Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Die laeveld, met sy berge, riviere en woude, is pragtig en skilderagtig, maar vir stemwerwery is dit heel moeilik. Die natuur het dit in soveel waterdigte kompartemente opgedeel dat ek te perd en te voet moes reis – na weggesteekte valleie, afgesonderde mynkampe en verafgeleë bosbou-nedersettings. Van die hoogtes van Kamshlobaan, wat neerkyk op die vlaktes van Swaziland, tot by Komatipoort aan die Portugese grens het ek geswerf, en op, al langs die hange van die Drakensberg, tot by Tzaneen in die verre noorde. Ek het plakkers en boere op hulle veeplase besoek, en ook klein gemeenskappies wat tussen riviere verberg was. Daar was plekke met moderne vrugte-kwekerye, en groepe verspreid en weggesteek in die valleie van die berg, wat nog steeds gelewe en gedink het in terme van die ou republikeinse dae van dertig jaar gelede. Dit was uitputtende werk wat ek gedoen het benewens my bedrywighede in ander dele van die land.
Ek het agtergekom dat my lidmaatskap van die Parkeraad eerder ’n las as ’n bate was. Op ’n keer terwyl ek ’n vergadering onder ’n boom op die walle van die Krokodilrivier toegespreek het, het ’n ou Afrikaanse boer opgestaan en gekla dat die seekoeie vanuit die Kruger-wildtuin sy plaas die vorige nag kom plunder het, en tamaties ter waarde van £200 opgevreet het. Hy het gesê, as ek nie beter kan omsien na die diere onder my beheer nie, sou hy en sy bure teen my stem.
By ’n ander geleentheid, net toe ek op dreef begin kom, het ’n veewagtertjie aangehardloop gekom om te sê dat ’n krokodil sy baas se bul die water ingesleep het; en ook daar het die blaam vierkantig op my skouers geval.
’n Paar dae later het ek saam met die sekretaris van ons party in ’n klein oop motorkar gery. Die pad was slegs spore met gras wat hoog in die middelmannetjie gegroei het. Skielik het ons ’n volgroeide leeumannetjie raakgestamp wat seker voor ons gelê en slaap het. Hy het met ’n woedende gegrom eenkant toe gespring, en dit het gelyk of hy reggemaak het om ons te bestorm. Toe sny die enjin uit en daar staan ons; en vir ’n oomblik was ons in ’n lelike penarie, en dit sonder ’n wapen. Toe het my metgesel die twee-sitplekmotorkar aan die gang gekry en gou het ons ons ry gekry.
Dit was vir my gereël om daardie aand ’n vergadering in Barberton toe te spreek, en ek het ten volle gebruik gemaak van daardie leeu. “Dames en here,” het ek gesê, “dit verloop heel goed met die verkiesing, maar vanoggend het ons ons eerste terugslag gehad.” Die gehoor het hulle ore gespits, en ek het voortgegaan om hulle die storie van ons botsing te vertel. Ek het bygevoeg dat, omdat ek geweet het dat die leeu nie op die kieserslys was nie, ons nie stilgehou het om met hom ’n redekawelry aan te knoop nie. Hulle het die storie geniet, en ek het ’n mosie van volle vertroue ontvang.
Bo in die berge is daar Boere nedersettings wat amper ’n eeu gelede daar gevestig is. Vir hierdie Boere het die tyd aan die einde van die Anglo Boere-oorlog in 1902 stil gaan staan. Die Eerste Wêreldoorlog het hulle van die wêreld daar buite af soos ’n weerklank uit die verte bereik, en hulle politiek het steeds om vergete geskille van die verlede gedraai. ’n Man wat aan die Britse kolonne in 1900 oorgegee het, was ’n uitgeworpene, en slegs daardie bittereinders wat reg tot die einde geveg het, is gerespekteer.
Ek het die berg opgeklim om ’n paar van hierdie stoere bergbewoners te ontmoet – verkramp en primitief, maar voortreflik, dapper en hardkoppig. Toe ek begin praat, het ’n geharde en ervare ou veteraan opgestaan en, terwyl hy na die gehoor gedraai het, in Afrikaans gesê: “Voor ons die kandidaat toelaat om voort te gaan, wil ons weet waar hy in die laaste oorlog was.” Ek was reg om daarop te antwoord dat ek in Oos-Afrika en in Frankryk diens gedoen het, toe hy die volgende by sy vraag gevoeg het: “Wat ek eintlik bedoel is, het hy saam met generaal Botha of met generaal De Wet in die Vrystaat gedien?” Ek het geantwoord dat ek reg tot aan die einde onder beide van hulle gedien het.
Ek dink ek het die meeste van hulle stemme gekry.
Teen stemdag was ek fisies ’n wrak; maar ek was die parlementslid vir die Laeveld.
Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Ons het interessante metgeselle gehad, en die uitgerekte ure wat ons aan boord van die amptelike trein deurgebring het, het gou verbygegaan met besprekings, debatte en lesings.
Hier het my pa uitgeblink. Dit het nie saak gemaak hoe wyd die omvang van die onderwerp gestrek het nie, hy het hom deeglik laat geld, en die onderwerp van elke gesprek opgetooi met sy onuitputlike voorraad algemene kennis. En wat Suid-Afrika betref het, het hy met gesag gepraat oor enige fase van die geskiedenis en die ekonomiese omstandighede van daardie tyd. Te oordeel aan die manier wat sy toehoorders notas gemaak het, dink ek dat die grootste gedeelte van die inligting wat hulle met hulle saam teruggeneem het, was wat hy hulle van voorsien het deur die loop van ons reise.
Hy het ook oor ’n skerp humorsin beskik, en dikwels het hy sy waarnemings afgesluit met ’n gevatte vertelling om sy bedoeling te illustreer. By Pretoria, na ’n dag waarin hy ons gaste die Uniegebou en ander plekke gewys het, wat Paul Kruger se ou huis ingesluit het, het die besprekings daardie aand verstaanbaar genoeg ook gegaan oor die dae voor die Anglo Boere-oorlog toe my pa die staatsekretaris van Transvaal was. Hy het ons ’n lewendige beskrywing gegee van Paul Kruger en die tydperk waarin hy gelewe het: van sy reusagtige fisiese krag, sy stoere persoonlikheid, en die eenvoud van sy lewenswyse.
Om iets van Paul Kruger se lewenswyse te demonstreer, het my pa vertel dat hulle kort voor die uitbreek van vyandigheid in 1899 ’n belangrike kabinetsvergadering gehou het om die naderende krisis te bespreek. Te midde van die beraadslagings is die deur skielik oopgeruk en ’n swart bediende het uitasem ingebars en ten aanhore van die hele raadskamer uitgebasuin: “Baas, baas, die ou mevrou sê dat jy dadelik moet kom, want iemand het die biltong in die agterplaas van die wasgoeddraad af gesteel.” Toe hy dit hoor, het Paul Kruger dadelik opgespring, sy pluiskeil op sy kop gedruk, en sonder ’n verdere woord aan sy kollegas, uitgestorm om die huishoudelike tragedie van nader te ondersoek; en dit was die laaste wat hulle van hom gesien het tot die volgende oggend.
Terwyl ons oor daardie tye gesels het, is die naam van Joseph Chamberlain onvermydelik genoem. Dit was hy wat die amptelike verslae van die Britse regering aan Transvaal neergepen het en wat tot die oorlog gelei het. My pa moes daarop antwoord, en hulle korrespondensie het in toenemende mate venyniger geword.
Ek onthou hoe hy van die kantoor af teruggekeer het huis toe en woedend uitgevaar het teen mnr. Chamberlain en dit waarmee hy besig was, sodat ek en my broers Chamberlain beskou het as ’n soort van Korsikaanse bullebak. In beide republieke is hy verfoei en is hy beskou as die man wat verantwoordelik was vir die rampspoed wat ons getref het.
My pa het uitgebrei oor Chamberlain se ongeregtigheid tot party van die Britse afgevaardigdes begin het om vir hulle man van die ander kant af in die bresse te tree. Dit het tot ’n ietwat ongemaklike argument gelei, en so het dit gekom dat my pa die spanning ’n bietjie ontlont het. Hy het gesê: “Menere, ek moet julle van die ander mnr. Chamberlain vertel,” en hy het voortgegaan om aan hulle te vertel dat benewens die koloniale sekretaris, daar ’n man was wat ’n gewilde boereraat vervaardig het met die naam van Chamberlain se Hoesmiddel. Die Boere was onder die indruk dat die verkoper van die gepatenteerde medisyne en die skrywer van die heersugtige verslae een en dieselfde persoon was, en hy het ’n ou burger aan president Kruger hoor sê: “Chamberlain se politiek is verdomp sleg, maar ons moet erken dat sy hoesdruppels baie goed is.” Hierdie grap het almal hartlike laat lag, en daarna het die geselskap heelwat rustiger verloop.
Uit Kommando - Van Perde en Manne
deur Deneys Reitz
Uiteindelik het ons Delagoabaai bereik. Dit was daarvandaan waar ek lank gelede na Madagaskar vertrek het. Ek was van plan om daar aan land te gaan, maar tot my ontsteltenis moes ek ontdek dat die Portuguese wette niemand toegelaat het sonder ’n paspoort en vyf en twintig pond in sy sak nie. Dit was die eerste keer dat ek van ’n paspoort gehoor het, en in plaas van vyf en twintig pond, het ek minder as vyf en twintig pennies gehad.
Die Portugese offisier by die landingsbrug het geweier om my aan land te laat gaan. Die kaptein het daarop gebrom dat hy toe vir ewig met my opgesaal gaan sit. Dit het regtig so gelyk en dit was maar ’n onaangename nag aan boord, getreiter deur die gedagte dat ek so naby my land was, en tog nogtans so ver.
Die volgende oggend net voordat ons anker sou lig, het daar onverwagte hulp opgedaag. ’n Man wat een of ander besigheid met die kaptein wou bespreek, het teen die kant van die skip opgeklim. Aan sy voorkoms kon ek sien hy was ’n Suid-Afrikaner. Ek het hom dadelik bygedam en al my probleme aan hom ontboesem. Sy manier om meegevoel te betuig, was om vyf en twintig goue ponde uit sy beursie af te tel, hoewel hy my nie van adamskant af geken het nie. Hy was ’n Kaapse Rebel met die naam Theron. Hy het na die Portugese gebied gevlug om die voëlvryverklaring wat op die Anglo-Boereoorlog gevolg het, vry te spring. Daar het hy ’n heenkome gevind met die hoop dat die ballingskap eendag opgehef sou word. Na ek die geld by die immigrasie-amptenaar gedeponeer het, is ek toegelaat om aan land te gaan, met die voorwaarde dat ek binne tien dae ’n permit om Transvaal binne te gaan, sou verkry. Dit was makliker gesê as gedaan, want toe ek my opwagting by die Britse konsul gemaak het, het hy botweg geweier en gesê dat ek nie Transvaal kon binnegaan nie omdat ek geweier het om my aan die vredesooreenkoms van Vereeniging te onderwerp.
Ek het saam met Theron aan die waterkant geloseer waar hy my losies betaal het, en vir die volgende vyf dae het ek ’n las van myself by die konsulaatskantoor gemaak. Maar ek het ook ’n telegram aan die Transvaalse hoofregter, sowel as ander persone in Pretoria, gestuur. Uiteindelik het die konsul my ’n paspoort deur die loket oorhandig en gesê dat hy bly was om van my ontslae te raak.
My volgende probleem was reisgeld vir die trein, maar weereens was dit Theron wat na vore gekom het. Ek het egter ’n fout begaan deur die reisgeld te laag te geskat het. Ek het hom net dertig sjielings gevra en omdat hy op ’n reis na die binneland vertrek het, kon ek nie meer leen nie. By die spoorwegstasie het ek uitgevind dat die som geld my nie tot by Pretoria sou vat nie. Met die geld het ek toe ’n reis tot so ver as Belfast bespreek. Dit is ’n dorpie wat diep in Transvaal geleë is.
Ten einde laaste het die trein vertrek en na ’n paar uur het ons die grens na Transvaal by Komatipoort oorgesteek. Of die Britte die land regeer het òf nie, dit was ’n vreugde om my geboorteland weer te sien. Ons het Belfast op ’n bitterkoue wintersnag bereik, en die skielike verandering van hoogte op daardie kaal vlaktes, het gelei tot ’n hernude, kwaai malaria-aanval. Die stasie was twee myl weg van die dorpie af, en in die donker het ek in die pad afgestrompel tot ek die hoofstraat bereik het. Ek het ’n kantien gesien waar al die ligte aan was, en daar, op die vloer, het ek bewusteloos neergesak.
Die volgende oggend toe ek wakker geword het, was ek in ’n gerieflike bed in ’n aangename kamer. My Samaritaan was ’n voormalige Republikeinse offisier in die oorlog (van wie ek toe nie veel gedink het nie). Vir die volgende week het hy gedurig gekom en gegaan soos hy omgesien het na my welstand. ’n Britse garnisoen het die dorp beset, en een oggend het hy uitgelate daar opgedaag met die nuus dat hy vir my ’n pos in die offisiere se menasie gekry het. Sodra ek gesond genoeg was, kon ek daar gaan werk as ’n biljartmerker. Hy was van mening dat ek ondankbaar was, toe ek die aanbod van die hand gewys het, maar het tog vir my genoeg geld geleen om die trein na Pretoria te haal. Dit kon ek na ’n dag of twee doen, en met sonop het ek in Pretoria aangekom. Tesame met my aankoms egter, het ’n hernude koorsaanslag my getref. Dit het my so verswak dat ek met moeite net tot by Burgerspark kon kruip. Daar het ek vir ’n paar uur in ’n beswyming gelê. Toe ek later weer tot my sinne gekom het, was ek terug op die platform by die stasie met ’n klomp mense wat om my gestaan het. Toe het ’n man my herken. Hy moes dadelik aan die werk gespring het, want kort daarna het ’n kapkar daar opgedaag, waarin ek opgelaai is. Toe ek weer wakker geword het, was ek in ’n bed in die huis van my vorige aanvoerder, generaal Smuts.
Vir amper drie jaar het ek by generaal Smuts en sy vrou gebly terwyl hulle my in liggaam en siel weer gesond verpleeg het. Gedurende daardie tyd het ek stadig uit die greep van malaria gekom en by ’n prokureurskantoor aangesluit om regte te studeer. Met ons familie het dit nie goed gegaan nie. Ver weg in Amerika het my pa siek gelê, en sy vrou en sewe klein kindertjies het in behoeftige omstandighede gelewe. My oudste broer, Hjalmar, het, nadat hy uit ballingskap ontslaan is, ’n armoedige bestaan in Holland gevoer terwyl hy sy studies voltooi het. My broer, Joubert, was blootgestel aan malaria op ’n plantasie aan die weskus van Madagaskar. My jongste broer, Arend, het na baie lotgevalle Tafelbaai bereik waar hy as ’n dokwerker op die hawe gewerk het. So het ons, soos duisende ander, die nasleep van die oorlog ervaar.
Nogtans het dinge stadigaan begin verbeter. Die Britte het verantwoordelike regering aan die twee vorige republieke oorgedra, en Suid-Afrika het tot bedaring gekom en daaraan begin werk om die vernietigde voorspoed weer te herbou. Tot ’n mate het ek een aspek van die opbouing weer beleef, want Louis Botha, die kommandant-generaal, het dikwels die Smuts-huis besoek. Ek kon na hom en generaal Smuts luister terwyl hulle die politieke toekoms van die land beplan het.
Ek het uit ballingskap teruggekeer sonder om die Britte te haat, maar wel met ’n afkeer aan die gedwonge heerskappy van ’n ander nasie. Dié twee manne het my egter gewys dat slegs deur die vorige struwelinge te begrawe, en deur ’n verenigde nasie uit die Afrikaanse en Engelse seksies van die bevolking te skep, sou daar enige hoop vir die witman in Suid-Afrika wees. Ek het ’n toegewyde volgeling geword, en my aanvaarding van hulle oortuigings, sou my lewe in die jare wat gekom het, diepgaande beïnvloed.
In 1908 het ek generaal Smuts daarvan oortuig dat ek vir myself kon sorg. Ek het hom en sy vrou gegroet – die twee mense aan wie ek die meeste in my lewe verskuldig is. Met my belangrikste besittings, ’n paar regsboeke, en met die politieke idealisme wat hy en generaal Botha my geleer het, het ek vertrek om ’n heenkome te vind en ’n bestaan te maak.
deur Herman Charles Bosman
Afgesien van die suiwer kulturele oorwegings, is daar ’n ander rede waarom die opvoedkundige gesaghebbendes daarop moet aandring dat
Latyn in die leerplan behoue moet bly. Om Latyn te bestudeer bou karakter. As jy Latyn reg deur jou skooldae geneem het, en jy het genoeg daarvan gehad, sal jy nooit in jou latere lewe, dekadent raak nie – maak nie saak watter gebrek aan wilskrag jy het nie, of tot watter mate jou bloedstroom besmet is met die verskeie vorme van aangebore gebrek nie. En dit maak nie saak hoe veelbewoë jou lewe mag wees nie; ’n deeglike skoling in Latyn gedurende die vormende jare, sal jou deur al die daaropvolgende lotgevalle dra.
Die verstandelike inspanning wat jy moet gebruik om die bemeestering van die reëls van die Latynse grammatika te verwerf – prosa, sintaksis, voegwoorde, verbuigings, “ut” met die subjunktief, die ablatiewe absoluut, indirekte stellings – dit alles kan net jou gees vierkantig maak en jou karakter met ’n doelgerigte erns besiel, en aan jou persoonlikheid ʼn kwaliteit van graniet verleen wat binne in jou sal bly, ongeag watter oppervlakkige soorte vrolikhede en skynbare onverantwoordelikhede jy lateraan vir blote redes van verfraaiing mag najaag.
Die yster wat jy deel van jou siel maak as gevolg van die vermoeiende ure van geswoeg met Latyn, sal vir altyd by jou bly.
Dit is waar, wanneer dit kom by die bou van karakter, Latyn altyd superieur bo wiskunde sal wees. Matesis leer jou om vernuftig te wees, vindingrykheid te gebruik, om vir vinnige maniere te soek – soos ’n dosyn keer soveel pennies is dieselfde aantal sjielings, en om logaritmes te gebruik in plaas van om dinge te vermenigvuldig. Maar in Latyn is daar nie daardie soort twak nie. Daar is slegs harde, moeisame geswoeg. As jy Latyn bestudeer het, is die gevolg daarvan in jou latere lewe, dat jy ’n vraagstuk op ’n eerlike, dom-onnosele, onverbloemde manier benader, en dit is uiteindelik die regte manier om enige saak te benader. Jy is nie op die uitkyk vir skuiwergate nie. Ontwykings is aanvaarbaar om korttermyn resultate te verkry. Opregte domheid is die enigste ding wat jou langdurige bevrediging besorg – al is dit slegs vir die rede dat jy te onnosel is om van beter te weet.
Die oplê van straf en opvoeding is, vir voor die handliggende redes, onderlinge verbonde wetenskappe. Dit sal gaaf wees om vir ’n oomblik die raadsaamheid te oorweeg om die studie van Latyn in te voer as ’n taak in die tronke vir ons bandiete, tesame met die meer ortodokse aktiwiteite om toue te verpak, possakke aanmekaar te werk of om klippe te breek. Die verpligte bestudering van Latyn in die tronke sal baie daartoe bydra om ons kriminele tipes te hervorm. Dink net hoe die bandiete daardie vervelige sieldodende ure sal haat. Ure wat deurgebring word in ’n saal met grammatika en handboeke, onder toesig van gebroke en afgetrede Latyn-onderwysers.
Die verpligte bestudering van Latyn as ’n deel van die kursus vir dwangarbeid, sal daartoe lei dat hardnekkige kriminele tot inkeer kom. “Om klippe te kap was niks,” kan ek my voorstel, word deur ’n hervormde residivis gesê, “en alleen-selstraf kon ek altyd doen. Maar daardie vierdejaarse Latynklas het my ’n gebroke man gemaak. Ek is slegs 52 – en kyk nou na my. O tempora, o mores.”
Nee, Latyn is nie ’n dooie taal nie. Daar is ’n groot toekoms daarvoor.
deur Marthinus van Bart
Pieter Johannes Olivier van die plaas Kweekwa in die distrik Victoria-Wes, was ’n wetsgehoorsame, vreedsame perde- en skaapboer wat in die hart van die barre Groot Karoo hard gewerk het om ’n menswaardige bestaan vir hom, sy vrou, Christine (Chrissie), en hul gesin te maak.
Sy vader, Andries Philippus, het die 29 000 morg grond aan die togryerspad tussen Victoria-Wes en Carnarvon, Williston en Calvinia, al in 1853 gekoop. Later is die grond onderverdeel in die plase Trompsgraf, Adriaanskuil, Nuwefontein, Ysterkoppe enWitkranz.
Gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het Britse kolonnes dikwels hierdie togryersroete vanaf Victoria-Wes, waar ’n spoorwegstasie op die hooftrajek tussen Kaapstad en Johannesburg was, na Namakwaland gevolg. Soms het die soldate op Kweekwa aangedoen om water en voer vir hul trekosse, muile en perde te kry.
Olivier was welgesteld en het ’n Amerikaanse windpomp ingevoer en laat oprig om water vir sy 204 perde en ander vee te voorsien.
Nadat die eerste Boere-kommando’s einde 1900 die Kaapkolonie binnegedring het om die Britse militêre van stryk te bring en ook Kaapse Rebelle vir die Boeresaak te werf, het die Britte krygswet ook hier afgekondig. Hulle het dadelik op Olivier se perde en skape beslag gelê, en hom met slegs vier donkies gelaat.
Dit was ’n yslike vernedering vir hierdie gesiene man. Nie net het hy hom uit die oorlogsake gehou nie, maar Chrissie het ook brood gebak en aan die Britse soldate verkoop. Sy het by tye 26 brode per slag gebak om in die vraag van die militêre te voorsien.
Op ’n dag het elf soldate van die Sixth Inniskillin Dragoons, wat op Victoria-Wes gestasioneer was, Olivier in hegtenis geneem op aanklag dat hy in die nag in Morsekode aan die Boere-kommando’s spioenasieboodskappe oor Britse troepebewegings gesein het. Hy is sonder verhoor in die tronk opgesluit, en later op parool binne die dorpsgrense vrygelaat. Hy en sy gesin het toe in Pastoriestraat in hul nagmaalstuishuis gewoon.
Eers ná die oorlog het Olivier uitgevind dat Britse soldate op die togryerspad een nag, toe die maan helder was, die maanlig op die vinne van sy draaiende windpompwiel gesien blink het. Omdat hulle nie van die bestaan van die windpomp geweet het of so iets geken het nie, het hulle gemeen dat dit Olivier was wat met ’n lamp boodskappe in Morsekode na die Boere-kommando’s en die Kaapse Rebelle sein.
Olivier is wel ná die oorlog kompensasie vir die perde en vee waarop beslag gelê is, uitbetaal. Dit is egter hierdie soort mishandeling deur die Britse militêre owerhede wat talle eerbare en lojale Kolonialers daartoe gedryf het om hulle aan Boerekant te skaar en die wapen teen die Empire op te neem.
Hierdie ware verhaal is deur Elbie Immelman, kultuurhistorikus, opgeteken, en dit is in 2003 onder die opskrif Die Heliograaf gepubliseer in Vir Vryheid en vir Reg, ’n Anglo-Boereoorlog-gedenkboek (Tafelberg).
uit No Outspan
deur Deneys Reitz
In Junie 1924, na aan die einde van die parlementêre sitting, het ek ’n aangename verrassing gekry.
Daar is ’n instelling wat bekend staan as die Parlementêre Assosiasie van die Empire, en al die lede van die parlement van Groot Brittanje en die Dominiums word toegelaat om daarby aan te sluit. Van tyd tot tyd stuur dié assosiasie ’n verteenwoordigende groep op welwillendheidsbesoeke na verskeie lande in die Empire, en hierdie jaar is Suid-Afrika die verkose land. Veertig of vyftig lede van die parlement het in Kaapstad aangekom vir ’n uitgebreide toer van die Unie en Rhodesië, en deur stemming is ek verkies as een van die plaaslike afgevaardigdes om hulle te vergesel.
Ek het, met ons vertrek, uitgevind dat my pa ook aangewys is om saam met ons te gaan, as verteenwoordiger van die Unie-Senaat.
Ek was besonder verheug hieroor, want vir ’n hele aantal jare het ons baie min van mekaar gesien. Toe ons kinders was, in die ou dae toe hy President van die Oranje Vrystaatse Republiek was, was ek en my broers sy onafskeidbare metgeselle, òf dit in ’n koets was òf te perd. Maar na hy die Staatsekretaris van president Paul Kruger geword het, het ons al minder en minder van hom gesien. Toe kom die lotgevalle van die Anglo-Boereoorlog en die daaropvolgende ballingskap, hy in Texas en ek in Madagaskar. Met ons terugkeer Suid-Afrika toe, het hy die President van die Hoërhuis geword en ek was ’n sukkelende prokureur in ’n klein dorpie ’n duisend myl van hom af, en so het ons mekaar slegs met rare geleenthede ontmoet. Die Eerste Wêreldoorlog en die daaropvolgende na-oorlogse aktiwiteite, het ons apart gehou, en nou na amper ’n hele leeftyd, is ons aangewese om vir die volgende paar maande saam te toer.
Baie gou het hy die sentrale karakter van die ekspedisie geword, want hy was ’n buitengewoon voortreflike baasverteller en ’n ryk bron van inligting aan ons buitelandse gaste, en dit was vir my ’n plesier om te sien hoe hulle hulle na hom gewend het oor sy wye kennis. Hy was ’n kundige geleerde in die ware sin van die woord. Hy het Grieks en Latyn bemeester en kon Frans, Duits, Hoog-Hollands en Afrikaans ewe vlot praat. Sy taalbeheersing van Engels en sy kennis van die Engelse letterkunde was heel moontlik ongeëwenaard deur enige van die aantal geleerdes, skrywers, openbare figure en bekende persoonlikhede waaruit ons groep parlementariërs saamgestel is.
My pa was verder ook ’n digter. Nie juis ’n befaamde digter nie, maar ’n egte digter, want hy het gedigte geskryf uit die liefde daarvoor. Daar was tye waar ek hom dopgehou het. Sy lippe het stilswygend beweeg; dan sou hy ’n koevert of ’n stukkie papier vat, en daar het ’n deuntjie, ’n koeplet of ’n lied verskyn.
In die Anglo-Boereoorlog het sy Afrikaanse verse baie daartoe bygedra om ons swaar beproefde manne in die veld te vertroos, en dié gedigte word steeds onthou.
Hy het met dieselfde gemak in Engels as in Afrikaans of Hollands geskryf. In Bloemfontein is daar die graf van ’n baba-sustertjie van my wat lank gelede gesterf het. Op haar grafsteen is ’n grafskrif wat deur my pa geskep is:
Her tiny feet that never trod
This thorny world of ours,
Are standing by the Throne of God
Amid his fairest flowers.
Toe die Britte ons in 1902 uit die Transvaal verjaag het, het ek hom, toe ons trein die Portuguese grens oorgesteek het, dopgehou daar waar hy vir ’n rukkie doodstil gesit het. Hy het sy skryfblok uitgehaal en op sy knieë ’n paar reëls geskryf en dit vir my gegee. Ek het hulle nog steeds.
Suid-Afrika
Op watter vreemde strande my voete ookal mag loop
Die toekoms vir jou is vol van hoop.
Die son van vryheid mag vir ’n wyle nie meer skyn
Maar nie vir altyd; God vergeet nie ons pyn.
Uit Kommando – Van Perde en Manne
deur Deneys Reitz
Toe mnr. Guest ons daar sien aankom, met die soldate wat toe net deur sy tuin weggery het, het dit gelyk of hy ’n klomp spoke gadegeslaan het. En toe ons hom vir verdere voorrade gevra het, het dit gelyk of hy ’n beroerte aanval sou kry. Nietemin het hy eers al klaende en brommende aan ons versoek voldoen, maar later tog gelag oor sy teenspoed. Toe ons gekry het wat ons wou hê, het ons ’n entjie in die vallei opgery tot waar daar ’n aantreklike vrugteboord en ’n groot landerye was. Dit was omring deur doringtakke, soos dit die gebruik in daardie omgewing was. Dit was die grootste oordeelsfout wat ons gedurende die hele roete gemaak het – waar ons liewer vir die oper landstreek verder ondertoe moes mik, het ons ’n doodlooppad binnegegaan.
Ons het gedink die Engelse was finaal weg en het toe ’n ete voorberei. Ek het daarop ’n tweede fout begaan. Terwyl die ander hulle perde by hulle gehou het, het ek my klein Arabier, met saal en al, losgelaat om in die veld daar naby te gaan wei. Ek was totaal gedaan na die vorige nag se eskapades, en het toe ’n skadukol in ’n opening in die doringheining gesoek en sonder dat ek die ander vertel het, vas aan die slaap geraak.
Ek het nie geweet hoe lank daarna nie, maar die geklap van geweervuur daar naby het my wakker gemaak. Ek het half deur die slaap opgespring en ’n aantal soldate voor hulle perde sien staan waar hulle besig was om op my sewe makkers te skiet. My vriende het vir so al wat hul werd was in die vallei af weggejaag. Ek kon net myself blameer dat ek agtergelaat was, want hulle het nie geweet waar ek was nie en kon nie op my wag nie. My enigste hoop om te ontsnap was met my perd, maar hy het daar gestaan en wei vir al die Kakies om te sien. Hulle het my nie opgemerk waar ek agter die heining gestaan het nie. Ek het van die takke weggedruk om te kon sien wat my kanse was om my ponie in die hande te kry. Gelukkig het hy aan die ander kant naby my gestaan. Die skote het hom ontstel en hy het sy kop geskud en die lug gesnuif, en ek kon sien dat hy enige oomblik kon wegspring en hardloop. Ek het geroep om hom te kalmeer en myself deur ’n meer begaanbare deel in die heining gewurm. Ek het na hom toe gehardloop waar hy daar gestaan en bewe het van opwinding. Ek het in die saal gespring en na ’n klein deurgang, wat die enigste uitgang was, in die verste hoek gejaag. Die soldate het my dadelik gesien en op my begin skiet, maar ten spyte daarvan het ek daarin geslaag om deur die opening te jaag. Net toe ek buitekant spoed begin optel, het ’n koeël my arme perd neergevel en ek het reg bo-oor sy kop gevlieg. Ek het my geweer opgetel en laat vat na die plaashuis toe waar ek gedink het my makkers dalk besig was om stelling in te neem. Die soldate agter my in die veld het steeds op my gevuur soos ek tussen die bome verskyn en verdwyn het. Ek het egter ongeskonde die plaashuis gehaal. Op die hoek van die skuur het daar ses of sewe manne gestaan wat ek in my haas as my vriende beskou het en ek het reguit na hulle toe gehardloop, maar so ongeveer dertig treë van hulle af, het een vorentoe gestap met sy geweer in sy hand en my beveel om te halt.
Hulle was Engelse soldate en daar het nog meer uit die stalle en die huis gehardloop. Ontsnapping het onmoontlik gelyk, maar ek het ’n kans gevat. Aan my regterkant was daar ’n klein populierbos en ek het weggeswenk daarnatoe voordat daar meer as net ’n koeël of twee op my afgevuur kon word.
Sarsies koeëls het teen die bome om my geklap terwyl ek weggehardloop het, maar ek het dit veilig tot aan die anderkant in ’n heuwelagtige stukkie grond gemaak. Daar kon ek met sukses koes en swenk alhoewel die soldate om gehardloop het om te probeer om my voor te keer. Ek het ’n onegalige stuk aarde bereik met geen ernstiger gevolge nie as ’n koeël wat die sool van my skoen beskadig en wat hardloop moeilik gemaak het.
Toe ek ’n hoër koppie bereik het, het ek teruggekyk. Die soldate nader aan die veld het hulle perde bestyg en in my rigting begin ry. Van die klomp by die huis het party in my rigting begin hardloop. Nog ander het saals op hulle perde gegooi. Die laaste wat ek van mnr. Guest gesien het, was waar hy in sy hemp op die stoep gestaan het en wild met sy arms geswaai het asof hy die soldate aangespoor het om my te vang, of geprotesteer het teen die finale ramp van ’n oorlog op sy voorportaal. Daar was geen tyd om dit verder te oorweeg nie, want ek was lelik in die knyp.
Daar was geen teken van my makkers nie. Die harde skerp grond het my voet gesny en die ruiters was op my spoor. Reeds kon ek die soldate op my hoor skree om te stop en ek het net oorweeg om dit te doen, toe ek by ’n donga uitgekom het wat teen die berg afgeloop het. Dit het my te binne geskiet, dat, as my agtervolgers my oor die wal sien verdwyn het, sou hulle natuurlik dink dat ek òf langs die bodem af na die vallei toe gegaan het òf teen die berg op. Ek het oor my skouer geloer om seker te maak hulle het gesien wat ek besig was om te doen, maar in plaas daarvan dat ek af of op met die watervoor gegaan het soos hulle sou verwag, het ek ’n plek aan die ander kant gekry waar die reën ’n nou tonnel oopgespoel het. Ek het met my gesig plat teen die grond daarin opgekruip en na die bosse aan die ander kant gewurm. Dit was net hoog genoeg om ’n lêende man te verberg. Sonder om opgemerk te word, het ek uit die voor geklim en vir nog omtrent vyftig treë gekruip tot waar die struikgewasse digter was en daar gestop.
Toe die soldate my in die donga sien spring, het hulle presies gedoen wat ek verwag het. Toe hulle die plek bereik waar ek verdwyn het, het hulle in twee groepe verdeel. Die een klomp het teen die berg op gegalop en die ander teen die berg af. Van waar ek gelê het, het ek ’n mooi uitsig op die soektog gehad. Na ’n rukkie kon ek sien op die manier wat hulle rondgery het, dat hulle geen idee gehad het wat van my geword het nie.
Uiteindelik moes hulle besluit het dat ek boontoe moes uitgewyk het, want hulle het soos jagters teen die berghang uitgesprei terwyl hulle al verder en verder van my wegkruipplek beweeg het. Ek het geweet dat ek toe tot ’n mate veilig was, want die son het begin sak en kort voor lank het die hoefslae aangedui dat hulle terug plaas toe beweeg het. ’n Rukkie later het kampvure begin brand wat aangedui het dat mnr. Guest weereens die onwillige gasheer was.
Ek was trots op my suksesvolle krygslis, maar verder was daar nie veel om goed oor te gevoel het nie. Ek het daar in die struike gelê soos ’n dier waarop jag gemaak was, en my voet het pynlik geklop. My kamerade was weg en so ook my kommando, my perd was dood, en my saal en eiendom was in die besit van die vyand.
Omdat denke alleen nie probleme oplos nie, het ek opgestaan en ewe kruppel die donker ingeloop.