Uit A Bekkersdal Marathon
deur Herman Charles Bosman
“Die moeilikheid,” het At Naudé gesê, “om die jongste nuus van die oorlog oor die draadloos te kry, is dat Klaas Smit en sy Boeremusiekorkes reg daarna Die Nooi van Potchefstroom begin speel. Verstaan nou, dis nie dat ek nie van daardie liedjie hou nie.”
Ons sê toe almal dat dit nie was asof ons nie ook daarvan gehou het nie. Gysbert van Tonder het die wysie begin neurie. Johnny Coen het ingeval deur die woorde saggies te sing – “Vertel my neef, vertel my oom, is dit die pad na Potchefstroom?” Na ’n rukkie het ons almal gesing. Natuurlik nie baie hard nie. Want Jurie Steyn was bewus van die feit dat sy poskantoor ’n openbare plek was, en enige ongewone soort van optrede daarin het hom lelik laat frons. Ons onthou steeds die manier waarop Jurie Steyn met Chris Welman gepraat het die slag toe Chris sy vrou se velskoene in die poskantoor reggemaak het, en hy die hoek van die toonbank as ’n lees gebruik het.
Dis om daardie rede dat ons ons stemme nie te veel verhef het nie toe ons Die Nooi van Potchefstroom gesing het. Maar dit was ’n aansteeklike deuntjie en Jurie Steyn het later ook so ’n bietjie saamgesing.
Natuurlik nie dat hy homself op enige manier te buite gegaan het nie. Hy het op ’n stemmige en waardige manier gesing, wat jou laat voel het dat hy dit nog ver sou bring. Jy het gevoel dat selfs die posmeester-generaal in Pretoria (op ’n geleentheid wanneer ’n lid van die publiek na hom toe kom om oor ’n geregistreerde brief wat verlore geraak het, te kla) – wel, selfs die posmeester-generaal sou nie kon terugsit in sy stoel en Die Nooi van Potchefstroom op so ’n verhewe manier gesing het soos Jurie Steyn dit presies op daardie oomblik gedoen het nie.
Voordat die singery tot bedaring gekom het, het Oupa Bekker gesê dat hy Potchefstroom geken het toe hy maar nog net ’n kind was. Dit was lank gelede in die ou dae, het Oupa Bekker gesê, en die fondasie aan die anderkant van die kerk op Kerkplein het nog glad nie so ver ingesak soos vandag nie. Hy het gesê dat hy kan onthou toe daar vir die eerste keer ’n skeur in die kerk was. Dit was tussen die Doppers en die Hervormdes, het hy gesê. En dit was nogal ’n ernstige skeuring. En omdat hy toe nog jonk was, het hy gedink dit het te doene gehad met die manier waarop die steenwerk aan die muur naaste aan die pad gedurig weer van bo tot onder gepleister moes word, soos die fondasie aanhoudend gesak het.
“Ek onthou hoe ek aan my pa daardie deel van die kerk se muur uitgewys het,” het Oupa Bekker vervat. “En ek het my pa gevra of die Doppers dit gedoen het. En my pa het gesê, wel, tot by daardie oomblik het hy nog nooit so daaraan gedink nie. Maar nietemin sou hy nie te verbaas gewees het as hulle dit gedoen het nie. Dis nie dat iemand ooit die Doppers daar op die sypaadjie sien kniel het, besig om die bakstene met ʼn koevoet los te wikkel nie, het my pa bygevoeg. Wat hulle ookal gedoen het, was altyd onder die dekmantel van duisternis.”
At Naudé het toe weer begin praat oor die nuus van die oorlog in Korea, wat hy oor die draadloos gehoor het. Maar omdat daar tussenin oor soveel ander dinge gepraat is, moes hy weer reg van vooraf begin verduidelik.
“Dis die manier wat die nuus deur Klaas Smit en sy orkes bietjie oordonder word,” het At Naudé gesê. “Jy luister na wat die aankondiger verduidelik oor watter deel van die land generaal MacArthur nou aan die oorlogvoer is – en dis moeilik om dit alles te verstaan, want dit lyk vir my dat generaal MacArthur soms self nie mooi weet in watter deel van die land hy is nie – en dan, skielik, terwyl jy nog besig is om te luister, val Klaas Smit se orkes in met Die Nooi van Potchefstroom. Dit maak alles baie moeilik, jy weet. Hulle gee generaal MacArthur glad nie ’n kans nie. Dit lyk of Die Nooi van Potchefstroom hom selfs erger bedreig as wat die kommuniste besig is om te doen – en die hemele weet, dit lyk erg genoeg.”
Hierdie keer het ons nie weer begin sing nie. Ons het darem die liedjie deurgesing tot aan sy einde, en selfs al was dit nie vir Jurie Steyn se gevoelente nie, het ons self wel deeglik geweet wat die regte manier was om ons in die poskantoor te gedra. Jy kan nie dieselfde deuntjie twee keer in die poskantoor sing, net asof dit die driemaandelikse vergadering van die mielieraad is nie. Daarom was ons bly toe Oupa Bekker weer begin praat.
“Neem nou hierdie liedjie,” het Oupa Bekker gesê. “Soos julle wel weet, onthou ek die vroeë dae in Potchefstroom. Dis daardie dae van lank gelede waarvan ek praat. Maar ek sou nooit kon dink dat ’n digter eendag sou opdaag en ’n lied oor die plek sou opmaak nie. Natuurlik was Potchefstroom die eerste hoofstad van Transvaal. Selfs lank voordat daar eers aan Pretoria gedink was. En daar is ’n ou wilgerboom in Potchefstroom waarvan ek nie die mate weet van hoeveel voet dit om die stam is waar dit in die grond gaan nie. Net ’n klein rukkie gelede nog was dit die gemete mate, bedoel ek. Ek praat van die laaste keer wat ek in Potchefstroom was. Maar ek kon my nooit voorstel dat enigiemand ’n gedig oor die dorp sou skryf nie. Dit lyk na so ’n moeilike naam om versies oor te skryf. Maar ek veronderstel dis vandag baie anders. Mense is soveel slimmer, dink ek.”
Oupa Bekker kon baie langer so aangegaan het, miskien dalk, as dit nie was dat Jurie Steyn se vrou op daardie tydstip met die koffie daar ingekom het nie. Gevolglik moes Oupa Bekker regop en fatsoenlik sit en die suiker netjies in sy koppie roer.
“Ek het daardie liedjie gehoor wat julle nou net gesing het,” het Jurie Steyn se vrou ons toegevoeg. “Ek het gedink dit was - nou wel, ek het daarvan gehou. Ek het die woorde nie mooi gehoor nie, nog al.”
Niemand het geantwoord nie. Ons het geweet dat dit skoolvakansie was, natuurlik. En ons het geweet dat jong Vermaak, die skoolonderwyser, vir die vakansie na sy ouers in Potchefstroom gegaan het. Omdat ons geweet het dat Potchefstroom jong Vermaak se tuisdorp was, het ons stilgebly. Daar was nie ’n manier om te weet wat Jurie Steyn se reaksie mog wees nie.
Oupa Bekker het egter met sy gepraat voortgegaan.
“Nietemin, ek wil graag weet hoeveel voet die omtrek van daardie wilgerboom se stam vandag is,” het Oupa Bekker gesê. “En hulle sal hom ook nooit afkap nie. Daardie wilgerboom is reg aan die kant van die begraafplaas. Jy voel amper lus om te sê dis binne in die begraafplaas. En daarom sal hulle dit nie afkap nie. Maar wat my verstand te bowe gaan is dat iemand so wraggies ’n liedjie oor Potchefstroom kon skryf. Ek het nooit kon dink dat dit moontlik sou wees nie.”
Die sug wat Oupa Bekker geslaak het, het geklink of dit van baie vêr gekom het.
Van êrens af wat baie verder weg was as die rusbank waarop hy gesit het. Toe het ons verstaan waarom die wilgerboom in Potchefstroom so baie vir hom beteken het.
Gevolglik het Gysbert van Tonder weer met die refrein van die lied aan die sing gegaan, en ons almal het spontaan ingeval – ongeag wat Jurie Steyn daaroor mog sê. “En in my droom,” het ons gesing, “is die vaalhaarnooi by die wilgerboom.”
Next →
← Previous