Sjerrie – ’n Uittreksel

Posted on August 15, 2014 by Cape Rebel

Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt



Dis gewoonte – myns insiens ’n goeie gewoonte – om iets voor die aandete te gebruik. Ons voorouers het dit van ouds af gedoen. ’n Pimpeltjie wyn voor die maal was die uitdrukking in die oeroue dae, toe daardie seemansterm nog burgerreg besit het; vandag weet niemand natuurlik wat ’n pimpeltjie is nie. In my jong dae het die ou aias in die koel, half-donker groentemark, wat destyds een van die vernaamste besienswaardighede van Kaapstad was, dit geheg aan wat ons nou ’n pierinkievol sou noem; hulle het ook gepraat van ’n pimpeltjie as hulle ’n bossie bedoel het. Maar oorspronklik was ’n pimpeltjie ’n wynmaat, ’n klein kelkie drank wat voor die maal genuttig is.

Uit ’n gesondheidsoogpunt beskou, is daar iets voor te sê om voor die hoofeetmaal van die dag ’n ietsie wyn te drink. Dis nie net die wyngees, die alkohol, wat prikkelend werk en die maagsappe beïnvloed nie. Dis waarskynlik meer te danke aan die amiensure en die olieagtige bestanddele van die wyn dat so ’n voorafgaande slukkie drank jou beter in staat stel om lekker kos ’n twintig minute later te waardeer.

Die vraag is dus wat om te drink? Tog nie daardie swaar mengsels van sterk alkoholiese wynsoorte, likeure, jenewer, Kanadese graangees, Engelse bierbrandewyn, of selfs Russiese wodka, en nog minder die honderd-en-drie wysigings van die Amerikaanse cocktail nie. Hulle bederf die smaak en rinneweer die aptyt. Die enigste uitsondering op die reël is miskien – en ek durf ’n vraagteken daaragter te sit – die lemmetjie-pait wat bestaan uit een-derde lemmetjiesap en twee-derdes eersteklas Bols.

Nee, die allerbeste drankie voor die aandete  is ’n kelkie egte sjerriewyn. Dit bevat alles wat nodig is vir die voorbereidende prikkeling van die maagslymvliese, en dit het te min wyngees om skadelik op die eetlus te werk. Sjerrie, dus.

Sjerrie is ’n wyn wat oop kan staan sonder om te verslaan. Inderdaad, dit is beter om ’n bottel sjerrie ’n paar uur voordat jy dit skink, te ontkurk. Drink dit liefs sonder om warm of koud te maak; die gewone kamerhitte is genoeg om die olieagtige smaak sy volle waarde te gee. Die onvervalste fino, amper kleurloos, geurig, kurkdroog en met ’n bitter smaak waarin daar geen brak is nie, kry ’n mens nie in die handel nie; die K.W.V. het dit egter, vir diegene wat daar kan gaan pamperlang.

Die voortreflikheid van sjerrie lê in sy hoë gehalte van allerhande bybestandele, waaronder die olie, vetsure en amiensure die vernaamste  en sy alkoholgehalte die minste is. Hy is by uitstek ’n wyn wat stadig en met nadruk gedrink moet word, liefs op sy eie. As tafelwyn beveel ek hom aan kort voor die maal, soms by die sop (mits die smaak daarvan nie te melerig is nie; dus nie by ’n puree nie), en soms ook by ’n vissoort soos katonkel of halfkoord. Met iets suikerigs akkordeer hy sleg; hy is te trots op sy eie geur om selfs in snuiterspan met vrugte en okkerneute te loop, want sy eie neutagtigheid en sy eie vrugolies is vir hom genoeg.

Neem hom dus as ’n pimpeltjie voor die ete – liefs nie die soet tipe hiervoor nie; of as ’n drankie op sigself; hiervoor die oleroso – of donkerder en half-soet tipes – so om elfuur in die môre, veral op ’n mooi sonnige dag as die vygies aan die bloei is en die gerwe uit die lande aangery word.

29 Mei 1942

Posted in Afrikaans


Next

Previous