Die hele dag deur het ons deur Europa geratel.
’n Rukkie voor middernag, na ons deur die laaste Poolse stasie gestoom het, het ons weer die donker naaldewoude binnegedring. Die sneeu het hoog aan beide kante opgewal en vorentoe was die spoor dofweg deur die bome sigbaar. En soos ek by die venster uitgekyk het, het ek skielik gesien dat ons by ’n hoë doringdraadheining aangekom het. Daar was spreiligte en tussenin was daar wagtorings waar masjiengewere uitgesteek het. Die trein het spoed verminder en toe deur ’n hoë houtgewelf met ’n groot vyfpuntige rooi ster daaroor, beweeg. Ons was in Rusland.
Soldate het by die trein ingeklim. Hulle groen gepunte pette was versier met ’n rooi ster en ’n hamer en sekel en hulle grys oorjasse het amper tot by die enkels van hulle stewels waarvan die kuitdele sag was, gehang. ’n Rukkie later het ons by Negoreloye, die grensstasie, ingestoom.
Hier het ons van treine verwissel. Buite op die perron het die intense koue mens se asem behoorlik weggeslaan. Daarna is ons aangekeer na die warmte van die doeanegebou. Dit was ’n voortreflike, helder kamer wat versier was met muurskilderye wat tonele uit die Sowjet-lewenswyse uitgebeeld het. Teen die mure vloei daar ’n prosessie van onnatuurlik gelukkige en gesonde soldate, kleinboere, werkers, oumanne, vrouens en kinders; wat oes, trekkers bestuur, huise bou en groot en ingewikkelde masjiene hanteer. Reg rondom die kamer, in ’n halfdosyn tale, het voet-hoë goue letters die werkers van die wêreld uitgenooi om te verenig. In die hoeke het groot blompotte gestaan, wat toegewikkel was in geriffelde pienk papier, waarin aspidistras gegroei het.
Dit was toe dat ek vir die eerste keer bewus geword het van ’n reuk, die reuk wat vir die volgende twee en ’n half jaar ’n onvermydelike agtergrond van my lewe sou word. Dit was vir my ’n geheel en al vreemde reuk, ’n samegestelde aroma, ’n mengsel van verskeie bestanddele wat onlosmaaklik met mekaar vermeng was. Daar was altyd, so het reisigers in die keiserstyd in Rusland aan my vertel, ’n ou Russiese reuk wat uit die geur van swart brood en skaapvel en vodka en ongewaste menslikheid bestaan het. Nou hierby kon die moderne reuk van petrol en ontsmettingsmiddels en die klewerige, walgende aroma van Sowjet-seep gevoeg word. Die hieruit voortspruitende ietwat muwwe aroma deurtrek die hele land, dring deur tot elke hoekie en gaatjie, vanaf die Kremlin tot by die mees verafgeleë pondokkie in Siberië. Sedert ek Rusland verlaat het, het ek dit weer een of twee keer geruik, want dit lyk asof, wanneer daar genoeg Russe bymekaar is, hulle dit saam met hulle oor hul landsgrense neem. En elke keer, met daardie spesiale krag wat reuk besit om mens iets te laat onthou, het dit met verrassende helderheid die herinnering van daardie jare teruggebring.
Uiteindelik het ons op die trein geklim. Ek het my eie slaapkompartement gekry. Dit was nie veel anders nie as enige gewone Europese slaapwa, maar hoër en groter en meer opgesmuk, met ’n soort van Edwardiaanse prag. Op ’n koperplaat het ek die jaar van vervaardiging gesien: 1903. Selfs die kondukteur, ’n ou man met perkament-geel vel en ’n langhangsnor, het uit die jare voor die rewolusie gedateer, en hy het my vertel dat hy sy huidige aanstelling sedert die dae van die tsaars beklee het. Met hande wat bewe, het hy vir my skoon lakens en ’n halwe glas vodka gebring, asook ’n piering kaviaar, ’n paar snye swart brood en ’n glas soet, flou tee met ’n skyfie suurlemoen daarin. Dit was nie lank daarna nie dat die lokomotief ’n lang, uitgerekte wolfagtige huilgeluid laat hoor het, en ons het toe stadig weggetrek en teen ’n egalige vyftien myl per uur oor die sneeubedekte velde in die rigting van Moskou beweeg. Na ’n paar minute was ek in die bed en vas aan die slaap.
~
Die volgende dag het ek in die gesantskapskantoor begin werk. Ek het teruggedateerde lêers gelees, die jaarlikse verslae bestudeer en, met my stadig verbeterende kennis van Russies, moeitevol deur die hoogdrawende rubrieke van die Sowjetse pers geswoeg.
In Parys het ons die meeste van ons inligting oor die politieke situasie direk ontvang via ons sosiale kontak met die betrokke persone: Franse politici, joernaliste, staatsamptenare en ander openbare figure.
Dinge was baie anders in Moskou. Behalwe die streng formele roetine-onderhandelings met een of twee skrikkerige amptenare van die volkskommissariaat vir binnelandse sake, aan wie se houding dit duidelik was dat hulle so min as moontlik met ons te doen wou hê, het ons inderdaad geen kontak met die Russe gehad nie. Dit was welbekend dat dit vir Sowjet-burgers gevaarlik was, selfs in die loop van hulle amptelike pligte, om enige omgang met vreemdelinge te kon hê. Deur só op te tree, sou hulle vroeër of later die aandag van die alomteenwoordige organisasie, die volkskommissariaat vir binnelandse sake, die NKVD, op hulle vestig.
Die grootste “suiwering” in die geskiedenis van die Sowjetunie het sy hoogtepunt bereik. Angs het soos ’n mis oor die stad gehang; dit was orals. Almal het mekaar gevrees. Almal het mekaar beskuldig en aangekla. Agente van die NKVD was oral. Niemand kon vertrou word nie. Niemand was veilig nie.
Om te weet wat om ons in die land waarin ons gelewe het, aan die gang was, het ons staatgemaak op rubrieke in die Sowjet-pers wat soms verrassend onthullend was, op gerugte wat meestal van twyfelagtige waarde was, of van sulke inligting wat mens kon optel in alledaagse insidente in die gewone omgang van die lewe, of wat mens mee te doen kon kry wanneer jy met jou sware sneeustewels langs die strate van Moskou voortgesukkel het.
Maar wat my betref, ek het glad nie vertroue verloor daarin dat ek die Sowjet-lewenswyse van naderby sou kon sien nie. Ek het verder ook nie vir ’n oomblik afstand gedoen van die gedagte om op een of ander manier by Sentraal-Asië uit te kom nie. Toe die sneeu begin smelt, het ek begin om ’n plan van aksie uit te werk.
Next →
← Previous