Die Liefdesdoepa

Posted on March 18, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
Uit Mafeking Road 
deur Herman Charles Bosman

Jy het die jubaplant genoem (het Oom Schalk Lourens gesê). O, ja, almal in die Marico ken die jubaplant. Dit groei daar hoog bo in die kranse, en hulle sê dat jy om middernag, met volmaan, een van sy klein rooi bessies, moet pluk. Dan, as jy ’n jongman is, en jy angstig-gretig is vir ’n meisie om op jou verlief te raak, moet jy net die sap van die jubabessie in haar koffie uitdruk.

Hulle sê dat, na die meisie die jubasap gedrink het, sy allerhande dinge begin vergeet. Sy vergeet dat jou voorkop ietwat te laag lê, en dat jou ore uitsteek, en dat jou mond te groot is. Sy vergeet selfs dat sy, slegs ’n week voor verlede week, vir jou gesê het dat sy nie met jou sou trou nie al was jy die enigste man in die Transvaal.

Al wat sy weet is dat die man na wie sy so passievol oor haar leë koppie koffie kyk, merkwaardig aantreklik geword het. Jy kan hieruit aflei dat die plant ’n kragtige uitwerking het. Jy sal verstaan veral as jy dink aan die voorkoms van party van die mans in die Marico.

 

~

 

Een aand was ek in die veld aan die jag met ’n skietlamp wat aan my hoed vasgemaak was. Jy weet van daardie soort van jag: in die gloed van die lamplig kan jy net die oë sien van die ding waarna jy mik, en jy kry drie maande as jy gevang word. Hulle het dit onwettig gemaak om met ’n skietlamp te jag sedert daardie keer toe ’n polisieman op die grens van Bechuanaland, op hierdie manier in die voet geskiet is, só, toe hy op die spoor van beessmokkelaars was.

Die magistraat op Zeerust, wat onbekend was met die manier van doen van die beessmokkelaars, se bevinding was dat die skietery ’n ongeluk was. Hierdie uitspraak het almal tevrede gestel behalwe die polisieman, wie se voet nog steeds in verbande was toe hy die hof ingekom het. Maar die manne in die Volksraad, van wie ’n paar self beessmokkelaars was, het beter as die magistraat geweet hoe dit gebeur het dat die polisieman bokhael in die sagte deel van sy voet gekry het, en dienooreenkomstig het hulle hierdie nuwe wet ingebring.

Daarom het ek daardie aand maar katvoet in die kranse geloop. Ek het dikwels my hand voor my uitgestoot en het soms doodstil tussen die bome gestaan om ’n ruk te wag – om seker te maak dat ek nie agtervolg is nie. In gewone omstandighede sou daar niks gewees het om voor bang te wees nie, maar ’n paar dae tevore is daar opgemerk hoe twee polisiemanne die bos ingeloop en verdwyn het. Dit het gelyk of hulle nog jong polisiemanne was, gretig om bevorder te word – maar nie geweet het nie dat dit pasliker en meer betaamd vir ’n polisieman is om liewer ’n eerlike boer se mampoer te drink as om hom te arresteer omdat hy met ’n skietlamp gejag het.

En so het ek aangestap terwyl ek die lamp van kant tot kant gedraai het, toe ek skielik ’n honderd treë voor my, in die volle lig van die lamp, ’n paar oë gesien het. En wat ek toe ook sien, net bokant die oë, is ’n polisieman se kakie helmet. Ek het skielik onthou dat ’n maanlignag, soos daardie een, nie juis geskik was om ’n bok te vind nie.

Daarom het ek huis toe gegaan.

Ek het toe ook die kortste pad gekies, wat oor die kant van die krans was – die styl kant – en op my pad ondertoe het ek aan ’n verskeidenheid takke, boomwortels, kliprante en graspolle gegryp. Later, aan die voet van die krans, toe ek bygekom het en regop kon sit, was daar daardie polisieman wat oor my gebuk het.

“Oom Schalk,” het hy gesê, “ek het gewonder of ek jou lamp kan leen.”

Ek het opgekyk. Dit was Gideon van der Merwe, ’n jong polisieman wat vir ’n rukkie al by Derdepoort gestasioneer was. Ek het hom al ’n paar keer ontmoet en gevind dat hy ’n heel aangename kêrel was.

“Jy kan my lamp kry,” het ek geantwoord, “maar jy moet baie versigtig wees. Dis erger vir ’n polisieman wat die wet verbreek en gevang word as vir ’n gewone man.”

Gideon het sy kop geskud.

“Nee, ek wil nie met die lamp gaan skiet nie,” het hy gesê, “ek wil …”.

En toe het hy stilgebly.

Hy het senuweeagtig gelag.

“Dit klink verspot om dit te sê, Oom Schalk,” het hy gesê, “maar miskien sal jy verstaan. Ek het gekom om na ’n jubaplant te soek. Ek het dit nodig vir my studies. Vir my derdeklas-sersantseksamen. Dit sal nou-nou middernag wees, en ek kan nêrens een van daardie plante kry nie.”

Ek het Gideon jammer gekry. Dit het my voorgekom dat hy nooit ’n goeie polisieman sou wees nie. As hy nie ʼn jubaplant kon vind nie, en daar is duisende van hulle in die kranse, sou dit vir hom baie moeiliker wees om die spoor van ’n beessmokkelaar te vind.

Ek het toe my lamp vir hom gegee en vir hom verduidelik waar hy moes gaan soek. Gideon het my bedank en weggestap.

’n Halfuur later was hy terug.

Hy het ’n rooi bessie uit die sak van sy polisiebaadjie gehaal en my dit gewys.

Omdat ek bevrees was dat hy my nog verdere leuens sou vertel oor waarom hy daardie jubabessie vir sy studies nodig gehad het, het ek eerste gepraat.

“Lettie Cordier?” het ek gevra.

Gideon het sy kop geknik. Hy was tog baie skaam, en aan die begin wou hy nie veel praat nie. Maar ek het al lankal geraai dat Gideon van der Merwe nie verniet so baie by Krisjan Cordier se huis gekuier het, net om na Krisjan se lewensverhaal te luister nie.

 

~

 

Die volgende oggend het ek oorgery na Krisjan Cordier se plaas toe om hom aan die blikkie skaapdip te herinner wat hy my van die vorige dipseisoen af skuld. Toe Lettie inkom met die koffie, het ek so terloops iets oor Gideon van der Merwe genoem.

Ek het egter nie juis veel geluister na Krisjan se opmerkings nie. In plaas daarvan, het ek Lettie baie mooi dopgehou toe ek Gideon se naam genoem het. Sy het nie te veel verklap nie, maar ek is skerp wat dié dinge betref, en ek het genoeg gesien. Haar wange het roserooi geword. Die lig in haar oë het verhelder.

Op my pad terug het ek Lettie raakgeloop. Sy het onder ’n doringboom gestaan. Met haar bruin arms en haar dierbare, soete gesig en volle boesem, was sy prentjiemooi. Daar was geen twyfel daaraan nie dat Lettie Cordier ’n voortreflike vrou vir enige man sou uitmaak. Dit was nie moeilik om Gideon se gevoelens oor haar te verstaan nie.

“Lettie,” het ek gevra, “het jy hom lief?”

“Ek het hom lief, oom Schalk,” het sy geantwoord.

Dit was so eenvoudig soos dit.

 

~

 

Toe ek Gideon ’n tydjie later weer gesien het, was hy in ekstase, soos ek verwag het hy sou wees.

“En toe, het die jubaplant toe gewerk?” het ek gevra.

“Dit was wonderlik, Oom Schalk,” het Gideon geantwoord, “en die lekkerste ding was dat Lettie se pa toe ook nie daar was toe ek die jubasap in haar koffie gesit het nie. Lettie het hom, net voor dit, ’n boodskap gebring dat hulle hom in die mielielande nodig gehad het.

“En het die jubasap toe gedoen soos daarvan gesê word?”

“Oom sal verbaas wees hoe vinnig dit gewerk het,” het hy gesê. “Lettie het net een mondjie vol koffie gedrink, en toe spring sy sommer bo op my skoot.”

Maar toe het Gideon van der Merwe vir my op só ’n manier geknipoog wat my laat glo het dat hy darem nie so erg onnosel is nie.

“Ek was sommer baie seker dat die jubasap sou werk, Oom Schalk,” het hy gesê, “na Lettie se pa vir my vertel het dat Oom daardie oggend daar gekuier het.”

Posted in Afrikaans


Next

Previous