Vader en Seun

Posted on October 16, 2014 by Cape Rebel

uit No Outspan
deur Deneys Reitz

 

 

In Junie 1924, na aan die einde van die parlementêre sitting, het ek ’n aangename verrassing gekry.

Daar is ’n instelling wat bekend staan as die Parlementêre Assosiasie van die Empire, en al die lede van die parlement van Groot Brittanje en die Dominiums word toegelaat om daarby aan te sluit. Van tyd tot tyd stuur dié assosiasie ’n verteenwoordigende groep op welwillendheidsbesoeke na verskeie lande in die Empire, en hierdie jaar is Suid-Afrika die verkose land. Veertig of vyftig lede van die parlement het in Kaapstad aangekom vir ’n uitgebreide toer van die Unie en Rhodesië, en deur stemming is ek verkies as een van die plaaslike afgevaardigdes om hulle te vergesel.

Ek het, met ons vertrek, uitgevind dat my pa ook aangewys is om saam met ons te gaan, as verteenwoordiger van die Unie-Senaat.

Ek was besonder verheug hieroor, want vir ’n hele aantal jare het ons baie min van mekaar gesien. Toe ons kinders was, in die ou dae toe hy President van die Oranje Vrystaatse Republiek was, was ek en my broers sy onafskeidbare metgeselle, òf dit in ’n koets was òf te perd. Maar na hy die Staatsekretaris van president Paul Kruger geword het, het ons al minder en minder van hom gesien. Toe kom die lotgevalle van die Anglo-Boereoorlog en die daaropvolgende ballingskap, hy in Texas en ek in Madagaskar. Met ons terugkeer Suid-Afrika toe, het hy die President van die Hoërhuis geword en ek was ’n sukkelende prokureur in ’n klein dorpie ’n duisend myl van hom af, en so het ons mekaar slegs met rare geleenthede ontmoet. Die Eerste Wêreldoorlog en die daaropvolgende na-oorlogse aktiwiteite, het ons apart gehou, en nou na amper ’n hele leeftyd, is ons aangewese om vir die volgende paar maande saam te toer.

Baie gou het hy die sentrale karakter van die ekspedisie geword, want hy was ’n buitengewoon voortreflike baasverteller en ’n ryk bron van inligting aan ons buitelandse gaste, en dit was vir my ’n plesier om te sien hoe hulle hulle na hom gewend het oor sy wye kennis. Hy was ’n kundige geleerde in die ware sin van die woord. Hy het Grieks en Latyn bemeester en kon Frans, Duits, Hoog-Hollands en Afrikaans ewe vlot praat. Sy taalbeheersing van Engels en sy kennis van die Engelse letterkunde was heel moontlik ongeëwenaard deur enige van die aantal geleerdes, skrywers, openbare figure en bekende persoonlikhede waaruit ons groep parlementariërs saamgestel is.

My pa was verder ook ’n digter. Nie juis ’n befaamde digter nie, maar ’n egte digter, want hy het gedigte geskryf uit die liefde daarvoor. Daar was tye waar ek hom dopgehou het. Sy lippe het stilswygend beweeg; dan sou hy ’n koevert of ’n stukkie papier vat, en daar het ’n deuntjie, ’n koeplet of ’n lied verskyn.

In die Anglo-Boereoorlog het sy Afrikaanse verse baie daartoe bygedra om ons swaar beproefde manne in die veld te vertroos, en dié gedigte word steeds onthou.

Hy het met dieselfde gemak in Engels as in Afrikaans of Hollands geskryf. In Bloemfontein is daar die graf van ’n baba-sustertjie van my wat lank gelede gesterf het. Op haar grafsteen is ’n grafskrif wat deur my pa geskep is:
 

                                     Her tiny feet that never trod
                                     This thorny world of ours,
                                     Are standing by the Throne of God
                                     Amid his fairest flowers.

 

Toe die Britte ons in 1902 uit die Transvaal verjaag het, het ek hom, toe ons trein die Portuguese grens oorgesteek het, dopgehou daar waar hy vir ’n rukkie doodstil gesit het. Hy het sy skryfblok uitgehaal en op sy knieë ’n paar reëls geskryf en dit vir my gegee. Ek het hulle nog steeds.
 

                                                                      Suid-Afrika 

                                      Op watter vreemde strande my voete ookal mag loop
                                      Die toekoms vir jou is vol van hoop.
                                      Die son van vryheid mag vir ’n wyle nie meer skyn
                                      Maar nie vir altyd; God vergeet nie ons pyn.

Posted in Afrikaans


Next

Previous