Droom in die Skadu van die Bloekomboom

Posted on April 13, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast

Uit Mafeking Road 
deur Herman Charles Bosman

In die hitte van die middag – het Oom Schalk Laurens gesê – was ek en Adrian Naudé bly om daar te kon rus, daar in die skadu’s van die klompie hoë bloekoms wat langs die pad gestaan het.

Ek het op die gras gesit met my kop en skouers wat teen ’n groot klip geleun het. Adrian Naudé het aanvanklik teen die boomstam met sy bene gekruis geleun. Met sy hande en saamgevlegde vingers agter sy kop en sy elmboë bak, het hy homself langsamerhand tot plat op die grond laat afgly. Vir ’n rukkie het hy nog op sy hurke gesit; toe het hy gesug en versigtig vorentoe beweeg totdat hy met sy volle lengte, met sy gesig in die gras, gelê het.

~

“Dis nie so sleg vir jou nie, neef Schalk,” het Adrian Naudé gesê terwyl hy gegaap het. “Jy het ʼn groot gerieflike klip om jou kop en skouers teen te rus. Terwyl ek hier plat op die droë gras moet lê met die skerp stingels wat my steek. Jy is altyd só, neef Schalk. Jy sorg altyd dat jy die beste vir jouself kry.”

Aan die aard van hierdie onredelike uitlating, kon ek aflei dat Adrian Naudé besig was om deur lomerigheid oorval te word.

“Jy is altyd so,” het Adrian aangegaan. “Dis een van jou lae karaktertrekke. Jy kies altyd die beste vir jouself. Daar was byvoorbeeld daardie keer in Zeerust. Dit word altyd deur die mense genoem – wanneer hulle wil praat oor hoe laag ’n man kan …”

Ek kon sien dat die hitte van die dag en sy toestand, van om half aan die slaap te wees, daartoe kon lei dat hy dinge kon sê waaroor hy later baie jammer sou wees. Ek het hom dus in die rede geval, en vir sy eie beswil hom ernstig aangespreek.

“Dis heeltemal waar, neef Adrian,” het ek gesê, “dat hierdie klip waarteen ek lê die enigste een in die omgewing is. Maar ek kan dit tog nie verhelp nie, net so min as wat ek kan verhelp dat hierdie klompie bloekoms hier is. Dis nou die snaakse ding van hierdie bloekoms, dat hulle hier langs die pad groei, terwyl die veld hier om ons kaal is. Ek wonder wie hulle geplant het. En wat hierdie klip betref, neef Adrian, dis nie my fout dat ek dit eerste raakgesien het nie. Dit was blote geluk. Maar jy kan net wanneer jy wil, jou pyp teen hom uitklop.”

Dit het gelyk of hierdie aanbod Adrian tevrede gestel het. Hy het in elk geval nie met die geskil voortgegaan nie. Ek het opgemerk dat sy asemhaling baie stadiger, dieper en reëlmatiger geword het. En sy laaste uitlating het hy so gemompel dat dit amper onverstaanbaar was. Dit was: “Dat ’n man so laag kan daal.”

Daaruit kon ek aflei dat Adrian Naudé besig was om oor iets te droom.

Dit was heel aangenaam daar, op die geel gras, langs die pad, onder die bloekoms waarvan die skaduwees stadigaan langer geword het, soos die middel van die dag namiddag geword het. Nêrens was daar enige geluid of beweging nie. Die hele wêreld het gerus, met die stilte van die stof op die verlate pad, met die vrede van die bloekoms se skaduwees. Dit het voorgekom of my metgesel se afgemete asemhaling van iewers baie vêr gekom het.

Toe het daar ’n vreemde ding plaasgevind.

Wat in die eerste plek merkwaardig is van die omstandighede wat ek nou aan jou gaan vertel, is dat jy duidelik sal kan sien hoe kort ’n droom is. En hoe baie jy binne ’n paar oomblikke kan droom. In die tweede plek, soos jy teen die einde daarvan sal agterkom, bewys hierdie storie hoe, helder oordag, ’n eienaardige ding kan plaasvind – amper reg voor jou oë, so te sê – en jy mag vir ewig daarna daaroor wonder, en jy sal dit nooit verstaan nie.

Nou ja, soos ek gesê het, met Adrian Naudé wat ’n paar voet van my af gelê en slaap het, en met alles so doodstil, was ek op die punt om ook in te sluimer, toe, in die verte – so klein dat ek amper nie die omlyning daarvan kon onderskei nie – het ek die muilkarretjie raakgesien. Dit is juis op sy terugkoms waarop ek en Adrian gewag het. Van waar ek gelê het, kon ek die pad duidelik sien tot waar dit anderkant die bult weggeraak het.

Maar terwyl ek so getuur het, het ek my ooglede swaarder voel word. Ek het aan myself gesê dat, met die felle sonskyn op die pad, dit nie vir my moontlik gaan wees om my oë veel langer oop te hou nie. Ek onthou dat ek gedink het hoe dom dit sou wees om toe aan die slaap te raak, met die muilwaentjie nog net so ’n klein entjie van ons af. Dit sou nou amper dadelik by ons halt roep, en dan sou ek net weer moes wakker word. Ek het vir myself gesê dat dit dwaas sou wees – en, natuurlik, het ek aan die slaap geraak.

Dit was terwyl ek nog vir myself gesê het dat die muilwaentjie binne ’n paar oomblikke in die skadu van die bloekoms sou stilhou, dat my oë toegeval het en ek aan die slaap geraak het. En ek het begin droom. En hieruit kan jy aflei hoe vlugtig van aard ’n droom is, en hoeveel jy binne ’n paar oomblikke kan droom.

Want ek weet presies op watter oomblik ek begin droom het. Dit was terwyl ek baie stip na die drywer van die muilwaentjie gekyk het, dat ek skielik, tot my groot verbasing, gesien het dat die drywer nie Jonas was nie, maar Adrian Naudé. En langs Adrian Naude het ’n meisie in ’n wit rok gesit. Sy het geel hare gehad wat ver oor haar skouers afgehang het, en haar naam was Francina. Die volgende oomblik was die muilwaentjie by ons, en Jonas het afgespring en die leisels aan ’n wiel vasgemaak.

Dit was dus in daardie vlietende oomblikke wat ek van Adrian Naudé en Francina gedroom het.

“Francina, dis moeilik om te glo,” het Adriaan Naude gesê terwyl hy sy kop in my rigting geknik het. “Dis moeilik om te glo dat ’n man so laag kan sink. As ek jou vertel wat in Zeerust gebeur het …”

Nou het ek my begin vervies. Francina was mos wildvreemd, en Adrian het nie die reg gehad om my op so ’n manier te beswadder nie. En des te meer, ek het ’n baie eenvoudige verduideliking gehad oor die voorval in Zeerust. Ek het gevoel dat as ek net vir ’n paar minute alleen met Francina kon wees, sou dit vir my moontlik wees om haar te oortuig dat wat in Zeerust gebeur het, my geensins tot oneer strek nie.

Maar net toe ek met Francina begin praat, het ek besef dat dit vir my onnodig was om enigiets te sê. Sy het haar hand op my arm gesit en na my gekyk; en die son was in haar hare en die skaduwees van die bloekoms was in haar oë; en op die manier wat sy vir my geglimlag het, het ek geweet dat wat Adrian ook al oor my mag sê, nooit enige verskil aan haar sou maak nie.

Buitendien was Adrian weg. Jy weet mos hoe dit gaan in ’n droom.

~

Toe het alles skielik verander. Dit was asof ek geweet het dat dit net ’n droom was en dat ek nie regtig onder die bome by Francina gestaan het nie. Dit was asof ek geweet het dat ek eintlik op die gras gelê het, met my kop en skouers wat teen die klip gerus het. Ek het selfs die muilkarretjie oor die hobbelrige deel van die pad hoor skud en stamp.

Maar die volgende oomblik was ek weer aan die droom.

Ek het gedroom dat Francina aan my verduidelik het, op ’n sagaardige en sombere toon, dat sy nie langer kon vertoef nie; en dat sy haar hand vir die laaste keer op my arm geplaas het, in ’n afskeidsgroet. Sy het gesê dat ek nie agter haar aan moes kom nie, maar dat ek my oë moes sluit wanneer sy wegdraai; want dit was vir niemand om te weet van waar sy gekom het nie.

~

Dit was ’n helder lewendige droom. Gedeeltes daarvan was werkliker as die lewe self, soos dit nogal redelik algemeen die geval is met ’n droom in die veld, ’n vlugtige droom, in die hitte van die middaguur.

Ek het Francina gevra waar sy gewoon het.

“Nie ver hiervandaan nie,” het sy gesê, “nee, nie ver nie. Maar jy mag my nie volg nie. Niemand mag saam met my teruggaan nie.”

Sy het nog steeds geglimlag, op daardie manier wat dames lank gelede geglimlag het, maar terwyl sy gepraat het, het daar ’n uitdrukking van sulke intense smart in haar oë gekom dat ek bevrees was om haar te vra waarom ek haar nie kon vergesel nie. En toe sy my gevra het om my oë te sluit, het ek nie die krag gehad om beswaar te maak nie.

En natuurlik het ek nie my oë toegemaak nie. In plaas daarvan het ek hulle oopgemaak. Net op daardie oomblik toe Jonas van die muilkarretjie afgespring het om die teuels aan die wiel vas te maak.

Adrian Naudé het op dieselfde oomblik as ek wakker geword, en Jonas gevra waarom hy so lank weg was. Ek het van die gras af opgestaan, my ledemate gestrek, en oor drome gewonder. Dit was ongelooflik hoe ek soveel in so ’n kort rukkie kon droom.

En in my hart was daar ’n vreemde weemoed omdat die droom verby was. My gees was gevul met ’n diepe gewaarwording van verlies. Ek het aan myself gesê dat dit gekheid is om sulke gevoelens oor ’n droom te hê: Selfs al was dit ’n besonder helder droom, en selfs was gedeeltes daarvan werkliker as die lewe self.

Net toe ons reg was om te vertrek, het Adrian Naudé sy pyp uitgehaal. Voordat hy dit kon stop, het hy afgebuk om die as uit te klop soos ek hom uitgenooi het om te doen voordat ons aan die slaap geraak het. Maar dit het so gebeur dat Adrian Naudé nooit sy pyp teen daardie klip uitgeklop het nie.

“Dis baie snaaks,” het ek hom hoor sê toe hy vooroor gebuk het.

Ek het opgelet wat hy aan die doen was, en gekniel om hom te help. Toe ons die ophoping van geel gras en dooie blare aan die voet van die klip weggekrap het, het ons ’n inskripsie daarop gevind, wat, hoewel verslete, tog nog leesbaar was. Die bewoording was baie eenvoudig. Slegs ’n datum in die klip uitgebeitel. En onder die datum, ’n naam: Francina Malherbe.

Posted in Afrikaans


Next

Previous