Stories

’n Leër Dapper en Vasberade Manne

Posted on July 21, 2016 by Cape Rebel

Uit Escape from Culloden
deur Die Chevalier de Johnstone

By geleenthede waar alles jou met angs vervul, behoort vrees opsy gesit te word. Wanneer ons omring word deur gevare, behoort geen onheil ons te pla nie. Ten spyte van ons beste beplanning mag ons ondernemings te kort skiet, maar die standvastigheid wat ons in teëspoed aan die dag lê, is die edelmoedigste sieraad van deugsaamheid. Dít is die wyse waarop ’n weergalose voortvarende prins met slegs sewe manne homself behoort te gedra het, toe hy voet aan wal in Skotland gesit het.

Ons was in beheer van die passe tussen Ruthven en Inverness. Dit het ons genoeg tyd gegee om ons volgelinge bymekaar te kon kry. Die Macpherson van Clunie-clan, wat uit vyfhonderd besonder dapper manne bestaan het, sowel as ander Hooglanders wat nie daarin geslaag het om Inverness voor die veldslag te bereik nie, het by ons by Ruthven aangesluit. Ons getalle het elke oomblik aangegroei en ek was vas oortuig daarvan dat in die bestek van agt dae, ons ’n magtiger leër as ooit tevore sou kon hê. ’n Mag wat in staat sou gewees het om die stand van sake reg te stel en om wraak te neem op die barbaarse wreedhede van die hertog van Cumberland. Maar die prins was hartvogtig en vasberade in sy besluit om van sy onderneming af te sien, en om dit op ’n roemlose wyse prys te gee. En dit terwyl die aandag van die hele Europa op die snelle vordering van hierdie krygstog gevestig was.

Ons skeiding by Ruthven was waarlik hartverskeurend. Ons het mekaar ’n ewigdurende vaarwel toegeroep. Niemand kon weet of die skavot sy lot sou wees nie. Met hartroerende en smartlike geweeklaag het die Hooglanders uiting gegee aan hulle verdriet. Trane het by hulle wange afgeloop toe hulle daaraan gedink het dat hulle land daarná aan die diskresie van die hertog van Cumberland oorgelaat is; en dat dit op die punt was om geplunder te word terwyl hulle en hulle kinders niks anders as slawe sou wees nie, sonder enige toevlug in ’n staat van onomkeerbare ellende.

~

Só het prins Charles sy onderneming met sewe manne begin, en toe daarvan afgesien op ’n tydstip toe hy as leier aan die hoof van seweduisend kon gestaan het. Hy het verkies om stoksielalleen in die berge rond te dwaal, die hele tyd blootgestel aan Engelse troepe, wat deur die hertog van Cumberland uitgestuur is om hom te agtervolg, te vang, en tereg te stel. Die troepe was kort op sy hakke; soms het hulle baie naby hom verbygegaan, maar hy het hulle wonderbaarlik ontwyk. Hy het geweier om die leier van ’n leër dapper en vasberade manne te word. Hulle lojaliteit en geneentheid was bo enige twyfel en hulle almal sou hulle laaste druppel bloed stort om hom te beskerm. Dit was inderdaad toe hulle enigste manier om die skavot vry te spring, en om hulle families te red van die bose en barbaarse soldate.

Die Hooglande is vol kranse en passe deur die berge, waar slegs een persoon op ’n slag deur kan gaan. ’n Duisend manne sou vir jare hulself teen ’n honderdduisend kon verdedig. Groot getalle beeste het daar floreer en ’n honderdduisend van hulle was jaarliks aan die Engelse verkoop, dus sou daar geen tekort aan kos gewees het nie. Maar dit sou net as ’n laaste toevlug nodig gewees het om ’n guerrilla-oorlog te voer, want ek was moreel oortuig daarvan dat in die bestek van tien of twaalf dae ons in ’n posisie sou gewees het om terug te keer na Inverness toe om daar teen die hertog van Cumberland op gelyke voet te kon veg. Wanneer ek terugdink aan dié gebeurtenisse, is ek altyd verstom dat lord George Murray en die ander clan-hoofmanne nie besluit het nie om hulle alleen in hierdie soort guerrilla-oorlog in die berge, sonder hulp te verweer. Want soos ’n bekende skrywer eens gesê het: “Wanneer die swaard getrek word, behoort die skede weggegooi te word”. Daar kan geen kompromis wees nie. Dis oorwin of sterf. Dit sou verhoed het dat baie bloed later by die skavot in Engeland sou vloei. En dit sou die amper totale uitwissing van die Hooglanders wat sederdien plaasgevind het, verhinder het. Dit het gebeur óf deur die beleid van die Engelse regering, óf deur die emigrasie van hulle families na die kolonies toe, óf as gevolg van die talle Hoogland-regimente wat afgemaai is gedurende die Sewejarige Oorlog (1756-1763).

~

Uiteindelik het die prins op 17 September 1746 per skip vertrek nadat hy, in die verloop van vyf maande, seker ’n duisend keer meer aan die dood blootgestel was as wat die geval sou gewees het as hy moedig en met volharding opgetree het en sy getroue Hooglanders gelei het vir so lank as wat hy vordering teen die Engelse kon maak. Ná die passe met geweld oorgeneem is en geen moontlikheid oorgebly het om die vyand die hoof te bied nie, kon hy net as ’n laaste uitweg sy toevlug geneem het deur weg te kruip en om sonder lyfwagte in die Hooglande rond te dwaal.

Maar ons situasie was nie wanhopig nie. Al wat ons kan sê is dat die prins sy ekspedisie roekeloos aangepak het en sonder om vooraf bewus te wees van die persoonlike gevare waaraan hy homself sou blootstel. Hy het gesorg dat hy homself nie aan die vyand se vuur blootgestel het nie. En hy het daarvan afgesien toe hy ’n duisend meer redes gehad het om sukses met sy onderneming te kon behaal as toe hy Parys verlaat het om dit aan te pak.

Die nederlaag by die Culloden-veldslag wat op 16 April 1746 plaasgevind het, was as gevolg van ’n reeks dom foute wat ons begaan het, en nie omdat die hertog van Cumberland ’n bekwame generaal was nie. Die verlies as gevolg van die beëindiging van prins Charles se onderneming, het die toneel voorberei vir ongeëwenaarde gruwels vir sy partisans en het die verwoesting van baie van die mees hoogadellike Skotse families veroorsaak. By die Engelse skavotte was daar vir ’n lang ruk daagliks ’n stortvloed bloed van Skotse here en edelmanne. Hulle teregstellings het as ’n skouspel gedien om die Engelse gepeupel wat van nature ’n wrede en barbaarse ingesteldheid gehad het, te vermaak. Die inbesitneming van die Hooglanders se landgoed het hulle families tot bedelaars verneder. Dié van hulle wat gelukkig genoeg was om na oorsese lande te kon ontsnap, se vertroosting en beloning vir die verlies van hulle eiendom was dat hulle ’n tragiese dood aan die hand van die laksman vrygespring het.

Posted in Afrikaans

’n Finale Gebed

Posted on July 07, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast

Uit Commando – Van Perde en Manne 
deur Deneys Reitz

’n Week tevore het ’n kolonianer met die naam van Lemuel Colaine daar aangekom met ’n storie dat die Engelse hom onder ’n valse aanklag van verraad in ’n tronk in Clanwilliam gestop het. Hy het vertel dat hy een nag oor ’n muur ontsnap het en na hulle toe gekom het om in weerwraak, wapens teen hulle, die Engelse, op te neem. Hulle het sy storie geglo en hom ’n geweer gegee, en hy het by die kommando aangesluit.

Colaine was egter ’n betaalde Britse spioen en, na hy sy inligting ingesamel het, het hy verdwyn. Daar was nie veel aandag gegee aan sy afwesigheid nie, aangesien die manne gedurig weggegaan het op besoeke aan plase, of om by vriende wat by poste ver weg gestasioneer was, te gaan kuier. Die mense het maar gedink dat hy dieselfde gedoen het. Daar het egter ’n wrede ontnugtering op hulle gewag toe ’n Engelse perdekommando, met Colaine heel vooraan, skielik met oggendskemer op hulle toegeslaan het. Sewentien manskappe het gesterf of het wonde opgedoen, asook my jong vriend Michael du Preez.

Die aanval was so geheel en al onverwags dat die troepe deur die kamp gejaag en hulle swaarde kon gebruik het. Hulle het veilig die ander kant bereik voor ons manne tot verhaal gekom het. Almal was woedend oor Colaine se verraad en het gehoop dat hy eendag in hulle hande sou val. Nemesis, die godin van wraaknemende geregtigheid, het later aan hulle kant kom staan.

~

Toe ons deur die kamers geloop het met omgegooide stoele ens., soos daar in die geveg handgemeen geraak was, het ons ’n man in burgerklere onder die boog van die vuurmaakplek in die kombuis sien wegkruip. Ek het gedink dit was die eienaar van die plaas wat nog nie oor sy skrik van die gebeure gekom het nie. Toe ek Wyndell se aandag daarop gevestig het, het hy uitgeroep: “Goeie God, dis Colaine!” Ek het nie Colaine geken nie, maar Wyndell het hom by die huis uitgesleep en aan die manne buite geskree om te kom kyk wie daar was. Spoedig het daar dosyne dreigende en swetsende manne om die verpeste verraaier gestaan.

Hy was ’n man van omtrent vyf en veertig wat soos ’n tipiese agterveldse Boer daar uitgesien het, met ’n lang baard en ferweelbroek. Hy was taamlik moedig, want toe die manne hom woedend verseker oor wat die noodlot definitief vir hom ingehou het, het hy net sy skouers opgehaal en geen teken van vrees gewys nie. Kommandant Bouwer het daar aangekom terwyl ons so om hom gestaan het. Hy het twee manne beveel om oor hom wag te staan totdat generaal Smuts in kennis gestel is.

~

Toe ek by die woonhuis by Aties aangekom het, was generaal Smuts in die eetkamer besig om met die eienaar, Isaac van Zijl, te gesels. Sy vrou en dogters was ook daar. Nie lank daarna nie is die spioen Colaine deur die wagte daar ingelei. Hulle wou weet wat hulle met die prisonier moes doen. Generaal Smuts het voorheen die verhaal van Colaine se verraad gehoor en, nadat hy by die wagte seker gemaak het van Colaine se identiteit, het hy hom ter dood veroordeel sonder enige verdere formaliteit. Die generaal het aan die wagte gesê: “Vat hom uit en skiet hom!” Toe het Colaine se moed hom begewe. Hy het op sy knieë geval en om genade gesmeek terwyl die vrouens in trane die kamer uitgevlug het. Generaal Smuts het sy opdrag herhaal, maar terwyl die veroordeelde man die kamer uitgelei is, het ds. Kriel binnegekom en toestemming gevra om vir die armsalige sondaar se siel te gaan bid. Colaine is na die klein smidswinkeltjie agter die woonhuis geneem en, toe ek ’n rukkie later gaan kyk het, het ek hom en die predikant langs ’n ploegstert diep in gebed, gesien.

Andries de Wet van ons staf is aangesê om ’n vuurpeloton bymekaar te kry. Omdat hy nie van dié taak gehou het nie, het hy my gevra om saam met hom te gaan. Ons het ’n paar plaas-bediendes gestuur om ’n graf weg van die huis af (om die huismense se gevoelens te respekteer), te grawe. Drie manne wat in die tuin afgesaal het, is aangesê om hulle gewere te gaan haal en ons het toe na die smidswinkel se deur toe gestap. Ons het ds. Kriel se oog gevang en De Wet het met sy vinger na die prisonier gewys. Die predikant het die knielende man se skouer aangeraak en gesê: “Broer, wees ’n man, jou tyd het aangebreek.”

Colaine het die nuus kalm aangehoor, opgestaan, die dominee se hand geskud, die wagte gegroet, en gesê dat hy gereed was. Ons het hom uitgelei na waar hulle besig was om sy graf te grawe. Terwyl ons daarheen gestap het, het hy met ons gepraat. Hy het gesê dat hy geweet het dat hy verdien het om te sterf, maar hy was ’n arm man en het bloedgeld aanvaar om sy vrou en kinders aan die lewe te hou.

Die plaas-bediendes het net die graf klaar gegrawe toe ons daar aangekom het. Die armsalige man het doodsbleek geword toe hy die vlak graf gesien het. Miskien het hy nog gehoop op genade tot hy die graf gesien het. Selfs toe het hy tyd probeer wen deur ons te versoek om vir ds. Kriel te laat kom om ’n finale gebed te doen. Hy het na my toe gedraai en gevra dat ek generaal Smuts moet gaan haal. Ons het egter gevoel hoe gouer dit verby was, hoe beter. De Wet het hom geblinddoek en hom aan die koppenent van die graf laat staan.

Toe hy besef het dit die einde was, het Colaine sy hande in die lug opgesteek en in ’n lae stem die Onse Vader gebid terwyl die peleton hulself in posisie gekry het. Op die laaste “Amen” het hulle geskiet. Met ’n stuiptrekkende ruk het hy agteroor die graf ingestort. Die verskrikte knegte het hom gou met grond toegegooi.

Posted in Afrikaans

Ekke, Hy Isse Dood van die Bang

Posted on June 30, 2016 by Cape Rebel

Uit No Outspan 
deur Deneys Reitz

Vroeg in die jaar 1900 het ek saam met die republikeinse magte in Natal diens gedoen. Ek het aan die beleg van Ladysmith en die Tugela-veldslae deelgeneem, maar ons moes uiteindelik terugval en onsself verdedig. En op dié manier het ons onsself in die Biggarsberge bevind, besig om ons wonde te lek.

Gedurende die verposing het ek verlof gekry om vir ’n paar dae huis toe te gaan, en het ek per trein Pretoria toe gery.

Pretoria is slegs vyf en dertig myl van Johannesburg af, en omdat ek nog nooit in die Goudstad was nie, het ek en my pa een oggend per trein daarnatoe gery. Die plek het verlate gelyk, die strate was leeg en die deure en vensters was met planke toegespyker.

Die grootste gedeelte van die dag het ons al besigtigend rondgestap en toe, teen die aand se kant, het daar ’n voorval opgeduik. Skielik, toe die straatligte aangekom het, was daar ’n geweldige ontploffing en ’n reuse kolom rook het ’n myl hoog die lug in opgeskiet en soos ’n groot sampioen uitgetoring. Oral om ons was daar die geluide van vallende bakstene, boumateriaal en gebreekte vensters, en mans en vrouens wat ons voorheen glad nie opgemerk het nie, was in die strate op pad na die toneel van die katastrofe. Uit hulle uitroepe, kon ons aflei dat die regering se ammunisie-aanleg ontplof het. Ons was kort op hulle hakke en gou was ons by ’n groot gebou wat in ligte laaie gestaan het; granate en patrone het ontplof en strale groen en geel vlamme het in alle rigtings die lug in opgeskiet.

Op die sypaadjie het daar ’n ry van omtrent dertig lyke van mans gelê en mense het gewondes weggedra. Dit was ’n afgryslike toneel wat nog helder in my geheue is omdat ek daardie dae nog maar net ’n seun was, ’n ouderdom waar sulke gebeurtenisse ’n blywende indruk maak.

Ek en my pa het gehelp waar ons kon, en daardie aand laat eers teruggekeer Pretoria toe. Die volgende oggend het daar ’n groot woede losgebars toe ’n amptelike boeletien uitgereik is wat aangedui het dat die ramp die werk van ’n Britse spioen was. Daar is gesê dat hy ’n elektriese draad van die munisipale kragstasie af op so ’n manier gekonnekteer het, dat die oomblik toe die dorp se ligte aangeskakel is, die fabriek ontplof het.

Deur die daaropvolgende jare het ek hieroor ’n wrok gedra, want ek het gedink dat dit ’n gemene lafhartige daad was.

Nou egter het daar iets nuuts aan die lig gekom. ’n Geleentheid het hom voorgedoen om ’n dorp in die Oos-Transvaal in verband met regsake te besoek, en daar het ek ’n man met die naam Begbie ontmoet. So in ons gesels het hy my vertel dat hy in 1895 ’n ystersmeltery in Johannesburg opgerig het, en dat dit ’n florerende onderneming geword het.

Toe die Anglo Boere-oorlog uitgebreek het, het president Kruger sy smeltery gekommandeer, en met behulp van Nederlandse spoorweg-ingenieurs het hy die plek in ’n wapenfabriek omskep. Begbie is toegelaat om in Transvaal woonagtig te bly, maar hy was nie toegelaat om die eiendom te besoek nie. Hy het egter daarin geslaag om sy Zoeloe-bediende, Tom, as ’n voorman aangestel te kry, en dié het opdrag gekry om van tyd tot tyd aan sy vorige werkgewer verslag te lewer oor hoe die masjinerie en die geboue daar uitgesien het.

Die Europeërs wat in diens geneem is om ammunisie te vervaardig, was meestal Italiaanse vakmanne, van wie baie na die Rand gestroom het met die ontdekking van goud.

’n Paar dae voor die ontploffing het Tom met ’n bekommerde gesig na Begbie toe gekom. Hy het gesê: “Baas, ou Tom is banja bang. Daai Taljanners rook die sigrets die hele dag lank, banja, en hulle gooi die stompies oral by die plek. Baas, anderdag jy sal net die boem hoor – ekke, hy isse dood van die bang.”

Begbie het sy vrese besweer en hom aangesê om na sy werk toe terug te keer, waarop Tom al kopskuddend en mompelend daar weg is. Binne ’n week daarna het die fabriek ontplof – Arme ou Tom was ook ’n slagoffer.

Begbie het gesê dat daar by hom nie die minste twyfel bestaan het nie, dat dit was hoe die ongeluk plaasgevind het, en ek glo sy verduideliking is in die kol.

Posted in Afrikaans

Die 1922 Johannesburgse Opstand

Posted on June 28, 2016 by Cape Rebel

Uit No Outspan 
deur Deneys Reitz

Dit het begin met ’n dispuut by ’n steenkoolmyn waar die werkers daar opgehou werk het. Die staking het uitgebrei na die Rand toe, en die situasie het vererger met die oorspronklike leiers wat toe vervang is deur ekstremiste wat ’n algemene staking uitgeroep het en hulle toevlug tot geweld geneem het.

Aan die hoof van die oproer was Fisher en Spendriff, twee Australiese kommuniste, en die opstand het onrusbarende proporsies aangeneem. Die gewone lede van die werkers was jong Afrikaners van die plattelandse distrikte, dapper en roekeloos en volgens tradisie reg om argumente met ’n geweer reg te stel.

Rewolusionêre kommando’s het oornag te voorskyn gekom en omdat baie van die oproermakers familie en vriende in die plattelandse gebiede gehad het, was daar die gevaar dat dié brandpunt op ’n nasionale burgeroorlog kon uitloop.

In Johannesburg en die goudmyne het anargie geheers. ’n Werkersrepubliek was uitgeroep; andersdenkende rebelle het die buitegebiede en woonbuurtes oorgeneem. Daar is met die eerste oogopslag op die polisie geskiet, en hulle barakke en stasies is beleër en gebombardeer terwyl brandstigting en straatgevegte aan die orde van die dag was. Johannesburg was geheel en al omring en ons regeringstroepe het met moeite daarin geslaag om die binnesirkel van die stad te behou.

As die jongste lid van die kabinet het ek minder verantwoordelikhede gedra as die ander, maar dit was ’n uitputtende tyd.

Met Johannesburg en die goudmyne feitlik in die hande van die oproermakers, het generaal Smuts krygswet afgekondig. Vyftigduisend berede burgers is opgeroep en hy het ’n dramatiese stormloop deur die rebelle se linies na Johannesburg uitgevoer. Op kort afstand is daar op hom gevuur, maar hy het veilig deurgebars en persoonlik bevel oorgeneem in Johannesburg.

Hy het hulle die volgende dag met voetsoldate en kanonne aangeval en hulle bastion by Fordsburg met perderuiters omring. Na strooibiljette uit vliegtuie te laat val is waarin vroue en kinders gewaarsku is om die dorp te verlaat, het die regeringskommando’s onder dekking van geweervuur Fordsburg ingeneem. Terwyl ons manne binnegedring het, het Fisher en Spendriff hulself geskiet en die opstand het in duie gestort.

Dit was ’n duur affêre. Meer as sewehonderd mense het gesterf en daar was grootskaalse materiële skade. Polities was die gevolge rampspoedig. Ons opponente het ons beskuldig dat ons te hardhandig opgetree het, en ons ondersteuners weer het ons geblameer dat ons nie vroegtydig genoeg opgetree het nie, en so was ons tussen die hamer en die aambeeld vasgevang.

En toe om ons probleme te vererger, het die verhoor van ’n klomp van die belhamels gevolg. Hulle was nie vervolg vir hoogverraad nie, maar wel vir koelbloedige moord op burgerlikes.

Soos gewoonlik het daar ’n reaksie gevolg. Daar is duisende wat vergete lê op slagvelde, maar die publiek deins terug van teregstellings. Toe vyf van die ergste oortreders die doodstraf gekry het, is massa vergaderings uitgeroep, petisies is onderteken en daar is aangedring op begenadiging. Maar ons het besluit die manne moet hang. Hulle het wreedaardige moorde gepleeg, nie in die hitte van die aksie nie, maar deur nie-strydendes doelbewus dood te maak.

Ek dink ons het onder die omstandighede die regte ding gedoen, maar ons moes boet vir dit wat daardie mense, wat die regte ding in ’n demokrasie doen, wedervaar. Die rewolusie het ons aansien erg skade aangedoen en die voltrekking van die doodsvonnis in die Pretoriase tronk het ons selfs meer gekos.

’n Man genaamd Taffy Long wat opgehang is, het ons die meeste benadeel. Hy was ’n soldaat met ’n goeie oorlogsrekord. Hy het by Gallipoli diens gedoen en het ’n dekorasie ontvang vir dapperheid. Elke teruggekeerde soldaat in die Unie het luid geprotesteer vir sy ontslag en prins Arthur van Connaught (ons goewerneur-generaal) het aanvanklik geweier om die magtiging vir die doodstraf te onderteken. Nogtans is hy skuldig bevind op ’n wreedaardige moord, en ons het gevoel, hoe beter hy was as ’n soldaat, hoe minder regverdiging was daar vir sy optrede.

Ek het sy lot betreur hoewel ek in die kabinet vir sy dood gestem het. Hy was ’n dapper man. Die aand voor sy doodstraf voltrek sou word, het hy gevra vir iets om te lees en ’n Bybel is vir hom gegee. Hy het na die heilige boek gekyk, die titel gelees, en dit toe al tollende by die oop deur van sy sel uitgegooi in die gang na buite. Hy het gesê: “Bybel, die Bybel verdomp, bring my een van Nat Gould se romans.” Die volgende oggend het hy die ewigheid ingegaan al singende aan die “Red Flag”.

Posted in Afrikaans

Psigoanalise II

Posted on May 12, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
Uit Selected Stories
deur Herman Charles Bosman

“Dis baie snaaks,” het Jurie Steyn gesê, “maar al hierdie gepratery van julle pas baie mooi in by wat Minnie Nienaber in haar brief geskryf het. Dit was die rede waarom sy uiteindelik besluit het om haarself gepsigoanaliseerd te kry. Ek sou sê, daar is natuurlik niks met haar verkeerd nie. Hulle sê daar moet niks met jou verkeerd wees nie voordat jy gepsigoanaliseerd kan word …”

“Ek weet van geen dokter wat jou kan help as daar iets met jou verkeerd is nie,” het Oupa Bekker vir Jurie Steyn in die rede geval. “Die laaste keer wat ek ’n dokter gesien het, was gedurende die runderpes. Die dokter het gesê ek moet ’n stukkie luiperdvel agter my linkeroor dra. Dit sou my osse teen die runderpes beskerm en terselfdertyd sou dit my rumatiek genees. Die dokter het dit gesê eers nadat hy sy dolosse vir die tweede keer gegooi het. Die eerste keer wat hy die dolosse gegooi het, het hy gesê …”

Teen daardie tyd het ons almal kliphard gelag. Ons het nie van daardie soort dokter gepraat nie, het ons aan Oupa Bekker gesê. Ons het nie ’n Sjangaanse toordokter bedoel nie. Ons het van ’n dokter gepraat wat universiteit toe gegaan het, en so aan.

Oupa Bekker het vir ’n rukkie doodstil gebly.

“Miskien is julle reg,” het hy uiteindelik gesê. “Want al my beeste het gevrek van die runderpes. Maar wil jy glo, sedert daardie tyd het ek nooit weer rumatiek gehad nie. Miskien was rumatiek die enigste ding wat daardie toordokter kon genees. Van wat Jurie Steyn ons vertel het, kan ek sien dat die toordokter maar net baie ouderwets was. Dit lyk vir my dat ’n dokter vandag nutteloos is, tensy hy in staat is om hoegenaamd niks te genees nie.

“Maar ek sê nog steeds dat ek nie veel dink van daardie dokter wat, omtrent vyftig jaar gelede, die dolosse gegooi het nie. Ek was meer besorg oor my beeste se runderpes as oor my eie kwale. Nietemin, as jy vir ’n middel soek teen rumatiek – daar het jy dit. ’n Stukkie luiperdvel vasgebind agter jou linkeroor. Die vel van sommer enige gewone ou luiperd sal doen.”

Met al hierdie gepratery het dit ’n hele rukkie geneem voor Jurie Steyn weer ’n woord kon inkry. Maar wat hy toe te sê gehad het, was heel interessant.

“Dit lyk nie of julle dit besef nie,” het Jurie Steyn gesê, “maar julle het die hele tyd oor Minnie Nienaber se simptome gepraat. Die rede waarom sy haarself gepsigoanaliseerd wou kry, bedoel ek. Dit het te doen gehad met haar nare drome in die laaste tyd.

“Chris Welman het gepraat van sy bekroonde koei wat by die Randse skou uitgeskop is, en At Naudé het ons vertel van sy silwermedalje-bul, en Oupa Bekker het ons herinner aan die ou dae toe hierdie deel van die Marico vol luiperds was. Nou wel, dít was Minnie Nienaber se probleem. Dít is waarom sy na daardie nuwe soort dokter toe gegaan het. Sy het die aakligste drome gehad – so het Koos Nienaber my vertel.

“Sy’t gedroom dat sy aangesê is om plekke te verlaat – nagklubs en sulke plekke, het Koos Nienaber gesê. En sy het gereeld gedroom dat wilde bulle haar gejaag het. En dat sy deur Natalse Indiërs met lang suikerrietpangas gejaag is. En in die laaste tyd het sy omtrent elke nag nagmerries gehad, deurdat sy gedroom het dat ’n luiperd haar gejaag het. Dít was hoekom sy uiteindelik gegaan het om gepsigoanaliseerd te word.”

~

Ons het Minnie Nienaber se probleme taamlik breedvoerig bespreek. En ons het opgehou om daaroor te praat deur te sê dat ons graag wou weet waar die Afrikanervolk vandag sou wees as ons vrouens, elke keer wat hulle gedroom het dat ’n wilde dier hulle gejaag het, na ’n nuwe soort dokter toe sou gehardloop het. As Louis Trichardt se vrou gedroom het dat sy deur ’n renoster gejaag is, sou ons kon sê, sou sy maar net eenvoudig in haar droom van daardie renoster moes weggekom het. Sy sou nie die volgende dag met haar probleme na haar man toe kon hardloop nie aangesien hy alreeds soveel Voortrekker probleme gehad het om mee te worstel.

Posted in Afrikaans

Psigoanalise I

Posted on May 06, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast

Uit Selected Stories 
deur Herman Charles Bosman

“Koos Nienaber het verlede week ’n brief van sy dogter, Minnie, gekry,” het Jurie Steyn vir ’n hele paar van ons aangekondig, daar waar ons in sy voorkamer gesit het. Dié kamer het as die Drogevlei poskantoor gedien. “Dis nou al twee jaar dat sy in ’n kantoor in Johannesburg werk. Mens sou nie so dink nie. Twee jaar ...”

“Wat het in die brief gestaan?” het At Naudé hom op die man af gevra.

“Wel,” het Jurie Steyn begin, “Minnie sê dat ...”

Jurie Steyn het gou agtergekom dat ons dit vermaaklik gevind het.

“As dit is hoe julle daaroor tekere wil gaan,” het hy toe uitgevaar, “gaan ek julle niks vertel nie. Ek weet wat julle almal dink terwyl julle op daardie verspotte manier so sit en lag. Wel, laat net een van julle probeer om die posmeester soos ek te wees, so tussen die melkery en ploeëry deur en die ontvang van verkeerde rekeninge van die suiwelfabriek af, en die varke wat die soetpatats uitgrawe – om selfs nie eers te praat van die kalfseisoen nie – en kyk dan hoeveel tyd jy gaan oorhê om ander mense se briewe oop te stoom en te lees.”

Johnny Coen wat nog jonk was en wat meer as net ’n bietjie in Minnie Nienaber geїnteresseerd was, het gou Jurie Steyn se gemoed gekalmeer.

“Jy weet ons skeer op dieselfde manier maar net die gek soos met elke posmeester in die Bosveld gedoen word,” het Johnny Coen gesê. “Ons bedoel niks daarmee nie. Dis sommer net ’n ou grappie.”

~

“Dit moet wees dat Koos Nienaber jou vertel het wat in sy dogter se brief gestaan het,” het Johnny Coen gesê. “Koos Nienaber het seker hier ’n draai gegooi en jou toe vertel. Anders sou jy mos nooit geweet het nie. Ek meen te sê. Jy kon onmoontlik geweet het.”

Dit was presies wat gebeur het, het Jurie Steyn bevestig.

Daarna het Jurie Steyn ons in die fynste besonderhede vertel wat in Minnie Nienaber se brief gestaan het, soos haar pa, Koos Nienaber, dit oorvertel het.

~

“Koos het gesê dat Minnie,” het Jurie Steyn gesê, “dat Minnie – wag, wag net so bietjie – so ja, hier is dit – ek het ou Koos gekry om dit vir my neer te skryf – dat Minnie gepsigo ... gepsigoanaliseerd is. Hier is dit, alles net so neergeskryf – sielsontleding.”

Ek sal nie ontken nie dat ons almal baie beїndruk was. Dit was nou iets waarvan ons nog nooit gehoor het nie. Jurie Steyn het gesien watter uitwerking sy mededeling op ons gehad het.

“Ja,” het hy herhaal, baie seker van homself – en ook sekerder van sy woorde – “Ja, in die goudstad Johannesburg, is Minnie Nienaber gepsigoanaliseerd.”

Ná ’n paar oomblikke van stilte het Gysbert van Tonder van homself laat hoor. Op daardie manier het Gysbert al baie uit sy beurt uit gepraat.

“Wel, dis nie die eerste keer dat so iets met ’n meisie wat alleen in Johannesburg woon, gebeur het nie,” het Gysbert gesê. “Een ding egter, haar ouers se deur sal altyd vir haar oop staan. Maar ek is verbaas dat ou Koos Nienaber dit vir jou genoem het. Hy is gewoonlik so trots.”

Ek het opgemerk dat Johnny Coen vir ’n oomblik bietjie bek-af gelyk het, totdat Jurie Steyn haastig verduidelik het dat hy dit nie só bedoel het nie.

Volgens wat Koos Nienaber hom vertel het – het Jurie Steyn gesê – het dit vir die mense in Johannesburg die mode geword om deur ’n nuwe soort dokter behandel te word; ’n dokter wat nie gepla was oor hoe siek jou liggaam was nie, maar wat omgesien het daarna om jou gemoed en gees reg te kry. Hierdie soort dokter kon enigiets wat verkeerd was met jou gees, regmaak, het Jurie Steyn verduidelik. En jy hoef nie juis siek te wees om deur so ’n dokter behandel te word nie. Dit was ’n heel modieuse ding gewees om te doen, het Jurie Steyn bygevoeg. Johnny Coen het verlig gelyk.

“Na gelang van wat Koos Nienaber my vertel het,” het Jurie Steyn gesê, “toets hierdie nuwe soort dokter nie meer jou hart deur daarna met ’n soort rubberpyp-ding te luister nie. In plaas daarvan vra hy jou net wat jy die vorige nag gedroom het. En daarna werk hy alles uit met behulp van ’n droomboek. Maar dis ook nie net ’n gewone droomboek nie, wat sal verklaar dat, as jy laasnag van ’n trop beeste gedroom het, dit sal beteken dat daar vorentoe doodsgevaar op iemand wag wat jy nog nie ontmoet het nie ...”

“Wel, ek het ’n paar nagte vantevore gedroom dat ek ’n trop Afrikanerbeeste oor die Bechuanalandse grens aangejaag het,” het Fritz Pretorius gesê. “Net soos ek al baie voorheen gedoen het, op ’n nag toe daar nie veel van ’n maan was nie. Behalwe, wat snaaks aan die droom was, was dat ek gedroom het dat ek die beeste in die protektoraad ingesmokkel het, in plaas van daaruit. Kan jy jou voorstel dat ’n Marico-boer so ’n onnosele ding soos dit sou doen? Ek veronderstel die droom beteken dat ek besig is om van my kop af te raak of so iets.”

~

Ná At Naudé gesê het hoe verbaas hy was dat Fritz Pretorius in ’n droom vertel is wat almal in elk geval van hom geweet het – en daar niks van gekom het nie ná Fritz Pretorius se uitnodiging aan At Naudé om daardie opmerking buitekant die poskantoor te gaan herhaal – het Jurie Steyn verder verduidelik wat die nuwe soort behandeling was wat Minnie Nienaber van die nuwe soort dokter ontvang het, en dat sy dit glad nie nodig gehad het nie.

“Dis nie die gewone soort droomboek, soos daardie Napoleon se droomboek waaraan my vrou soveel waarde geheg het voordat ons getroud is nie,” het Jurie Steyn voortgegaan. “Dis ’n droomboek wat deur professors geskryf is. Minnie het in die afgelope tyd allerhande vrese ondervind. Sommer lawwe soort vrese, het haar pa gesê. Niks om jou oor te bekommer nie. Ek dink enigeen uit die Groot Marico wat so lank soos Minnie Nienaber in Johannesburg gebly het, sou net soos sy bang geword het.

“Die enigste ding wat vir my egter ’n raaisel is, is dat dit haar so lank gevat het om bang te begin raak.”

Posted in Afrikaans

Tuisdorp – Deel II

Posted on April 26, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
Uit Selected Stories 

deur Herman Charles Bosman

Chris Welman het toe jammer begin voel vir Oupa Bekker.

“Het dit regtig so baie verander, Oupa?” het hy gevra.

“Verander?” het Oupa Bekker herhaal. “Vat nou maar die hotel. Dit was eers ’n hout en yster gebou met ’n lang stoep. Maar nou was dit ’n dubbelverdieping baksteengebou. En waar daar voor die gebou ’n perdereling was waaraan ons kinders gewoonlik kon swaai, was daar nou een van daardie regop ysterboks-goed wat met elektrisiteit te doen het. Elektrisiteit – nee man, in die ou dae het ons beswaarlik paraffienlampe gehad.”

Dit het alles regtig droewig geklink. Maar toe, soos Gysbert van Tonder opgemerk het, was daar darem iets soos vooruitgang. Ons kon nie verwag dat die wêreld net moes stilstaan vir Oupa Bekker se onthalwe nie, of wat dít betref, ook nie vir enigeen van ons se onthalwe nie.

“Ek het toe na die plek gaan soek wat ons kinders gewoonlik die rivier genoem het,” het Oupa Bekker voortgegaan, “waarin ons gewoonlik vis gevang het, en van waaruit die mense gewoonlik water na hulle tuine toe afgelei het, en waaroor daar ’n brug was.”

Nou ja, ons het natuurlik geweet wat aan die kom was. En ons het amper gewens dat Oupa Bekker liewer nie so ver sou gaan om ons daarvan te vertel nie. Want hulle sou natuurlik pype daar ingesit het. En die waterstroom sou nie sigbaar gewees het nie. En waar die brug was, sou daar nou ’n nuwe kragstasie wees. Of ’n gomfabriek.

Ons wou liewer nie dink wat daar op die plek was waar die tuinmuur voorheen was nie; daardie muur waarvan Jurie Steyn en Chris Welman en Gysbert van Tonder vroeër gepraat het.

Die stuk tuinmuur wat elke persoon, wat sy kinderjare in ’n dorpie deurgebring het, onthou. ’n Rooi baksteen- en kanferfoeliemuur, of ’n afgewitte muur oortrek met purperwinde in volle blom.

“Ná ek aandete in die hotel genuttig het,” het Oupa Bekker verder aangegaan – en aan sy stem kon ons aflei dat hy maar min geëet het – “het ek ’n bioskoop toe gegaan. Ek was vroeër in die dag daar, en hulle het gesê dat daar ’n middagvertoning sou wees.

“Dit was ’n prent oor cowboys en Indians, of cowboys en iets. Of miskien was dit nie eers cowboys nie. Ek is nie seker nie. Aangesien hulle Engels gepraat het, en kon ek nie veel daarvan verstaan nie.

“Daar was ’n koets in die prent, soos die Zeederberg-koetse wat hulle vroeër jare, voor die treine, hier gehad het. En daar was ’n vet man in die prent met ’n swart manel wat ander vet mans onder hom gehad het. En hy het belangrik gelyk, soos ’n raadslid in die dorp toe ek ’n kind was. En dit het gelyk of die vet-man-met-die-manel se jop elke keer was om vir die ander vet ouens uit te werk wat die beste manier was om die Zeederberg-koets te beroof.

“En ná ek vir ’n rukkie in die bioskoop gesit het, het ek weer heel gelukkig begin voel, en ek het nie soveel omgegee dat my tuisdorp verander het nie. Want die plekke wat hulle daar in die prent gehad het, waar al daardie dinge besig was om plaas te vind, was net soos my dorp toe ek ’n kind was. En daar was dieselfde soort van perderyery, wat ek goed kon onthou. En die hotel in die prent het dieselfde soort stoep gehad. En hoewel ek nie eintlik kinders aan die perdereling sien swaai het nie, kon dit gewees het dat die prent hulle net nie gewys het nie. In elk geval, ek het geweet dit was dieselfde perdereling. Ek bedoel, ek sal dit enige plek herken.

“En ek was ook bly om die brug te sien. Dit was presies dieselfde brug wat ons in die ou dae oor die stroom gehad het. En daar was ’n jong kêrel wat nie so vet as die vet-man-in-die-manel se ouens was nie, en wat gelyk het of hy aan die teenoorgestelde kant as hulle was, en hy het elke keer in hulle pad gekom. En die jong kêrel het op daardie brug wat ek uit my kinderdae onthou, gestaan. Hy het op daardie brug gestaan met ’n mooi meisie in sy arms. En sou jy onder die brug kon kyk, is ek seker dat daar dieselfde stukke boomstompe onder die brug vasgespoel sou wees.

“En daarna, toe daar ’n geskietery in die hotel was, was daar presies dieselfde paraffienlampe en kerse soos dié wat gewoonlik in die ou dae in die dorpshotel was, voordat hulle dit in twee verdiepings verander het.”

~

Daarna, het Oupa Bekker gesê, toe die prent geëindig het, en die mooi meisie met die jong kêrel wat nie so vet as die man-in-die-manel se ouens was nie, getrou het, het hy gelukkiger gevoel as voor hy na die bioskoop gegaan het – gelukkiger as enige tyd sedert hy daardie oggend van die trein afgeklim het en gesien het dat die pad oor die bult geteer was.

“Want die kerk waarin hulle getroud is, was die ou kerk net soos ek dit geken het,” het Oupa Bekker gesê. “Dit was net soos die kerk waaraan ek gewoond was, voordat hulle dit drie keer groter gemaak en na die ander kant van die plein verplaas het.”

~

En toe hy daardie aand terug stasie toe gegaan het, het Oupa Bekker gesê, en hy met die bultjie afgeloop het, het die ligte windjie wat hy so goed geken het, liggies om hom heen geswaai. Met groot bevrediging het hy toe besef dat sy tuisdorp, ná al die jare, nie verander het nie.

“Maar daardie bioskoop self,” het Jurie Steyn gesê. “Dit moes nogal iets heel nuuts gewees het, sou ek dink. Hulle kon sekerlik nie ’n bioskoop in daardie dorp gehad het toe jy ’n kind was nie.”

“Nee,” het Oupa Bekker gesê. “Waar hulle daardie bioskoop gebou het, was daar, toe ek ’n kind was, ’n stuk tuinmuur met ’n rankplant daaroor.”

Posted in Afrikaans

« Previous 1 3 4 5 6 7 17 Next »