Oupa Bekker het ons vertel hoe hy op ’n slag teruggegaan het – baie jare later – om die dorp te besoek waar hy as ’n kind grootgeword het. Jurie Steyn het hom gevra hoeveel jaar gelede, maar hy het nie daarop geantwoord nie. Hy het voorgegee hy was te doof om Jurie Steyn se vraag te hoor.
Dit was ’n eienaardigheid van Oupa Bekker. Hy het dikwels, deur implikasie, aanspraak gemaak op ’n hoë ouderdom. Maar hy het nooit toegelaat om vasgepen te word deur te noem hoe oud hy werklik, in terme van jare, was nie. Wat dit betref, het dit gelyk asof hy homself ’n soort van beweegruimte wou gee.
Oupa Bekker het ook nie vir ons die naam gegee nie van die plekkie, waarheen hy na ’n tydsverloop van baie jare teruggegaan het om na te gaan kyk. Maar dit het nie saak gemaak nie. Aangesien dit waaroor Oupa Bekker gepraat het, vir elkeen van ons, die tonele was wat ons onthou het uit ons eie kinderdae.
“Natuurlik was daar nou ’n spoorwegstasie wat – natuurlik genoeg – nie voorheen daar was nie,” het Oupa Bekker gesê.
“Ja, en geteerde paaie, en ’n vulstasie met petrolpompe,” het Chris Welman gesê.
“En ’n vis-en-skyfie-winkel, en ’n melkkroeg met hoë stoele,” het Gysbert van Tonder gesê.
“En waar daar ’n ou tuinmuur van rooi bakstene was waaroor kanferfoelie gegroei het – ” het Jurie Steyn begin.
“Nee, nie kanferfoelie nie,” het Chris Welman hom in die rede geval, “maar ’n klimop met breë blare en blou blomme. Ek het nou vergeet wat dit genoem word.”
“En die muur is nie van rooi bakstene nie,” het Gysbert van Tonder gesê, “maar ’n afgewitte moddermuur.”
~
Hulle het almal saamgestem dat, watter gebou ook al op die plek van die ou tuinmuur opgerig was, dit in ieder geval egter iets redeliks liederlik moes gewees het.
Dié aanmerkings het Oupa Bekker taamlik gatvol gemaak.
“Wie vertel hierdie storie – ek of julle klomp?” het hy gevra.
Toe het hy aangegaan deur te sê dat, van die stasie af, daar ’n klein bultjie was voor jy by die dorp self uitgekom het.
“En daarom het jy besluit om te stap,” het Jurie Steyn gesê, “sodat jy elke oomblik kon geniet van die onthou van hoe jy as ’n kommerlose seuntjie daar oor die veld gehardloop het.”
“Ja,” het Oupa Bekker teruggekap. “Dis wat ek gedoen het. Ek het geloop. Maar op die manier wat julle aangaan, is ek nou jammer dat ek nie liewer ’n taxi gevat het nie.”
Dit het Jurie Steyn se mond vir ’n rukkie gesnoer. En so het Oupa Bekker ons vertel hoe, na hy sy tas in die spoorwegruskamer in bewaring gelos het, hy in die pad wat toe geteer was, aangestap het (soos Chris Welman gesê het dit sou wees). En op die hoogte het daar, soos altyd, ’n sagte windjie gewaai, terwyl daar in die dorp, in die leegte, die lug baie stil was.
En Oupa Bekker het gesê hy het gedink hoe vreemd dit was dat, na al die jare, dieselfde wind nog daar gewaai het. Mens dink aan wind as iets wat waai en dan verdwyn, het Oupa Bekker gesê. En tog na soveel lange jare, was die wind op die hoogte nog daar, en het dit op geen manier verander nie.
Daarop het Chris Welman gesê, dis hoe dit altyd was. Na jy ’n plek na ’n lang tyd weer besoek het, was die eerste indruk wat jy altyd gekry het, dat dit nie verander het nie. Die eerste gebou wat jy besmoontlik sou sien, sou die kerk wees. En die kerktoring sou presies gelyk het soos dit altyd was toe jy ’n kind was, behalwe dat dit nie meer so hoog was nie. Slegs daarna het jy uitgevind hoeveel die plek regtig verander het.
“En toe jy ’n kind was, selfs toe, het die toring ’n bietjie verf nodig gehad,” het Gysbert van Tonder opgemerk.
~
“Wat ek opgemerk het,” het Oupa Bekker voortgegaan terwyl hy ietwat die hel in geraak het oor al die onderbrekings, “wat ek raakgesien het toe ek die bult opgeloop het, was dat die bultjie nie so hoog was soos dit vir my as ’n kind gelyk het nie. Behalwe, toe ek ’n seuntjie was, kon ek makliker oor die bult loop. Miskien was dit die teerpad se skuld. Maar wanneer Chris Welman sê dat die kerktoring nie meer so hoog gelyk het nie, is hy heeltemal verkeerd. Want die kerktoring het hoër gelyk toe ek daar aangekom het. En die kerk het drie keer groter gelyk as wat dit voorheen was. En dit het gelyk asof dit reg aan die oorkant van die kerkplein gestaan het en nie waar dit in die ou dae gestaan het nie. En die rede hoekom dit vir my so gelyk het, was dat die kerk wel aan die anderkant van die plein herbou is. En dit was drie keer groter.”
~
Dit moes Chris Welman op sy plek gesit het. Maar dit het nie; daar het ’n vonkeling in sy oë gekom.
“Waar was die kroeg, Oupa Bekker?” het hy gevra. “Ek hoop jy’t dit darem maklik genoeg gekry. Ek meen, hulle het seker nie die kroeg ook gaan staan en skuif nie; of het hulle, waar jy dit nie kon kry nie?”
Oupa Bekker het gesê hy sou nog daarby uitkom.
Hy het eers ’n hele ruk op die kerkplein rondgeloop, op soek na die plek waar die ou kerk gestaan het.
Toe het hy op ’n ry klippe afgekom wat in die lang gras half weggesteek was, en hy het geweet dit was die fondasie van die ou kerk. Hy het op ’n klip gaan sit, het Oupa Bekker gesê, en ’n –
“En ’n hele swerm herinneringe uit jou kinderjare het na jou toe teruggekom,” het Jurie Steyn gesê.
Oupa Bekker het homself behoorlik opgeruk.
“Kyk hier,” het Oupa Bekker gesê, “ek hoop net dieselfde ding gebeur met julle, met julle almal, as wat met my gebeur het. Ek hoop regtig dat eendag, wanneer julle dit in julle koppe kry om die huise van julle kinderdae te gaan besoek, julle ook, soos ek, sal vind dat alles verander het, dis al. Dan sal julle niks daarin sien om oor te lag nie.
“En ek hoop net dat julle ook so eensaam sal voel soos ek toe ek daar van die kerkplein af weggedraai en met die dorp se hoofpad afgeloop het, en oral net vreemde gesigte gesien het, en vreemde geboue, en niemand aan wie ek kon sê – niemand wat eers sou belang stel nie – dat dit my tuisdorp was.
Maar, natuurlik, was dit nie meer die plek waar ek my kinderjare deurgebring het nie. Defnetief nie, nie ná die manier waarop hulle dit verander het nie.”
(Word vervolg)
Uit Mafeking Road
deur Herman Charles Bosman
In die hitte van die middag – het Oom Schalk Laurens gesê – was ek en Adrian Naudé bly om daar te kon rus, daar in die skadu’s van die klompie hoë bloekoms wat langs die pad gestaan het.
Ek het op die gras gesit met my kop en skouers wat teen ’n groot klip geleun het. Adrian Naudé het aanvanklik teen die boomstam met sy bene gekruis geleun. Met sy hande en saamgevlegde vingers agter sy kop en sy elmboë bak, het hy homself langsamerhand tot plat op die grond laat afgly. Vir ’n rukkie het hy nog op sy hurke gesit; toe het hy gesug en versigtig vorentoe beweeg totdat hy met sy volle lengte, met sy gesig in die gras, gelê het.
~
“Dis nie so sleg vir jou nie, neef Schalk,” het Adrian Naudé gesê terwyl hy gegaap het. “Jy het ʼn groot gerieflike klip om jou kop en skouers teen te rus. Terwyl ek hier plat op die droë gras moet lê met die skerp stingels wat my steek. Jy is altyd só, neef Schalk. Jy sorg altyd dat jy die beste vir jouself kry.”
Aan die aard van hierdie onredelike uitlating, kon ek aflei dat Adrian Naudé besig was om deur lomerigheid oorval te word.
“Jy is altyd so,” het Adrian aangegaan. “Dis een van jou lae karaktertrekke. Jy kies altyd die beste vir jouself. Daar was byvoorbeeld daardie keer in Zeerust. Dit word altyd deur die mense genoem – wanneer hulle wil praat oor hoe laag ’n man kan …”
Ek kon sien dat die hitte van die dag en sy toestand, van om half aan die slaap te wees, daartoe kon lei dat hy dinge kon sê waaroor hy later baie jammer sou wees. Ek het hom dus in die rede geval, en vir sy eie beswil hom ernstig aangespreek.
“Dis heeltemal waar, neef Adrian,” het ek gesê, “dat hierdie klip waarteen ek lê die enigste een in die omgewing is. Maar ek kan dit tog nie verhelp nie, net so min as wat ek kan verhelp dat hierdie klompie bloekoms hier is. Dis nou die snaakse ding van hierdie bloekoms, dat hulle hier langs die pad groei, terwyl die veld hier om ons kaal is. Ek wonder wie hulle geplant het. En wat hierdie klip betref, neef Adrian, dis nie my fout dat ek dit eerste raakgesien het nie. Dit was blote geluk. Maar jy kan net wanneer jy wil, jou pyp teen hom uitklop.”
Dit het gelyk of hierdie aanbod Adrian tevrede gestel het. Hy het in elk geval nie met die geskil voortgegaan nie. Ek het opgemerk dat sy asemhaling baie stadiger, dieper en reëlmatiger geword het. En sy laaste uitlating het hy so gemompel dat dit amper onverstaanbaar was. Dit was: “Dat ’n man so laag kan daal.”
Daaruit kon ek aflei dat Adrian Naudé besig was om oor iets te droom.
Dit was heel aangenaam daar, op die geel gras, langs die pad, onder die bloekoms waarvan die skaduwees stadigaan langer geword het, soos die middel van die dag namiddag geword het. Nêrens was daar enige geluid of beweging nie. Die hele wêreld het gerus, met die stilte van die stof op die verlate pad, met die vrede van die bloekoms se skaduwees. Dit het voorgekom of my metgesel se afgemete asemhaling van iewers baie vêr gekom het.
Toe het daar ’n vreemde ding plaasgevind.
Wat in die eerste plek merkwaardig is van die omstandighede wat ek nou aan jou gaan vertel, is dat jy duidelik sal kan sien hoe kort ’n droom is. En hoe baie jy binne ’n paar oomblikke kan droom. In die tweede plek, soos jy teen die einde daarvan sal agterkom, bewys hierdie storie hoe, helder oordag, ’n eienaardige ding kan plaasvind – amper reg voor jou oë, so te sê – en jy mag vir ewig daarna daaroor wonder, en jy sal dit nooit verstaan nie.
Nou ja, soos ek gesê het, met Adrian Naudé wat ’n paar voet van my af gelê en slaap het, en met alles so doodstil, was ek op die punt om ook in te sluimer, toe, in die verte – so klein dat ek amper nie die omlyning daarvan kon onderskei nie – het ek die muilkarretjie raakgesien. Dit is juis op sy terugkoms waarop ek en Adrian gewag het. Van waar ek gelê het, kon ek die pad duidelik sien tot waar dit anderkant die bult weggeraak het.
Maar terwyl ek so getuur het, het ek my ooglede swaarder voel word. Ek het aan myself gesê dat, met die felle sonskyn op die pad, dit nie vir my moontlik gaan wees om my oë veel langer oop te hou nie. Ek onthou dat ek gedink het hoe dom dit sou wees om toe aan die slaap te raak, met die muilwaentjie nog net so ’n klein entjie van ons af. Dit sou nou amper dadelik by ons halt roep, en dan sou ek net weer moes wakker word. Ek het vir myself gesê dat dit dwaas sou wees – en, natuurlik, het ek aan die slaap geraak.
Dit was terwyl ek nog vir myself gesê het dat die muilwaentjie binne ’n paar oomblikke in die skadu van die bloekoms sou stilhou, dat my oë toegeval het en ek aan die slaap geraak het. En ek het begin droom. En hieruit kan jy aflei hoe vlugtig van aard ’n droom is, en hoeveel jy binne ’n paar oomblikke kan droom.
Want ek weet presies op watter oomblik ek begin droom het. Dit was terwyl ek baie stip na die drywer van die muilwaentjie gekyk het, dat ek skielik, tot my groot verbasing, gesien het dat die drywer nie Jonas was nie, maar Adrian Naudé. En langs Adrian Naude het ’n meisie in ’n wit rok gesit. Sy het geel hare gehad wat ver oor haar skouers afgehang het, en haar naam was Francina. Die volgende oomblik was die muilwaentjie by ons, en Jonas het afgespring en die leisels aan ’n wiel vasgemaak.
Dit was dus in daardie vlietende oomblikke wat ek van Adrian Naudé en Francina gedroom het.
“Francina, dis moeilik om te glo,” het Adriaan Naude gesê terwyl hy sy kop in my rigting geknik het. “Dis moeilik om te glo dat ’n man so laag kan sink. As ek jou vertel wat in Zeerust gebeur het …”
Nou het ek my begin vervies. Francina was mos wildvreemd, en Adrian het nie die reg gehad om my op so ’n manier te beswadder nie. En des te meer, ek het ’n baie eenvoudige verduideliking gehad oor die voorval in Zeerust. Ek het gevoel dat as ek net vir ’n paar minute alleen met Francina kon wees, sou dit vir my moontlik wees om haar te oortuig dat wat in Zeerust gebeur het, my geensins tot oneer strek nie.
Maar net toe ek met Francina begin praat, het ek besef dat dit vir my onnodig was om enigiets te sê. Sy het haar hand op my arm gesit en na my gekyk; en die son was in haar hare en die skaduwees van die bloekoms was in haar oë; en op die manier wat sy vir my geglimlag het, het ek geweet dat wat Adrian ook al oor my mag sê, nooit enige verskil aan haar sou maak nie.
Buitendien was Adrian weg. Jy weet mos hoe dit gaan in ’n droom.
~
Toe het alles skielik verander. Dit was asof ek geweet het dat dit net ’n droom was en dat ek nie regtig onder die bome by Francina gestaan het nie. Dit was asof ek geweet het dat ek eintlik op die gras gelê het, met my kop en skouers wat teen die klip gerus het. Ek het selfs die muilkarretjie oor die hobbelrige deel van die pad hoor skud en stamp.
Maar die volgende oomblik was ek weer aan die droom.
Ek het gedroom dat Francina aan my verduidelik het, op ’n sagaardige en sombere toon, dat sy nie langer kon vertoef nie; en dat sy haar hand vir die laaste keer op my arm geplaas het, in ’n afskeidsgroet. Sy het gesê dat ek nie agter haar aan moes kom nie, maar dat ek my oë moes sluit wanneer sy wegdraai; want dit was vir niemand om te weet van waar sy gekom het nie.
~
Dit was ’n helder lewendige droom. Gedeeltes daarvan was werkliker as die lewe self, soos dit nogal redelik algemeen die geval is met ’n droom in die veld, ’n vlugtige droom, in die hitte van die middaguur.
Ek het Francina gevra waar sy gewoon het.
“Nie ver hiervandaan nie,” het sy gesê, “nee, nie ver nie. Maar jy mag my nie volg nie. Niemand mag saam met my teruggaan nie.”
Sy het nog steeds geglimlag, op daardie manier wat dames lank gelede geglimlag het, maar terwyl sy gepraat het, het daar ’n uitdrukking van sulke intense smart in haar oë gekom dat ek bevrees was om haar te vra waarom ek haar nie kon vergesel nie. En toe sy my gevra het om my oë te sluit, het ek nie die krag gehad om beswaar te maak nie.
En natuurlik het ek nie my oë toegemaak nie. In plaas daarvan het ek hulle oopgemaak. Net op daardie oomblik toe Jonas van die muilkarretjie afgespring het om die teuels aan die wiel vas te maak.
Adrian Naudé het op dieselfde oomblik as ek wakker geword, en Jonas gevra waarom hy so lank weg was. Ek het van die gras af opgestaan, my ledemate gestrek, en oor drome gewonder. Dit was ongelooflik hoe ek soveel in so ’n kort rukkie kon droom.
En in my hart was daar ’n vreemde weemoed omdat die droom verby was. My gees was gevul met ’n diepe gewaarwording van verlies. Ek het aan myself gesê dat dit gekheid is om sulke gevoelens oor ’n droom te hê: Selfs al was dit ’n besonder helder droom, en selfs was gedeeltes daarvan werkliker as die lewe self.
Net toe ons reg was om te vertrek, het Adrian Naudé sy pyp uitgehaal. Voordat hy dit kon stop, het hy afgebuk om die as uit te klop soos ek hom uitgenooi het om te doen voordat ons aan die slaap geraak het. Maar dit het so gebeur dat Adrian Naudé nooit sy pyp teen daardie klip uitgeklop het nie.
“Dis baie snaaks,” het ek hom hoor sê toe hy vooroor gebuk het.
Ek het opgelet wat hy aan die doen was, en gekniel om hom te help. Toe ons die ophoping van geel gras en dooie blare aan die voet van die klip weggekrap het, het ons ’n inskripsie daarop gevind, wat, hoewel verslete, tog nog leesbaar was. Die bewoording was baie eenvoudig. Slegs ’n datum in die klip uitgebeitel. En onder die datum, ’n naam: Francina Malherbe.
Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Net ná die parlement ontbind het, het die nuwe Raad van Kuratore hulle eerste vergadering gehou, en ons het dadelik skouer aan die wiel gesit. Daar was heelwat om te doen. In die Krugerwildtuin was daar tot nog toe geen paaie, brûe of ponte oor die riviere nie, en die enigste manier tot toegang was te voet of met pakesels.
Die laeveld lê oos-wes van die Swazilandse grens al langs die Komati-bosvlakte. Daarvandaan verder noord oor die Krokodil-, Sabie- en Olifantsriviere in die rigting na Tzaneen en die Soutpansberg – ’n afstand van omtrent driehonderd myl. Vanaf die suide na die noorde is dit tussen die groot eskarpement van die Drakensberg en die Lebombobergreeks, ’n breedte van ’n honderd myl. Hierdie groot gebied was nog redelik onbekend en die grootste gedeelte daarvan lê binne die deel wat nou as die Krugerwildtuin geproklameer is. Binne sy grense is daar olifante en leeus, seekoeie en kameelperde, bastergemsbokke en swartwitpense, sebras, basterhartbeeste, koedoes, wildebeeste, waterbokke en ’n grootverskeidenheid ander diere in sulke getalle dat daar seker geen ander plek in die wêreld van dieselfde grootte is wat dit kan oortref nie.
Ons mandaat as die bestuur was om ’n toevlugsoord te skep waar die vorstelike families van al die soogdiere voortaan in vrede kon leef. Ons mandaat was ook om ’n einde te bring aan die jagaktiwiteite en wildstropery, en om die reservaat aan die publiek oop te stel om die skoonheid van die natuur- en veldlewe van Suid-Afrika te leer ken en geniet.
Aan die einde van die vergadering is daar besluit dat die lede van die Raad (daar was agt van ons), in spanne van twee, ’n voorraadopname van verskillende dele van die reservaat moet neem om die aanvoorwerk te doen om paaie aan te lê, ruskampe te bou, en bowenal om die riviere van oorgange te voorsien.
Ek en Paul Selby is afgevaardig na die Krokodilrivier-area al die langs die oostelike grens van die Park. Hy was ’n Amerikaner van geboorte en ’n myningenieur van beroep, en hy het die grootste deel van sy vakansies in die laeveld deurgebring waar hy die dierelewe bestudeer het en foto’s geneem het. Dit was om hierdie redes dat dit wys was om hom te nomineer as ’n raadslid. Hy was ’n vernuftige persoon. Hy het voor my begin, want ek was vertraag, en toe ek tien dae later by die spoorweghalte naaste aan my bestemming in die reservaat, afgeklim het, het ek gevind dat hy daarin geslaag het om sy kar deur die Krokodilrivier te sleep, die eerste kar wat ooit die Wildtuin binnegegaan het. Hy was op ’n plek wat bekend gestaan het as “Dooiemansbos”, wat so genoem is nadat daar drie wildstropers, nie lank gelede nie, daar doodgeskiet is.
Hy het ’n geskikte plek ontdek waar daar ’n pont geplaas kon word en hy het alreeds konsep planne ontwerp vir hulle konstruksie. Hy het alreeds ’n pad na die Sabierivier gekarteer en ’n span werkers was besig om bome af te saag en ’n pad te bou. Dié lewe het ek geniet en ons het heelwat wild gesien. Ons kon kameelperde, swartwitpense, wildebeeste en buffels naby ons kamp sien wei, hoewel leeus nie so volop was soos hulle deesdae is nie. Ons het baie ure deurgebring deur foto’s te neem.
In daardie dae het die fotografering van wilde diere nog in sy kinderskoene gestaan. Min mense het besef hoe min aandag wilde diere aan motorkarre skenk, en dit was vir ons ’n vreemde ervaring om uit te vind dat ons tot by ’n trop waterbokke of ’n kudde wildebeeste kon ry terwyl hulle ongestoord aanhou wei het. Ons het aanvanklik gedink dat ons daarin geslaag het omdat ons moeite gedoen het om die ou Ford van voor tot agter met takke en blare te bedek waaronder ons op ons hurke agter ’n ouderwetse bokskamera gesit het, wat op ’n kruiskoppeling soos ’n masjiengeweer rondgedraai het. Ons het sederdien geleer dat hierdie voorbereidings onnodig was, want dit lyk nie asof wild enige emosie toon wanneer ’n kar verskyn nie; maar toe het ons baie moeite gedoen om die voertuig te kamoefleer, en soos ons oor miershope en stompe gerammelstamp en geskud het, het ons gedink ons was baie slim om onsself so naby genoeg te maneuvreer om ’n skoot in te kry.
Deesdae neem elke tweede toeris foto’s van leeus en ander diere vanuit hulle karre met ’n sakpas-kodakkamera, maar Selby was die pionier. Daar is wyd kennis geneem van sy studies en ek, as die assistant wat hom bygestaan het, het ook in die aandag gedeel.
Daar was ’n trop buffels in Dooiemansebos waarvan die leier horings gehad het wat gereken was as ’n wêreldrekord. Ons het baie tyd deurgebring om te probeer om hom af te neem, maar hy het altyd die ruier skaduwees opgesoek.
Jare lank reeds het wildstropers vanuit die aangrensende Portuguese landsgebied oor die grens gekom om die wild te skiet. Oor die algemeen was hulle basters in bevel van ’n bende Shangaans. Hulle gebruik was om met pakesels te kom en, na hulle alles geskiet het wat hulle kon, het hulle die vleis opgelaai en verkas na die anderkant van die grens. ’n Soort van sporadiese guerrilla-oorlog was aan die orde van die dag, en daar was dikwels ongevalle aan beide kante.
Ek en Selby het die ontwikkeling van hierdie gedeelte van die Wildtuin beplan, en ek voel dat ons harde werk nie vrugteloos was nie. In elk geval deesdae ry besoekers gemaklik in en uit met hulle karre om Onder-Sabie en Skukuza te besoek. Dit neem hulle net ’n paar uur op die paaie wat ons gebou het, dieselfde paaie wat ons ’n maand geneem het om deur die digte bos oop te kap.
Dit was my eerste ekspedisie as Lid van die Raad, maar ek sou later op baie soortgelyke reise gaan. Mettertyd het ek meer wysheid van die bosveld opgedoen. Ek het geleer hoe om spoor te sny, en ek het selfs ’n soort van leeujagter geword.
Ek het al hoe meer verknog geraak aan die laeveld.
Uit A Cask of Jerepigo
deur Herman Charles Bosman
Jy kan slegs ’n universiteit leer ken as jy daar as ’n student klas geloop het. Anders kan jy slegs as ’n besoeker daar rondslenter, maar natuurlik tel dit nie.
Ek het dikwels as ’n besoeker by Oxford rondgeloop, maar ek was nie in staat om te veel van die plek te wete te kom nie, behalwe dat dit gerieflik redelik naby Morris-Cowley se motorwerkplaas geleë was. Ek het gedink dat dit nogal nuttig was, want as ’n vakleerling in die motorindustrie agtergekom het dat die taak om koperskroewe van verskeie ingewikkelde dimensies op ’n draaibank te voort te bring, te verhewe was bo die perke van sy intelligensie, kon hy in plaas daarvan maklik oorskakel na die universiteit toe, en iets maklik soos Latyn en Grieks leer.
Elke keer wat ek teruggekeer het na ’n besoek aan Oxford, het ek bly gevoel dat ek nie daarheen gegaan het as ’n student nie. Omdat ek tevrede was dat dit nooit vir my moontlik sou gewees het om enigiets daar te leer nie. Ek sou te beïndruk gewees het met die geboue, (wat op geen manier is wat ek verwag het hoe hulle sou wees nie), wat laag op die aarde was, met mure wat ’n ruwe, growwe voorkoms het – opregte Middeleeuse bakstene bedek met ’n vergeelde Middeleeuse pleister.
~
Ek het al menige imposante geboue gesien, swaar bekors met geskiedenis, dik van stof en tradisie, heilig gemaak deur die intimiteit van hulle assosiasie met die nasie se lotgevalle, deur die eeue stille getuies van onheil en rampe en prag en praal - so ’n gebou, katedraal, abdy, paleis en mausoleum het ek al gesien en ek was glad nie beïndruk nie.
Maar omdat die mure van Oxford nie uittoring nie, maar liewer die aarde insink, amper, en omdat, daarmee saam, wat eerbiedwaardig was oor die messelary wat van die Middeleeue af in stand gebly het, daar ook ’n warmte en rykheid van die lewe was wat die verloop van tyd nie kon verkil en demp nie, het ek besef dat as ek daarheen as ’n student sou gegaan het, dit vir my nooit moontlik sou gewees het om enige werk in dié plek te kon doen. Ek sou na Oxford toe gegaan het en te veel jare in die lediger soort droomwêreld deurgebring het.
~
Dan is daar Wits. Vroeër dae was ek ’n student aan die Universiteit van die Witwatersrand toe jy nog by die geboue by Milner Park bewus was van die reuk van nat verf en beton wat besig was om droog te word. Daar was iets in my agtienjarige siel wat teen al hierdie nuwighede in opstand gekom het. Toe ek onlangs daarheen gegaan het om ’n toneelstuk in die Hoofsaal by te woon, was ek steeds ontstel oor die gevoel dat Wits nog nie enige van die uiterlike karakteristieke van statigheid en hoflikheid bekom het nie. Die meisie wat die program aan my verkoop het was lomp en taktloos.
Toe ek ’n student aan Wits was, het ek ’n minagting gehad vir beide die geboue en die professors. Ek kon myself nie vereenselwig met die gedagte dat enige ware uitstekende man van Europa homself sover sou kry nie om aansoek te doen vir so ’n obskure en – soos ek toe gedink het – kultuurlose aanstelling as professor in ’n Suid-Afrikaanse myndorp-universiteit waar die gewapende betonblaaie aan die binnekant nog steeds klam was.
Onnodig om te sê, my sienswyse in die opsig het sederdien ’n diepgaande verandering ondergaan. Ek het sommige van die dinge gesien wat uitstaande mense verplig was om te doen. Ek sluit myself hierby in. En ek beleef slegs ’n gevoel van nederige dankbaarheid teenoor die mense van oorsee wat met die aanvang en opening van die Universiteit van die Witwatersrand hierheen gekom het. Hulle het saam met hulle handjiesvol kultuur gebring, en dit sluit die Nabye Ooste, Alexandrië en die Renaissance in – daardie ryk Ou-Wêreldse filosofieë – en in hulle inspirasie kan die siel van die mens ’n plek vind om te volhard en om voort te bestaan.
~
Dis vreemd hoe die ganse verlede soos nou die dag lyk. Voordat hulle die hek by die hoofingang geïnstalleer het, kon mens die hele kampus deur ronddwaal met die wete dat jy in die gronde van die universiteit was. Ek onthou op ’n geleentheid het ek na ’n departement gesoek wat nie in die hoofgebou gevestig was nie. Ek het verseker by die verkeerde plek uitgekom. Want ek het die man in beheer gevra: “Is dit die Filosofie Departement van die universiteit?” En hy het gesê: “Nee, dis die vul- afdeling van die Lion-brouery.”
Slegs toe het ek oral daardie opgestapelde bottels opgemerk, en besef dat selfs nie eers ’n filosofie-klas deur soveel bottels sou kon kom nie.
~
Dit hang alles natuurlik daarvan af na wat jou siening is van hoe ’n universiteit behoort te wees. As jy glo dat ’n universiteit ’n instelling is waarheen jy gaan om tegniese kennis te verwerf, dan maak dit nie eintlik saak hoe die geboue en die omgewing daar uitsien nie. Andersyds, as jy glo dat jy universiteit toe gaan met die oogmerk om iets met jou te laat gebeur wat jou nutteloos sal maak vir die vereistes van ’n praktiese lewenswyse, maar ’n verdieping en verryking van die gees in die proses sal veroorsaak – en beide beskouings van die funksie van ’n universiteit is legitiem – dan is die atmosfeer van die plek waarin jy ’n aantal jare sal deurbring, hoogs belangrik.
Daar moet hoë, ou bome wees, en deur hulle blare moet die sonstrale op die wandelpaadjies val. Daar moet kronkelende lanings wees en onverwagte vistas en weggesteekte hoekies. Daar moet verouderde en krom gange wees en bejaarde en krom professors. Al hierdie voordele – of nadele – sal sonder twyfel mettertyd by die Universiteit van die Witwatersrand toeneem. Want terwyl daar twee denkrigtings is oor die vraag of ’n universiteit wat ’n nie-tegniese instelling vir studie is, vrotsig moet wees – en ek kan hoogs eerbiedwaardige deskundiges in dié verband aanhaal – word dit eenparig toegegee dat dit muwwerig en beskimmeld moet wees.
Die Universiteit van die Witwatersrand sal, met die geslagte mans en dames wat deur die ingange beweeg, deur die eeue getemper en ryper word, en ek hoop sy toekoms sal van geluk kan getuig, dat die duursame geestelike waardes behoue sal bly, en dat die onverganklike adel van die gees sal voortleef wanneer die goudmyne op die Rand uitgewerk en vergete is, wanneer die meule wat die erts vergruis deur ’n langdurige stilte vervang word.
En al daardie onbehoorlikhede van die Universiteit van die Witwatersrand wat my as ’n student so gepla het, sal ook aan die verlede wat vergeet is, behoort.
Jy het die jubaplant genoem (het Oom Schalk Lourens gesê). O, ja, almal in die Marico ken die jubaplant. Dit groei daar hoog bo in die kranse, en hulle sê dat jy om middernag, met volmaan, een van sy klein rooi bessies, moet pluk. Dan, as jy ’n jongman is, en jy angstig-gretig is vir ’n meisie om op jou verlief te raak, moet jy net die sap van die jubabessie in haar koffie uitdruk.
Hulle sê dat, na die meisie die jubasap gedrink het, sy allerhande dinge begin vergeet. Sy vergeet dat jou voorkop ietwat te laag lê, en dat jou ore uitsteek, en dat jou mond te groot is. Sy vergeet selfs dat sy, slegs ’n week voor verlede week, vir jou gesê het dat sy nie met jou sou trou nie al was jy die enigste man in die Transvaal.
Al wat sy weet is dat die man na wie sy so passievol oor haar leë koppie koffie kyk, merkwaardig aantreklik geword het. Jy kan hieruit aflei dat die plant ’n kragtige uitwerking het. Jy sal verstaan veral as jy dink aan die voorkoms van party van die mans in die Marico.
~
Een aand was ek in die veld aan die jag met ’n skietlamp wat aan my hoed vasgemaak was. Jy weet van daardie soort van jag: in die gloed van die lamplig kan jy net die oë sien van die ding waarna jy mik, en jy kry drie maande as jy gevang word. Hulle het dit onwettig gemaak om met ’n skietlamp te jag sedert daardie keer toe ’n polisieman op die grens van Bechuanaland, op hierdie manier in die voet geskiet is, só, toe hy op die spoor van beessmokkelaars was.
Die magistraat op Zeerust, wat onbekend was met die manier van doen van die beessmokkelaars, se bevinding was dat die skietery ’n ongeluk was. Hierdie uitspraak het almal tevrede gestel behalwe die polisieman, wie se voet nog steeds in verbande was toe hy die hof ingekom het. Maar die manne in die Volksraad, van wie ’n paar self beessmokkelaars was, het beter as die magistraat geweet hoe dit gebeur het dat die polisieman bokhael in die sagte deel van sy voet gekry het, en dienooreenkomstig het hulle hierdie nuwe wet ingebring.
Daarom het ek daardie aand maar katvoet in die kranse geloop. Ek het dikwels my hand voor my uitgestoot en het soms doodstil tussen die bome gestaan om ’n ruk te wag – om seker te maak dat ek nie agtervolg is nie. In gewone omstandighede sou daar niks gewees het om voor bang te wees nie, maar ’n paar dae tevore is daar opgemerk hoe twee polisiemanne die bos ingeloop en verdwyn het. Dit het gelyk of hulle nog jong polisiemanne was, gretig om bevorder te word – maar nie geweet het nie dat dit pasliker en meer betaamd vir ’n polisieman is om liewer ’n eerlike boer se mampoer te drink as om hom te arresteer omdat hy met ’n skietlamp gejag het.
En so het ek aangestap terwyl ek die lamp van kant tot kant gedraai het, toe ek skielik ’n honderd treë voor my, in die volle lig van die lamp, ’n paar oë gesien het. En wat ek toe ook sien, net bokant die oë, is ’n polisieman se kakie helmet. Ek het skielik onthou dat ’n maanlignag, soos daardie een, nie juis geskik was om ’n bok te vind nie.
Daarom het ek huis toe gegaan.
Ek het toe ook die kortste pad gekies, wat oor die kant van die krans was – die styl kant – en op my pad ondertoe het ek aan ’n verskeidenheid takke, boomwortels, kliprante en graspolle gegryp. Later, aan die voet van die krans, toe ek bygekom het en regop kon sit, was daar daardie polisieman wat oor my gebuk het.
“Oom Schalk,” het hy gesê, “ek het gewonder of ek jou lamp kan leen.”
Ek het opgekyk. Dit was Gideon van der Merwe, ’n jong polisieman wat vir ’n rukkie al by Derdepoort gestasioneer was. Ek het hom al ’n paar keer ontmoet en gevind dat hy ’n heel aangename kêrel was.
“Jy kan my lamp kry,” het ek geantwoord, “maar jy moet baie versigtig wees. Dis erger vir ’n polisieman wat die wet verbreek en gevang word as vir ’n gewone man.”
Gideon het sy kop geskud.
“Nee, ek wil nie met die lamp gaan skiet nie,” het hy gesê, “ek wil …”.
En toe het hy stilgebly.
Hy het senuweeagtig gelag.
“Dit klink verspot om dit te sê, Oom Schalk,” het hy gesê, “maar miskien sal jy verstaan. Ek het gekom om na ’n jubaplant te soek. Ek het dit nodig vir my studies. Vir my derdeklas-sersantseksamen. Dit sal nou-nou middernag wees, en ek kan nêrens een van daardie plante kry nie.”
Ek het Gideon jammer gekry. Dit het my voorgekom dat hy nooit ’n goeie polisieman sou wees nie. As hy nie ʼn jubaplant kon vind nie, en daar is duisende van hulle in die kranse, sou dit vir hom baie moeiliker wees om die spoor van ’n beessmokkelaar te vind.
Ek het toe my lamp vir hom gegee en vir hom verduidelik waar hy moes gaan soek. Gideon het my bedank en weggestap.
’n Halfuur later was hy terug.
Hy het ’n rooi bessie uit die sak van sy polisiebaadjie gehaal en my dit gewys.
Omdat ek bevrees was dat hy my nog verdere leuens sou vertel oor waarom hy daardie jubabessie vir sy studies nodig gehad het, het ek eerste gepraat.
“Lettie Cordier?” het ek gevra.
Gideon het sy kop geknik. Hy was tog baie skaam, en aan die begin wou hy nie veel praat nie. Maar ek het al lankal geraai dat Gideon van der Merwe nie verniet so baie by Krisjan Cordier se huis gekuier het, net om na Krisjan se lewensverhaal te luister nie.
~
Die volgende oggend het ek oorgery na Krisjan Cordier se plaas toe om hom aan die blikkie skaapdip te herinner wat hy my van die vorige dipseisoen af skuld. Toe Lettie inkom met die koffie, het ek so terloops iets oor Gideon van der Merwe genoem.
Ek het egter nie juis veel geluister na Krisjan se opmerkings nie. In plaas daarvan, het ek Lettie baie mooi dopgehou toe ek Gideon se naam genoem het. Sy het nie te veel verklap nie, maar ek is skerp wat dié dinge betref, en ek het genoeg gesien. Haar wange het roserooi geword. Die lig in haar oë het verhelder.
Op my pad terug het ek Lettie raakgeloop. Sy het onder ’n doringboom gestaan. Met haar bruin arms en haar dierbare, soete gesig en volle boesem, was sy prentjiemooi. Daar was geen twyfel daaraan nie dat Lettie Cordier ’n voortreflike vrou vir enige man sou uitmaak. Dit was nie moeilik om Gideon se gevoelens oor haar te verstaan nie.
“Lettie,” het ek gevra, “het jy hom lief?”
“Ek het hom lief, oom Schalk,” het sy geantwoord.
Dit was so eenvoudig soos dit.
~
Toe ek Gideon ’n tydjie later weer gesien het, was hy in ekstase, soos ek verwag het hy sou wees.
“En toe, het die jubaplant toe gewerk?” het ek gevra.
“Dit was wonderlik, Oom Schalk,” het Gideon geantwoord, “en die lekkerste ding was dat Lettie se pa toe ook nie daar was toe ek die jubasap in haar koffie gesit het nie. Lettie het hom, net voor dit, ’n boodskap gebring dat hulle hom in die mielielande nodig gehad het.
“En het die jubasap toe gedoen soos daarvan gesê word?”
“Oom sal verbaas wees hoe vinnig dit gewerk het,” het hy gesê. “Lettie het net een mondjie vol koffie gedrink, en toe spring sy sommer bo op my skoot.”
Maar toe het Gideon van der Merwe vir my op só ’n manier geknipoog wat my laat glo het dat hy darem nie so erg onnosel is nie.
“Ek was sommer baie seker dat die jubasap sou werk, Oom Schalk,” het hy gesê, “na Lettie se pa vir my vertel het dat Oom daardie oggend daar gekuier het.”
Uit A Bekkersdal Marathon
deur Herman Charles Bosman
“Die moeilikheid,” het At Naudé gesê, “om die jongste nuus van die oorlog oor die draadloos te kry, is dat Klaas Smit en sy Boeremusiekorkes reg daarna Die Nooi van Potchefstroom begin speel. Verstaan nou, dis nie dat ek nie van daardie liedjie hou nie.”
Ons sê toe almal dat dit nie was asof ons nie ook daarvan gehou het nie. Gysbert van Tonder het die wysie begin neurie. Johnny Coen het ingeval deur die woorde saggies te sing – “Vertel my neef, vertel my oom, is dit die pad na Potchefstroom?” Na ’n rukkie het ons almal gesing. Natuurlik nie baie hard nie. Want Jurie Steyn was bewus van die feit dat sy poskantoor ’n openbare plek was, en enige ongewone soort van optrede daarin het hom lelik laat frons. Ons onthou steeds die manier waarop Jurie Steyn met Chris Welman gepraat het die slag toe Chris sy vrou se velskoene in die poskantoor reggemaak het, en hy die hoek van die toonbank as ’n lees gebruik het.
Dis om daardie rede dat ons ons stemme nie te veel verhef het nie toe ons Die Nooi van Potchefstroom gesing het. Maar dit was ’n aansteeklike deuntjie en Jurie Steyn het later ook so ’n bietjie saamgesing.
Natuurlik nie dat hy homself op enige manier te buite gegaan het nie. Hy het op ’n stemmige en waardige manier gesing, wat jou laat voel het dat hy dit nog ver sou bring. Jy het gevoel dat selfs die posmeester-generaal in Pretoria (op ’n geleentheid wanneer ’n lid van die publiek na hom toe kom om oor ’n geregistreerde brief wat verlore geraak het, te kla) – wel, selfs die posmeester-generaal sou nie kon terugsit in sy stoel en Die Nooi van Potchefstroom op so ’n verhewe manier gesing het soos Jurie Steyn dit presies op daardie oomblik gedoen het nie.
Voordat die singery tot bedaring gekom het, het Oupa Bekker gesê dat hy Potchefstroom geken het toe hy maar nog net ’n kind was. Dit was lank gelede in die ou dae, het Oupa Bekker gesê, en die fondasie aan die anderkant van die kerk op Kerkplein het nog glad nie so ver ingesak soos vandag nie. Hy het gesê dat hy kan onthou toe daar vir die eerste keer ’n skeur in die kerk was. Dit was tussen die Doppers en die Hervormdes, het hy gesê. En dit was nogal ’n ernstige skeuring. En omdat hy toe nog jonk was, het hy gedink dit het te doene gehad met die manier waarop die steenwerk aan die muur naaste aan die pad gedurig weer van bo tot onder gepleister moes word, soos die fondasie aanhoudend gesak het.
“Ek onthou hoe ek aan my pa daardie deel van die kerk se muur uitgewys het,” het Oupa Bekker vervat. “En ek het my pa gevra of die Doppers dit gedoen het. En my pa het gesê, wel, tot by daardie oomblik het hy nog nooit so daaraan gedink nie. Maar nietemin sou hy nie te verbaas gewees het as hulle dit gedoen het nie. Dis nie dat iemand ooit die Doppers daar op die sypaadjie sien kniel het, besig om die bakstene met ʼn koevoet los te wikkel nie, het my pa bygevoeg. Wat hulle ookal gedoen het, was altyd onder die dekmantel van duisternis.”
At Naudé het toe weer begin praat oor die nuus van die oorlog in Korea, wat hy oor die draadloos gehoor het. Maar omdat daar tussenin oor soveel ander dinge gepraat is, moes hy weer reg van vooraf begin verduidelik.
“Dis die manier wat die nuus deur Klaas Smit en sy orkes bietjie oordonder word,” het At Naudé gesê. “Jy luister na wat die aankondiger verduidelik oor watter deel van die land generaal MacArthur nou aan die oorlogvoer is – en dis moeilik om dit alles te verstaan, want dit lyk vir my dat generaal MacArthur soms self nie mooi weet in watter deel van die land hy is nie – en dan, skielik, terwyl jy nog besig is om te luister, val Klaas Smit se orkes in met Die Nooi van Potchefstroom. Dit maak alles baie moeilik, jy weet. Hulle gee generaal MacArthur glad nie ’n kans nie. Dit lyk of Die Nooi van Potchefstroom hom selfs erger bedreig as wat die kommuniste besig is om te doen – en die hemele weet, dit lyk erg genoeg.”
Hierdie keer het ons nie weer begin sing nie. Ons het darem die liedjie deurgesing tot aan sy einde, en selfs al was dit nie vir Jurie Steyn se gevoelente nie, het ons self wel deeglik geweet wat die regte manier was om ons in die poskantoor te gedra. Jy kan nie dieselfde deuntjie twee keer in die poskantoor sing, net asof dit die driemaandelikse vergadering van die mielieraad is nie. Daarom was ons bly toe Oupa Bekker weer begin praat.
“Neem nou hierdie liedjie,” het Oupa Bekker gesê. “Soos julle wel weet, onthou ek die vroeë dae in Potchefstroom. Dis daardie dae van lank gelede waarvan ek praat. Maar ek sou nooit kon dink dat ’n digter eendag sou opdaag en ’n lied oor die plek sou opmaak nie. Natuurlik was Potchefstroom die eerste hoofstad van Transvaal. Selfs lank voordat daar eers aan Pretoria gedink was. En daar is ’n ou wilgerboom in Potchefstroom waarvan ek nie die mate weet van hoeveel voet dit om die stam is waar dit in die grond gaan nie. Net ’n klein rukkie gelede nog was dit die gemete mate, bedoel ek. Ek praat van die laaste keer wat ek in Potchefstroom was. Maar ek kon my nooit voorstel dat enigiemand ’n gedig oor die dorp sou skryf nie. Dit lyk na so ’n moeilike naam om versies oor te skryf. Maar ek veronderstel dis vandag baie anders. Mense is soveel slimmer, dink ek.”
Oupa Bekker kon baie langer so aangegaan het, miskien dalk, as dit nie was dat Jurie Steyn se vrou op daardie tydstip met die koffie daar ingekom het nie. Gevolglik moes Oupa Bekker regop en fatsoenlik sit en die suiker netjies in sy koppie roer.
“Ek het daardie liedjie gehoor wat julle nou net gesing het,” het Jurie Steyn se vrou ons toegevoeg. “Ek het gedink dit was - nou wel, ek het daarvan gehou. Ek het die woorde nie mooi gehoor nie, nog al.”
Niemand het geantwoord nie. Ons het geweet dat dit skoolvakansie was, natuurlik. En ons het geweet dat jong Vermaak, die skoolonderwyser, vir die vakansie na sy ouers in Potchefstroom gegaan het. Omdat ons geweet het dat Potchefstroom jong Vermaak se tuisdorp was, het ons stilgebly. Daar was nie ’n manier om te weet wat Jurie Steyn se reaksie mog wees nie.
Oupa Bekker het egter met sy gepraat voortgegaan.
“Nietemin, ek wil graag weet hoeveel voet die omtrek van daardie wilgerboom se stam vandag is,” het Oupa Bekker gesê. “En hulle sal hom ook nooit afkap nie. Daardie wilgerboom is reg aan die kant van die begraafplaas. Jy voel amper lus om te sê dis binne in die begraafplaas. En daarom sal hulle dit nie afkap nie. Maar wat my verstand te bowe gaan is dat iemand so wraggies ’n liedjie oor Potchefstroom kon skryf. Ek het nooit kon dink dat dit moontlik sou wees nie.”
Die sug wat Oupa Bekker geslaak het, het geklink of dit van baie vêr gekom het.
Van êrens af wat baie verder weg was as die rusbank waarop hy gesit het. Toe het ons verstaan waarom die wilgerboom in Potchefstroom so baie vir hom beteken het.
Gevolglik het Gysbert van Tonder weer met die refrein van die lied aan die sing gegaan, en ons almal het spontaan ingeval – ongeag wat Jurie Steyn daaroor mog sê. “En in my droom,” het ons gesing, “is die vaalhaarnooi by die wilgerboom.”
Uit Die groot Boere-ontsnapping
deur Willie Steyn
Ná dié drie mislukkings besluit ons dat die noodlot teen ons inspanning is om ’n tonnel te grawe, en dat ons ’n ander manier moet bedink om te ontsnap. Maar voor ek verder gaan, laat my die kamp beskryf waarin ons ons bevind ter wille van diegene wat onbekend is met prisonierskampe.
’n Doringdraadheining van vyf voet hoog is om die hele kamp, en ’n entjie verder weg is daar ’n omheining van gegalvaniseerde yster van sewe voet hoog, met ’n ruimte van ongeveer sestien treë wat tussen die twee heinings oopgelaat is. Die oop gedeelte word “die doodsruimte” genoem, en enige krygsgevangene wat daar gesien word, loop die gevaar om onmiddellik, sonder enige waarskuwing, doodgeskiet te word. Daar bestaan ’n derde omheining behalwe die twee eersgenoemdes, om die publiek op ’n afstand te hou. Die brandwagte staan op hoë terrasse of platforms wat die hoogte van die buitenste heining is, en snags word die hele kamp verlig deur ’n elektriese lig wat alles soos daglig verlig.
Om oor die heining te klim, is prakties onmoontlik en daarom gaan ek, Tielman Roos en Piet Botha wat besonder goeie vriende is, op ’n ander manier te werk. Ná ek die kamp vir ’n paar dae sorgvuldig deurgekyk het, merk ek eendag op dat die grond binne die omheining op een plek laer is as die ysteromheining wat bo-oor loop, en dat die opening met klippe opgevul is. Dit is presies tussen die twee brandwagte in die ruimte van die dood. Om daar gesien te word, beteken net een ding – die dood sonder twyfel.
Ons besluit dat dit aan die lot oorgelaat sal word wie van ons die gevaarlike onderneming sal uitvoer om die stene of liewer, die klippe te verwyder sodat daar ’n gat kan wees waardeur ons kan kruip.
Die lot van op Roos.
Hy kruip deur die doringdraad-omheining en gelukkig vir hom, gaan hy onopgemerk oor die oop ruimte, en ná ’n ruk wat vir ons soos ’n ewigheid lyk, kruip hy terug en vertel ons dat hy die klippe sal kan verwyder, maar dat daar ook twee drade langs die opening loop. Hulle sal eers geknip moet word voor ons kan deurgaan.
Roos het sy deel gedoen en dis nou my en Botha se beurt om lootjies te trek.
Dié keer val die lot op my.
Wat nou eerste gedoen moet word, is om ’n draadtang in die hande te kry en die drade te knip. Ek ken iemand wat ’n knyptang die kamp ingesmokkel het, en gaan nou dadelik na hom toe om dit te leen, maar hy raai wat my voorneme is en weier om dit vir my te gee.
Dis egter my geluk om ’n vyl van ’n juwelier te leen en daarmee spring ek aan die werk.
Ek kruip deur die doringdraad en beweeg stadig na die ysteromheining terwyl ek die brandwagte die hele tyd in die oog hou, en begin dan om die drade deur te vyl.
Die werk vorder maar baie stadig, en ek is steeds verbaas hoe dit moontlik is dat die brandwagte my nie hoor nie, want die tweede draad wat styf gespan was, breek met so ’n harde slag dat dit duidelik op ’n afstand van vyftig treë gehoor kan word.
Ons plan is om die taak so teen agtuur se kant te voltooi en om dan te ontsnap en met die mense op straat te meng, en naby hulle te loop sodat, al sien die wagte ons, hulle nie op ons sal skiet nie weens die nabyheid van die ander mense.
Ongelukkig neem dit egter so lank om die drade met ’n stomp vyl deur te vyl dat dit reeds ná elfuur is voor ek in staat is om terug te kruip om my vriende te vertel dat die opening gereed is.
Dit is nou doodstil op die straat en geen geluid kan gehoor word nie behalwe die geluide van die brandwagte se voetstappe op die uitkyktorings hoër op. As ons nou moet gaan, sal ons ongetwyfeld gesien word. Omdat daar niemand op straat is nie, besluit ons om tot die volgende aand te wag. Die volgende dag is Sondag en die hele lange eindelose dag is ons oë gevestig op die opening wat ons gemaak het om seker te wees dat dit nie raakgesien word nie.
Eindelik breek die aand aan en weereens word dit aan die lot oorgelaat om te besluit wie die eerste kans gaan kry om te ontsnap. Dit is weer Roos, en ná ek en Botha sy hand geskud het, kruip hy deur die draad en begin om oor die gevreesde ruimte van die dood te kruip.
Ek en Botha hou wag. Die brandwagte is op hulle hoë uitkykposte met hulle gewere voortdurend in gereedheid. Jy kan jou voorstel hoe ons met opgehoue asem hulle elke beweging dophou om te sien of hulle Roos dalk opmerk. Natuurlik hou Roos ook al hulle bewegings dop.
Skielik draai een van die wagte sy kop asof hy iets gehoor het en kyk reguit in Roos se rigting. Ek en Botha wag om alarm te maak sodra die wag dalk sy geweer oplig. Dit lyk egter of die wag net diep in gedagte is, want hy wys geen teken dat hy van Roos bewus is nie. Roos sien dit ook en kruip dadelik terug na ons toe. “Het julle die brandwag gesien?” vra hy.
Niks kan hom oortuig dat die soldaat hom nie gesien het nie, en maar slegs gewag het om ’n goeie skoot op hom te kry sodra hy buite die heining aanland, soos dit reeds met twee ander gevangenes gebeur het. Ná ons ’n rukkie beraadslaag het, besluit ons om te probeer om saam te ontsnap.
Hierdie keer is ek die eerste om deur die draad te kruip en ek is net mooi halfpad toe Botha my terugtrek en sê: “Pasop, daar’s hulle.”
’n Offisier met vyf of ses manskappe kom hier op ons afgestap en so word ons op heterdaad betrap.
Hy skryf ons name neer en stap daarna die doderuimte binne om persoonlik die gat wat ons gemaak het, te inspekteer. Sy verbasing is blykbaar groot, want ons hoor hom uitroep: “Liewe hemel! Hoe het hulle dit reggekry? Dit gat is groot genoeg om ’n wa deur te laat.”
’n Ekstra wag word by die gat geplaas en ons word na ons tent teruggestuur. Dáár word ons van alle kante af deur ons medegevangenes verwyt dat ons hulle in diskrediet bring en net veroorsaak dat hulle lewens nog verder versuur sal word.
Hulle is almal bang vir die seereis wat natuurlik saamgaan met die deportasie na Ceylon of Bermuda.
Ons is weer deur een van ons eie mense verraai, en dit was ons laaste kans om uit die Groenpuntkamp te ontsnap.
Die volgende oggend, 15 November 1900, kry ons die berig om ons gereed te hou om tweeuur aan boord van die Catalonia te gaan.