Vriendskap

Posted on September 03, 2015 by Cape Rebel

Uit The Valley 
deur C. Louis Leipoldt


Dit was bestem dat daar tussen twee mense soos dominee Uhlmann en Andrew Quakerley ’n natuurlike affiniteit sou wees. Hulle altwee het dit besef toe die geleentheid hom voorgedoen het om gedagtes te wissel. Hulle was beide vervloek of geseën – die keuse van die regte werkwoord mag aan die leser se opvatting van eerlike waardes oorgelaat word – met ’n kunssinnige natuur, hoewel nie een van die twee sou toegee dat dit die geval was nie, want hulle het hulself as besonder prakties beskou. In Andrew het daardie impulsiewe skeppingsvermoë, wat die kenmerk van ’n ware kunstenaar is, sy uiting gevind in ’n ordening van skoonheid soos wat daar in tuinbou gevind kon word. By die predikant weer het sy vermoë tot kuns uiting gesoek in musiek. Hulle het altwee mekaar se aanleg aangevoel en dit gerespekteer, hoewel nie een van die twee geweet en herken het nie dat die meelewendheid wat so ’n wedersydse aantrekkingskrag was, gebaseer was op daardie gemeenskaplike liefde vir skoonheid, daardie inherente waardering vir harmonie, orde en ordening wat altwee voor lief was en voor gelewe het.

Hulle vriendskap het nie sommer oornag rypheid bereik nie. Dit was ’n gestadige, versigtige toenadering wat hulle natuurlike beskroomdheid omseil het en die skeidsmure, wat beide van bewus was wat hulle weerhou het van gemeensaamheid, afgebreek het. Soos hulle vriendskap ontwikkel het, het die omgang met mekaar, vergemaklik, want hulle het aangeleenthede waarin hulle altwee belanggestel het, aangeraak en sonder probleme bespreek, maar nogtans elkeen op sy eie manier. Hoewel Andrew te kortgeskiet het aan die belese vakgeleerdheid van die geestelike, wat ’n opgeleide taalkundige en ’n amateur chemikus was, het hy tog oor die uitmuntende gawe van begrip en insig beskik. Die dominee, op sy beurt, het geen kennis gedra van plant- en tuinboukunde nie, maar ook hy het voldoende empatie en kennis gehad om sy vriend se gedagtegang te volg wanneer die geselskap ’n wending na sulke onderwerpe geneem het. As gevolg van Uhlmann se breë ervaring, het die verskil in hulle ouderdomme geen rol gespeel nie. Nie een van die twee was daarvan bewus nie, hoewel die predikant instinktief sy vriend as senior eerbiedig het, want hy was nog ’n produk van die ou skool wat ouderdom eerbiedig het, of dit verdienstelik was of nie.

~

“Ek gaan nie probeer om met jou meegevoel te betuig nie, my ou vriend,” het Andrew gesê toe hy opgemerk het hoe die dominee aanhoudend sy hande vou en dan sy vingers weer ontvou en strek. “Die tyd vir so iets het nog nie aangebreek nie. Ek glo nie enigiets ernstigs het met Johnny gebeur nie. Hy het vir my altyd gelyk soos ’n kêrel wat na homself kan omsien, en om gewond te wees, selfs op verskeie plekke, is tog eintlik nie so ’n ernstige ding nie.”

Met ’n soort van morbiede glimlag wat sy verrimpelde gelaatstrekke ietwat opgehelder het, het die predikant teruggeantwoord: “Ja, jy sal probeer om my beter te laat voel. Ek het dit al oor en oor vir myself gesê. Dis nie dit nie – ek bedoel, ek gee nie soveel om as hy gewond is nie. Dis die gedagte dat ’n bloedverwant hom kon geskiet het. Dis ’n burgeroorlog hierdie mnr. Quakerley, ’n burgeroorlog.”

“Ek stem saam met jou. Maar dis ’n bietjie vêrgesog. Ek dink nie daar was enige koloniale troepe by Colenso nie – verseker nie uit ons geweste hier in die Kolonie nie. Hulle is saam met die middelste divisie, jy weet. Storam het ’n brief van Martin ontvang. Hy is by Gatacre se magte.”

“Dis nie net Johnny nie. Daar is ook ander mnr. Quakerley. Die jong Van Aard het by Magersfontein omgekom – hy’s Erasmus van Aard se neef, soos jy miskien sal weet. Erasmus se broerskind wat hom in Transvaal in die Ermelo-distrik gevestig het. Piet van Tonder het by Labuschagne se Nek gesneuwel. Hy was Jan van Tonder van Suurvlei hier anderkant, se kleinseun.”

“Ek weet. Ek het hulle name gesien, en ek het ook oom Jan gesien en met hom gesimpatiseer. Dis verskriklik. Maar dis oorlog, Uhlmann. Ons kan dit nie verhelp nie.”

“Nee, dis waarom dit so bitter is. So moeilik om te verduur. Maar ek behoort nie te kla nie. Ek het slegs een aan die anderkant. Daar is ander met meer as een.”

Andrew het sy metgesel vlugtig aangekyk. Nog nooit voorheen het hy die dominee só ontsteld gesien nie. “As hy nie hier buig nie, gaan hy breek,” het Andrew vir homself gesê. “Ek moet hom uit hierdie wanhoopsgat kry.”

~

“Wat sal ek speel?” het Uhlmann gevra terwyl hy sy vingers geluidloos oor die klawers gestreel het.

“Enigiets waarvan jy hou. Ek is nie ’n beoordelaar van musiek nie.”

Hoewel hy nie ’n musiekkenner was nie, het Andrew, toe hy die eerste note gehoor het, gevoel dat hy geluister het na iemand wat musiek amper net so liefgehad het as hy sy tuin. Dit wat die dominee gespeel het, was toonloos, maar daar was ritme en melodie – dit was iets groots met passie, warmte, kleur en vertroosting. Om daarna te luister, was soos om te luister na golwe wat teen rotse op die strand breek, na reën wat kletterval op die blare van sy groot magnoliaboom, na bye wat in sy lappie vergeet-my-nietjies op ’n somersdag zoem. Joan het gespeel en Alice ook, maar nie só nie. Die dominee se klavierspel was heel anders. Dit het hom aan blomme herinner, aan sy tuin, aan die veld teen laat September – opgehemel deur madeliefies, en perlemoenkleurig met die glans van fluweelagtige kelkiewynblommetjies, aan die berg gloeiend in die weerkaatste lig van die ondergaande son, aan die groot populierbos by Quakerskloof met die blare wat silwer van kleur verander wanneer die bries deur hulle heen waai, aan pontakwingerde wat in die herfs ryk karmosynrooi verkleur. Dit het hom ontroer, en terselfdertyd ook kalmerend gestreel – ’n skynbaar teenstrydige gevoel wat hy nie kon, en nie probeer verduidelik het nie. Hy het teruggeleun en die musiek geniet.

Die dominee het aangehou met speel. Dit het gelyk of Uhlmann totaal onbewus was van sy toehoorder, geheel en al versonke in sy musiek. Hy het geïmproviseer; van Beethoven het hy na Mozart aanbeweeg, en van Mozart na Scarlatti, met ’n verposing tussen die onderskeie temas, en soms het hy met sy kop op sy hande gerus – wat amper teen die klawers was. Andrew kon sien dat hy onpeilbaar diep aangedaan was terwyl hy gespeel het, en dat die musiek hom ook gekalmeer het. Uiteindelik het hy sy hande van die klavier af teruggetrek en slap langs sy sye laat hang.

Posted in Afrikaans


Next

Previous