Tuisdorp – Deel I

Posted on April 14, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast

Uit Selected Stories
deur Herman Charles Bosman

Oupa Bekker het ons vertel hoe hy op ’n slag teruggegaan het – baie jare later – om die dorp te besoek waar hy as ’n kind grootgeword het. Jurie Steyn het hom gevra hoeveel jaar gelede, maar hy het nie daarop geantwoord nie. Hy het voorgegee hy was te doof om Jurie Steyn se vraag te hoor.

Dit was ’n eienaardigheid van Oupa Bekker. Hy het dikwels, deur implikasie, aanspraak gemaak op ’n hoë ouderdom. Maar hy het nooit toegelaat om vasgepen te word deur te noem hoe oud hy werklik, in terme van jare, was nie. Wat dit betref, het dit gelyk asof hy homself ’n soort van beweegruimte wou gee.

Oupa Bekker het ook nie vir ons die naam gegee nie van die plekkie, waarheen hy na ’n tydsverloop van baie jare teruggegaan het om na te gaan kyk. Maar dit het nie saak gemaak nie. Aangesien dit waaroor Oupa Bekker gepraat het, vir elkeen van ons, die tonele was wat ons onthou het uit ons eie kinderdae.

“Natuurlik was daar nou ’n spoorwegstasie wat – natuurlik genoeg – nie voorheen daar was nie,” het Oupa Bekker gesê.

“Ja, en geteerde paaie, en ’n vulstasie met petrolpompe,” het Chris Welman gesê.

“En ’n vis-en-skyfie-winkel, en ’n melkkroeg met hoë stoele,” het Gysbert van Tonder gesê.

“En waar daar ’n ou tuinmuur van rooi bakstene was waaroor kanferfoelie gegroei het – ” het Jurie Steyn begin.

“Nee, nie kanferfoelie nie,” het Chris Welman hom in die rede geval, “maar ’n klimop met breë blare en blou blomme. Ek het nou vergeet wat dit genoem word.”

“En die muur is nie van rooi bakstene nie,” het Gysbert van Tonder gesê, “maar ’n afgewitte moddermuur.”

~

Hulle het almal saamgestem dat, watter gebou ook al op die plek van die ou tuinmuur opgerig was, dit in ieder geval egter iets redeliks liederlik moes gewees het.

Dié aanmerkings het Oupa Bekker taamlik gatvol gemaak.

“Wie vertel hierdie storie – ek of julle klomp?” het hy gevra.

Toe het hy aangegaan deur te sê dat, van die stasie af, daar ’n klein bultjie was voor jy by die dorp self uitgekom het.

“En daarom het jy besluit om te stap,” het Jurie Steyn gesê, “sodat jy elke oomblik kon geniet van die onthou van hoe jy as ’n kommerlose seuntjie daar oor die veld gehardloop het.”

“Ja,” het Oupa Bekker teruggekap. “Dis wat ek gedoen het. Ek het geloop. Maar op die manier wat julle aangaan, is ek nou jammer dat ek nie liewer ’n taxi gevat het nie.”

Dit het Jurie Steyn se mond vir ’n rukkie gesnoer. En so het Oupa Bekker ons vertel hoe, na hy sy tas in die spoorwegruskamer in bewaring gelos het, hy in die pad wat toe geteer was, aangestap het (soos Chris Welman gesê het dit sou wees). En op die hoogte het daar, soos altyd, ’n sagte windjie gewaai, terwyl daar in die dorp, in die leegte, die lug baie stil was.

En Oupa Bekker het gesê hy het gedink hoe vreemd dit was dat, na al die jare, dieselfde wind nog daar gewaai het. Mens dink aan wind as iets wat waai en dan verdwyn, het Oupa Bekker gesê. En tog na soveel lange jare, was die wind op die hoogte nog daar, en het dit op geen manier verander nie.

Daarop het Chris Welman gesê, dis hoe dit altyd was. Na jy ’n plek na ’n lang tyd weer besoek het, was die eerste indruk wat jy altyd gekry het, dat dit nie verander het nie. Die eerste gebou wat jy besmoontlik sou sien, sou die kerk wees. En die kerktoring sou presies gelyk het soos dit altyd was toe jy ’n kind was, behalwe dat dit nie meer so hoog was nie. Slegs daarna het jy uitgevind hoeveel die plek regtig verander het.

“En toe jy ’n kind was, selfs toe, het die toring ’n bietjie verf nodig gehad,” het Gysbert van Tonder opgemerk.

~

“Wat ek opgemerk het,” het Oupa Bekker voortgegaan terwyl hy ietwat die hel in geraak het oor al die onderbrekings, “wat ek raakgesien het toe ek die bult opgeloop het, was dat die bultjie nie so hoog was soos dit vir my as ’n kind gelyk het nie. Behalwe, toe ek ’n seuntjie was, kon ek makliker oor die bult loop. Miskien was dit die teerpad se skuld. Maar wanneer Chris Welman sê dat die kerktoring nie meer so hoog gelyk het nie, is hy heeltemal verkeerd. Want die kerktoring het hoër gelyk toe ek daar aangekom het. En die kerk het drie keer groter gelyk as wat dit voorheen was. En dit het gelyk asof dit reg aan die oorkant van die kerkplein gestaan het en nie waar dit in die ou dae gestaan het nie. En die rede hoekom dit vir my so gelyk het, was dat die kerk wel aan die anderkant van die plein herbou is. En dit was drie keer groter.”

~

Dit moes Chris Welman op sy plek gesit het. Maar dit het nie; daar het ’n vonkeling in sy oë gekom.

“Waar was die kroeg, Oupa Bekker?” het hy gevra. “Ek hoop jy’t dit darem maklik genoeg gekry. Ek meen, hulle het seker nie die kroeg ook gaan staan en skuif nie; of het hulle, waar jy dit nie kon kry nie?”

Oupa Bekker het gesê hy sou nog daarby uitkom.

Hy het eers ’n hele ruk op die kerkplein rondgeloop, op soek na die plek waar die ou kerk gestaan het.

Toe het hy op ’n ry klippe afgekom wat in die lang gras half weggesteek was, en hy het geweet dit was die fondasie van die ou kerk. Hy het op ’n klip gaan sit, het Oupa Bekker gesê, en ’n –

“En ’n hele swerm herinneringe uit jou kinderjare het na jou toe teruggekom,” het Jurie Steyn gesê.

Oupa Bekker het homself behoorlik opgeruk.

“Kyk hier,” het Oupa Bekker gesê, “ek hoop net dieselfde ding gebeur met julle, met julle almal, as wat met my gebeur het. Ek hoop regtig dat eendag, wanneer julle dit in julle koppe kry om die huise van julle kinderdae te gaan besoek, julle ook, soos ek, sal vind dat alles verander het, dis al. Dan sal julle niks daarin sien om oor te lag nie.

“En ek hoop net dat julle ook so eensaam sal voel soos ek toe ek daar van die kerkplein af weggedraai en met die dorp se hoofpad afgeloop het, en oral net vreemde gesigte gesien het, en vreemde geboue, en niemand aan wie ek kon sê – niemand wat eers sou belang stel nie – dat dit my tuisdorp was.

Maar, natuurlik, was dit nie meer die plek waar ek my kinderjare deurgebring het nie. Defnetief nie, nie ná die manier waarop hulle dit verander het nie.”

(Word vervolg)

Posted in Afrikaans


Next

Previous