Die Olifantsriviervallei en die Dorp Clanwilliam

Posted on August 20, 2015 by Cape Rebel


Uit The Valley 
deur C Louis Leipoldt

Die Vallei

Die meeste van hulle wat in die vallei woon, leer om dit lief te hê. Met sy betowerende prag en die subtiele indruk wat dit maak op dáárdie skoonheidsin wat sluimerend in elkeen van ons lê, gryp dit die verbeelding aan. Niemand kan die invloed wat gekonsentreerde natuurlike prag uitoefen op dié wat daagliks daaraan blootgestel is, verduidelik nie, maar dit is louterend sowel as besielend, en dit verryk die gees en die gemoed. Dis ’n sterk en belangrike faktor in die lewens van diegene wat voel dat berge en riviere, met hulle eeue-oue onverstoorbaarheid, die stempel dra van kragte wat die mens se lotsbestemming in die verlede gevorm het en wat dit in die toekoms ook sal vorm.

So het die vallei vir geslagte al op sy inwoners sy stempel afgedruk. Dit het hulle onbewustelik beïnvloed. Al sou hulle daartoe gevra word, sou hulle nie in woorde kon uitdruk op watter manier dit hulle lewens gevorm het nie. Die meeste van hulle sou in werklikheid verbaas gewees het as iemand sou laat deurskemer het dat hierdie stoere bergreeks en stadig vloeiende rivier – wat gedurende die winter sy vlakkerige bodem oorstroom en in die somer kwyn tot beskeie stroompies wat deur walletjies spoelsand geskei word – enigiets met hulle lewens te doen gehad het. Nogtans het die vallei sy stempel op hulle afgedruk, onomskryfbaar iets van sy eie karakter op hulle ingeweef, hulle onafwendbaar geleer om daarvan te hou om sy kontoere te besigtig, en uiteindelik elke hoekie daarvan lief te hê, elke rots wat die wind in sy seewaartse of landwaartse vlug vang, elke heuwelhang wat in die laatsomer bruingebak in ’n versengende son lê, of gloei in pers en karmosynrooi en goud wanneer in die lente die vallei ’n oes van suring en saffraan-irisse bied.

Die Dorp

In die tagtig jaar wat die dorp al bestaan, het dit karaktereienskappe ontwikkel wat gesamentlik sy siel geopenbaar het. Dit was so ietwat van ’n slaapdorp, nie deur lomerigheid of satheid nie, maar wel met ’n gevoel van voldoening wat die gevolg was van klein probleempies wat triomfantelik te bowe gekom is. Die dorp het volwassenheid bereik soos ’n voortreflike boergonjewyn waarin tyd, klimaat en rus die sure na esters getemper het en die alkohol na aldehiede. Geen rewolusionêre omwenteling het ooit die dorp getref nie. Deur die jare, heel rustig en kalm, het die dorp sy energie toegewy aan die alledaagse plattelandse belange wat sy aandag ten volle in beslag geneem het. Op hulle het dit ’n geesdrif en ’n kragdadige energie toegespits wat elders, as dit ander kanale kon volg, groot prestasies tot gevolg sou kon hê.

Alles wat stadig volwassenheid bereik, dra die kapasiteit tot blywende bestendigheid as deel van sy wese. Die dorp was geen uitsondering op hierdie reël nie, hoewel slegs ’n paar van sy inwoners in staat sou wees om te verklaar presies watter van sy bestaande kenmerke waarskynlik bestand sou bly. Die oudmodiese air wat homself daar tuisgemaak het – die rococo-gewels van die bruingrasdakhuise, die rankende wingerdstokke wat in die somer priële in die tuine gevorm het, die ouwêreldse statigheid van houthekke en die stoepstoele met hulle gevlegte riempies – al hierdie dinge sou verdwyn voor die aanstormende getygolf van vernuwing wat jaar na jaar die ou skanse afgebreek en die huise en kuierplekke in oop ruimtes omskep het. Dit was miskien heilsamer, maar heel minder skilderagtig as voorheen. Min inwoners het besware gehad oor hierdie onvermydelike veranderinge wat so stadig gekom het dat hulle uitwerking amper nie raakgesien was nie, voordat hulle sulke blywendheid verwerf het dat hulle beskou was as onafskeidelik deel van die omgewing.

Miskien was dit die treurspel van die dorp – hy het hom berus in veranderinge wat hy nie kon verhoed nie, en in sy gelatenheid was hy nie in staat om te besef wat hy verloor het nie.

Posted in Afrikaans


Next

Previous