Stories

Oorlog, Skilderagtige Ou Skobbejak van die Kaokoveld

Posted on May 05, 2015 by Cape Rebel

Uit No Outspan
deur Deneys Reitz

Oorlog het van ons koms geweet lank voordat ons by sy stat ingery het. Sy verkenners het ons elke beweging dopgehou sedert ons uit Gauko-Otawi vertrek het – so het hy ons later vertel.

Hy is steeds ’n rysige gestalte, lank en regop, hoewel hy na aan tagtig moet wees. Streng gesproke is hy glad nie ’n Herero nie, want sy pa was die eens bekende “Betchuana Tom” wat as die wapendraer van Green, die beroemde olifantjagter, opgetree het. Sy ma egter, was ’n Herero, en hy het homself as een beskou.

Met ons aankoms het Oorlog met omtrent dertig volgelinge, meestal sy seuns, ons ingewag. Hulle het Europese kleredrag aangehad, want die Herero’s maak ’n punt daarvan om soos ’n witman aan te trek as ’n teken van hulle superieure status verhewe bo die stamme wat diervelle gedra het. Hulle het geen moeite ontsien om geskikte klere aan te skaf nie. Hulle het dit uit Angola smokkel, of hulle het driehonderd myl oos na die sendingstasies in Ovamboland gegaan om dit daar te gaan koop.

Origens het ek ’n interessante tyd ervaar deur ou Oorlog te bestudeer en iets van sy verlede uit hom te onttrek. Dit het geblyk dat hy as ’n seun vir Green in sy olifantjagtogte na die binneland vergesel het. Daarna het hy by die Dorslandtrekkers aangesluit as ’n gids deur die Kalahari, en het hy toe die grusame skouspel van dié rampspoedige gebeure aanskou. Saam met die oorlewendes het hy na Angola toe gegaan. Hy het in verskeie inboorlingkampanjes gedien, en die Portuguese wat sy heldhaftigheid en bekwaamheid waargeneem het (so sê Oorlog), het hom in bevel van twee oorlogvoerende stamme aangestel.

As bevelvoerder was hy vir baie jare in verskeie oorloë betrokke. Slegs sy reputasie het hierby gebaat en hy het gesê dat die meeste van sy krygers gesneuwel het en dat hy in onguns verval het. Sy weergawe was dat hy in die geveg teen die Konyama-stam, ernstig verwond is – hy het my die littekens gewys – en met sy terugkoms, voordat sy wonde genees het, is hy beveel om, met wat oorgebly het van sy vegters, na Mossamedes te marsjeer, om van daar per boot met die kus op te vaar vir ’n verdere veldtog by Loando.

Hy het gesê dat hy geweier het, waarop die Portuguese toe ’n prys op sy kop gesit het. Hy het toe suidwaarts na die Kaokoveld toe uitgewyk.

Die storie het egter ’n ander kant, want toe ek die volgende jaar Angola besoek het, het die Portuguese my vertel dat dit heeltemal waar was dat hulle hom per skip met die kus op sou stuur, maar dit was nie om in Loando te gaan oorlog maak nie, maar na die Eiland van St Thomas waar hulle van plan was om hom lewenslank in die tronk op te sluit weens sy rowery en die moorde wat hy gepleeg het. Hoe dit ook al sy, Oorlog is ’n skilderagtige ou skobbejak en hoewel hy so onlangs as 1917 uit Angola gevlug het, het hy homself gevestig as die oppergesag van hierdie landstreek. Hy het ’n groep Herero’s om hom versamel wat onwankelbaar lojaal is teenoor hom. Selfs Thomas by Gauko-Otawi en Langman en Herman so ver suid as Khairos aanvaar sy opperheerskappy, en is vrekbang vir hom.

Hy het my vertel dat hy vir hom ’n vrou gevat het uit elke stam binne sy bereik aan beide kante van die Kunene. Hy het gesê dat vrouens altyd jaloers is op mekaar, en wanneer daar ’n komplot teen hom gesmee word, hy dit verseker van een van hulle sal hoor.

Verder het hy glo omtrent vyftig seuns wat nog leef en ’n verdere vyftig of sestig van wie hy nie weet nie en ten minste dertig wat reeds gesterf het. Ek het hom gevra hoeveel dogters hy het, waarop hy heel minagtend gesê het dat niemand ooit die moeite doen om dogters te tel nie.

Aangesien hy baie van sy tyd saam met die Boere van Angola deurgebring het, het hy Afrikaans vlot gepraat soos baie van sy seuns na wie hy, as gevolg hiervan, verwys het as die “oorlamse volk” bedoelende die “verligte mense”.

Posted in Afrikaans

Diepgaande indrukke en innerlike skoonheid

Posted on April 16, 2015 by Cape Rebel

Uit Kommando
deur Deneys Reitz

 

Ons het in die Oranje Vrystaat gewoon.

My pa was die hoofregter in sir Jan Brand se tyd en vervolgens, in 1887, is hy tot President van die Republiek verkies.

Ons huis was in Bloemfontein, die hoofstad van die Vrystaat, en hier het ek en my broers grootgeword. Daar was vyf van ons, twee jonger en twee ouer as ek, en ons het ’n aangename, Tom-Sawyer-soort van bestaan geniet soos maar min seuns vandag die geleentheid kan hê. Ons het geleer om perd te ry, te skiet, en om te swem amper so gou as wat ons kon loop. Daar was ook ’n klomp geharde Basoeto-ponies in die stalle waarop ons soms vir weke aaneen die wêreld ingevaar het. Bedags het ons oor velde gery waar dit van wild gewemel het en snags het ons onder die sterrehemel geslaap. Ons het na hartelus gejag, visgevang en gekampeer en eers weer teruggekeer huis toe wanneer ons genoeg gehad het.

Soms het my pa ons saam met hom geneem op sy lang toere na afgeleë plekke waar daar nog meer jagtogte en kampering was, en daar was groot wapenskoue wat die Boerekommando’s ter ere van my pa gereël het.

Ons klein landjie was ’n modelstaat. Daar was geen politieke partye nie en, tot na die Jameson inval, geen kwade gevoelens tussen die Afrikaners en die Engelse nie. Daar was nie spoorweë nie, en die rumoer van die wêreld daar buite het ons later maar skrapsgewys bereik. Op ons stil manier was ons volkie tevrede en gelukkig so honderde myle afgesonder van die naaste kus af.

In 1894, toe ek twaalf jaar oud was, is ons Europa toe geneem. Dit was ’n wonderlike ervaring vir ons seuns wat in die binneland gebore en grootgeword het, om kus toe te reis, om oor die oseaan met ’n skip te vaar, en om die baie mense en stede van die ou wêreld te sien. Ons het eerstens Engeland toe gegaan waar ons ’n rukkie in Londen gebly het en ons verstom het aan die dinge wat ons gesien het. Daarna na Amsterdam, waar ons die ouer tak van ons familie besoek het wat in Holland agtergebly het toe ons voorvaders lank gelede Suid-Afrika toe geëmigreer het. Die ou stamvader het in ’n huis aan die Heerengracht gewoon; ’n ryk man oënskynlik, want hy het baie bediendes gehad en daar was pragtige skilderye aan sy huis se mure.

Aangesien ons Republiek sy naam van die Huis van Oranje ontleen het, is my pa goed ontvang deur die klein koningin van die Nederlande en die hof en mense het ’n ophef van ons gemaak. Vervolgens het ons Parys toe gereis om Casimir-Périer, die nuut verkose President van Frankryk te ontmoet. Hy het ons na die graf van Sadi Carnot, sy voorganger, geneem om daar ’n krans te lê. Hy is kort tevore deur ’n anargis by Lyons vermoor. Vandaar het ons Brussels toe gegaan om Monsieur Jesslein, ons konsul, te besoek. Sy huis was in die Rue de la Blanchisserie geleë en hy het ons vertel dat dit die huis was waarin die hertogin van Richmond haar beroemde bal gehad het op die vooraand van Waterloo. Ons is voorgestel aan Koning Leopold, ’n ou man met ’n krom neus en ’n lang wit baard. Hy het net sy pinkie uitgesteek om ons te groet, miskien omdat ons net aan ’n republiekie behoort het.

Van België af het ons Hamburg toe gereis om van daar af per skip oor die Noordsee na Edinburgh toe te vaar, en van daar af het ons die Cathcarts by Auchindrayne op die Doonrivier besoek. My pa het regte in Skotland studeer en my oupa voor hom, weer landbou. Hulle het altwee heelwat tyd op Auchindrayne deurgebring. Dit was my pa se wens dat sy seuns daardie tradisie van vriendskap, wat reeds vir amper ’n honderd jaar die twee families verbind het, sou voortsit.

My oupa het vir die eerste keer in 1816 Skotland toe gegaan. Hy het sir Walter Scott, die groot skrywer, goed leer ken nadat hy vir hom ’n leeuvel gevat het wat die digter Thomas Pringle uit Kaapstad vir hom gestuur het. Op geleenthede later in Suid-Afrika het hy daarvan gehou om te vertel van hulle ontmoetings en van die banket waarop hy teenwoordig was toe Scott vir die eerste keer erken het dat hy die skrywer was van die Waverley-romans. Beide my oupa en my pa het teruggekeer Suid-Afrika toe met ’n ware liefde vir Skotland en die Skotse literatuur. Tuis by ons huis het daar amper nie ’n aand verbygegaan sonder dat daar uit Burns of Scott gelees was nie. Dit was asof ons tussen ons eie mense was.

Van Auchindrayne af het ons Londen toe gegaan om sir George Grey te ontmoet. As vroeëre goewerneur aan die Kaap, was hy vir jare lank al ’n vriend van my pa. My pa het altyd gesê dat, as die Engelse meer mense soos hy Suid-Afrika toe gestuur het, ons geskiedenis ’n baie gelukkiger verloop sou geneem het. Alhoewel ek net ’n seun was en sir George Grey ’n baie ou man, het hy ’n diepgaande indruk op my gemaak. Hy het iets soos ’n innerlike skoonheid gehad – moeilik om te beskryf, maar wat ek nooit vergeet het nie.

Van Londen af het ons teruggevaar Suid-Afrika toe.

Met ons terugkeer is ek en my broers soos pelgrims wat veilig van Mekka af teruggekeer het, ontvang deur ons minder bevoorregte maats. In daardie dae, het ons reis vir hulle na so ’n gewaagde onderneming gelyk.

Ons het ons sorgvrye lewe weereens hervat, totaal onbewus van die storm wat aan die broei was tussen die wit rasse in Transvaal.

Posted in Afrikaans

Wat ons voorsate ingestel het

Posted on March 10, 2015 by Cape Rebel

Uit The Mask en Polfyntjies vir die proe
deur Dr. C. Louis Leiplodt

In sy geskiedkundige roman, The Mask, die derde boek in die trilogie wat bekend staan as The Valley, kan Leipoldt nie die geleentheid weerstaan om ’n gesin se aandete by die huis van die plaaslike dorpsprokureur op sy unieke manier te beskryf nie. Hy doen dit breedvoerig in woorde wat sy status onthul as ’n connoisseur van die ou Kaapse kookkuns, ’n voortreflike kok, en een van ons groot digters. 

Ons weet dat die dorp ter sprake Clanwilliam is, waar Leipoldt grootgeword het en waar sy pa die dominee vanaf 1884 tot 1910 was. Miskien is dit waarom Leipoldt as volg, nostalgies en ongebonde, vrye teuels kon gee aan sy poëtiese en kulinêre verbeeldingsvermoë.
 

Aandete in Clanwilliam 

“Ayah Mina, ’n skitterende kok, het ’n ete opgedis wat reg laat geskied het aan haar kookkuns, ’n goed voorbereide aandete wat die oubaas genot verskaf het om te eet, want nie alleen het dit heerlik geproe nie, maar ook sy nasionale smaak behaag. 

Tuisgebakte brood met krakerige kors en bros krummels, gemaak van plaaskoring fyngemaal deur steenrollers, vervaardig deur tuisgemaakte masjinerie, êrens in ’n plaasmeule in die skadu van eikebome waar die water eentonig oor die gleuwe van die groot houtwiel geplons het en die groot tarantula-spinnekoppe hulle diamant-ogies tussen die melerig- gepoeierde spinnerakke geflonker het; witboontjiesop mildelik beroom en bedien met brokkies swartgeroosterde brood; ’n smaaklike bredie gemaak van die ontvouende  botsels van geurige waterblommetjies – die klein wit, met ’n sweempie pienk, waterlelie wat in oorvloed op rivierpoele groei; heerlike gestoomde rys met elke korrel los van sy maters, ten volle uitgeswel en glinsterend in sy hermelynse witheid; soetpatats, goudbruin van kleur, in ’n dun stroop; ’n gesmoorbraaide makou, smelt-in-die-mond-sag, met salie-en-uie-vulsel; ’n slaai van gekookte beet, versier met hardgekookte eiers; en vir nagereg gebakte vla met stoweperskes, songedroog en gegeur met kaneel en nartjieskil.

En met koffie, sterk en subtiel-aromaties, want die boontjies is net daardie middag gemaal en gerooster, ’n kelkie Van Der Hum-likeur of ’n glasie ryk muskadel waarvan die smaak in die mond draal.”
 

Wat ons voorsate ingestel het

“Die ouderwetse atjar, soos ons Bonades dit geken het, is skoon verdwyn. Dit het weggesmelt soos kapok op die Sederberge in Augustusmaand.

Daar is mense wat oor die afsterf en verdwyn van ou gewoontes, ou vriende, ou modes, ou dinge, sonder aandoening kan gesels en wat nie ’n traan durf stort oor die verlies van iets wat ons voorouers bemin en liefgehad het nie. Hulle is, soos die Latynse digter reguit gesê het, ongevoelige stene wat nie eens die stadige verwering van wind en reën besef nie. Dit is hulle wat vandag vir hulle tevrede stel met So-en-So se Ingelegde Dit-en-Dat, Jan Rap se Sous, Potverdorie se Pekel, Ouma se Opwekkertjie en die hemel weet wat al meer wat ons uit bottels en blikkies skraap om op tafel by ons beste skottels te eet.

Ons Bonades is andersgesind. Ons hou van die ou goed. Ons bly getrou aan wat ons voorsate ingestel het. En een van die tannies maak nog egte, ouderwetse atjar.”

[The Mask speel af teen die einde van die 1920’s en is nie lank daarna nie in Engels geskryf. Die rubriek “Atjar” is in Afrikaans geskryf en drie weke voor Leipoldt se dood op 12 April 1947, in Die Huisgenoot gepubliseer, en jare later weer in Polfyntjies vir die proe.]

Posted in Afrikaans

President F. W. Reitz op tagtig

Posted on March 10, 2015 by Cape Rebel

Uit No Outspan
deur Deneys Reitz

In sy derde boek, No Outspan, haal Deneys Reitz ’n erebrief aan wat deur al die afgevaardigdes van ’n toergroep, die Parlementêre Assosiasie van die Empire, onderteken is. Dit is aan sy vader, F. W. Reitz, oorhandig by ’n dinee ter geleentheid van sy tagtigste verjaarsdag. Dié voormalige hoofregter en president van die Republiek van die Oranje Vrystaat het, in sy latere hoedanigheid as staatssekretaris van die Transvaalse Republiek, die ultimatum aan Brittanje geskryf wat tot die Anglo-Boereoorlog gelei het.

Die erebrief lui soos volg:

Victoriawaterval
Suid-Rhodesië
5 Oktober 1924

Geagte president Reitz 

Ons, wat vir meer as ses weke lank u metgeselle op hierdie toer is, wil graag, ter geleentheid van u tagtigste verjaarsdag, u nie net gelukwens met nog ’n mylpaal wat u in ’n lang en volle publiekgesinde lewe bereik het nie, maar ook u verseker van die hoë agting wat ons geleer het om vir u te koester. Elkeen van ons op hierdie gedenkwaardige reis beskou dit as die grootste voorreg dat ons die geleentheid gehad het om u te leer ken in u rype en lewenskragtige oudag. U het ons op verskeie maniere waarvan u nie eens bewus is nie, gehelp om die mannemoed, dapperheid en vrygewigheid van dié grootse volk, in wie se geskiedenis u so ’n besonderse rol gespeel het, te waardeer.

U lewe het omtrent die hele ellendige periode van onenigheid tussen die twee volke, op wie se vriendskap en samewerking die welstand van Suid-Afrika afhanklik is, gedek. En u het aan al hierdie probleme ’n manhaftige en eerbare deel gehad. Ons wil dit graag as ’n gelukkige voorspel tot die toekoms beskou dat u u tagtigste verjaarsdag in die geselskap bevind van mense in die openbare lewe afkomstig uit die vier hoeke van die aardbol – persone uit vyf nasies en ten minste drie tale, almal nou verenig in vrede, wat die innige wens koester dat die kameraadskap van die nasies wat hulle verteenwoordig, nooit verbreek sal word nie.

Van verdere belang:  U vier hierdie merkwaardige gedenkdag in een van die mees verafgeleë voorposte van die witman in die donker kontinent, waarvoor u en u mense so baie gedoen het om oor te wen vir die beskawing. Dit is ons opregte wens dat u nog lank gespaar sal word om u groot vermoë tot openbare diens te geniet, en dat u ononderbroke vrede en harmonie tussen die volke mag beleef, sowel as ’n gesonde en regverdig gevestigde welvaart wat sal voortduur en ver verwyderd sal wees van verstorings in die land waaraan u u lewe gewy het.

Posted in Afrikaans

Visvang in Valsbaai

Posted on March 10, 2015 by Cape Rebel

Uit No Outspan
deur Deneys Reitz

Valsbaai is ’n gepaste benaming. Anders as Tafelbaai aan die anderkant van die Kaapse skiereiland, is dit ’n verraderlike stuk water – doodkalm een oomblik en dan skielik het woeste suidoosters so reg vanuit die suidpool gestormwaai. Die hemelhoë golwe het gesweepslag en alles aan boord het van reling tot reling met harde slae gekletter en gegalm, en ’n mens moes sonder versuim blitsig skarrel vir skuiling.

Die mond van die baai is dertig myl breed, en van Kaap die Goeie Hoop tot by Hangklip is dit wyd genoeg vir reusagtige golwe om in te rol. Goeie stuurmanskap was noodsaaklik om dié see se stormagtige mag in ’n oop boot te navigeer.

Maar dit was nie altyd sulke onstuimige weer nie, en die dae wat vir my uitstaan, was toe ons met die oggendstond op ’n doodkalm en rustige baai uitgevaar het. Soos die mis stadig gelig het, het ons groot swerms malgasse, seeswaels, seemeeue en kormorante gesien wat agter die sardientjies aan die see ingeduik het. Die duikslae van die voëls het die water laat woel en spat soos ’n bombardement in Frankryk.

Te midde van die rumoer het skole dolfyne, ’n walvis of twee, en robbe, pikkewyne en haaie meegedoen. So ’n skouspel moes seker ongeëwenaard in die wêreld gewees het. Toe het die tyd gekom dat ons ons lyne uitgegooi en pragtige groot visse ingetrek het – geelbek, kabeljou, steenbras en vele ander, hulle gewig enigiets tussen vyftien tot vyf en dertig pond of meer. Lateraan sou ons vingers lam en dom word, met die boot wat laag in die see sou lê met die gewig van ons vangs.

Dit was ons gewoonte om op Lucky Jim uit te gaan. Dit was ’n elftonner wat aan ons vriend mnr. Jim Taylor, wat ook bekend was as die “Grand ou Kêrel van Valsbaai”, behoort het. Hy was ’n ryk man, maar ook besonder goedgeaard en heel liberaal en verdraagsaam wat betref Suid-Afrikaanse aangeleenthede. Sy kennis van die baai was sonder gelyke. Wanneer die wind en die weer dit ookal toegelaat het, het hy ons saam met hom geneem, en baie aangename ure het ons só saam deurgebring.

Die vistermanne van Valsbaai was enig in hul soort, meestal Bruinmense met ’n titseltjie Maleise bloed in hul are, en hul lewenswyse was soos Captains Courageous en die Newfoundland Banks.

Die gierende storms het dit baie maal onmoontlik gemaak om met mekaar te praat, en so het hulle ’n gebaretaal van hulle eie ontwerp. Dit was net vir die uitgesoektes en jy moes eers ’n lid van die losie word, as mens dit so kan noem, dat hulle jou as ’n buitestander sou inlaat in dié verborgenhede. Mnr. Taylor, ek en my seuns, Jan en Michael, is aanvaar as behorende aan die boot, en ons het die kabbala van die baai geken. Soos ons verby ander bote gevaar het, het ons ons voorkoppe aangeraak, óf die linkerwang, óf die regter, óf die lip, óf die ken. Ons kon drie sny-bewegings oor die arm maak, óf ons visgerei omhoog hou óf laag laat sak – die gewrig so buig asof ’n makriel uit die lewe gehelp word, of om met die arm ’n sirkelbeweging uit te voer – en die manne daar aan anderkant van die water sou verstaan watter vis aan die loop was, die nabyheid van die naaste bank, óf ’n rob óf ’n haai met ons lyne gepeuter het, en ook hoe laat dit was.

Die vissers het so gewoond geraak aan hulle alfabet dat selfs as ’n man in die hawe sou vra vir ’n vuurhoutjie vir sy pyp, óf vertel hoe dors hy het, óf verduidelik dat hy van plan was om te gaan inkruip, hy dit sou doen met ’n handbeweging veel eerder as mondelings.

Valsbaai het ’n rustige toevlugsoord vir my geword, weg van die parlement se geredekawelry, en vir my seuns ’n groot bron van belangstelling.

Posted in Afrikaans

Nadraai van die Eerste Wêreldoorlog

Posted on March 10, 2015 by Cape Rebel

Uit Trekking On
deur Deneys Reitz

Ons het Hogmanay Nicht (Oujaarsdagnag) gevier op die oproerige en lawaaierige manier soos vereis deur die reglementêre tradisie van die Skotse Fusiliers. Die volgende oggend, met ’n verskriklike hoofpyn, het ek saam met ’n doedelsakorkes die rondtes gedoen om by die menasiekamers van al vier die kompanie-eenhede ’n glasie te klink.

Die eerste twee weke van 1919 het ek deurgebring deur aandag te gee aan my pligte en om deur die Duitse platteland te ry wat oortrek was met sneeu.

Die vooruitsig egter om die res van die winter in hierdie droewige omgewing deur te bring, was heel onaantreklik, en nou dat die opwinding van oorlog weg was, het reaksie ingetree. Ek was gretig om na Suid-Afrika toe terug te keer. Ek het aansoek gedoen vir verlof om na Londen te gaan met die doel om te demobiliseer, en met die hulp van generaal Fisher is my versoek toegestaan.

Die oorlog was vir my verskriklik maar nogtans nie vernederend nie, en ek het daar vertrek met ’n hoër, en nie ’n laer, opinie van my medemens. My vernaamste herinnering is van hegte vriendskapsbande, en van miljoene manne aan beide kante wat gedoen het wat hulle gedink het hulle moes doen sonder om die skurke te word soos sommige skrywers beweer het.

Ek het gou uitgevind dat dit makliker was om by die Britse weermag aan te sluit as om daaruit ontslaan te word, en vir weke lank het ek met veelvuldige besoeke die gange van die Oorlogskantore platgeloop, saam met honderde ander wat almal tevergeefs probeer het om hulle demobilariseringspapiere te kry.

Gedurende die tussenposes wanneer ek nie die gesaghebbende magte lastig geval het nie, het ek verskeie kere generaal Botha en generaal Smuts besoek. Hulle was besig met voorbereidings om die Vredeskonferensie by Versailles by te woon.

Dit was juis die rede waarom generaal Botha so pas uit Suid-Afrika daar aangekom het. Hy het siek en vermoeid gelyk. Die langdurige ooreising het sy tol geëis. Die wete dat so baie van sy eie mense sy optredes misverstaan het, en hom as 'n vyand beskou het, was besig om sy hart te breek.

Hy het aan my gesê dat, in die onthou daarvan hoe ons die bitterheid van nederlaag in vervloë dae gesmaak het, en hoe die wroeging versag is deur grootmoedige vredestermes, hy en generaal Smuts ’n verdrag teëgestaan het wat die Duitsers ’n gebroke nasie sou laat.

Oor die toestand van Suid-Afrika het hy met weemoed gepraat. Hy het gesê dat bekrompe mense nog steeds ’n meedoënlose rassistiese veldtog gevoer het. Dit het die nasie verdeel het, en ’n verenigde nasie was nog ver in die verskiet.

Kort na sy terugkeer Suid-Afrika toe, het hy gesterf, en ek het hom nooit weer gesien nie. Hy was die eerbaarste en mees innemende man wat ek ooit geken het.

Sedert daardie nag van die geveg by Spioenkop, agtien jaar gelede, was ek sy volgeling, en in Suid-Afrika bewandel ons, wat sy geloof navolg, nog steeds die pad wat hy vir ons aangedui het.

Posted in Afrikaans

Kuns, Johannesburg en die digter se geborduurde verdigsels

Posted on February 09, 2015 by Cape Rebel

deur Herman Charles Bosman

Romankuns is anders as geskiedenis. Altans, dis hoe ek dink die geskiedkundige dit sou beskou, en sodoende, die onverganklikheid wat in goeie fikse lê, verontagsaam. Want, op stuk van sake, is dit nie die sieldodende feite, wat bekend staan as geskiedkundige waarhede, wat sal oorleef nie. As jy lank genoeg wag, sal jy sien dat die historiese feite – nagegaan en gekontroleer deur die geskiedkundige – uiteindelik van sy erestatusposisie afstand sal moet doen aan die digter se geborduurde leuen.
 

                                    *                                  *                                  *
 

Ek glo eerlikwaar, as ’n bron van nuwe kulturele inspirasie aan die wêreld, is dit uit en gedaan met Europa.

Europa het ’n agtergrond van ongeëwenaarde prag. Amper elke dorp en stad van Wes-Europa is deurdrenk met antieke prag en praal, maar wanneer dit kom by die gees van die mense van Wes-Europa, is hierdie glorie se dae getel.

Om hierdie rede is dit heel droewig om kunsskilders in hierdie land teen te kom – en sommige van hulle is nie sonder heelwat skeppende talent nie – wat die kunsies of tegnieke van die hedendaagse Europese kunstenaars slaafs navolg, en daarmee wend hulle, met toenemende verwarring, subjektiewe subtiliteite aan, en dit word ’n plaasvervanger vir ’n eie aard en persoonlikheid. Niemand weet dit beter nie as die Europese kunstenaars hulself. Dat hulle eie natuurlike krag verval, is vir hulle nie juis ’n bron van blydskap nie, dit is net so dat hulle hulself nie daarvan kan weerhou nie.

Daarom is dit betreurenswaardig dat ons eie Suid-Afrikaanse kunstenaars oor die algemeen nie ’n duidelike sin van waardes het wat die saak betref nie. As jy wil kan jy leer om al die Europese tegnieke te bemeester – dit is waarvoor Europa daar is – maar as jou eie gees nie in jou skilderwerk is nie, òf dit nou is omdat jy nie ’n gees van jou eie besit nie, òf omdat jy nie weet hoe om uiting daaraan te gee nie, dan is dit wat jy voortbring niks anders nie as kunsmatige gemors.

Nogtans glo ek dit is slegs ’n verbygaande fase. Suid-Afrikaanse kunstenaars probeer nie om met Europa op hulle eie terrein kragte te meet nie, wat op sigself ’n saak van onmoontlikheid sou wees, hulle probeer werklik om Europa op sy eie terrein na te boots. Dit is pure gekheid.

Maar die stadium sal verbygaan. Op die ou end, so glo ek, sal Suid-Afrika – met Johannesburg as sy kulturele middelpunt – homself bevind in ’n era van geïnspireerde skepping, wat voortspruit uit die passie van liefde vir die land. Dan sal ons kuns lewer wat die ware hoogtes van grootsheid bereik – want die klanke wat dit voortbring, is eg – en die skoonheid sal voortleef, want dit is ons eie.

Ons het hier alles wat nodig is. Wat reeds in die Afrikaanse letterkunde bereik is, hou veel in wat goed is vir die toekoms. Amerika het Edgar Allen Poe en Mark Twain voortgebring, twee grootse literêre persone wie se ware invloed eers deesdae gevoel word.

Maar Afrika het nog nie van homself laat hoor nie.
 

                                    *                                  *                                  *
 

Ek glo dit is slegs moontlik om die ware Johannesburg te sien, as ons dit beskou as ’n plek van misterie en romantiek – ’n stad gehul in ’n newel. Is daar nog ’n stad jonger as sestig waarvan die oorsprong van sy naam alreeds verlore in die skadu’s van Vader Tyd is?

Mense wat teenwoordig was toe Johannesburg sy naam gekry het, sê dat die dorp die tweede doopnaam van president Kruger gekry het. Ander persone van gelykstaande gesag meen weer dat dit vernoem is na Johan Rissik. Nog kandidate – en in elke geval berus hulle voorstelling op hoogs bevoegde gesag – sluit in Christiaan Johannes Joubert, veldkornet Johannes Meyer, Johannes Lindeque en Willem Gerhardus Christoffel Pelser (laasgenoemde heel moontlik omdat dit gelyk het of dit die enigste stel name was wat nie ’n Johannes bevat het nie).

Daar is ten minste ’n dosyn ander aanspraakmakers. En jy behoort glad nie te huiwer om enigeen van hulle te ondersteun nie. In elke geval is die bewyse onweerlegbaar.

Vandag is Johannesburg met sy wolkekrabbers ’n roemryke stad. Hierdie hoë geboue van beton en staal sou oral besonder indrukwekkend lyk, wat nog te meer om sommer so in die middel van die veld neergeplak te wees. Maar ons dra nog een of twee tekens van ons oorsprong as ’n mynkamp.

Neem byvoorbeeld die openbare biblioteek.

[Circa 1940]

Posted in Afrikaans

« Previous 1 9 10 11 12 13 17 Next »