lang tou mense stap met hulle gesigte ’n bleekgrys kleur, drie of vier langs mekaar met modder besmeerde skoene en klere (verkieslik) toiingrig wat, as gevolg van die reën, soos sakke aan hul hang. Hulle kan so ’n bietjie sing, as hulle daarvan hou, om hulself so ietwat op te beur – natuurlik sonder enige sukses. En daar, tesame met hierdie sombere voortstrompeling van duisende gestewelde voete op klip- of teerstrate, lê my hart. Ek word vasgegryp deur ’n intense gevoel van deel wees van die dom, worstelende, vrotsige, heldhaftige menslikheid, en in hierdie kleurlose optog is daar ’n sterk simbolisme, waarvan ek die elemente nie probeer verstaan nie, want die onderdele daarvan mag minder wees as die geheel; en ten spyte van die riglyne van gesonde verstand, swig ek voor die drang om te probeer om êrens agter, nader aan die stertkant van die prosessie, vir my ’n plek te vind.
En, o ja, daar is nog iets wat ek amper vergeet het, en dit is die beweegrede wat die dinamiek is om ’n optog van so ’n omvang te organiseer en aan die gang te kry. Eerlikwaar, ek dink nie die rede is van veel belang nie. Ek het ’n natuurlike voorliefde vir enige ongewilde rede en, bowenal, vir ’n verlore, wanhopige saak. Of hierdie besonderse eienaardigheid van my afkomstig is van ’n gewone perversiteit, of van ’n edelmoedige siel, kon ek nog nooit vasstel nie. En so, terwyl ek altyd voel dat dit baie lekker is, en so aan, as die marsjeerdery deur die deelnemers gedoen word in ’n gees van trotse idealisme, want ’n baie belangrike beginsel is hier op die spel, is ek net so tevrede – solank die modderige skoene en die bewolkte hemel teenwoordig is – as die geestelike faktore van die demonstrasie nie te erg verhewe of onbaatsugtig is nie.
Ek het laas so onlangs soos verlede Saterdagmiddag in so ’n optog gestap. Ek was op die boonste dek van ’n Malvern-trem op pad huis toe, toe ek voor Jeppestasie ’n straatoptog gadeslaan wat besig was om op dreef te kom. Ek het dadelik besef die omstandighede was presies reg. Dit het saggies gereën. Die paaie was nat en grou en modderig. Die lug was toegetrek en somber. Ek het reggemaak om af te klim. Ongelukkig was die trem propvol, en gevolglik kon ek eers by die Bergstraat-stop afklim. Van daar af het ek ’n ander trem gekry terug Jeppestasie toe, waar ek aangekom het net toe die prosessie begin beweeg het. Ek het my plek iewers agterlangs ingeneem. Ons het in ’n noordelike rigting aangestrompel en in Commissionerstraat afgedraai. Strompelend. Voortslepend. Misreën. Modder. Nat skoene en fatsoenlose klere. Ek het nie gevra waaroor die optog gegaan het nie. Ek wou nie my onkunde uitblaker nie, want die moontlikheid het bestaan dat daar dan neusoptrekkerig na my gekyk sou word. Ek was al voorheen deur ’n straatoptog uitgelag, en ek het nie daarvan gehou nie.
Next →
← Previous