Terugkeer uit Ballingskap

Posted on November 07, 2014 by Cape Rebel


Uit Kommando - Van Perde en Manne
deur Deneys Reitz


Uiteindelik het ons Delagoabaai bereik. Dit was daarvandaan waar ek lank gelede na Madagaskar vertrek het. Ek was van plan om daar aan land te gaan, maar tot my ontsteltenis moes ek ontdek dat die Portuguese wette niemand toegelaat het sonder ’n paspoort en vyf en twintig pond in sy sak nie. Dit was die eerste keer dat ek van ’n paspoort gehoor het, en in plaas van vyf en twintig pond, het ek minder as vyf en twintig pennies gehad.

Die Portugese offisier by die landingsbrug het geweier om my aan land te laat gaan. Die kaptein het daarop gebrom dat hy toe vir ewig met my opgesaal gaan sit. Dit het regtig so gelyk en dit was maar ’n onaangename nag aan boord, getreiter deur die gedagte dat ek so naby my land was, en tog nogtans so ver.

Die volgende oggend net voordat ons anker sou lig, het daar onverwagte hulp opgedaag. ’n Man wat een of ander besigheid met die kaptein wou bespreek, het teen die kant van die skip opgeklim. Aan sy voorkoms kon ek sien hy was ’n Suid-Afrikaner. Ek het hom dadelik bygedam en al my probleme aan hom ontboesem. Sy manier om meegevoel te betuig, was om vyf en twintig goue ponde uit sy beursie af te tel, hoewel hy my nie van adamskant af geken het nie. Hy was ’n Kaapse Rebel met die naam Theron. Hy het na die Portugese gebied gevlug om die voëlvryverklaring wat op die Anglo-Boereoorlog gevolg het, vry te spring. Daar het hy ’n heenkome gevind met die hoop dat die ballingskap eendag opgehef sou word. Na ek die geld by die immigrasie-amptenaar gedeponeer het, is ek toegelaat om aan land te gaan, met die voorwaarde dat ek binne tien dae ’n permit om Transvaal binne te gaan, sou verkry. Dit was makliker gesê as gedaan, want toe ek my opwagting by die Britse konsul gemaak het, het hy botweg geweier en gesê dat ek nie Transvaal kon binnegaan nie omdat ek geweier het om my aan die vredesooreenkoms van Vereeniging te onderwerp.

Ek het saam met Theron aan die waterkant geloseer waar hy my losies betaal het, en vir die volgende vyf dae het ek ’n las van myself by die konsulaatskantoor gemaak. Maar ek het ook ’n telegram aan die Transvaalse hoofregter, sowel as ander persone in Pretoria, gestuur. Uiteindelik het die konsul my ’n paspoort deur die loket oorhandig en gesê dat hy bly was om van my ontslae te raak.

My volgende probleem was reisgeld vir die trein, maar weereens was dit Theron wat na vore gekom het. Ek het egter ’n fout begaan deur die reisgeld te laag te geskat het. Ek het hom net dertig sjielings gevra en omdat hy op ’n reis na die binneland vertrek het, kon ek nie meer leen nie. By die spoorwegstasie het ek uitgevind dat die som geld my nie tot by Pretoria sou vat nie. Met die geld het ek toe ’n reis tot so ver as Belfast bespreek. Dit is ’n dorpie wat diep in Transvaal geleë is.

Ten einde laaste het die trein vertrek en na ’n paar uur het ons die grens na Transvaal by Komatipoort oorgesteek. Of die Britte die land regeer het òf nie, dit was ’n vreugde om my geboorteland weer te sien. Ons het Belfast op ’n bitterkoue wintersnag bereik, en die skielike verandering van hoogte op daardie kaal vlaktes, het gelei tot ’n hernude, kwaai malaria-aanval. Die stasie was twee myl weg van die dorpie af, en in die donker het ek in die pad afgestrompel tot ek die hoofstraat bereik het. Ek het ’n kantien gesien waar al die ligte aan was, en daar, op die vloer, het ek bewusteloos neergesak.

Die volgende oggend toe ek wakker geword het, was ek in ’n gerieflike bed in ’n aangename kamer. My Samaritaan was ’n voormalige Republikeinse offisier in die oorlog (van wie ek toe nie veel gedink het nie). Vir die volgende week het hy gedurig gekom en gegaan soos hy omgesien het na my welstand. ’n Britse garnisoen het die dorp beset, en een oggend het hy uitgelate daar opgedaag met die nuus dat hy vir my ’n pos in die offisiere se menasie gekry het. Sodra ek gesond genoeg was, kon ek daar gaan werk as ’n biljartmerker. Hy was van mening dat ek ondankbaar was, toe ek die aanbod van die hand gewys het, maar het tog vir my genoeg geld geleen om die trein na Pretoria te haal. Dit kon ek na ’n dag of twee doen, en met sonop het ek in Pretoria aangekom. Tesame met my aankoms egter, het ’n hernude koorsaanslag my getref. Dit het my so verswak dat ek met moeite net tot by Burgerspark kon kruip. Daar het ek vir ’n paar uur in ’n beswyming gelê. Toe ek later weer tot my sinne gekom het, was ek terug op die platform by die stasie met ’n klomp mense wat om my gestaan het. Toe het ’n man my herken. Hy moes dadelik aan die werk gespring het, want kort daarna het ’n kapkar daar opgedaag, waarin ek opgelaai is. Toe ek weer wakker geword het, was ek in ’n bed in die huis van my vorige aanvoerder, generaal Smuts.

Vir amper drie jaar het ek by generaal Smuts en sy vrou gebly terwyl hulle my in liggaam en siel weer gesond verpleeg het. Gedurende daardie tyd het ek stadig uit die greep van malaria gekom en by ’n prokureurskantoor aangesluit om regte te studeer. Met ons familie het dit nie goed gegaan nie. Ver weg in Amerika het my pa siek gelê, en sy vrou en sewe klein kindertjies het in behoeftige omstandighede gelewe. My oudste broer, Hjalmar, het, nadat hy uit ballingskap ontslaan is, ’n armoedige bestaan in Holland gevoer terwyl hy sy studies voltooi het. My broer, Joubert, was blootgestel aan malaria op ’n plantasie aan die weskus van Madagaskar. My jongste broer, Arend, het na baie lotgevalle Tafelbaai bereik waar hy as ’n dokwerker op die hawe gewerk het. So het ons, soos duisende ander, die nasleep van die oorlog ervaar.

Nogtans het dinge stadigaan begin verbeter. Die Britte het verantwoordelike regering aan die twee vorige republieke oorgedra, en Suid-Afrika het tot bedaring gekom en daaraan begin werk om die vernietigde voorspoed weer te herbou. Tot ’n mate het ek een aspek van die opbouing weer beleef, want Louis Botha, die kommandant-generaal, het dikwels die Smuts-huis besoek. Ek kon na hom en generaal Smuts luister terwyl hulle die politieke toekoms van die land beplan het.

Ek het uit ballingskap teruggekeer sonder om die Britte te haat, maar wel met ’n afkeer aan die gedwonge heerskappy van ’n ander nasie. Dié twee manne het my egter gewys dat slegs deur die vorige struwelinge te begrawe, en deur ’n verenigde nasie uit die Afrikaanse en Engelse seksies van die bevolking te skep, sou daar enige hoop vir die witman in Suid-Afrika wees. Ek het ’n toegewyde volgeling geword, en my aanvaarding van hulle oortuigings, sou my lewe in die jare wat gekom het, diepgaande beïnvloed.

In 1908 het ek generaal Smuts daarvan oortuig dat ek vir myself kon sorg. Ek het hom en sy vrou gegroet – die twee mense aan wie ek die meeste in my lewe verskuldig is. Met my belangrikste besittings, ’n paar regsboeke, en met die politieke idealisme wat hy en generaal Botha my geleer het, het ek vertrek om ’n heenkome te vind en ’n bestaan te maak.

Posted in Afrikaans


Next

Previous