Stories

Eerste Posdag in Clanwilliam ná die Jameson-Inval

Posted on September 24, 2015 by Cape Rebel

Uit The Valley
deur C Louis Leipoldt

Hier voor die hofsaal het die hele dorp, of ten minste die manlike volwassenes, adolessente en ouer jeugdiges, op posdae vergader. Sommige van hulle het gekom om hulle briewe en pakkies te kry, maar die meerderheid het geen vooruitsig gehad tot enige plesier met die posaflewering nie. Hulle het net daar rondgehang as gevolg van die simpel rede wat enige skare lok – die geleentheid om te skinder, of, om een of ander nuwigheid wat voor die dag kon kom, of bloot uit belangstelling, of ’n soort van opwinding, ’n kans wat moontlik kon opduik wanneer die enigste skakel tussen afsondering en die wyer beskawing driehonderd myl weg van daar af, die aankoms van die weeklikse pos was. Sulke geleenthede het die kans gebied om menings te wissel, sowel as ’n tydjie vir ouer en meer besadigde lede van die gemeenskap om sake te bespreek, en vir die jong klomp om so ’n bietjie te stry en te rinkink, want op daardie weeklikse dae van samekoms is hulle vryer teuels toegelaat as wat gewoonlik raadsaam was in so ’n konserwatiewe gemeenskap.

~

Sam Chumley, die hoofkonstabel, was ’n gebore Kolonialer en ’n afstammeling van ’n 1820-setlaarsfamilie. Almal het van hom gehou en hy is in die dorp en distrik met agting bejeën – nie net omdat hy ’n goeie polisiebeampte was nie, maar ook omdat hy ’n gawe kêrel was met empatie vir ander. Dit het bygedra dat hy deeglik kennis gedra het van die verskillende eienaardighede van die verskeie groepe in die gemeenskap waarin hy gedien het. Sy vrou was die dogter van een van die plaaslike boere, en tuis het hy Engels en Afrikaans gepraat met ’n onpartydigheid wat mettertyd veel bygedra het om sy beheersing van beide tale te verrinneweer. In daardie opsig kon hy beskou word as die mees tweetalige persoon in die omgewing, en sy dienste as tolk is al op talryke geleenthede in die hof aangevra.

“Ek dink dis omtrent tyd,” het die rektor klaend opgemerk, “dat die regering die boete toepas, meneer Chumley. Vir die afgelope drie maande was die poskar elke posdag laat. Dis eenvoudig skandelik. En vandag van alle dae.”

“Dissie Seldon se skuld nie, Meneer,” het die hoofkonstabel hervat, terwyl hy sy snor tot ’n skerper puntjie gerol het. “Mens moet die drywer verwyt. Maar dissie asof Ampie nie ’n goeie drywer is nie. Daar moet toegewings gemaak word, Meneer. As Meneer self in hierdie hitte gery het, Meneer, soos ek wel gedoen het, Meneer, sou Meneer sulke ’gewings maak, Meneer. Dan wil mens so nou en dan stilhou om die muile ’n blaaskans te gee, Meneer, en om self ook ’n sopie te maak, Meneer.”

~

“Daar kom die poskar,” het die landdros gesê. “Nou kan ons die koerante kry, en ek kan jou verseker, ek verlang daarna om hulle te lees.”

“Ek ook,” het die rektor gesê. “Ek wil regtig baie graag weet waarom hulle verloor het. Daar moet ’n rede voor wees. Die weer kon natuurlik iets daarmee te doen gehad het, maar dit kan ek nou regtig nie as ’n goeie verskoning aanvaar nie. Vir my lyk dit bloot na swak bestuur.”

“O, nee,” het die hoofkonstabel, wat by hulle weer aangesluit het, gesê. “Dis slegs swak krygsmanskap, Meneer. Teen Cronje se kommando was daar geen rede op aarde … Buitendien, wat kan mens verwag na vyftien uur in die saal?”

“Ek het na die krieket verwys, nie die vegtery nie,” het die rektor ietwat geirriteerd gesê.

~

Eerwaarde Mance-Bisley het homself gemaklik gemaak in sy studeerkamer – vir ’n slag bly om te kon vind dat sy vrou nog nie teruggekeer het na haar rondte kuiers nie – en sy bondel koerante oopgemaak. Tot sy verbasing het hy gevind dat sy Cape Times ’n hoofartikel in Afrikaans langs die gewone een in Engels gehad het, en hy het met gespanne aandag die jongste breedvoerige mededelings vanuit die Noorde gelees. Dit was onaangename leesstof, en elke af en toe het hy sy sterk leesbril afgehaal en sy oë gevryf. Hy het agtergekom – toe hy alles gelees het wat in die koerante geskryf was oor die situasie in die Noorde – dat hy geen groot begeerte gehad het om die besonderhede oor Lord Hawke se eerste toetswedstryd te lees nie. Selfs krieket was versonke in niksbeduidendheid, gesien teen hierdie ramp by Doornkop. En ’n inval, soos dít waarvan hy gelees het, het glad nie soos krieket gelyk nie. Hy moes erken dat dit iets heelwat anders as krieket verteenwoordig het.

“Ek kan regtig nie verstaan dat mense sulke gekke kan wees nie, my skat,” het hy aan sy vrou gesê toe sy teruggekom het. “Dis ongelooflik. En die ergste daarvan, my skat, is dat die Britse aansien ’n groot skok gekry het – ja, my skat, ’n skok. Meneer Uhlmann sê vir my dat ek nie verstaan nie, dat ek nog nie lank genoeg in hierdie land is om te besef wat dit beteken nie. Maar ek reken ek besef dit maar alte goed.”

“Ek sou so dink,” het mevrou Mance-Bisley op haar besliste manier gesê. “Dis ongelooflik dom, dis wat dit is. Maar dis geen rede waarom ons nie aandete moet hê nie, Claude. En onthou, jy het nog jou preek om voor te berei. So staan nader.”

Posted in Afrikaans

Ná die Vrede van Vereeniging

Posted on September 17, 2015 by Cape Rebel

Uit Die groot Boere-ontsnapping
deur Willie Steyn

 
Toe ek by Norvalspont van die trein afklim om iets te ete te kry, ontmoet ek kommandant De Kock van Frankfort by die deur van die restaurant. Dis iemand wat ek van kindsbeen af ken. Van hom hoor ek vir die eerste keer dat my moeder twaalf maande gelede oorlede is, en dat my broers en susters in die konsentrasiekamp op Heilbron is. Dis vir my ’n groot skok, want ek het hartstogtelik na ons ontmoeting uitgesien, en my voorgestel wat ’n besonderse geleentheid dit sal wees.

In Heilbron aangekom, vind ek dat my jonger broers gelukkig werk gevind het, en sodoende in staat was om my moeder taamlik goed te versorg gedurende haar laaste dae. Ek is slegs ’n rukkie in die dorp toe die polisiehoof my laat roep en my meedeel dat hulle ’n ogie op my gaan hou en dat ek in my spoor moet trap in wat ek doen en sê. Dit oortuig my dat daar mense is wat my dophou, maar ek steur my nie daaraan nie. Dis ’n tipe sonder wie ek kan klaarkom.

Heilbron het soveel verander gedurende my afwesigheid dat die lewe hier erger geword het as wat ek kan verduur. Ná ek vir omtrent twaalf dae ter wille van my broers en susters hier gebly het, gaan ek terug Kolonie toe om ’n paar perde daar te gaan haal wat ek by vriende gelaat het. Tot my verbasing vind ek dat die militêre owerhede op hulle beslag gelê het, en op ’n openbare veiling gaan staan en verkoop het. Dit kos my ’n hele klomp geld en tyd in ’n poging om my eiendom terug te kry, maar dis alles tevergeefs. Ek kan enige tyd bewys dat dit my eiendom is, maar onder heersende omstandighede kom daar niks van nie.

Saam met generaal De Wet reis ek hierna Kaapstad toe en bly daar totdat hy en generaals Botha en De la Rey Engeland toe vertrek. Hierna bring ek twee weke in Stellenbosch en Worcester deur, voordat ek die plaas Atties in die Vanrhynsdorp-distrik besoek.

Ek kom die Dinsdagaand hier aan en op die Saterdag wat volg, gaan die hele familie dorp toe om die nagmaalsviering by te woon. ’n Aangenome seun met die naam Izak bly saam met my agter op die plaas. Ná aandete gaan Izak in die buitekamer slaap terwyl ek myself in die huis tuismaak – die oorlog is verby, en waarom sal ons nie rustig slaap nie! Ek het net ingesluimer toe ek ’n slag teen die voordeur van die huis hoor. Ek maak die deur oop en hier staan drie soldate voor my: twee op die stoep en die derde een hou die perde vas. ’n Korporaal vra waar die baas van die huis is. Ek sê vir hom hy is nie tuis nie, en nou wil hy weet wie ek is. Ek antwoord dat ek Steyn heet, waarop hy sê: “Jy is die man na wie ek soek. Ek het ’n lasbrief om jou te arresteer, en die kamer waarin jy woon te deursoek.” Ek sê vir hom dat ek bereid is om saam met hom te gaan, maar ek wil eers die lasbrief sien. Om dit te doen, wil hy ’n kers hê wat ek moet loop haal, en toe ek omdraai om dit te doen, volg die soldaat my. Maar hy is ’n vreemdeling en ek kan hom mos nie in my vriend se huis vertrou nie. Ek vra hom om buite te wag terwyl ek die kers gaan haal. Hy weier egter, en so besluit ek ons gaan liewer na Izak se kamer toe vir die kers. Die korporaal wys my die dokument met die instruksies. Dis deur die bevelvoerende offisier van Beaufort-Wes uitgevaardig en lui: “Korporaal Matterson moet vanaand agtuur met twee manne na Atties gaan, en daar ’n sekere Willie Steyn arresteer wat verlede jaar uit Ceylon ontsnap het. Verder moet daar sorg gedra word dat Steyn nie by sy bagasie kan kom voor dit behoorlik deursoek is nie. Alle dokumente in Steyn se besit moet op beslag gelê word en hy moet onmiddellik na Clanwilliam toe geneem word.”

Dis vir my vreemd wat hier aan die gang is, maar ek het nie ’n keuse nie en sal saam met hulle moet gaan. Ek trek dus aan, wys die korporaal al my dokumente en ná ’n paar minute is ons op pad Clanwilliam toe.

Ons kom op Sondagmiddag hier aan en ek word na die bevelvoerende offisier se kwartiere geneem. Hy is egter nie op kantoor nie, en ek wil weet wie in sy afwesigheid waarneem. Dit blyk een of ander luitenant te wees. Ek verduidelik aan hom dat ek die vorige nag onvriendelik en op ’n baie onbeskofte manier gearresteer is, en dat ek eers iets te ete wil hê voor ek majoor Graham, die bevelvoerende offisier, gaan spreek. Hy gee dadelik ’n soldaat opdrag om die korporaal te voorsien van blikkies vleis en beskuit vir homself, die twee soldate en die prisonier. Ek hoor die opdrag en sê nee dankie daarvoor; ek eet nie “bully beef” en klinkers nie. Ek verduidelik vir hom dat ek ook ’n offisier is, maar nie oor Hottentotte nie. Sy antwoord is dat ek nie die kos hoef te eet nie, en dis presies wat ek dan ook doen.

Intussen doen korporaal Matterson sy bes om die bevelvoerende offisier op te spoor om my sodoende ’n nag agter tralies te spaar. Vier ure later word hy deur majoor Graham gelas om my na kaptein Ridout te neem.

Toe ons by hom aankom, vra die kaptein vir korporaal Matterson om buite te wag, en hy bied my ’n sitplek aan. Op ’n vertroulike manier sê hy vir my: “Meneer Steyn, ek sal openhartig met jou praat en ek verwag dieselfde van jou.” Hy vertel my dat ek gearresteer is omdat ek verdink word dat ek probeer om ’n rebellie op die been te bring in die Vanrhynsdorp se distrik.

Ek verduidelik vir hom my kant van die saak, en ná my ontkenning van die aanklag, word ek dadelik beter behandel. Hy belowe my dat hy aan die generaal op Beaufort-Wes sal telegrafeer en sy bes sal doen om my so gou moontlik op vrye voet te kry. Intussen laat hy my toe om die nag in ’n hotel deur te bring ná ek hom my erewoord gee dat ek nie sonder verlof sal weggaan nie.

Om tienuur Maandagoggend kry ek die nuus van kaptein Ridout dat hy opdrag gekry het om my vry te laat. ’n Paar uur later stuur die kaptein sy eie rytuig om my terug te neem Atties toe. Ná twee weke hier, keer ek terug Heilbron toe om met my werk voort te gaan.

[Redakteur se nota: Ons vermoed dat Willie Steyn se “kant van die saak” aan kaptein Ridout verduidelik het dat hy nie soseer op Atties was om ’n rebellie in die Vanrhynsdorp-distrik aan te hits nie, maar om Lettie, die dogter van die eienaar van die plaas Atties, oom Izak van Zyl, te besoek. Dit sou kon verduidelik waarom Willie sonder veel bohaai vrygelaat is. Wat nie op gissings berus nie, is dat Willie en Lettie later man en vrou geword het.]

 

Posted in Afrikaans

Krieket in Clanwilliam

Posted on September 10, 2015 by Cape Rebel

Uit The Valley 
deur C. Louis Leipoldt

Vir ds. Mance-Bisley was dit ongelooflik dat daar in die Britse Ryk ’n skool kon bestaan, waar, in die senior sekondêre afdeling ter voorbereiding vir die matrikulasie-eksamen, daar seuns was, stewig van voorkoms en slaggereed, wat nie krieket gespeel het nie. Hy was behoorlik geskok toe hy agtergekom het dat daar nie eens een seun was wat ’n krieketkolf besit het nie. Na ’n sorgvuldige opname was al wat verkry kon word ’n stel paaltjies en ʼn paar gebreekte balkies. Hy het daar en dan aan ’n firma in Kaapstad geskryf, en mettertyd het daar met die poskar ’n hele paar kriekettoerustings vir die skool aangeland. In die oggend se saalbyeenkoms het hy met geesdrif oor dié onderwerp gepraat. Hy het krieket as sy tema gekies, en hoewel hy as persoon en as onderwyser te voorbeeldig en te ervare was om te verwys na die moontlikheid dat daar in die toekoms ’n veldslag in Suid-Afrika op die krieketveld gewen kon word, het hy dit duidelik gemaak dat hy verwag het dat elke seun dit as sy plig moes beskou om krieket te leer speel.

~

“Sal ons ingaan, meneer Quakerley?”

“Onnodig rektor, onnodig. Ek het maar net gekom om hierdie jong knaap aan jou voor te stel. Hy’s my kleinseun, Charles Crest, hoewel ek nie kan verstaan waarom hulle hom nie Andrew genoem het nie. Van Australië af, jy weet. Ek het gedink dat jy dalk daarvan sal hou om hom in jou klas te hê.”

“Die termyn is al amper verby,” het die rektor gesê terwyl hy die seun goed bekyk het. “Dit sal beter wees as hy in Januarie begin. In watter standerd is hy?”

“Ek weet regtig nie. Ek veronderstel die standerds in die Australiese skole verskil van ons s’n. Kan jy asseblief kyk wat hy kan doen, rektor. Kom Charlie, sê vir meneer Mance-Bisley wat jy kan doen.”

“Somme en lees en skryf,” sê die seun ietwat skamerig. “En kaartteken en geskiedenis, Oupa. En ons het net begin met algebra toe ons vertrek het.”

“Hoe oud is jy?” het die rektor gevra. Hy het met bevrediging opgemerk dat die seun goeie maniere gehad het. Hy het ’n soort van kinderlike waardigheid besit, en verder het hy sonder ’n sweempie van die hinderlike “koloniale” stembuiging, wat so algemeen onder die dorp se jeug voorgekom het, gepraat.

“Tien, Meneer,” het die antwoord gekom, en daarmee was die rektor nog meer tevrede. Dis duidelik dat die knapie goed geleer is. Die skoolseuns van die dorp het “meneer” soos ’n nagedagte by hulle antwoorde aangelas en gewoonlik is dit heeltemal weggelaat. Die kêreltjie het ’n amper vreemde innemendheid besit, iets wat hom herinner het aan jong seuntjies in ’n Engelse laerskool, iets heeltemal anders as die bruingebrande, bonkige seuns in hierdie halftropiese deel van die wêreld, waar die samesyn van twee tale gelei het tot verwronge uitsprake en aksente. Ou Andrew het wegbeweeg na waar sy aandag afgetrek was deur iets wat in die tuin gegroei het, maar, hoewel die seun se oë sy oupa gevolg het, het hy geen poging aangewend om hom te volg nie, en het hy eerbiedig op aandag bly staan. 

“Laat ons kyk wat ons kan doen, Crest,” het die rektor gesê. “Ek dink jy moet vanmiddag na my toe kom, en bring jou boeke saam met jou. Het jy al begin met Latyn?”

“Nee, Meneer.”

“Hmm, jy sal een of ander tyd daarmee moet begin, en so gou as moontlik sal seker ’n goeie tyd wees. Jy moes eintlik lankal terug daarmee begin het. Ek neem aan meneer Quakerley sal wil hê dat jy moet matrikuleer. Ons sal ’n bietjie daaraan moet dink. Miskien is jy gereed vir standerd vyf, of ten minste vier.” Hy het na die ou man toe omgedraai waar hy daar naby hom besig was om ’n klomp geel blomme, wat op ’n sanderige kol gegroei het, met groot belangstelling te bekyk. “Dalk kan jy hom toelaat om my vanmiddag te kom sien, meneer Quakerley.”

~

Charlie, aan wie gesê is om te gaan loop en speel, het na sy oupa geluister en weggedwaal in die rigting van die watervoor en die badhuisie wat in die skadu van lowerryke akkerbome was. Daar, teen die deur van die badhuisie, het hy ’n krieketkolf gesien waarmee hy toe besig was om denkbeeldige balle, wat verby die trappe van die badhuisie gezoem het, te blokkeer. Meneer Mance-Bisley het bewus geword van ’n emosie wat soos ’n golf in hom opgewel het. Daar was grasie, aksie en ’n aanduiding van daardie instinkmatige voorliefde in dit wat hy gedoen het, wat afwesig was by sy seuns – iets wat hy meermale al betreur het. Hy het die ou man verras deur vorentoe te spring en so hard as wat hy kon uit te roep – want meneer Mance-Bisley was spontaan en het gou opgewerk geraak – “Wag, wag ’n bietjie. Ek gaan ’n bal kry om na jou toe te boul.”

Hy het sy baadjie uitgetrek en sy hempsmoue opgerol, sy kruisbande met twee knoopsgate verkort, en gehuppeldraf – met ’n ratsheid wat mens skaars sou verwag het van ’n persoon so rond en plomp – op met die tuinpaadjie terwyl hy geboul het. Hoe sy bril op sy neus gebly het met sulke energieke bewegings van arms en bene, was ’n wonderwerk. En klaarblyklik het sy ledemate hulle goed van hul taak gekwyt, want hy het met vernuf geboul, ’n goeie lengte gehandhaaf en sy vaart afgewissel. Aan die begin was die kolwertjie ietwat angstig, maar later het sy groeiende selfvertroue en bestendigheid die volwassenes beïndruk. Sy tikhoue en blokwerk is met lofwaardige oordeel uitgevoer. Ou Andrew het die gemaklike grasie van die seun bewonder. Charlie se gesig was ’n blos van opwinding en geesdrif. Hy het die kolf, wat duidelik te groot vir hom was, met behendigheid hanteer, en dit het gewys dat hy al so bietjie touwys gemaak is. Die rektor het foute raakgesien, die gevolg van gebrekkige afrigting, soos ’n paar swak houe wat hy anders kon gespeel het. Maar die speler was op en wakker – sy flinkheid van hand en oog en die durf waarmee hy die boulaanval gekonfronteer het, was opvallend. Die jongeling was onafgerond, maar hy het styl gehad, en daar was kenmerke van ’n eersterangse krieketspeler, of ten minste ’n voortreflike kolwer.

Die rektor, vuurwarm na sy inspanning, het die bal aan Charlie oorhandig. “Kom ons kyk wat jy met die bal kan doen,” het hy aan die seun gesê. “Nog net so ’n klein rukkie, meneer Quakerley, ek wil regtig graag sien hoe hy met die bal vaar.”

“So, ja,” het hy gesê nadat hy hom klaar laat boul het en opgemerk het dat daar in die boulaksie ook heelwat foute was wat uitgeskakel moes word, maar daar was ook voortreflikhede wat enige krieketafrigter sou waardeer. Vir meneer Mance-Bisley was krieket ’n passie en hy het min ander alledaagse dinge só verheerlik, behalwe sy vrou. Jare lank reeds was hy op die uitkyk vir ’n belowende jong knaap wat hy kon besiel met ’n geesdrif amper soos syne, en nou het hy gevoel dat hy uiteindelik gevind het na wie hy gesoek het.

Posted in Afrikaans

Vriendskap

Posted on September 03, 2015 by Cape Rebel

Uit The Valley 
deur C. Louis Leipoldt


Dit was bestem dat daar tussen twee mense soos dominee Uhlmann en Andrew Quakerley ’n natuurlike affiniteit sou wees. Hulle altwee het dit besef toe die geleentheid hom voorgedoen het om gedagtes te wissel. Hulle was beide vervloek of geseën – die keuse van die regte werkwoord mag aan die leser se opvatting van eerlike waardes oorgelaat word – met ’n kunssinnige natuur, hoewel nie een van die twee sou toegee dat dit die geval was nie, want hulle het hulself as besonder prakties beskou. In Andrew het daardie impulsiewe skeppingsvermoë, wat die kenmerk van ’n ware kunstenaar is, sy uiting gevind in ’n ordening van skoonheid soos wat daar in tuinbou gevind kon word. By die predikant weer het sy vermoë tot kuns uiting gesoek in musiek. Hulle het altwee mekaar se aanleg aangevoel en dit gerespekteer, hoewel nie een van die twee geweet en herken het nie dat die meelewendheid wat so ’n wedersydse aantrekkingskrag was, gebaseer was op daardie gemeenskaplike liefde vir skoonheid, daardie inherente waardering vir harmonie, orde en ordening wat altwee voor lief was en voor gelewe het.

Hulle vriendskap het nie sommer oornag rypheid bereik nie. Dit was ’n gestadige, versigtige toenadering wat hulle natuurlike beskroomdheid omseil het en die skeidsmure, wat beide van bewus was wat hulle weerhou het van gemeensaamheid, afgebreek het. Soos hulle vriendskap ontwikkel het, het die omgang met mekaar, vergemaklik, want hulle het aangeleenthede waarin hulle altwee belanggestel het, aangeraak en sonder probleme bespreek, maar nogtans elkeen op sy eie manier. Hoewel Andrew te kortgeskiet het aan die belese vakgeleerdheid van die geestelike, wat ’n opgeleide taalkundige en ’n amateur chemikus was, het hy tog oor die uitmuntende gawe van begrip en insig beskik. Die dominee, op sy beurt, het geen kennis gedra van plant- en tuinboukunde nie, maar ook hy het voldoende empatie en kennis gehad om sy vriend se gedagtegang te volg wanneer die geselskap ’n wending na sulke onderwerpe geneem het. As gevolg van Uhlmann se breë ervaring, het die verskil in hulle ouderdomme geen rol gespeel nie. Nie een van die twee was daarvan bewus nie, hoewel die predikant instinktief sy vriend as senior eerbiedig het, want hy was nog ’n produk van die ou skool wat ouderdom eerbiedig het, of dit verdienstelik was of nie.

~

“Ek gaan nie probeer om met jou meegevoel te betuig nie, my ou vriend,” het Andrew gesê toe hy opgemerk het hoe die dominee aanhoudend sy hande vou en dan sy vingers weer ontvou en strek. “Die tyd vir so iets het nog nie aangebreek nie. Ek glo nie enigiets ernstigs het met Johnny gebeur nie. Hy het vir my altyd gelyk soos ’n kêrel wat na homself kan omsien, en om gewond te wees, selfs op verskeie plekke, is tog eintlik nie so ’n ernstige ding nie.”

Met ’n soort van morbiede glimlag wat sy verrimpelde gelaatstrekke ietwat opgehelder het, het die predikant teruggeantwoord: “Ja, jy sal probeer om my beter te laat voel. Ek het dit al oor en oor vir myself gesê. Dis nie dit nie – ek bedoel, ek gee nie soveel om as hy gewond is nie. Dis die gedagte dat ’n bloedverwant hom kon geskiet het. Dis ’n burgeroorlog hierdie mnr. Quakerley, ’n burgeroorlog.”

“Ek stem saam met jou. Maar dis ’n bietjie vêrgesog. Ek dink nie daar was enige koloniale troepe by Colenso nie – verseker nie uit ons geweste hier in die Kolonie nie. Hulle is saam met die middelste divisie, jy weet. Storam het ’n brief van Martin ontvang. Hy is by Gatacre se magte.”

“Dis nie net Johnny nie. Daar is ook ander mnr. Quakerley. Die jong Van Aard het by Magersfontein omgekom – hy’s Erasmus van Aard se neef, soos jy miskien sal weet. Erasmus se broerskind wat hom in Transvaal in die Ermelo-distrik gevestig het. Piet van Tonder het by Labuschagne se Nek gesneuwel. Hy was Jan van Tonder van Suurvlei hier anderkant, se kleinseun.”

“Ek weet. Ek het hulle name gesien, en ek het ook oom Jan gesien en met hom gesimpatiseer. Dis verskriklik. Maar dis oorlog, Uhlmann. Ons kan dit nie verhelp nie.”

“Nee, dis waarom dit so bitter is. So moeilik om te verduur. Maar ek behoort nie te kla nie. Ek het slegs een aan die anderkant. Daar is ander met meer as een.”

Andrew het sy metgesel vlugtig aangekyk. Nog nooit voorheen het hy die dominee só ontsteld gesien nie. “As hy nie hier buig nie, gaan hy breek,” het Andrew vir homself gesê. “Ek moet hom uit hierdie wanhoopsgat kry.”

~

“Wat sal ek speel?” het Uhlmann gevra terwyl hy sy vingers geluidloos oor die klawers gestreel het.

“Enigiets waarvan jy hou. Ek is nie ’n beoordelaar van musiek nie.”

Hoewel hy nie ’n musiekkenner was nie, het Andrew, toe hy die eerste note gehoor het, gevoel dat hy geluister het na iemand wat musiek amper net so liefgehad het as hy sy tuin. Dit wat die dominee gespeel het, was toonloos, maar daar was ritme en melodie – dit was iets groots met passie, warmte, kleur en vertroosting. Om daarna te luister, was soos om te luister na golwe wat teen rotse op die strand breek, na reën wat kletterval op die blare van sy groot magnoliaboom, na bye wat in sy lappie vergeet-my-nietjies op ’n somersdag zoem. Joan het gespeel en Alice ook, maar nie só nie. Die dominee se klavierspel was heel anders. Dit het hom aan blomme herinner, aan sy tuin, aan die veld teen laat September – opgehemel deur madeliefies, en perlemoenkleurig met die glans van fluweelagtige kelkiewynblommetjies, aan die berg gloeiend in die weerkaatste lig van die ondergaande son, aan die groot populierbos by Quakerskloof met die blare wat silwer van kleur verander wanneer die bries deur hulle heen waai, aan pontakwingerde wat in die herfs ryk karmosynrooi verkleur. Dit het hom ontroer, en terselfdertyd ook kalmerend gestreel – ’n skynbaar teenstrydige gevoel wat hy nie kon, en nie probeer verduidelik het nie. Hy het teruggeleun en die musiek geniet.

Die dominee het aangehou met speel. Dit het gelyk of Uhlmann totaal onbewus was van sy toehoorder, geheel en al versonke in sy musiek. Hy het geïmproviseer; van Beethoven het hy na Mozart aanbeweeg, en van Mozart na Scarlatti, met ’n verposing tussen die onderskeie temas, en soms het hy met sy kop op sy hande gerus – wat amper teen die klawers was. Andrew kon sien dat hy onpeilbaar diep aangedaan was terwyl hy gespeel het, en dat die musiek hom ook gekalmeer het. Uiteindelik het hy sy hande van die klavier af teruggetrek en slap langs sy sye laat hang.

Posted in Afrikaans

Mielies

Posted on August 27, 2015 by Cape Rebel


Uit Polfynties vir die proe 
deur C. Louis Leipoldt

Wat is daar heerliker, sagter en meer aptyt-lokkend as ’n jong groenmielie, behoorlik gaar, roomwit of goudgeel, met elke korrel so rond en vet asof hy op die stronk uitgebeitel is? Watter eg Afrikaanse skottel het ons wat op tafel kan wedywer met ’n Transvaalse tannie se mieliebrood? Iemand wat een van die twee, or albei, geëet het, sal die herinnering daaraan lank is sy geheue bewaar.

Moet jy jou mielie met of sonder die binneblare kook? Die Amerikaners kook dit altyd met die binneblare, wat saam met die baard verwyder word nadat die mielie gaar is. Ons manier, waaraan ek ook voorkeur gee, is om die blare af te trek, die mielie mooi van elke stukkie baard te suiwer, dit dan vir ’n paar minute in kokende water te dompel en daarna stadig te kook met ’n bietjie sout in die water.

Maria sorg dat dit nie te lank kook nie. Dit is moeilik om presies te weet waar die kook moet ophou. Te lank kook verwyder die sappigheid uit die pitte; hulle lyk dan nie meer mooi rond nie, maar amper kantig, en die een staan nie meer, soos hy behoort te doen, skouer aan skouer met sy maat nie, maar leun ’n bietjie oor, asof hy skaam is om sy plek in die ry te behou. Ek erken volmondig dat ek nog nie die kuns geleer het – wat elke ou aia skyn te besit – om mielies perfek te kook nie. Dus waardeer ek dit des te meer as ek dit op die plaas in die mielietyd teëkom, veral as dit nog van die ouderwetse “broodmielies” is.

Laat hulle in ’n vergiettes afdroog sodra hulle gaar is, sonder egter hul warmte te verloor, en bedien hulle met – nou natuurlik met niks nie. ’n Goeie groenmielie kan op sy eie pote, of pitte, staan. As daar botter op die tafel is, kan diegene wat dit op sy mielie wil smeer, daarvan gebruik maak. Maar bedien tog nie gesmelte botter in die souspotjie met jou mielies nie! Ook nie ’n gekunstelde “mieliesous” (soos ek al hier en daar teëgekom het) van botter, neutmuskaat en eierdooier nie. Die sou ’n aanstoot en ’n affrontering wees. Die smaak van ’n goed gekookte groenmielie is te delikaat en te fyn om gesny te word met enige ander smaak of geur.

En juis daarom kan jy ook geen wyn met jou mielie neem nie. Wag totdat jy behoorlik met hom afgereken het voordat jy na jou kelkie gryp.

Jy moet hom natuurlik “van die stronk af” eet. Om die pitte af te sny en met lepel of vurk te verslind – nou ja, dit is amper net so gruwelik as om hom met neutmuskaat en ’n suursous te bedien. 

17 Maart 1944

Posted in Afrikaans

Die Olifantsriviervallei en die Dorp Clanwilliam

Posted on August 20, 2015 by Cape Rebel


Uit The Valley 
deur C Louis Leipoldt

Die Vallei

Die meeste van hulle wat in die vallei woon, leer om dit lief te hê. Met sy betowerende prag en die subtiele indruk wat dit maak op dáárdie skoonheidsin wat sluimerend in elkeen van ons lê, gryp dit die verbeelding aan. Niemand kan die invloed wat gekonsentreerde natuurlike prag uitoefen op dié wat daagliks daaraan blootgestel is, verduidelik nie, maar dit is louterend sowel as besielend, en dit verryk die gees en die gemoed. Dis ’n sterk en belangrike faktor in die lewens van diegene wat voel dat berge en riviere, met hulle eeue-oue onverstoorbaarheid, die stempel dra van kragte wat die mens se lotsbestemming in die verlede gevorm het en wat dit in die toekoms ook sal vorm.

So het die vallei vir geslagte al op sy inwoners sy stempel afgedruk. Dit het hulle onbewustelik beïnvloed. Al sou hulle daartoe gevra word, sou hulle nie in woorde kon uitdruk op watter manier dit hulle lewens gevorm het nie. Die meeste van hulle sou in werklikheid verbaas gewees het as iemand sou laat deurskemer het dat hierdie stoere bergreeks en stadig vloeiende rivier – wat gedurende die winter sy vlakkerige bodem oorstroom en in die somer kwyn tot beskeie stroompies wat deur walletjies spoelsand geskei word – enigiets met hulle lewens te doen gehad het. Nogtans het die vallei sy stempel op hulle afgedruk, onomskryfbaar iets van sy eie karakter op hulle ingeweef, hulle onafwendbaar geleer om daarvan te hou om sy kontoere te besigtig, en uiteindelik elke hoekie daarvan lief te hê, elke rots wat die wind in sy seewaartse of landwaartse vlug vang, elke heuwelhang wat in die laatsomer bruingebak in ’n versengende son lê, of gloei in pers en karmosynrooi en goud wanneer in die lente die vallei ’n oes van suring en saffraan-irisse bied.

Die Dorp

In die tagtig jaar wat die dorp al bestaan, het dit karaktereienskappe ontwikkel wat gesamentlik sy siel geopenbaar het. Dit was so ietwat van ’n slaapdorp, nie deur lomerigheid of satheid nie, maar wel met ’n gevoel van voldoening wat die gevolg was van klein probleempies wat triomfantelik te bowe gekom is. Die dorp het volwassenheid bereik soos ’n voortreflike boergonjewyn waarin tyd, klimaat en rus die sure na esters getemper het en die alkohol na aldehiede. Geen rewolusionêre omwenteling het ooit die dorp getref nie. Deur die jare, heel rustig en kalm, het die dorp sy energie toegewy aan die alledaagse plattelandse belange wat sy aandag ten volle in beslag geneem het. Op hulle het dit ’n geesdrif en ’n kragdadige energie toegespits wat elders, as dit ander kanale kon volg, groot prestasies tot gevolg sou kon hê.

Alles wat stadig volwassenheid bereik, dra die kapasiteit tot blywende bestendigheid as deel van sy wese. Die dorp was geen uitsondering op hierdie reël nie, hoewel slegs ’n paar van sy inwoners in staat sou wees om te verklaar presies watter van sy bestaande kenmerke waarskynlik bestand sou bly. Die oudmodiese air wat homself daar tuisgemaak het – die rococo-gewels van die bruingrasdakhuise, die rankende wingerdstokke wat in die somer priële in die tuine gevorm het, die ouwêreldse statigheid van houthekke en die stoepstoele met hulle gevlegte riempies – al hierdie dinge sou verdwyn voor die aanstormende getygolf van vernuwing wat jaar na jaar die ou skanse afgebreek en die huise en kuierplekke in oop ruimtes omskep het. Dit was miskien heilsamer, maar heel minder skilderagtig as voorheen. Min inwoners het besware gehad oor hierdie onvermydelike veranderinge wat so stadig gekom het dat hulle uitwerking amper nie raakgesien was nie, voordat hulle sulke blywendheid verwerf het dat hulle beskou was as onafskeidelik deel van die omgewing.

Miskien was dit die treurspel van die dorp – hy het hom berus in veranderinge wat hy nie kon verhoed nie, en in sy gelatenheid was hy nie in staat om te besef wat hy verloor het nie.

Posted in Afrikaans

Die Sederbergse Olifantsriviervallei in die Winter

Posted on August 13, 2015 by Cape Rebel

Uit The Valley 
deur C Louis Leipoldt

En met die winter kom die reëns – die gestadige misreën begin in die oggend en hou regdeur die dag aan, deurweek die harde, skalieagtige klei, dring deur die droë, gekraakte Karoo-aarde en die laag los grond op die oppervlakte, afkomstig van die verweerde sandsteen, en bring daarmee saam nuwe lewe aan die saad wat sluimerend daar onder op die warmte van die lente wag om te ontwaak en te ontluik in ’n lewe van bloeisel en blom. En so ook kom die onstuimige oostewind wat in die nag, al loeiende deur die blaarlose bome soos verlore siele wat aandring op verlossing, die lemoen- en suurlemoenboorde skud dat die jong vrugte die rooi grond soos ’n groen tapyt onder die bome bedek – ’n patetiese, treurige gesig vir die boer. En dan uiteindelik, amper wonderbaarlik skielik, in die tydsduur van ’n nag en ’n dag, kom die lente, skitterend vars en grasgroen, keurig geparfumeer met die sagte geure van jong blare en botsels van aromatiese berg- en veldplante, wat alles wat dit aanraak in ’n tuin verander, en só ongenoemde glorie onthul in wat ’n week gelede soos ’n woesteny gelyk het.

Want dit was een van die eienskappe van die vallei – sy skielike natuurlike woelinge, sy merkwaardige spronge wat lewe bring en dan steriliteit. ’n Koue wind, al sleurende deur die bergpoorte, kan die teer en delikate uitspruitsels van die adenandra-boegoebosse laat verwelk, en hulle verdof tot iets triestig en vaal. Maar so ’n effe van ’n warmte na die winterreëns sal ontelbare surings voortbring en die veld vir ’n rukkie vrolik en veelkleurig maak. ’n Hittige windvlaag in die somer egter sal dit so skroei dat die lower hulle onderkant sal wys en die hele heuwelhang bleek en kaal laat lyk, en in die middel van die somer sal die veld dorder voorkom as ’n woestyn. Terwyl dit moeilik sal wees om in die lente ’n vierkantduim te vind wat nie deur ’n nabygeleë blom deurgeur is nie of wat nie ’n aanliggende blaar se skadu benut nie. 

In die winter het die berge hulself versluier, veral in die vroeë oggende, in newels van grys en perlemoen. Slegs so teen die middag se kant wanneer die son intenser geword het, het die mis stadig, onwillig weggedryf in yldun wolkflarde wat om die dale en beboste klowe rondgehang het, waar hulle omlynings skerp afgesteek het teen die lug. Gewoonlik was net die hoogste pieke sneeubedek, maar dit het al gebeur dat sneeu tot in die laagliggende glooiinge neergesak het, en tradisie weet te gesê het dat daar ’n seisoen was dat dit selfs op die walle van die rivier geval het, sodat die lammertjies onberekenbare skade aangedoen was. Dit was egter in die verre verlede en slegs van die oudste inwoners kon dit onthou, en hulle het verkies om te vergeet dat hulle dit daar gesien het. Op die bergpieke egter was sneeu iets anders. Dit was iets wonderliks om te aanskou, hoewel slegs ’n paar mense die moeite gedoen het om op te klim om daaraan te vat om sodoende gesaghebbend te kan sê hoe dit gevoel en gelyk het. Sommige egter, soos die magistraat en die predikant wat al na vreemde plekke heengereis het, waar die sneeu inderdaad op die grond geval het en mense met hulle sleë daaroor gegly het en die kinders mekaar met sneeuballe bestook het, het alles daarvan geweet, en die vallei het dit so aanvaar soos dit met baie ander dinge gedoen het – met ’n filosofiese kalmte wat amper op ’n gebrek aan belangstelling neergekom het, ’n verdraagsame glimlag wat meer hoflik as nuuskierig was.

Posted in Afrikaans

« Previous 1 6 7 8 9 10 17 Next »