Karoo Windpomp-Morsekode

Posted on October 28, 2014 by Cape Rebel

deur Marthinus van Bart

Pieter Johannes Olivier van die plaas Kweekwa in die distrik Victoria-Wes, was ’n wetsgehoorsame, vreedsame perde- en skaapboer wat in die hart van die barre Groot Karoo hard gewerk het om ’n menswaardige bestaan vir hom, sy vrou, Christine (Chrissie), en hul gesin te maak.

Sy vader, Andries Philippus, het die 29 000 morg grond aan die togryerspad tussen Victoria-Wes en Carnarvon, Williston en Calvinia, al in 1853 gekoop. Later is die grond onderverdeel in die plase Trompsgraf, Adriaanskuil, Nuwefontein, Ysterkoppe enWitkranz.

Gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het Britse kolonnes dikwels hierdie togryersroete vanaf Victoria-Wes, waar ’n spoorwegstasie op die hooftrajek tussen Kaapstad en Johannesburg was, na Namakwaland gevolg. Soms het die soldate op Kweekwa aangedoen om water en voer vir hul trekosse, muile en perde te kry.

Olivier was welgesteld en het ’n Amerikaanse windpomp ingevoer en laat oprig om water vir sy 204 perde en ander vee te voorsien.

Nadat die eerste Boere-kommando’s einde 1900 die Kaapkolonie binnegedring het om die Britse militêre van stryk te bring en ook Kaapse Rebelle vir die Boeresaak te werf, het die Britte krygswet ook hier afgekondig. Hulle het dadelik op Olivier se perde en skape beslag gelê, en hom met slegs vier donkies gelaat.

Dit was ’n yslike vernedering vir hierdie gesiene man. Nie net het hy hom uit die oorlogsake gehou nie, maar Chrissie het ook brood gebak en aan die Britse soldate verkoop. Sy het by tye 26 brode per slag gebak om in die vraag van die militêre te voorsien.

Op ’n dag het elf soldate van die Sixth Inniskillin Dragoons, wat op Victoria-Wes gestasioneer was, Olivier in hegtenis geneem op aanklag dat hy in die nag in Morsekode aan die Boere-kommando’s spioenasieboodskappe oor Britse troepebewegings gesein het. Hy is sonder verhoor in die tronk opgesluit, en later op parool binne die dorpsgrense vrygelaat. Hy en sy gesin het toe in Pastoriestraat in hul nagmaalstuishuis gewoon.

Eers ná die oorlog het Olivier uitgevind dat Britse soldate op die togryerspad een nag, toe die maan helder was, die maanlig op die vinne van sy draaiende windpompwiel gesien blink het. Omdat hulle nie van die bestaan van die windpomp geweet het of so iets geken het nie, het hulle gemeen dat dit Olivier was wat met ’n lamp boodskappe in Morsekode na die Boere-kommando’s en die Kaapse Rebelle sein.

Olivier is wel ná die oorlog kompensasie vir die perde en vee waarop beslag gelê is, uitbetaal. Dit is egter hierdie soort mishandeling deur die Britse militêre owerhede wat talle eerbare en lojale Kolonialers daartoe gedryf het om hulle aan Boerekant te skaar en die wapen teen die Empire op te neem.   

Hierdie ware verhaal is deur Elbie Immelman, kultuurhistorikus, opgeteken, en dit is in 2003 onder die opskrif Die Heliograaf gepubliseer in Vir Vryheid en vir Reg, ’n Anglo-Boereoorlog-gedenkboek (Tafelberg).

Posted in Afrikaans


Next

Previous