Ná die Vrede van Vereeniging

Posted on September 17, 2015 by Cape Rebel

Uit Die groot Boere-ontsnapping
deur Willie Steyn

 
Toe ek by Norvalspont van die trein afklim om iets te ete te kry, ontmoet ek kommandant De Kock van Frankfort by die deur van die restaurant. Dis iemand wat ek van kindsbeen af ken. Van hom hoor ek vir die eerste keer dat my moeder twaalf maande gelede oorlede is, en dat my broers en susters in die konsentrasiekamp op Heilbron is. Dis vir my ’n groot skok, want ek het hartstogtelik na ons ontmoeting uitgesien, en my voorgestel wat ’n besonderse geleentheid dit sal wees.

In Heilbron aangekom, vind ek dat my jonger broers gelukkig werk gevind het, en sodoende in staat was om my moeder taamlik goed te versorg gedurende haar laaste dae. Ek is slegs ’n rukkie in die dorp toe die polisiehoof my laat roep en my meedeel dat hulle ’n ogie op my gaan hou en dat ek in my spoor moet trap in wat ek doen en sê. Dit oortuig my dat daar mense is wat my dophou, maar ek steur my nie daaraan nie. Dis ’n tipe sonder wie ek kan klaarkom.

Heilbron het soveel verander gedurende my afwesigheid dat die lewe hier erger geword het as wat ek kan verduur. Ná ek vir omtrent twaalf dae ter wille van my broers en susters hier gebly het, gaan ek terug Kolonie toe om ’n paar perde daar te gaan haal wat ek by vriende gelaat het. Tot my verbasing vind ek dat die militêre owerhede op hulle beslag gelê het, en op ’n openbare veiling gaan staan en verkoop het. Dit kos my ’n hele klomp geld en tyd in ’n poging om my eiendom terug te kry, maar dis alles tevergeefs. Ek kan enige tyd bewys dat dit my eiendom is, maar onder heersende omstandighede kom daar niks van nie.

Saam met generaal De Wet reis ek hierna Kaapstad toe en bly daar totdat hy en generaals Botha en De la Rey Engeland toe vertrek. Hierna bring ek twee weke in Stellenbosch en Worcester deur, voordat ek die plaas Atties in die Vanrhynsdorp-distrik besoek.

Ek kom die Dinsdagaand hier aan en op die Saterdag wat volg, gaan die hele familie dorp toe om die nagmaalsviering by te woon. ’n Aangenome seun met die naam Izak bly saam met my agter op die plaas. Ná aandete gaan Izak in die buitekamer slaap terwyl ek myself in die huis tuismaak – die oorlog is verby, en waarom sal ons nie rustig slaap nie! Ek het net ingesluimer toe ek ’n slag teen die voordeur van die huis hoor. Ek maak die deur oop en hier staan drie soldate voor my: twee op die stoep en die derde een hou die perde vas. ’n Korporaal vra waar die baas van die huis is. Ek sê vir hom hy is nie tuis nie, en nou wil hy weet wie ek is. Ek antwoord dat ek Steyn heet, waarop hy sê: “Jy is die man na wie ek soek. Ek het ’n lasbrief om jou te arresteer, en die kamer waarin jy woon te deursoek.” Ek sê vir hom dat ek bereid is om saam met hom te gaan, maar ek wil eers die lasbrief sien. Om dit te doen, wil hy ’n kers hê wat ek moet loop haal, en toe ek omdraai om dit te doen, volg die soldaat my. Maar hy is ’n vreemdeling en ek kan hom mos nie in my vriend se huis vertrou nie. Ek vra hom om buite te wag terwyl ek die kers gaan haal. Hy weier egter, en so besluit ek ons gaan liewer na Izak se kamer toe vir die kers. Die korporaal wys my die dokument met die instruksies. Dis deur die bevelvoerende offisier van Beaufort-Wes uitgevaardig en lui: “Korporaal Matterson moet vanaand agtuur met twee manne na Atties gaan, en daar ’n sekere Willie Steyn arresteer wat verlede jaar uit Ceylon ontsnap het. Verder moet daar sorg gedra word dat Steyn nie by sy bagasie kan kom voor dit behoorlik deursoek is nie. Alle dokumente in Steyn se besit moet op beslag gelê word en hy moet onmiddellik na Clanwilliam toe geneem word.”

Dis vir my vreemd wat hier aan die gang is, maar ek het nie ’n keuse nie en sal saam met hulle moet gaan. Ek trek dus aan, wys die korporaal al my dokumente en ná ’n paar minute is ons op pad Clanwilliam toe.

Ons kom op Sondagmiddag hier aan en ek word na die bevelvoerende offisier se kwartiere geneem. Hy is egter nie op kantoor nie, en ek wil weet wie in sy afwesigheid waarneem. Dit blyk een of ander luitenant te wees. Ek verduidelik aan hom dat ek die vorige nag onvriendelik en op ’n baie onbeskofte manier gearresteer is, en dat ek eers iets te ete wil hê voor ek majoor Graham, die bevelvoerende offisier, gaan spreek. Hy gee dadelik ’n soldaat opdrag om die korporaal te voorsien van blikkies vleis en beskuit vir homself, die twee soldate en die prisonier. Ek hoor die opdrag en sê nee dankie daarvoor; ek eet nie “bully beef” en klinkers nie. Ek verduidelik vir hom dat ek ook ’n offisier is, maar nie oor Hottentotte nie. Sy antwoord is dat ek nie die kos hoef te eet nie, en dis presies wat ek dan ook doen.

Intussen doen korporaal Matterson sy bes om die bevelvoerende offisier op te spoor om my sodoende ’n nag agter tralies te spaar. Vier ure later word hy deur majoor Graham gelas om my na kaptein Ridout te neem.

Toe ons by hom aankom, vra die kaptein vir korporaal Matterson om buite te wag, en hy bied my ’n sitplek aan. Op ’n vertroulike manier sê hy vir my: “Meneer Steyn, ek sal openhartig met jou praat en ek verwag dieselfde van jou.” Hy vertel my dat ek gearresteer is omdat ek verdink word dat ek probeer om ’n rebellie op die been te bring in die Vanrhynsdorp se distrik.

Ek verduidelik vir hom my kant van die saak, en ná my ontkenning van die aanklag, word ek dadelik beter behandel. Hy belowe my dat hy aan die generaal op Beaufort-Wes sal telegrafeer en sy bes sal doen om my so gou moontlik op vrye voet te kry. Intussen laat hy my toe om die nag in ’n hotel deur te bring ná ek hom my erewoord gee dat ek nie sonder verlof sal weggaan nie.

Om tienuur Maandagoggend kry ek die nuus van kaptein Ridout dat hy opdrag gekry het om my vry te laat. ’n Paar uur later stuur die kaptein sy eie rytuig om my terug te neem Atties toe. Ná twee weke hier, keer ek terug Heilbron toe om met my werk voort te gaan.

[Redakteur se nota: Ons vermoed dat Willie Steyn se “kant van die saak” aan kaptein Ridout verduidelik het dat hy nie soseer op Atties was om ’n rebellie in die Vanrhynsdorp-distrik aan te hits nie, maar om Lettie, die dogter van die eienaar van die plaas Atties, oom Izak van Zyl, te besoek. Dit sou kon verduidelik waarom Willie sonder veel bohaai vrygelaat is. Wat nie op gissings berus nie, is dat Willie en Lettie later man en vrou geword het.]

 

Posted in Afrikaans


Next

Previous