Uit Gods of the Morning - A Bird's Eye View of the Highlands
In die digte skadu van die bos ou taksisbome is daar nie net een hondegraf nie, maar ’n hele ry grafsteenklippe wat dieselfde lyk. Ses, om presies te wees. Vyf rowwe, groot klippe in ’n ry en een uitgekerfde klipsteen met ’n inskripsie: “Max, 1968-1981” en iets in Latyn onderaan. Ek het die houtsnipvere laat val en oorgebuig om die mos van die klip af te vee. Verseker het ek nie die hond vergeet nie, maar vir ’n oomblik het die inskripsie my ontgaan. Ek geniet dit om hierheen te kom en in stilte aan hulle almal te dink en die dekades wat hulle oorbrug: die Labradors, Max en Jubilee; Hobson, my eerste Jack Russel; Butch, nog ’n Labrador; dan Rough en Tumble, twee Jack Russel-boeties. Die mees onlangse hond was Tumble, wie se heldhaftige terriërhart uiteindelik na vyftienjaar van deurlopende, onwrikbare lojaliteit ingegee het.
Ons het dit nie beplan nie, maar honde was altyd ’n belangrike bestanddeel in ons lewe hier in die Skotse Hoogland. My eerste een, Max, ’n geel Labrador, was intelligent, knap, desperaat om te plesier en, gevolglik, baie maklik om op te lei. Ek het vroeg geleer dat ’n goed opgeleide hond ’n waardevolle toevoeging was om die veld en die natuur te bestudeer. Gedurende sy dertien lewensjare het Max honderde neste van voëls wat op die grond nesmaak, opgespoor, en dit sonder om ooit ’n voël te beseer. Deur net om na my te kyk of ’n waai van sy stert, kon hy my laat weet dat ons naby takbokke of vosse, hase of konyne was. Hy het opwindende opsporings uitgewys soos korhane, sneeuhoenders, domkiewiete en die neste van houtsnippe, lêplekke van wildekatte, ottergate, nuutgebore takbokkies en selfs op ’n slag, ’n vrou wat in die donker na ’n hartaanval diep in die heide inmekaargesak het. Max het haar lewe gered; en ons kon haar betyds hospitaal toe jaag. By meer as een geleentheid, deur die gereedheidsposisie in te neem, te vries en aan te wys as hy ’n snuf in die neus gekry het, kon hy my waarsku dat ander wild onlangs daar verbygegaan het.
As jy ’n uitsonderlike hond gehad het, en jy wil hom met sy afsterwe vervang, dan doem die spookbeeld van partydige vergelykings soos ’n mistigheid voor jou op. Max was my jonkmanshond. Hy was my enigste kind, my geliefde dier, my konstante metgesel deur goeie en moeilike tye – meer gekoester, want ek het die klein nege weke oue hondjie uit die kloue van dodelike hondesiekte, terug verpleeg. Verder was hy aan my sy by twee groot veranderinge in my lewe: Eerstens toe ek uit Engeland verhuis het om ’n loopbaan en ’n nuwe woning in die Skotse Hoogland te bou, en daarna my huwelik en die geboorte van my kinders.
Slegs tien dae na ek hom by die teler gekry het, het Max ’n misrabele, koorsige, blonde, klein lompe bondeltjie geword wat nie eens in staat was om sy kop op te lig nie. Die veeartse het aan my gesê dat daar geen hoop vir hom was nie. Onwillig om handdoek in te gooi en meer uit radeloosheid as hoopvolle verwagting, het ek druppeltjies melk en glukose met ’n pipet by sy keel afgekry. Hy het vasgebyt. Gedurende die dag het hy binne in my hemp gelewe en snags het ek aan die slaap geraak met my hand op hom om sy fladderende hartklop te monitor. Na ’n week het hy tekens van herstel begin toon, en na drie weke het ek geweet hy gaan lewe. My hondjie was terug, maar deur een of ander onvoorsiene wedersydse alchemie het daar ’n spesiale band, ’n verhouding tussen ons wortelgeskiet.
Hy het ’n intelligente hond geword, intuïtief van geaardheid en sy lojaliteit was verhewe bo enige beskrywing van absolute toewyding waaraan ek kon dink. Hy het die uitdrukking om “te volg soos ’n skaduwee” geherdefinieer. Oral waarheen ek in my kar gery het, was hy saam. Om my te plesier was blykbaar die doel van sy hele lewe.
Sy opleiding was ’n wedersydse vererende proses: Ek was gretig om aan sy stygende ambisie te voldoen en hy was desperaat om suksesvol te wees. Dit was asof ek hom enigiets wat ek wou, kon leer, en hy het dit begryp sodra ek daarmee begin het. Ek het tossels oor die deurhandvatsels gehang en gou het hy geleer om dit oop te trek, en om dan die deur agter hom toe te stoot. Só kon hy nawillekeur by die kothuisie in- en uitgaan. Sy mond was so sag soos jellie – ek het hom met hoendereiers geleer en nie eers een maal het hy ’n eier laat val of gebreek nie. Hy het hulle heel delikaat in my hand geplaas asof dit ’n kosbare geskenk was.
Eenmaal, toe hy omtrent ses jaar oud was, het ek op ’n mooi Juniedag ’n span besoekers aan ons veldsentrum, op ’n staptoer na die kruin van ’n berg in Glen Affric wat omtrent ’n duisendvoet hoog was, begelei. Ons plan was om die verruklike, delikate, rooi en pienkgeblomde alpynse asalea (Loiseleuria procumbens) wat so vir ’n duim of wat oor die dun steppeagtige kruin rank, op te spoor. Dit was ’n lang staptog – verder as vier myl – en ’n verdere myl van steil, asemrowende kruiploop tot by die bergrant. Ons het die asalea gevind en foto’s daarvan geneem, en toe in pragtige sonskyn by die klipstapel op die kruin ons toebroodjies geëet. Max het langs my kom lê en aan die slaap geraak. Daarna het ons stadig afwaarts begin loop. Aan die voet van die berg het ’n dame met die naam van Kirsty, skielik besef dat sy haar verkyker by die klipstapel vergeet het. Sy wou teruggaan, maar ek het haar daarop gewys dat dit ten minste ’n uur en half sou neem. Dit was alreeds vieruur in die middag en daar was nog meer as vier myl wat wag om geloop te word tot by die voertuig, en die ander vyf gaste was almal gretig om betyds terug te wees vir teetyd. Ek kon haar nie alleen die berg laat opgaan nie.
Ek het aan haar gesê om haar nie daaroor te bekommer nie, en dat ek die volgende dag daarvoor sou terugkeer. Sy wou nie daarvan hoor nie, want dalk sou dit reën of ander klimmers mog dit gaps. Dit was ’n moeilike situasie. Ek kon die ander spanlede se oë op my voel soos hulle my skerp aangekyk het, want hulle wou huis toe gaan. Ek het na Max gekyk. ’n Ander moontlikheid het opgedoem, wat ons die kans sou gee om die terugtog te hervat. “Dit is moontlik,” het ek dit gewaag, hoewel ek dit nie eintlik self geglo het nie, “dat Max mag teruggaan om dit vir jou te gaan kry.” Die stappers het my skepties aangekyk, maar die afgelope paar dae het hulle gesien hoe flink geleerd hy was en selfs Kirsty het niks te sê gehad nie.
Ek het haar woltrui gevat en dit by sy neus gehou, sy ore liefderik gevryf en teruggewys na waar ons vandaan gekom het, en gesê: “Loophaal!” Hy het daar en dan op ’n langhaaldraffie die pad gevat. Die laaste wat ons van hom gesien het, was sy dik otterstert wat heel entoesiasties gewielewaai het voor hy in die graskontoere van die berg verdwyn het. Ons het die lang pad terug begin loop.
’n Uur later het die son reeds gesak toe ons moeg en koud by die toervoertuig aangekom het. Ek het oor my skouer teruggekyk – geen teken van Max nie. Ons het almal ons rugsakke in die Land Rover gelaai – ’n paar het hulle stewels uitgetrek en van die ander het daar rondgestaan met ’n besorgde, onrustige houding. ’n Ongemaklike stilte het oor ons almal toegesak. Dit was ’n lang veeleisende dag en my gaste het styf geword. Geen teken van Max nie. “Klim,” het ek so ongeërg as moontlik gesê. “Ek is nie bekommerd oor Max nie. Ek vat julle huis toe en dan kom ek dadelik weer terug.”
Dit was die laaste ding wat ek wou doen. Dit was ’n ekstra ses en dertig myl daarnatoe en terug, maar ek kon hulle nie langer laat wag nie. Ek het die motor aangeskakel en die voertuig omgedraai. Net toe ek die koppelaar wou loslaat, was daar ’n verbysterende reaksie van almal in die kar, toe ’n gejuig en almal het uit hulle sitplekke getuimel. Daar laer af in die paadjie, nog omtrent vyftig treë van ons af, was Max aan die kom met die swart verkyker stewig in sy bek – al stertswaaiende met stralende oë en ongebonde hondetrots. Kirsty het aan huile gegaan.
Ek het dit gehaat om van Max af weg te wees, al was dit net vir ’n dag. Met daardie tye wat ek wel nie daar kon wees nie, het ons onsself behoorlik verknies. Dan het ek tuisgekom met Max in ekstasie met sy hele lyf wat gekwispel het. En so was dit tot die einde van sy lang lewe. Hy het ’n aanval van beroerte gekry, en ’n rukkie daarna gesterf, gou en sonder pyn met sy kop op my skoot. Ek het oor hom gerou en rou nog steeds oor hom. Ek het diep in my hart geweet dat ek nooit weer ’n hond soos Max sou besit nie. So is die prys wat ons vir liefde betaal, of ons daarvan hou of nie – ’n deeltjie van ons sterf saam met die geliefde – wanneer ons weer uit die oomblik verrys, weet ons in ons diepste wese dat dit nooit weer dieselfde kan wees nie.
Ek het Max langs die yewbos begrawe en dertien affodilbolle op sy graf geplant, een vir elke jaar van sy geseënde lewe. Nie lank daarna nie, om die plaaslike Hooglandse tradisie in ere te hou – baie kothuisies het hondebegraafplase met mure of tralies daaromheen – het ek ’n klein klipsteen daar opgerig met ’n Latynse inskripsie, Quo non praestatior alter, geskryf vir die lojale Misenus, die seun van Aeolus van wie daar in Virgilius se “Æneid” gesê is: “Onvergelykbaar verhewe”.
Anoniem
Dis maar net nog ’n dag in ’n klein Griekse dorpie. Dit stortreën buite en daar is niemand op straat nie.
Die lewe is moeilik. Dit gaan beroerd met almal se geldsake. Daar word net skuld gemaak.
Op hierdie spesifieke dag ry ’n ryk Duitse toeris deur die dorpie. Hy hou by die plaaslike hotel stil, stap binne en sit ’n €100-noot op die toonbank neer. Hy sê aan die hoteleienaar dat hy graag na die kamers op die boverdieping wil kyk om só een te kan kies om die nag daar deur te bring.
Die eienaar gee hom ’n bossie sleutels, en sodra die besoeker met die trap op is, gryp die hotelbaas die €100-noot, gaan dadelik na langsaan en betaal sy skuld by die slagter.
Die slagter vat die €100-noot en draf die straat af om sy skuld by die varkboer te betaal.
Die varkboer vat die €100-noot en maak spore om sy skuld by die Boere-koöperasie te gaan betaal.
Die klerk by die koöperasie vat die €100-noot en hardloop om sy drankrekening by die taverne te betaal.
Die kroegbaas by die taverne laat glip stil-stil die geld aan die plaaslike prostituut wat by die kroeg sit en drink. Sy het ook maar swaar tye beleef en het haar dienste aan hom op skuld aangebied.
Die prostituut gaan inderhaas na die hotel om haar huur vir ’n hotelkamer aan die eienaar met die €100-noot te betaal.
Die hoteleienaar plaas die €100-noot op die toonbank neer presies waar die ryk Duitse toeris dit vroeër neergesit het.
Oomblikke later kom die ryk Duitse toeris met die trappies afgestap, tel die €100-noot op en verduidelik dat die kamers hom nie aanstaan nie. Hy steek die geld in sy sak en ry by die dorp uit.
Niemand het iets gegenereer nie.
Niemand het iets verdien nie.
Die hele dorp se skuld is egter gedelg en hulle sien vol moed uit na die toekoms.
En dit is hoe die Griekse reddingsaksie werk.
Uit Eastern Approaches
deur Fitzroy Maclean
Op pad na die adjudant-generaal se tak van die algemene hoofkwartier, het ek vir David Stirling raakgeloop. Hy was ’n tweede luitenant in die Scots Guards, en ek en sy broer Peter, daardie tyd die sekretaris by die ambassade in Kaïro, was ou vriende. David was ’n lang, donker, stewig geboude jongman. Wat hy in die mou gevoer het, was gewoonlik onduidelik, maar hy was soms op en wakker en besonder paraat. Hy het my gevra wat my planne was, en voorgestel dat ek by die spesiale lugdiensbrigade (die SAS) aansluit. “Wat is die SAS?” het ek gevra. Hy het verduidelik dat dit nie eintlik ’n brigade was nie, maar meer soos ’n peleton. Hulle het dit slegs ’n brigade genoem om die vyand te verwar. Maar dit was iets goeds om deel van te wees. ’n Maand of twee gelede, na die kommando, waarmee hulle saam na die Midde-Ooste gekom het, ontbind het, het hy en ’n paar vriende die SAS op die been gebring. Daar was toe omtrent ’n halfdosyn offisiere en twintig of dertig ander manskappe. Hy is bevorder tot die kaptein en bevelvoerder van die SAS en moes direk verantwoording doen aan die opperbevelhebber. “Wat beteken ‘spesiale lugdiens’?” wou ek weet. Hy het verduidelik dat dit beteken dat almal valskermopleiding moes ondergaan.
Dit het belowend geklink. Ek het gesê dat dit heel aangenaam sou wees om aan te sluit.
~
Om met ’n valskerm te spring was slegs deel van die opleiding. Tot dusver het die SAS slegs een valskerm-operasie onderneem, en dit was alles behalwe ’n sukses. Hulle is op die verkeerde plek laat spring en het moeite gehad om by hulle doelwit uit te kom. Daar was oneindige probleme en verskeie van die manskappe het omgekom. Hulle aansien by die hoofkwartier het erg gedaal. David het tot die gevolgtrekking gekom dat, om met ’n valskerm in die woestyn te spring, nie juis die beste manier was om jou teiken te bereik nie.
Die oorlewendes van die eerste operasie is deur die langafstand-woestyngroep (die LRDG) opgepik. Dit was ’n spesiaal toegerus en opgeleide eenheid wat die vorige jaar hoofsaaklik vir verkenningsdoeleindes gestig is. Die patrollies, wat bestaan het uit ’n halfdosyn vragmotors wat hulle eie water en petrol saam moes karwei, het ver in die uitgestrekte eindeloosheid van die waterlose woestyn inbeweeg. Die dorre landstreek het vir honderde myle suid van die relatiewe smal kusstrook, waar die woestynoorlog gewoed het, gestrek. Dus het hulle rondom die flanke van die twee weermagte beweeg en weer myle agter die vyandelike linies opgedoem. Daar het hulle weke lank met hulle gekamoefleerde trokke gebly en die vyandelike troepbewegings dopgehou. Só kon hulle lewensbelangrike inligting bekom. Die woestyn, veral daardie deel wat veronderstel was om vyandelike terrein te gewees het, het vir hulle ’n tweede tuiste geword.
Dit was nodig vir die LRDG om ons terug te besorg (die gedagte dat ons “vervangbaar” of ’n “kamakazi-eenheid” was, is deur almal wat daarmee gemoeid was, sterk afgekeur). Waarom, was David se vraag, kon ons nie gebruik maak van hulle trokke om ons na die toneel van die voorgenome operasie te neem nie, of ten minste tot by ’n plek waarvandaan die teiken wat aangeval moes word, te voet bereik kon word? Dit sou veiliger, geriefliker en, bowenal, ’n meer praktiese manier wees om ons bestemming te bereik as om met valskerms te spring. Dit sou verder nie te veel tyd in beslag neem nie, want, indien nodig, kon die LRDG groot afstande baie vinnig aflê.
Na dese het die LRDG deskundige kennis van die woestyn, vaardige navigasie en eersterangse administrasie voorsien – absolute noodsaaklikhede waar jou lewe en die sukses van die operasie daarvan afhang om op die regte tyd op die regte plek te wees, en om genoegsame kosvoorrade, brandstof en water vir die duur van die tog te hê. David se bydrae was die slaankrag wat hy aan dié ondernemings gebring het, en aan die beplanning en uitvoering daarvan – dit wat Lawrence “die irrasionele tiende … soos ’n visvanger wat oor die water flits” genoem het: ’n Roekeloosheid wat nooit misluk het nie, ’n gawe van waaghalsige improvisasie wat die vyand konstant verras het. Die voortspruitende vennootskap was besonder vrugbaar.
Die beste teikens was vliegvelde. Van daar af het die Luftwaffe en hulle Italiaanse bondgenote gereeld ons konvooie aangeval waar hulle hul pad oopgeveg het deur die Middellandse see na Malta, en ook die “Eighth Army” wat teen daardie tyd teruggedryf is tot teenaan die Egiptiese landsgrens. Hierdie woestynlughawens was honderde myle agter die linies geleë en nie sterk bewaak nie: draadversperrings, ’n paar masjiengeweer-wagposte, en net so af en toe ’n patrollie, is beskou as voldoende beskerming. Na deeglike bestudering van die stand van sake, was dit moontlik om onder die dekmantel van die nag deur die draadheining te glip en onopgemerk ladings brisante-springstof aan die vliegtuie, daar waar hulle verspreid op die vliegveld gestaan het, te plak. Dié springstof, wat met brandbomme gemeng was vir beter resultate, is in handige houertjies verpak en voorsien van ’n instrument wat bekend gestaan het as ’n penpotlood. Dit kon gestel word om die lading na ’n tydsverloop van ’n kwartier of ’n halfuur te laat ontplof. Dit het die aanvallers kans gegee om, voor die ontploffing en die alarm gegee is, ’n myl of twee van woestynsand tussen hulle en die vliegveld te plaas. Al wat daarna oorgebly het, was vir hulle om hul weg te vind na waar die LRDG-trokke op hulle gewag het.
Met dié werkswyse het David in die daaropvolgende maande ’n reeks suksesse behaal wat die hoogste verwagtinge van diegene wat die onderneming ondersteun het, oortref het. Die een operasie was skaars afgehandel of hulle was klaar besig met die volgende een. Sodra die vyand bewus geword het van sy teenwoordigheid in een gedeelte van die woestyn en aanstaltes gemaak het met teenmaatreëls, het hy hulle op ’n ander plek aangeval, altyd in ’n gebied waar hulle dit die minste verwag het. Die element van verrassing, die sleutel tot sukses in enige guerrilla-oorlogvoering, was nog nooit briljanter uitgebuit nie. Kort voor lank het die aantal vliegtuie wat op die grond verwoes was, maklik op meer as driesyfers gestaan. Ten einde hulle agterhoede te dek, was die vyand verplig om meer en meer van hulle frontlinietroepe terug te bring. En dit was alles gedoen met ’n handjievol manne, ’n paar pond plofstof en ’n paar honderd patrone.
Uit Eastern Approaches
deur Fitzroy Maclean
Daar is gesê dat oorlog maar net diplomasie is wat op ʼn ander manier voortgesit word. Dit het sonder twyfel vir my gelyk, daar waar ek by my lessenaar in die departement van Buitelandse Sake gesit het, dat my eie beroep, sedert vyandige optrede begin het, skielik niksbeduidend geword het. Ek het besluit om my amp in die diplomatieke diens neer te lê en om by die weermag aan te sluit.
Maar dit was makliker gesê as gedoen. Ek het skaars my voorneme genoem om te bedank, toe daar, sonder om doekies om te draai, aan my uitgewys was dat my optrede uiters onpatrioties was. Vir ses jaar, het hulle gesê, was ek besig om te leer hoe om my werk te doen. En net toe ek tekens van geringe waarde begin toon, wou ek, ten einde my eie persoonlike verwaandheid te bevredig, die loop neem en soldaatjie gaan speel; ek skiet jammerlik te kort aan enige verantwoordelikheidsbesef. Maar, in my geval, sou my bedanking nie aanvaar word nie. Die Nuwe Verdedigingsregulasies het in hierdie opsig die minister van binnelandse sake volmag gegee.
“En wat daarvan as ek hier uitstap en gaan aansluit?” het ek gevra.
“As jy dit doen,” het hulle gesê, “sal die ministerie van oorlog gevra word om jou dadelik terug te stuur. In boeie, indien nodig.”
Dit was ’n uitklophou. Ek het besluit om die aftog te blaas en die saak weer te bedink.
~
Ek het ’n tydlank gewag voor ek hulle weer genader het. Ek het ’n onderhoud versoek met die voltydse ondersekretaris van buitelandse sake, sir Alexander Cadogan. Intussen het ek ’n deeglike studie gemaak van die regulasies van die buitelandse sake. Paragraaf 22 het my gegee wat ek nodig gehad het.
“En wat wil jy hê?” het sir Alexander gevra en van sy lessenaar af opgekyk. Hy was ’n besige man.
“Ek wil ’n politikus word,” het ek gesê.
“In daardie geval,” het hy sonder entoesiasme geantwoord, want die begrip van partypolitiek was vir ’n voltydse amptenaar weersinwekkend, “in daardie geval sal jy die diens moet verlaat.”
Ek het geantwoord dat ek daarop voorbereid was. Inderdaad, as hy dit so sou verkies, kon ek daar en dan my bedanking aan hom oorhandig. En daarmee het ek ’n netjies geskrewe bedankingsbrief op sy lessenaar neergesit, en spore gemaak die studeerkamer uit. ’n Paar minute later was ek in ’n taxi op pad na die naaste werwingskantoor. Dit was eenvoudiger as wat ek verwag het.
Die mediese ondersoek en werwingsproses het hul gewone, ietwat langdurige verloop geneem. Wat vir my die begin was van ’n nuwe fase in my lewe, was vir die klerke en dokters wat my besonderhede afgeneem het, slegs vervelige roetine. Na ek die eed afgelê en ’n aantal forms ingevul het, was ek ’n soldaat met ’n spoorwegmagtiging na Inverness. Ek was ’n gewone soldaat in die Cameron Highlanders, my pa se ou regiment.
~
En toe op ’n dag is ek na die kaserne-kantoor ontbied en is die onverwagte nuus aan my meegedeel dat ek ’n onmiddellike opdrag ontvang het en as ’n tweede luitenant na die 1ste bataljon gepos is.
~
Daar was ook ander gerugte: van my vriende in Londen het die onrusbarende nuus deurskemer dat my onsuksesvolle poging om die politiek te betree, nie ongesiens verbygegaan het nie; dat stappe besig was om geneem te word om my terugkeer na buitelandse sake te verseker, want daar was by hulle ’n pynlike gebrek aan personeel. Na ’n belowende begin, het dit regtig gelyk of my militêre loopbaan afgestuur het op ’n ontydige einde.
Slegs een ding kon my red: ’n vroeë verkiesing tot parlementslid. Ek was reeds in kontak met die Konserwatiewe Party se hoofkantoor. Met hernude ywer het ek teruggekeer tot die aanval. Aan my is gesê dat daar ’n tussenverkiesing in Lancaster sou plaasvind en dat daar nog nie ’n Konserwatiewe kandidaat benoem is nie. As dit my sou geval, kon ek daarnatoe gaan en uitvind wat die plaaslike Vereniging van my gedink het. Ek het by die kolonel aansoek gedoen vir ’n paar dae se verlof en gegaan.
Ietwat beskroomd het ek myself by die plaaslike hoofkwartier van die Party aangemeld. Dit was my eerste ervaring van die politieke wêreld. Vir die helfte van die vrae wat aan my gestel was, het ek geen antwoord voor gehad nie, en om voor te gegee het dat ek wel geweet het, was buite die kwessie. Die uitvoerende komitee het verdaag om die mededingende meriete van die onderskeie kandidate te bespreek. Met hulle terugkoms het hulle tot my groot verbasing, my vertel dat ek aanvaar was. Dit was nog meer van ’n verrassing, want ek het vooraf verduidelik dat, indien hulle my verkies, my militêre pligte voorrang sou geniet.
Dit was omtrent ’n maand voor die stemmery. Ek het aansoek gedoen om vir ’n maand met verlof te gaan, en het toe met die verkiesingstryd begin. Ek was omtrent nog nooit by ’n politieke vergadering nie en het nog nooit ’n toespraak in my lewe gemaak nie. Teen die einde van ’n week het ek drie per aand gemaak, en na twee weke het ek dit amper al begin geniet. Nie net my ondersteuners nie, maar almal wat ek ontmoet het, het my onder hulle sorg geneem. Hulle het my onthaal, getrakteer met drankies, van raad bedien, en my vertel wat om te doen en wat om nie te doen nie. Hulle het met ware Noord-Engelandse openhartigheid my laat weet wat hulle van my toesprake gedink het. Ietwat verbysterd maar gelukkig, het ek gallonne bier gedrink en duisende mense se hande geskud. Ek was gedurig laat vir my volgende afspraak, soos ek van huis tot huis en straat tot straat en dorp tot dorp geloop of bestuur het.
Waarheen ek ookal gegaan het, tussen ondersteuners of teenstanders, is ek met dieselfde openhartige vriendelikheid ontmoet. Ek het so te sê nog nooit my voete in die laerhuis gesit nie, en daar was geen manier hoe ek sou weet of die lewe van ’n parlementariër my sou pas of nie. Maar van een ding was ek doodseker: as ek ’n politikus moes wees, dan sou ek graag hierdie soort mense wou verteenwoordig.
Toe het die dag voor die verkiesing aangebreek: gepakte sale, lawaaierige vergaderings; stemdag; ’n toer van die kiesafdeling uitgedos met rosette en linte soos ’n skoubul; gedempte afwagting in die stadsaal; die uitslag: ek het dit gemaak: LV vir Lancaster.
Lid van die parlement, of peloton-bevelvoerder?
Soos dit later geblyk te gewees het, was dit nie vir my bestem om hierdie dubbele rol lank te vervul nie. Na ons ’n hele lange dag met opleiding in die vleilande besig was, is ek daardie nag wakker gemaak deur ’n rapportryer en aangesê om dadelik by die bataljon se hoofkwartier aan te meld. Daar is die sein afkomstig van die ministerie van oorlog aan my gewys. Die opdrag was dat ek dadelik op verskepingsverlof moes gaan. Ek het my kiesers herhaaldelik daarop gewys dat, indien ek beveel sou word om na die buiteland te gaan, ek nie ’n ander keuse sou hê nie. En so het ek hulle in die bekwame en ervare hande van Jim Thomas, ’n ou vriend uit buitelandse sake, toevertrou en my gang gegaan.
’n Week daarna was ek op ’n seevliegtuig onderweg na Kaïro. Wat aan einde op my gewag het, het ek geen idee van gehad nie. Maar in hierdie ongure herfsgety van 1941 was ek ten minste bestemd vir die enigste aktiewe teater van militêre-aksie: die Midde-Ooste.
Ek het ’n ietwat verwaarloosde ou Boerejagter ontmoet, en my geselskap met hom sou my inspireer om ’n lang toer te onderneem. Hy was van Angola afkomstig, maar het ’n paar jaar in ’n omgewing wat bekend staan as die Kaokoveld – wat hy met ’n wye swaai van sy arm vaagweg aangedui het in die noorde lê – deurgebring.
Hy het my vertel van grootwild en vreemde stamme en vele avonture, en veral een storie in besonder: Hy was teen skemer besig om bokke te bekruip toe hy skielik ’n goederetrein trein oor die rantjie sien beweeg het.
Vir ’n oomblik het hy gevoel hy was van sy verstand berowe, maar toe het hy besef dat dit waarna hy gekyk het, nie ’n goederetrein was nie, maar honderde olifante wat in ’n ry agtermekaar geloop het.
Sy stories het vir my wonderlik geklink en ek het gedink dat daar êrens ’n hoekie van die ou onbeskaafde Afrika oorgebly het, wat nog steeds ongerep was, onaangeraak deur witmense. Dit het my verbeelding so aangegryp dat ek besluit het om dié plek self te gaan besigtig.
~
Toe ons die volgende dag uit Khairos vertrek het, het ons ’n dowwe paadjie gevolg wat Daniel heel optimisties “die Pad van die Angola-Boere” genoem het. Hy het gesê dat dit die roete van die Dorsland-Trekkers was wat vyf en veertig jaar gelede daar deurgetrek het. Hulle het sonder twyfel ’n pad vir hulle waens oopgekap, maar dit het ’n beter waarnemersoog as myne vereis om enige teken daarvan te bespeur, en dit was met groot moeite dat ons ons wa deur die digte bos kon kry. Ons het in ’n noordelike rigting gereis en Otyitundua na vyf of ses dae bereik.
In die aand het ons gewoonlik ’n sekere afstand van die watergate af gekamp, want die olifante het met sononder water kom drink en ons kon hulle bekyk soos hulle verby ons geloop het. Die bulle en die koeie het nooit saam gedrink nie, maar beurte gemaak. Die bulle het gedemp en byna onhoorbaar aangekom, gedrink en geplas in die water en in die modder gerol. Net so sag as wat hulle opgedaag het, het hulle weer weggegaan, maar van die koeie se aankoms, was jy van ’n afstand af al deeglik bewus en hulle het net niks van ons teenwoordigheid gehou nie. Sodra hulle ons reuk opgetel het, het hulle toornig getrompetter en die kalwers het al skreeuende rondgehardloop, en sodoende ’n kabaal veroorsaak wat aanvanklik ontstellend was.
Hulle het egter nooit probeer om ons lastig te val nie, en op maanlignagte kon ons hulle duidelik sien. Wanneer ons in die dag verby olifante beweeg het, het hulle met ’n slofgang wegbeweeg, hoewel ’n bul al een of twee keer omgedraai het met uitgestrekte ore en slurp in die lug asof hy reggemaak het om te storm. Ek en Daniel het ons gewere gereed gehou as dit nodig sou wees, maar dit was nooit nodig om te skiet nie.
Op pad na Otyitundua was daar verskeie plekke met lopende water, en by een van hierdie plekke het ons die eerste oorblyfsel van die Dorslandtrek gesien; want daar, langs ’n uitgetrapte olifantpaadjie, het die eensame graf van een van die trekkers gelê, en van daar af het ons herhaaldelik soortgelyke mylpale van daardie ontembare pioniers raakgeloop. Die grafte was bedek met kalksteen en het daar goed uitgesien. Daniel het selfs die name geken van dié wat daar begrawe was.
By Otyitundua is die murasies van huise wat hulle in 1878 en 1879 gebou het, te siene, sowel as die oorblyfsels van beeskrale en die mure om hulle tuine en die leivore wat hulle gegrawe het vir water na die laerliggende dele vir besproeiing. Dis moeilik verstaanbaar waarom hulle so ’n plek sou verlaat. Hier het hulle vrede en oorvloed ervaar in omstandighede wat vir hulle ideal moes gewees het na hulle omswerwinge in die woestyn, maar die trekkersgees het hulle voortdurend voortgedryf.
Daardie aand toe ons die koppie by Otyitundua bereik het, het ’n trop olifante wat kom drink het, ’n trop beeste wat aan ’n plaaslike Herero behoort het, op loop gejaag. Die vreesbevange diere het langs ons wa verby weggehol met die olifante op hulle hakke agterna. As dit nie was dat Daniel voorsorg getref het om ons osse deeglik met gemsbokrieme aan ’n groot boom vas te bind nie, sou hulle ook die loop geneem het, want die verskrikte diere het wild aan die rieme geruk en gepluk. As hulle daarin sou geslaag het om los te kom, sou ons hulle nooit weer gesien het nie.
Die beeste het gebulk en die olifante het getrompetter en weggestorm te midde van ’n stofwolk. Dit was ’n onvergeetlike ervaring. Dit het vir my gelyk asof die olifante en die beeste ewe verskrik was. Toe die beeste begin hardloop, het dit hulle ook aangesteek, want hulle het geen poging aangewend om die beestrop aan te val nie. Die laaste wat ons van hulle gesien het, was toe die diere deurmekaar besig was om so vinnig as moontlik te probeer wegkom van ’n denkbeeldige gevaar êrens agter hulle.
Dit het ons twee dae geneem om deur skilderagtige velde wat oortrek was van wild, tot by Ubombo te reis. Oral om ons was daar troppe gemsbokke, sebras, kameelperde en nogmaals olifante. Op ’n slag het ek verskeie uitgegroeide kameelperde met twee kalwers gesien. Een van hulle was omtrent agt voet hoog, maar die ander een kon nie veel ouer as ’n paar dae gewees het nie. Hy was só klein dat ek vir eers net ’n kop met ’n paar ore bokant die lang gras kon waarneem, sodat ek gedink het dat dit een of ander soort bok was. Eers toe hulle deur ’n oopte gestap het, kon ek sien wat dit was: ’n Jongetjie, net die ene nek en bene, wat langs sy ma gestruikelloop het.
~
Bo en behalwe die wildsbokke was daar baie tarentale, patryse en fisante, en was ons spens goed voorsien. Een oggend het daar ’n swerm tarentale van seker ’n hele paar honderd agtermekaar in ’n paadjie aangeloop gekom. Ek het gewag tot die voorstes in die ry omtrent twintig treë van my af was, en toe het ek gefluit. Die voëls het opgekyk, en met een koeël het ek sewe van hulle deur die kop geskiet. Dit was pure moord, maar vir meer as ’n week lank het ons pluimvee te ete gehad.
By Ubombo het ons vir ’n paar dae lank uitgespan en toe na Gauko-Otawi deur bosse getrek wat al digter geword het. Dit was die Rustplaats van die Trekkers. Hier het hulle in 1878 ’n kerk gebou en hulle trekkoors was vir ’n wyle gestil. Hulle het gedink dat hulle uiteindelik die land van hul drome bereik het, maar hulle het net twee jaar daar gebly. Vir dié Boere het Utopia altyd agter die volgende horison gelê.
Die hele dag deur het ons deur Europa geratel.
’n Rukkie voor middernag, na ons deur die laaste Poolse stasie gestoom het, het ons weer die donker naaldewoude binnegedring. Die sneeu het hoog aan beide kante opgewal en vorentoe was die spoor dofweg deur die bome sigbaar. En soos ek by die venster uitgekyk het, het ek skielik gesien dat ons by ’n hoë doringdraadheining aangekom het. Daar was spreiligte en tussenin was daar wagtorings waar masjiengewere uitgesteek het. Die trein het spoed verminder en toe deur ’n hoë houtgewelf met ’n groot vyfpuntige rooi ster daaroor, beweeg. Ons was in Rusland.
Soldate het by die trein ingeklim. Hulle groen gepunte pette was versier met ’n rooi ster en ’n hamer en sekel en hulle grys oorjasse het amper tot by die enkels van hulle stewels waarvan die kuitdele sag was, gehang. ’n Rukkie later het ons by Negoreloye, die grensstasie, ingestoom.
Hier het ons van treine verwissel. Buite op die perron het die intense koue mens se asem behoorlik weggeslaan. Daarna is ons aangekeer na die warmte van die doeanegebou. Dit was ’n voortreflike, helder kamer wat versier was met muurskilderye wat tonele uit die Sowjet-lewenswyse uitgebeeld het. Teen die mure vloei daar ’n prosessie van onnatuurlik gelukkige en gesonde soldate, kleinboere, werkers, oumanne, vrouens en kinders; wat oes, trekkers bestuur, huise bou en groot en ingewikkelde masjiene hanteer. Reg rondom die kamer, in ’n halfdosyn tale, het voet-hoë goue letters die werkers van die wêreld uitgenooi om te verenig. In die hoeke het groot blompotte gestaan, wat toegewikkel was in geriffelde pienk papier, waarin aspidistras gegroei het.
Dit was toe dat ek vir die eerste keer bewus geword het van ’n reuk, die reuk wat vir die volgende twee en ’n half jaar ’n onvermydelike agtergrond van my lewe sou word. Dit was vir my ’n geheel en al vreemde reuk, ’n samegestelde aroma, ’n mengsel van verskeie bestanddele wat onlosmaaklik met mekaar vermeng was. Daar was altyd, so het reisigers in die keiserstyd in Rusland aan my vertel, ’n ou Russiese reuk wat uit die geur van swart brood en skaapvel en vodka en ongewaste menslikheid bestaan het. Nou hierby kon die moderne reuk van petrol en ontsmettingsmiddels en die klewerige, walgende aroma van Sowjet-seep gevoeg word. Die hieruit voortspruitende ietwat muwwe aroma deurtrek die hele land, dring deur tot elke hoekie en gaatjie, vanaf die Kremlin tot by die mees verafgeleë pondokkie in Siberië. Sedert ek Rusland verlaat het, het ek dit weer een of twee keer geruik, want dit lyk asof, wanneer daar genoeg Russe bymekaar is, hulle dit saam met hulle oor hul landsgrense neem. En elke keer, met daardie spesiale krag wat reuk besit om mens iets te laat onthou, het dit met verrassende helderheid die herinnering van daardie jare teruggebring.
Uiteindelik het ons op die trein geklim. Ek het my eie slaapkompartement gekry. Dit was nie veel anders nie as enige gewone Europese slaapwa, maar hoër en groter en meer opgesmuk, met ’n soort van Edwardiaanse prag. Op ’n koperplaat het ek die jaar van vervaardiging gesien: 1903. Selfs die kondukteur, ’n ou man met perkament-geel vel en ’n langhangsnor, het uit die jare voor die rewolusie gedateer, en hy het my vertel dat hy sy huidige aanstelling sedert die dae van die tsaars beklee het. Met hande wat bewe, het hy vir my skoon lakens en ’n halwe glas vodka gebring, asook ’n piering kaviaar, ’n paar snye swart brood en ’n glas soet, flou tee met ’n skyfie suurlemoen daarin. Dit was nie lank daarna nie dat die lokomotief ’n lang, uitgerekte wolfagtige huilgeluid laat hoor het, en ons het toe stadig weggetrek en teen ’n egalige vyftien myl per uur oor die sneeubedekte velde in die rigting van Moskou beweeg. Na ’n paar minute was ek in die bed en vas aan die slaap.
~
Die volgende dag het ek in die gesantskapskantoor begin werk. Ek het teruggedateerde lêers gelees, die jaarlikse verslae bestudeer en, met my stadig verbeterende kennis van Russies, moeitevol deur die hoogdrawende rubrieke van die Sowjetse pers geswoeg.
In Parys het ons die meeste van ons inligting oor die politieke situasie direk ontvang via ons sosiale kontak met die betrokke persone: Franse politici, joernaliste, staatsamptenare en ander openbare figure.
Dinge was baie anders in Moskou. Behalwe die streng formele roetine-onderhandelings met een of twee skrikkerige amptenare van die volkskommissariaat vir binnelandse sake, aan wie se houding dit duidelik was dat hulle so min as moontlik met ons te doen wou hê, het ons inderdaad geen kontak met die Russe gehad nie. Dit was welbekend dat dit vir Sowjet-burgers gevaarlik was, selfs in die loop van hulle amptelike pligte, om enige omgang met vreemdelinge te kon hê. Deur só op te tree, sou hulle vroeër of later die aandag van die alomteenwoordige organisasie, die volkskommissariaat vir binnelandse sake, die NKVD, op hulle vestig.
Die grootste “suiwering” in die geskiedenis van die Sowjetunie het sy hoogtepunt bereik. Angs het soos ’n mis oor die stad gehang; dit was orals. Almal het mekaar gevrees. Almal het mekaar beskuldig en aangekla. Agente van die NKVD was oral. Niemand kon vertrou word nie. Niemand was veilig nie.
Om te weet wat om ons in die land waarin ons gelewe het, aan die gang was, het ons staatgemaak op rubrieke in die Sowjet-pers wat soms verrassend onthullend was, op gerugte wat meestal van twyfelagtige waarde was, of van sulke inligting wat mens kon optel in alledaagse insidente in die gewone omgang van die lewe, of wat mens mee te doen kon kry wanneer jy met jou sware sneeustewels langs die strate van Moskou voortgesukkel het.
Maar wat my betref, ek het glad nie vertroue verloor daarin dat ek die Sowjet-lewenswyse van naderby sou kon sien nie. Ek het verder ook nie vir ’n oomblik afstand gedoen van die gedagte om op een of ander manier by Sentraal-Asië uit te kom nie. Toe die sneeu begin smelt, het ek begin om ’n plan van aksie uit te werk.
Uit The Gods of the Morning - A Bird's Eye View of a Highland Year
deur John Lister-Kaye
Terwyl ek van die kraaines af teruggeloop het huis toe, het die onmiskenbare geluid van ’n swerm ganse deur die mistige lug na my toe aangesweef gekom. Ek het gaan stilstaan en met skrefiesoë opgekyk in die metaalvaal toegetrekte lug. Hulle was hoog, net onder die veerwolke so omtrent drieduisend voet; dit het my net ’n oomblik geneem om vas te stel waar hulle was. Daar kon ek hulle sien, in ’n ongelyke V-formasie, gedurig verskuiwend van posisie, fladderend in ’n groot aarselende string van klein silhouette, soos vlieë op ’n hoë plafon.
’n Rilling het deur my gegaan. Nie omdat ek koud gekry het nie – ek was goed toegedraai – maar ’n rilling van ’n diepe bo-sintuiglike eenheidsgevoel. Geen klank in die wêreld, nie eens die rowwe ou musiek van die kraaie nie, ets dieper in my gees in as die amper-histeriese “wienk-wienk”-roepende gansgeluide so almal saam daar hoog bo in die lug. Treurig, stemmingsvol, roerend – en vir my die essensie van die wilde, ongetemde wêreld. ’n Hunkering word in my aangewakker wat voel asof dit trek aan die leiriem van ons langdurige verwydering weg van die natuurlike wêreld af.
Hulle aankoms vroeg in die herfsseisoen, plaas ’n spesiale stempel op die wisseling van die jaargetye, wat weer in die lente herhaal word wanneer die laaste klompie ganse met ratelende vlerke opstyg en noordwaarts wegwentel terug Noordpoolstreke toe na hul broeiplekke. Ek word nooit moeg om te luister na hulle spontane dissonante klanke wat ons gedurende die wintermaande omsluit nie. Dan versamel daar tienduisende wildeganse in die Beauly Firth en daar gaan omtrent nie ’n dag verby dat daar nie ’n swerm oor ons heenvlieg nie. En ook wanneer ons ooswaarts Black Isle toe gaan, is die meeste van die strandvlaktes oorlaai met swerms ganse wat hulle verlustig aan die oesreste en graspluksels.
Dit lyk asof natuurkenners (en miskien nie net dié kenners nie) hierdie geluide nodig het om ons te help om ons hartstogte te eien; om ons te onderrig oor ons opvattings oor die natuur om ons, en om ons te koppel aan ons herkoms.
My ou vriend, Brian Jackman, die gevierde natuurlewe-joernalis wat ’n veertigjarige liefdesverhouding met Oos-Afrika geniet het, vertel my dat, wanneer hy in die nag in die Masai Mara in sy tent wakker lê, dit die gebrul van die leeus is wat dit aan hom doen.
Vir Lennart Arvidsson – van afkoms gedeeltelike Laplander en Fin – die nestor van die Noordpoolse woude, die eerste persoon wat my die lynxes-voetspore in die Sarekse sneeu gewys het, is dit die lang, uitgerekte stygende en dalende gehuil van die gryswolf op ’n maanlignag.
Jane Goodall verseker ons dat dit nog steeds, na hulle haar ’n halwe eeu gelede wêreldberoemd gemaak het, die geroep, geskree en die hygende geluide van ’n trop sjimpansees is, diep die woude in, wat haar bloed laat tintel.
Die natuurlewe-televisiekameraman, John Aitchison, vertel dat, na hy die hele wêreld platgereis het, dit die geroep is van die waadvoëls, groenpootruiters en veral die grootwulp op ’n fris, vroeë lente-oggend op die Skotse soutmoerasse by sy tuiste in Argyllshire, wat sy nekhare laat rys.
En Roy Dennis, my ornitoloog (en in alle opsigte briljante natuurkenner) kollega en vriend van meer as veertig jaar, het my op ’n slag vertel dat die gesamentlike fluitroepe van tienduisende gewone kraanvoëls, wat op die vleiland-steppe van Hortobágy-Halastó in Hongarye saamgetrek het, vir hom ’n oomblik van ware gedaanteverwisseling was.
My ganse en my rilling gaan saam verby. Dit is herfs, laat-herfs, en die winter bekruip ons nie meer so onopgemerk nie. Dit het ons uiteindelik in sy kloue. Ek weet die ryp sal vannag dik lê. …
Met my terugkeer huis toe, merk ek die rook van ’n houtvuur by die skoorsteen uitpluim. Lucy het die kaggel in die sitkamer brandgemaak, wat ’n gloed in my hart en ’n glimlag op my tintelendegesig bring. Soos die nag om ons toevou, gaan ek my ou leunstoel opsoek met ’n boek in die hand. Die Jack Russels sal gaap en sug terwyl hulle hulself uitstrek op die mat by my voete. Die winter bied sy eie seëninge.