Uit The Valley
deur C Louis Leipoldt
Hier voor die hofsaal het die hele dorp, of ten minste die manlike volwassenes, adolessente en ouer jeugdiges, op posdae vergader. Sommige van hulle het gekom om hulle briewe en pakkies te kry, maar die meerderheid het geen vooruitsig gehad tot enige plesier met die posaflewering nie. Hulle het net daar rondgehang as gevolg van die simpel rede wat enige skare lok – die geleentheid om te skinder, of, om een of ander nuwigheid wat voor die dag kon kom, of bloot uit belangstelling, of ’n soort van opwinding, ’n kans wat moontlik kon opduik wanneer die enigste skakel tussen afsondering en die wyer beskawing driehonderd myl weg van daar af, die aankoms van die weeklikse pos was. Sulke geleenthede het die kans gebied om menings te wissel, sowel as ’n tydjie vir ouer en meer besadigde lede van die gemeenskap om sake te bespreek, en vir die jong klomp om so ’n bietjie te stry en te rinkink, want op daardie weeklikse dae van samekoms is hulle vryer teuels toegelaat as wat gewoonlik raadsaam was in so ’n konserwatiewe gemeenskap.
~
Sam Chumley, die hoofkonstabel, was ’n gebore Kolonialer en ’n afstammeling van ’n 1820-setlaarsfamilie. Almal het van hom gehou en hy is in die dorp en distrik met agting bejeën – nie net omdat hy ’n goeie polisiebeampte was nie, maar ook omdat hy ’n gawe kêrel was met empatie vir ander. Dit het bygedra dat hy deeglik kennis gedra het van die verskillende eienaardighede van die verskeie groepe in die gemeenskap waarin hy gedien het. Sy vrou was die dogter van een van die plaaslike boere, en tuis het hy Engels en Afrikaans gepraat met ’n onpartydigheid wat mettertyd veel bygedra het om sy beheersing van beide tale te verrinneweer. In daardie opsig kon hy beskou word as die mees tweetalige persoon in die omgewing, en sy dienste as tolk is al op talryke geleenthede in die hof aangevra.
“Ek dink dis omtrent tyd,” het die rektor klaend opgemerk, “dat die regering die boete toepas, meneer Chumley. Vir die afgelope drie maande was die poskar elke posdag laat. Dis eenvoudig skandelik. En vandag van alle dae.”
“Dissie Seldon se skuld nie, Meneer,” het die hoofkonstabel hervat, terwyl hy sy snor tot ’n skerper puntjie gerol het. “Mens moet die drywer verwyt. Maar dissie asof Ampie nie ’n goeie drywer is nie. Daar moet toegewings gemaak word, Meneer. As Meneer self in hierdie hitte gery het, Meneer, soos ek wel gedoen het, Meneer, sou Meneer sulke ’gewings maak, Meneer. Dan wil mens so nou en dan stilhou om die muile ’n blaaskans te gee, Meneer, en om self ook ’n sopie te maak, Meneer.”
~
“Daar kom die poskar,” het die landdros gesê. “Nou kan ons die koerante kry, en ek kan jou verseker, ek verlang daarna om hulle te lees.”
“Ek ook,” het die rektor gesê. “Ek wil regtig baie graag weet waarom hulle verloor het. Daar moet ’n rede voor wees. Die weer kon natuurlik iets daarmee te doen gehad het, maar dit kan ek nou regtig nie as ’n goeie verskoning aanvaar nie. Vir my lyk dit bloot na swak bestuur.”
“O, nee,” het die hoofkonstabel, wat by hulle weer aangesluit het, gesê. “Dis slegs swak krygsmanskap, Meneer. Teen Cronje se kommando was daar geen rede op aarde … Buitendien, wat kan mens verwag na vyftien uur in die saal?”
“Ek het na die krieket verwys, nie die vegtery nie,” het die rektor ietwat geirriteerd gesê.
~
Eerwaarde Mance-Bisley het homself gemaklik gemaak in sy studeerkamer – vir ’n slag bly om te kon vind dat sy vrou nog nie teruggekeer het na haar rondte kuiers nie – en sy bondel koerante oopgemaak. Tot sy verbasing het hy gevind dat sy Cape Times ’n hoofartikel in Afrikaans langs die gewone een in Engels gehad het, en hy het met gespanne aandag die jongste breedvoerige mededelings vanuit die Noorde gelees. Dit was onaangename leesstof, en elke af en toe het hy sy sterk leesbril afgehaal en sy oë gevryf. Hy het agtergekom – toe hy alles gelees het wat in die koerante geskryf was oor die situasie in die Noorde – dat hy geen groot begeerte gehad het om die besonderhede oor Lord Hawke se eerste toetswedstryd te lees nie. Selfs krieket was versonke in niksbeduidendheid, gesien teen hierdie ramp by Doornkop. En ’n inval, soos dít waarvan hy gelees het, het glad nie soos krieket gelyk nie. Hy moes erken dat dit iets heelwat anders as krieket verteenwoordig het.
“Ek kan regtig nie verstaan dat mense sulke gekke kan wees nie, my skat,” het hy aan sy vrou gesê toe sy teruggekom het. “Dis ongelooflik. En die ergste daarvan, my skat, is dat die Britse aansien ’n groot skok gekry het – ja, my skat, ’n skok. Meneer Uhlmann sê vir my dat ek nie verstaan nie, dat ek nog nie lank genoeg in hierdie land is om te besef wat dit beteken nie. Maar ek reken ek besef dit maar alte goed.”
“Ek sou so dink,” het mevrou Mance-Bisley op haar besliste manier gesê. “Dis ongelooflik dom, dis wat dit is. Maar dis geen rede waarom ons nie aandete moet hê nie, Claude. En onthou, jy het nog jou preek om voor te berei. So staan nader.”
Next →
← Previous