Uit Lara – The Untold Story That Inspired Doctor Zhivago
deur Anna Pasternak
Boris het gewis hard aan sy roman gewerk. Op 12 Desember het hy van Moskou af as volg aan Frederick, Josephine en Lydia geskryf: “My liewe Fedia en meisies!” In die brief maak hy dit duidelik dat hy alles moontlik doen om die eerste helfte van Doctor Zhivago, wat reeds in manuskripvorm was, by hulle uit te kry. Hy wou weet of hulle van ’n goeie Russiese kopieertikster kennis gedra het? En as daar enige geld in Engeland aan hom verskuldig was vir vertaalwerk, kon hulle die tikster betaal om drie afskrifte te maak, en hulle kontroleer? Hy wou graag hê dat die manuskrip aan Maurice Bowra (’n hoogaangeskrewe Engelse literêre geskiedkundige), Stefan Schimanski (’n Engelse kritikus en vertaler van Pasternak se werke in Russies) en hulle vriend, die Engelse geskiedkundige en filosoof, Isaiah Berlin, gestuur word.
“Om dit te druk – ek bedoel, om die drukwerk uit te gee – is geheel en al buite die kwessie, óf dit die oorspronklike óf die vertaling is – jy moet dit baie mooi aan die literêre mense, aan wie ek dit graag wil wys, verduidelik,” het hy voortgegaan, en hulle op datum gebring aangaande die vordering van sy werk: “In die eerste plek, dit is nie klaar nie, dis net halfpad klaar, daar moet verder daaraan gewerk word. Tweedens, om dit in die buiteland te publiseer, sou my blootstel aan die mees katastrofiese, en moontlik noodlottige, gevare. Beide die gees van die werk, en my situasie soos dit hier ontwikkel het, beteken dat die roman nie in die openbaar mag verskyn nie: Die enigste Russiese werke wat toegelaat word om in die buiteland te sirkuleer, is vertalings van werke wat hier gepubliseer is.”
Omdat hy bevrees was dat sy susters hom sou kritiseer, het hy geskryf: “Julle sal nie van die roman hou nie, want daar is ’n gebrek aan deurlopendheid en dit was inderhaas geskryf. Een rede is dat ek dit nie kon uitrek nie. Ek is nie meer jonk nie en in elk geval is dit moontlik dat daar van dag tot dag enigiets kan gebeur, en daar was ’n paar goed wat ek wou neerpen. En ek het geskryf wanneer ek tyd gehad het, sonder betaling en in aller yl sodat ek nie my begroting oorbelas nie, maar om te probeer om tyd te maak om iets wat betaal het, te doen.”
Ten spyte van sy eie geringskatting by sy familie, was lofbetuiginge van sy literêre vriende, aan wie hy geslaag het om die eerste tikwerk te stuur, aan die opbou. Op 29 November 1948 het hy die volgende brief uit Sint Petersburg van sy niggie Olga Freidenburg ontvang (sy was ’n voortreflike student wat later ’n professor geword het): “Jou boek is verhewe bo enige kritiek. Alles wat jy sê oor die geskiedenis as die tweede heelal, kan in jou boek opgespoor word ... dit is ’n spesiale variasie van Genesis. Om die filosofiese redevoering daarin te lees, laat my vel behoorlik kriewel. Ek is net bevrees dat ek op die punt staan om die finale geheim wat iemand binne homself wegsteek, te ontdek – sy hele lewe lank wens hy om uiting daaraan te gee en wag hy om dit in die vorm van kuns of wetenskap te openbaar en daarvoor is hy doodbang, want dit moet ’n ewigdurende raaisel bly.”
Pasternak het intense druk ervaar om sy werk deur daardie mense wat hy gerespekteer het, gelees te kry, want hy was buitengewoon trots op sy boek. Om ’n lang prosawerk oor sy generasie en die historiese lotsbestemming daarvan voort te bring, was die antwoord op ’n lewenslange droom. Alle skrywers is onderhewig aan frustrasies, en hulle leef in vrees dat hul werk nie gepubliseer sal word nie, wat nog te sê dat dit nie die toets van die tyd sal kan deurstaan nie. Pasternak wat reeds vir dertien jaar aan die roman gewerk het, het geweet dat dit ’n enorme waagstuk was om die kontroversionele politieke materiaal vertroulik te versprei. Aanvanklik was hy optimisties aangaande die Bolsjewieke rewolusie, want hy het geglo dat dit die groot meerderheid van die bevolking sou bevry, maar toe hy die realiteit van die oorlog wat die rewolusie teweeg gebring het, gesien het, het hy ’n vurige teenstander van die Sowjet-regime geword. Hy het kollektivisasie geblameer omdat dit die landelike ekonomie vernietig het en die lewens van miljoene Russe geruïneer het.
Boris Pasternak kon nie sy veragting vir die politieke elite duideliker gemaak het nie. Soos Yury Zhivago verduidelik: “Gewone mense is angstig om hulle teorieë in die praktyk te toets en om deur ervaring te leer, maar daardie mense wat die septer swaai, is so gretig om die mite van hulle eie onfeilbaarheid te bewerkstellig dat hulle hul rûe, so goed as hul kan, op die waarheid draai. Politiek beteken vir my net mooi niks. Ek hou nie van mense wat onverskillig staan teenoor die waarheid nie.”
Pasternak was totaal onbewus daarvan dat Stalin opdrag gegee het dat hy beskerm moes word terwyl gewone burgers om die lewe gebring is, of na die goelakstrafkampe gestuur is omdat hulle anti-Stalinistiese sienswyses in hulle eie huise verkondig het. Die sirkulasie van sy eie skerp standpunte in sy roman was dus om letterlik met die dood te flankeer.
Pasternak het dié gevare raakgesien en hulle in die brief, wat vir amper ’n dekade die laaste aan sy familie sou wees, beskryf. (As gevolg van die ‘era van agterdog’ was hy gedwing om al sy korrespondensie met sy susters te staak, en het hy dit eers na die somer van 1956, gedurende die Khrushchev ‘ontdooiing’, hervat.) “Selfs al sou julle eendag hoor dat ek opgehang is, of uitgemergeld of gevierendeeld is,” het hy aan hulle vertel, “moet julle weet dat ek ’n besonder gelukkige lewe gelei het, beter as wat ek my dit ooit kon voorgestel het, en ek is op hierdie oomblik en in my onlangse verlede op my gelukkigste en bestendigste ooit, want ek het uiteindelik die kuns aangeleer om my gedagtes in skrif uit te druk – ek besit dié vaardigheid tot op die punt wat ek dit nodig het, en dit was nooit voorheen die geval nie.”
Hy het dié brief geskryf op die kruin van sy affair met Olga. Sy seun Evgeny het dit so verduidelik: “Die impak van hulle gelukkige verhouding gedurende die eerste drie jaar is onthul in Lara se beeld, haar voorkoms en die liriese warmte van die hoofstukke wat aan haar toegewy is. My pa het altyd geglo dat dit die ontwaking was van ’n ‘akute en gelukkige persoonlike indruk’ wat hom die krag gegee het om die moeilikhede van sy werk aan die roman te hanteer.”
Hoe min was Olga bewus daarvan dat, as gevolg van die algemene kennis van haar verhouding met Boris, en haar onwrikbare ondersteuning van die boek wat hy aan die skryf was, dit nie Boris was wat ‘gehang, uitgemergel en gevierendeeld’ sou wees nie, maar dat sy haarself binnekort onwelkome besoekers sou ontvang.
Click Here to Play Podcast
Uit Lara – The Untold Story That Inspired Doctor Zhivago
deur Anna Pasternak
Dit is amper onmoontlik, gemeet aan vandag se standaarde van roem, om die vlak van beroemdheid wat Boris Pasternak vanaf die 1920s en later in Rusland bereik het, te begryp. Pasternak mag baie beroemd wees in die Weste omdat hy die Nobelbekroonde liefdesverhaal, Doctor Zhivago, geskryf het, maar tog word hy in die eerste plek in Rusland as ’n digter erken, en word hy daar steeds besonder hoog aangeskryf en gehuldig. Gebore in 1890, sy reputasie het gedurende die vroeë dertigerjare toegeneem, en gou het hy ouditoriums met jong studente, rebelle en kunstenaars wat opgedaag het om na voordragte van sy poësie te luister, volgepak. Wanneer hy stilgebly het – vir effek of vir ’n kortstondige geheueglips – het die hele gehoor daarop voortgegaan en die volgende versreël gelykluidend vir hom uitgebasuin, net soos hulle deesdae by popkonserte doen.
“In Rusland, meer as enige ander plek in Europa, was daar ’n opregte kontak tussen die digter en die publiek,” het Lydia, Boris se suster, oor daardie tydperk geskryf. “Die kontak was baie groter as wat ooit in Engeland denkbaar was. Digbundels is in enorme uitgawes gepubliseer, en hulle is binne ’n paar dae ná publikasie uitverkoop. Oral in die dorp is plakkate aangebring wat byeenkomste saam met digters aangekondig het, en almal wat in die digkuns belanggestel het – en wie in Rusland het nie in hierdie kategorie geval nie? – het na die lesingsaal of forum gestroom om na hulle gunsteling digter te luister.”
Die skrywer het ’n ontsaglike invloed op die Russiese gemeenskap gehad. Gedurende tye van oproer, toe daar nie geloofwaardige politici was nie, het die publiek op hulle skrywers staatgemaak. Die invloed van literêre joernale was geweldig; hulle was kragtige mediums vir politieke debat. Boris Pasternak was nie net ’n gewilde digter wat vir sy moed en opregtheid gehuldig is nie – hy is ook deur ’n nasie vereer vir die feit dat hy sy stem vreesloos laat hoor het.
~
Daar is ’n Russiese gesegde: “Jy kan Rusland nie deur jou kop verstaan nie. Dít kan jy net deur jou hart doen.”
Toe ek Rusland vir die eerste keer besoek het, was dit betowerend om daar rond te loop, want ek het gevoel dat ek nie ’n toeris was nie, maar dat dit ’n tuiskoms was. Dit was nie dat Moskou bekend gevoel het nie, maar eerder dat dit nie vreemd was nie. Op ’n winterige Februarie-aand het ek in die wye Tverskayastraat deur die sneeu aangestap om aandete by die Café Pushkin-restourant te gaan geniet. Ek was deeglik bewus daarvan dat Boris en Olga gedurende hulle hofmakery, baie keer dieselfde roete gestap het – meer as sestig jaar gelede – op presies dieselfde sypaadjies.
Terwyl ek daar te midde van flikkerende kersligte in die Café Pushkin gesit het, het ek die hand van die geskiedenis sag op my voel rus. Die styl was dié van’n Russiese aristokraat se tuiste, van so om en by 1820 – daar was galerye teen die mure van ’n biblioteek wat volgepak was met boeke, fyn afgewerkte gewellyste, geskilderde plafonne en onderskeidende prag. Die restaurant was naby die ou kantore van Novy Mir, Olga se vorige werksplek by die Pushkin-plein. Ek kon my voorstel hoe Olga en Boris daar verbygeloop het, toegedraai in swaar jasse want dit het gesneeu, met hulle koppe omlaag en naby mekaar, en hulle harte vol begeerte.
Vyf jaar later toe ek Moskou weer besoek het, het ek na die Pushkin-standbeeld toe gegaan wat in 1898 opgerig is. Dit is waar Boris en Olga, aan die begin van hulle verhouding, mekaar gereeld ontmoet het. Dit was ook hier waar Boris die diepte van sy liefde aan Olga bely het. Die ontsaglike standbeeld van Pushkin is in 1950 van die een kant van Pushkin-plein na die anderkant verskuif, en dus sou hulle hul hofmakery aan die westekant begin en in 1950 na die oostekant verskuif het, waar ek nou gestaan en opgekyk het na die brons voue van Pushkin se majestueuse skouermantel wat teen sy rug afgetuimel het. My Moskouse gids, Marina, ’n bewonderaar van Putin en die huidige regime, het na my gekyk waar ek onder Pushkin se standbeeld gestaan het. Sy het Boris op presies dieselfde plek gevisualiseer en toe gesê: “Boris Pasternak woon nou in die hemel. Vir so baie van ons is hy ’n held, selfs vir daardie van ons wat nie eers in poësie geïnteresseerd is nie.”
Hierdie siening vol eerbied was net soos dié van Olga se dogter, Irina Emelianova, wat ek ’n paar maande gelede in Parys ontmoet het: “Ek dank die Here vir die kans om hierdie groot digter te kon ontmoet,” het sy aan my gesê. “Ons het verlief geraak op die digter voor ons die man ontmoet het. Ek het altyd van poësie gehou en my ma het van sy poësie gehou, net soos geslagte van Russe. Jy kan jou nie voorstel hoe merkwaardig dit was om Boris Leonidovich – sy Russiese vadersnaam – nie net op die bladsye van ons bloemlesings te kon hê nie, maar in ons lewens.”
Irina is deur Pasternak onsterflik gemaak as Lara se dogter, Katenka, in Doctor Zhivago. Toe sy groter geword het, het Irina baie na aan Boris geword. Hy het haar liefgehad soos die dogter wat hy nooit gehad het nie, en hy was meer van ’n vaderfiguur vir haar as enige ander man in haar lewe. Irina het van die tafel af opgestaan en ’n boek uit haar volgepakte rakke gaan haal. Dit was ’n vertaling van Goethe se Faust wat Boris haar gegee het. Op die titelblad was daar ’n toewyding in swart ink in Boris se sterk handskrif, vol draaie en lussies “soos kraanvoëls wat oor die bladsy sweef” het Olga dit op ’n slag beskryf. Aan die binnekant het Boris in Russies aan die sewentienjaaroue Irina geskryf: “Irochka, dit is jou kopie hierdie. Ek glo in jou en ek glo in jou toekoms. Wees moedig in siel en gees, in jou drome en voornemens. Glo in die natuur, in die gees van jou lotsbestemming, in gebeurtenisse van belang – en glo slegs in daardie paar mense wat reeds ’n duisend keer getoets is, en wat jou vertroue werd is.”
Irina het met trots die finale inskrywing aan my gelees. Boris het geskryf: “Amper soos ’n vader, Jou BP. November 3, 1955, Peredelkino.”
Toe sy haar hand liefderik oor die bladsy gevee het, het sy in ’n droewige stem gesê: “Dis ’n jammerte dat die ink sal verdof.”
Click Here to Play Podcast
Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Dit was Augustus 1939. Oorlogswolke het in Europa saamgepak, maar ons het daarvan bewus geword dat ons eerste minister, generaal Hertzog, hom na die afgeslotenheid van sy plaas onttrek het, en ons kon geen inligting uit hom kry nie. As daar oorlog sou uitbreek tussen Duitsland en Engeland, sou die regering van Suid-Afrika noodwendig sy beleid moes verklaar. Ons sou moes sê of ons van plan was om by die res van die Statebond te staan al dan nie.
Ek het my daarvan weerhou om ons kabinet se probleme gedurende die ses jaar wat ek onder generaal Hertzog gedien het, te beklemtoon en te openbaar. Hy was ’n gekultiveerde man en ’n heer, maar hy het ’n ongemaklike temperament besit, en daar was herhaaldelike onenighede en verskeie akute krisisse wat tot die bedankings van sommige van ons kollegas gelei het. Dit het gelyk asof generaal Hertzog nie besef het dat hy en sy Verenigde Party-vleuel in die minderheid was nie, en dat generaal Smuts, aan ons kant van die koalisie, hom aan die bewind gehou het. Hy het selde met ons beraadslaag, en op verskeie geleenthede was daar onaangename voorvalle, en onsmaaklike maatreëls is op ons afgedwing.
Generaal Smuts het deurgaans ware staatsmanskap gewys. Hy het geweet dat baie van sy volgelinge van mening was dat hy swak opgetree het en dat hy beledigings eenvoudig aanvaar het, en keer op keer moes hy geduld beoefen. Hy het gesê dat ons in ’n wesentlike poging betrokke was om die Afrikaners en die Engelse te oorreed om saam te werk, en as daar uiteindelik ’n breuk moes kom, behoort dit op grond van ’n kwessie van nasionale belang te wees en nie as gevolg van geringe gekibbelry nie.
Daardie tyd het nou aangebreek. Reg van die begin af was die Verenigde Party net in naam verenig. Die ou Nasionale staatmakers wat in 1933 by die nuwe party onder generaal Hertzog aangesluit het, het dit met heimlike voorbehoude gedoen, en ons van ons kant af het die akkoord met bedenkinge aangegaan.
Nietemin het beide groepe hul bes probeer en op ’n manier voortgeploeter, en tog het ons op die een of ander manier daarin geslaag om die boot vlot te hou. Nou het die beslissende toets aangebreek.
Vroeër in die jaar toe almal kon sien dat Europa binnekort in ’n konflik gedompel sou word, het generaal Hertzog herhaaldelik belowe dat hy die parlement byeen sou roep voordat hy ten gunste van oorlog sou besluit. Maar hy het nooit onderneem om met die parlement te beraadslaag in geval hy sou besluit om nie by die oorlog aan te sluit nie, en die gedagte het nooit by iemand opgekom om vrae oor dáárdie punt aan hom te stel nie.
Daar was vir my rede om te glo dat hy en sy vleuel in die kabinet ooreengekom het om neutraal te bly, en dat hulle van plan was om dit te doen sonder om die parlement byeen te roep.
Dit sou generaal Smuts en sy ondersteuners in ’n vreeslike verknorsing gedompel het, want daar sou geen konstitusionele manier gewees het om die neutrale besluit om te keer nie.
’n Unieke toeval het ons dié dilemma laat vryspring. Die Suid-Afrikaanse grondwet het bepaal dat alle wette gesamentlik deur beide die Volksraad en die Senaat goedgekeur moes word. Dit het só gebeur dat, ongeveer halfpad deur Augustus, die regering se wetgewende raadgewers ontdek het dat die Senaat se termyn binne ’n paar weke sou verstryk, en tensy beide Huise nie byeen sou kom om ’n wet goed te keur wat die periode sou verleng nie, sou geen wetgewing wat alleenlik deur die Laerhuis goedgekeur is, geldig wees nie.
Heel teensinnig het generaal Hertzog die Parlement byeengeroep vir ’n kort driedaagse sessie, met die doel om dié tegniese tekortkoming reg te stel.
Die laaste ding wat hy wou hê om te gebeur, was vir die oorlog om los te bars terwyl die Huis in sitting was. Maar dit was presies wat gebeur het. Met dat ons spesiale parlementêre trein die oggend van Vrydag 1 September die Kaapstadse stasie binnegestoom het, het die nuus ons bereik dat Hitler Pole binnegeval het, en dat Brittanje en Frankryk kort daarna sekerlik in ’n oorlog teen Duitsland betrokke sou wees.
Generaal Hertzog se geluk het teen hom gedraai. Hy het in ’n strik beland. Die Parlement was byeen en hy kon nie die Huis verhinder om te stem of daar oorlog of vrede sou wees nie, en sy plan om sonder parlementêre toestemming neutraal te bly, was gefnuik.
“Daar word in die koerant verduidelik,” het At Naudé gesê, “hoe mens die verskil tussen ’n goeie vyfpondnoot en ’n vervalste een kan sien. Daar is ’n hele klomp vervalste note in omloop, het die koerant gesê, en die polisie is op die punt om ’n arrestasie te maak.”
“Is dit regtig só sleg?” het Gysbert van Tonder gevra. “Ek het opgemerk, as die koerante so iets oor die polisie sê, beteken dit dat, tensy iemand by die aanklagkantoor inloop en beken dat hy dit gedoen het, die polisie daardie saak sal afskryf as net nog ’n onopgeloste raaisel in Afrika. Daar is net een ding wat erger is, en dit is wanneer hulle in die koerante oor ’n dregnet skryf, en dat die polisie slaggereed is en reg staan om toe te slaan. Dit beteken dat die skuldige persoon ’n hele ruk vroeër al die land uit is met ’n klomp bagasie wat hy nie saam met hom gehad het toe hy die land ingekom het nie, en met sy paspoort in die haak.”
Gysbert van Tonder se lip het smalend opgetrek terwyl hy gepraat het. Dit was hartseer om te dink dat ’n toevallige misverstand met ’n man op ’n perd op grenspatrollie, kon lei na so ’n verwronge beskouing oor die aktiwiteite van die polisiemag – wat opdragte uitvoer wat deur die staat se interne regering aan hulle toevertrou is.
“Hoe kan jy sê,” het At Naudé geduldig voortgegaan, “dat dit ’n vervalste vyfpondnoot is wat eintlik ’n baie goeie nagebootste noot is. Die enigste manier waarop jy kan vasstel dat dit vervals is, is as die drukwerk beter is as dié van die egte noot, en dat dit die woord ‘geoutoriseerde’ reggespel is.”
Die onderwyser het geïnteresseerd gelyk.
“Wel, hulle is besig om die Afrikaanse spelling so te verander,” het hy gesê, “dat, wanneer ek les gee, ek die helfte van die tyd nie weet waar ek is nie. In elk geval, ek sal bly wees om te weet wat die regte manier is om daardie woord te spel. Maar ongelukkig het ek op die oomblik nie ’n vyfpondnoot by my nie – ek skat daar is seker niemand hier wat kans sien om my een te leen nie.”
Sy toon was peinsend en ietwat pleitend. Maar hy was heeltemal reg. Niemand het op die skimp gereageer nie.
“Net tot die einde van die maand,” het die jonge Vermaak weer gesê, maar nie juis te hoopvol nie.
Na ’n tussenpose van stilte, het At Naudé gesê, selfs al sou iemand die onderwyser ’n vyfpondnoot leen – wat, na sy mening, heel onwaarskynlik gelyk het – dit nog nie sou help met die spelwyse van daardie woord nie. Want dit was die opregte banknote wat die verkeerde spelling gehad het – die ou spelwyse. Slegs die vervalste note het die korrekte, nuwe spelling gehad.
Jurie Steyn het gesê dat dit nou iets was wat hom dronkgeslaan het – dat dit ’n vervalste noot genoem is net omdat dit beter drukwerk en spelling gehad het as die opregte noot. Dit was een van daardie dinge wat sy kop laat draai het, het Jurie Steyn bygevoeg. Dis geen wonder dat ’n mens soms voel dat jy nie weet waar in die wêreld jy is nie.
“Om dit te sê net omdat dit beter as die ware noot is,” het Jurie Steyn voortgegaan, “en dat dit, om daardie rede, nie goed genoeg is nie, slaan my voete skoon onder my uit.”
So ’n situasie skep nuwe moontlikhede waarby hy, persoonlik, liewer nie wou vertoef nie, het Jurie Steyn verder gesê.
“Straks,” het Jurie Steyn gesê, “sal dit beteken dat, as ’n respektabele, netjies aangetrekte vreemdeling wat ’n duur motorkar bestuur, hier by my poskantoor aankom en my ’n banknoot gee wat vir my lyk of daar niks mee verkeerd is nie, behalwe dat dit lyk of dit behoorlik gedruk is, dan beteken dit dat ek die polisie by Nietverdiend moet laat weet. Maar as ’n Shangaan met ’n kombers om hom hier aankom, en hy kom nie eers om seëls te koop nie, maar hy soek net kleingeld vir ’n vyfpondnoot, dan weet ek dis alles reg, want daar is ’n verkeerde spelling op die banknoot en die leeu op die agterkant is op ’n paar plekke afgevryf deurdat die pyp in sy mond die eerste keer verkeerd geteken is.”
Oupa Bekker het sy kop nadenkend geskud.
“Ja-nee, daar was sekere sake in verband met ’n geldeenheid soos dit van persoon tot persoon bedryf was, wat nie altyd maklik verstaanbaar was nie.
“Dink maar nou aan die tyd toe die Stellalandse Republiek sy eie banknote uitgereik het,” het oupa Bekker gesê. “Natuurlik het die Stellalandse Republiek dit nie lank gemaak nie, en moontlik kon dit anders gewees het as hy langer voortbestaan het. Maar ek praat maar net oor hoe dit was toe ons vir die eerste keer ons eie Stellalandse Republiek-banknote gekry het, en hoeveel genoeë dit ons almal verskaf het.
“Die moeilikheid in daardie deel van die land was dat daar nooit genoeg goue muntstukke in omloop was nie. Selfs voor die Stellalandse Republiek tot stand gekom het, was daar probleme. Jy kon dit nogal maklik sien deur net op te let hoeveel mans gelapte broeke gedra het.
“En so, toe die Stellalandse Republiek begin het om sy eie banknote te druk, het dit gelyk asof alles aan die regkom was. Maar die volk se sake het nie heeltemal die verwagte koers gevolg nie. Een ding wat ek onthou was die eienaresse van die losieshuise. Wat hulle aan die einde van die maand wou hê – en dit onthou ek baie duidelik – was geld. Ek glo nie ek het ooit weer in my lewe, voor daardie tyd of daarná, presies dieselfde soort van gesnuif gehoor nie. Wat ek eintlik bedoel, is daardie soort van gesnuif wat ’n Stellalandse losieshuis-eienares aan die einde van die maand sou laat hoor as sy jou in die koevert sien rondvroetel het.
“Dan was daar die Indiese winkelier.
‘Ek was saam met my vriend, Giel Haasbroek, in die Indiese winkel, en ek sal nooit daardie kyk op die Indiër se gesig vergeet nie toe Giel Haasbroek ’n klomp Stellalandse Republiek-banknote uitgehaal het om hom te betaal. Saam met al die ander goed wat die Indiër gesê het, was dat hy ook, net soos ons almal, ’n bestaan moes maak.
“Maar daar’s niks verkeerd met hierdie note nie,” het Giel Haasbroek aan die Indiër gesê. “Kyk, hier’s die prent van die arend van die Stellalandse Republiek boaan die noot. En hier, onderaan, jy kan vir jouself die gedrukte handtekeninge van die president en die minister van finansies lees – hulle eie name is daar geteken.”
“Ek sal ook nooit vergeet hoe die Indiese winkelier toe gegril het nie. Die Indiër het gesê dat hy niks teen die arend gehad het nie. Hy was heeltemal gewillig om te erken dat dit die beste soort arend was. Daaroor sou hy nie stry nie. Dáár waar hy vandaan kom, het hulle nie arende gehad nie. En as jy hom ’n hele klomp arende op ’n ry sou wys, dink hy nie hy sou die een van die ander kon onderskei nie, nie maklik nie. Op daardie punt moes ons hom nie verkeerd verstaan nie – die Indiër het moeite gedoen om dit vir ons duidelik te maak. Dit was glad nie sy bedoeling om ons gevoelens op enige manier seer te maak nie. Hy sou op geen manier beswaar maak teen die arend nie.
“Maar wanneer dit kom by die handtekeninge van president en die minister van finansies, was dit ’n heeltemal ander storie, het die Indiër gesê. Want hy het altwee se handtekeninge in wit op swart gehad – vir ou skuld wat hy geweet het hy nooit sou kon invorder nie, het die Indiër gesê. En van die twee was die president erger as die minister van finansies, verseker. Die president het dit so ver gevoer, het die Indiër gesê, dat hy nou al vir maande lank, wanneer hy op pad werk toe was, drie blokke uit sy pad uit, om die anderkant van die plein, verby gestap het net sodat hy nie verby die Indiër se winkel hoef te gestap het nie.”
Oupa Bekker het die storie onderbreek om ’n vuurhoutjie by die onderwyser te kry. Dit het ons ’n geleentheid gegee om na te dink oor wat hy gesê het. Want party van sy woorde was vir ons vreemd. Dit het vir ons voorgekom of die tekstuur van die lewe in die vroeë dae soort van styf en strak was, en deesdae vind ons denkwyses dit moeilik om te aanvaar.
“Maar hulle het nooit regtig gewild geraak nie, daardie Stellalandse Republiek banknote,” het oupa Bekker voorts vertel. “Later het die regering die ou banknote onttrek en nuwes in omloop gebring. Maar ek dink nie dat selfs dit veel van ’n verskil gemaak het nie. Ek moet egter sê dat die nuwe banknote baie mooier gelyk het. In die eerste plek was die nuwe banknote groter. En hulle was in meer kleure as die oues gedruk. En daar was ’n nuwe soort arend aan die bokant. Dié arend het meer imponerend gelyk, op die een of ander manier. En hy het ook ’n soort van dreigende voorkoms gehad, wat jy nie kon miskyk nie. Dit was asof die Stellalandse Republiek jou gedreig het, as jy gehuiwer het om dit te aanvaar, as jy een van daardie note vir losies aangebied is.
“Maar tog het dit gelyk of daardie banknote nooit regtig veel gesirkuleer het nie. Miskien was die Indiese winkelier reg in dit wat hy gesê het. Miskien, op stuk van sake, moes hulle nie juis die arend verander het nie, maar eerder die twee handtekeninge onderaan die banknote. Miskien moes die handtekeninge so geteken gewees het dat mens dit nie kon lees nie.
“En, soos ek gesê het, die snaakse ding was dat daar niks met daardie Stellalandse Republiek banknote verkeerd was nie. Ek meen, op geen manier was hulle vervalste note nie. Hulle was geheel en al wettig. Die arend en die drukwerk was albei heeltemal reg – en dit was die elegantste arend wat jy jou kon voorstel, en die drukwerk was die netjiesste wat jy in daardie dae kon kry. En tog … dis hoe dit was.”
Ons het saam met oupa Bekker gestem dat die kwessie van geld redelik deurmekaar was, en dat dit nog altyd so was. Kort daarna het die regeringslorrie van Bekkersdal daar aangekom. Die bestuurder se assistent het na die toonbank toe gestap.
“Jurie, gee my asseblief kleingeld vir hierdie vyfpondnoot,” het hy gesê.
Dit was Jurie se beurt om snaaks te wees. Hy het groot gebruik gemaak van die situasie. Hy het die noot ’n hele paar keer omgedraai.
“Die drukwerk lyk reg,” het Jurie Steyn gesê. “En sover ek weet, is die spelling ook reg. En die leeu het nie ’n pyp in sy bek nie.
“Dink jy ek is ’n gek – om my so ’n noot soos hierdie een te gee …? Omtrent die enigste ding wat dit nie het nie, is ’n arend.”
Die lorriebestuurder se assistant was skoon stomgeslaan.
Click Here to Play Podcast
Uit Edward Carson QC
deur Edward Majoribanks
Die Ierse balie was een van die beste klubs waaraan ’n jong Ierse heer kon behoort: In daardie dae was dit grootliks ’n voortsetting van die doen en late in Trinity Kollege, en met ’n paar uitsonderings, is dit goed in stand gehou deur sy protestantse oudstudente, want die meeste van sy lede was toe protestante en unioniste. Dit was ’n kleiner en huisliker vereniging as die Engelse balie, en hoewel sy belonings minder was en sy fooie laer, het dit in aangename kameraadskap vergoed waar dit in ghienies te kort geskiet het.
Advokate het geen afsonderlike kamers by of naby die Vier Howe gehad nie. Dié gebou wat ongelukkig, maar moedswillig, deur Rory O’Connor in 1922 vernietig is, was een van die mooiste en grootse geboue in die Britse Ryk. In die hoofgebou was die beroemde balie-biblioteek die plek waar advokate saamgedrom en bymekaargekom het. Die hoofkamer was reghoekig met smal galerye om die kante waaronder daar boekrakke was. Daar was ’n klein agthoekige kamertjie op elke hoek, en nog ’n kamer, die “Lang Kamer”, was reghoekig daarmee met ’n opening aan die een kant. Die ingang was deur een van die klein kamertjies wat ’n voorkamer geword het waar prokureurs en hulle klerke met advokate kon praat.
Die advokate het op banke by lang lessenaars gesit of by die “Ronde Tafel”, ’n groot tafel in die middel van die hoofkamer oorkant die groot kaggel (waar daar twaalf mense gesit het), of by klein ronde tafeltjies of afsonderlike lessenaars in die hoekkamers, of anders kon hulle enige beskikbare plek beset. Die akkommodasie was heel onvoldoende vir die getalle wat dit benodig het, en die balie was volgepak soos kinders in ’n armoedige skool in die slegte ou dae, maar met baie meer ongerief as wat nou in so ’n plek geduld sou word.
Dit is maklik verstaanbaar dat, met kwartiering so na aan mekaar, die lede van die balie ’n gemeenskap was wat baie nader aan mekaar was as hulle broeders in Londen. Jaloesie en skinderpraatjies was buite die kwessie en vriendskap en kameraadskap was nie net aan die orde van die dag nie, maar noodsaaklik onder sulke omstandighede.
In daardie dae het elke advokaat in die stad gewoon en gereeld elke oggend hof toe gekom. Na hy sy toga aangetrek het en homself gepruik het, en of hy verwag het om in die hof te verskyn of nie, het hy na die biblioteek toe gegaan om te werk of om reg te maak om hof toe te gaan. Net soos in die Laerhuis was daar nie spesiale sitplekke waarop hulle geregtig was nie, maar elke man het uit gewoonte tog ’n eie sitplek bekom.
As gevolg van die beperkte hoeveelheid regsake, was dit nie moontlik om te spesialiseer soos in Engeland nie, en ’n junior advokaat moes bereid wees om in enige hof sake te behartig of advies te gee. Die algemene kennis wat as gevolg hiervan noodgedwonge verwerf is, was besonder nuttig vir Carson toe hy na die Engelse balie gegaan het, en op baie geleenthede het hy die Engelse regters en sy eie kollegas, soos A. H. Bremner, verras met sy kennis van die obskuurste regskundige doktrines, wat vir die alledaagse Engelse regsgeleerde ’n geslote boek was.
Nogtans het die biblioteek sy eie algemene verdelings gehad. Die Long Room het byvoorbeeld hoofsaaklik die “Chancery” manne en die aktebesorgers gehuisves. Wanneer hulle nie in die howe betrokke was nie, het almal hul dae in die biblioteek deurgebring. Die verwende Engelse advokaat, met sy private kamers en sy senior en junior klerk, kan seker net wonder hoe die Iere daarin geslaag het om hulle sake daar te verrig.
Die “crier” het by die ingang van die hoofkamer gestaan – hierdie formidabele amptenaar was in Carson se tyd ’n voormalige sersant-majoor met die naam Bramley, wat ’n helder, kragtige stem gehad het. Prokureurs of hulle klerke – advokate het nie klerke gehad nie – wat gevra het om ’n advokaat te spreek, of om hom na die hof te ontbied, het na die deur van die biblioteek gekom en die naam van die besondere advokaat genoem. Bramley het daarop die naam uitgebasuin – sy stem kon ver anderkant die verste hoek van die biblioteek gehoor word – en die advokaat het dan dadelik sy voorbereiding of studie gestaak en deur toe gegaan.
Bramley se stem het van die vroeë ure in die oggend af tot laat in die middag, sy dinamiek behou, en, laat dit in alle opregtheid aangeteken word, die sersant-majoor se keel het baie min olie nodig gehad. Hy het ’n gedrukte bladsy met die name van die advokate by hom gehad, en ’n advokaat wat by die biblioteek uitgeloop het, moes hom eers vertel waarheen hy oppad was – soos “Rolls”, “Common Pleas” of “Exchequer”. Bramley het dan ’n nota van sy bestemming agter die man se naam gemaak, en wanneer iemand daarna die advokaat gesoek het en hy nie gereageer het op die uitroep van sy naam nie, kon Bramley die navraer vertel waar om na hom te gaan soek.
Die roep van die name en die rondlopery van die mense tussen hulle sitplekke en die deur, het ’n groot lawaai veroorsaak. Verder was daar die “biblioteek boys” (sommige van hierdie “boys” was manne wat al baie oud was) wat genoodsaak was om op ’n drafstap, of so vinnig as wat hulle al strompelende kon, na die gevraagde boeke vir die balielede te gaan soek. Ook het daar heelwat van ’n gepratery en ’n gelaggery plaasgevind – heel onbeheersd – hoofsaaklik om die kaggel en die Round Table wat die middelpunt van regskundige geskinder en skandale in die Ierse koninkryk was.
Vir ’n nuweling soos Carson in 1877, het die plek meer na ’n moerse deurmekaarspul gelyk as ’n plek om in te werk. Hy het gewonder hoe hy, wanneer ’n prokureur na hom sou verneem, sy naam bo só ’n kabaal sou kon hoor, om nie eers daarvan te praat om in so ’n plek te studeer nie. Gou egter, net soos al die ander, het hy daaraan gewoond geraak, en het dit vir hom moontlik geword om sy ore teen elke klank te sluit, behalwe Bramley se bulderende “E. H. Carson”, wat aanvanklik nie veel gehoor is nie, maar wel ’n roepstem wat later soos die jare verbygegaan het, amper vervelig geword het as gevolg van die dikwelse herhaling daarvan. In die biblioteek het Carson agtergekom dat ’n algemene geraas, maak nie saak hoe hard dit was nie, nie so kwellend vir ’n werker was as wanneer twee persone naby mekaar in ’n fluistergesprek gewikkel was nie.
Die biblioteekstelsel het groot voordele gehad: Die here van die balie vanuit die “ses Ierse streke” – in 1877 was daar ses hofstreke – was saamgevoeg, en soos die katolieke en die nasionaliste begin het om na die balie toe te kom, het die biblioteek ’n aangename sentrum van vriendskap en kameraadskap tussen persone wat polities en godsdienstig sterk met mekaar verskil het, geword. Die balie was inderdaad die beste sosiale klub in Dublin. Verder was dit ’n groot voordeel vir ’n jong man om tussen ouer en meer ervarenes te beweeg – ’n junior kon altyd vir ’n senior om bystand vra, en sulke hulp was vrylik beskikbaar.
Advokate wat saam in ’n saak betrokke was, kon dit met mekaar bespreek, en die nuttigste oorlegplegings was dáárdie wat informeel in die biblioteek gehou is. Meer formele beraadslagings is in die aand aan huise van die advokate gehou, of in konsultasiekamers in die howe direk voor of na die howe verdaag het. As die “formele” konsultasies aan huise van Iere gehou is, het dit egter dikwels gedegenereer na informaliteit toe. En glasies drankoffers van rooi wyn en sjampanje is vrolik geklink op die Muse van regsgeleerdes – sy wat nooit op dié manier deur haar Engelse aanhangers, in hulle waardige en deftige professionele kamers, vereer is nie.
Click Here to Play Podcast
Uit A Bekkersdal Marathon
deur Herman Charles Bosman
“Hulle het oor die draadloos gesê,” het At Naudé aangekondig, “dat die Amerikaanse sterrekundiges hulle uit Johannesburg gaan onttrek. Hulle gaan hulle teleskope en die dinge waarmee hulle die sterre bestudeer het, Australië toe vat. Daar is vir hulle te veel rook in Johannesburg om die sterre behoorlik te sien.
Hy het stilgebly asof hy op kommentaar gewag het. Maar nie een van ons het iets te sê gehad nie. Ons was nie juis te veel geïnteresseerd in die Amerikaners en hulle sterre nie. Of ook nie in Australië nie, sover dit dié saak aanbetref.
“Die Amerikaanse sterrekundiges was vir baie jare in Johannesburg,” het At Naudé peinsend voortgegaan, asof die naderende verwydering van die sterrekundige navorsingstasie ’n kwessie van persoonlike berou vir hom was. “Hulle was vir baie jare hier en nou gaan hulle weg as gevolg van die rook. Ek veronderstel dat dit in hulle oë gekom het net toe hulle amper ’n nuwe ster deur hulle verkykers gesien het. Nou ja, dis hoe dit gaan met rook. Dit kom net op die verkeerde oomblik in jou oë.”
Wat At Naudé dáár gesê het, was iets wat ons kon verstaan. Dit was iets wat ons almal al ervaar het. Dit het verskil met wat hy vantevore gesê het. Dat rook op ’n ongeleë oomblik in jou oë kon kom, was iets wat almal in die Marico verstaan.
Chris Welman het dadelik vir ons begin vertel van die keer toe Koos Nienaber hom ’n guns gevra het – om op die rant van die Dwarsberge te gaan staan, van waar af dit vir hom moontlik was om die Derdepoortpolisiepos duidelik te sien. Dit het gelyk of Koos Nienaber private sake met ’n hoofman naby Ramoutsa gehad het. Dit het te doene gehad met ’n groot trop langhoringbeeste wat oor die grens gebring moes word.
“Van daar af kon ek die polisiepos baie duidelik sien,’ het Chris Welman gesê. “Ek het naby ’n Mtosa-hut gestaan. Toe die Mtosa-vrou die petrolkan op haar kop getel het en in die rigting van die spruit geloop het om water te kry, het ek nader aan die ysterpot gestaan. ’n Vuurtjie het die hele middag daaronder gebrand.
Toe hy die deksel van die ysterpot af opgelig het, kon hy steeds daardie twee polisiemanne baie duidelik sien – waar hulle kaarte aan mekaar uitgedeel het en beurte geneem het om uit ’n swart bottel te drink, het Chris Welman gesê. Hy was toe nie die minste bekommerd oor daardie twee polisiemanne nie. Eintlik, het hy toegegee, was hy heelwat meer besorg dat die Mtosa-vrou skielik na haar hut toe terug sou kom, met die petrolkan op haar kop, omdat sy iets vergeet het. En dit moes toe juis op daardie oomblik gewees het, toe hy die deksel opgelig het, dat die rook van die vuurtjie wat onder die pot geknetter het, in sy oë gekom het. Dit was die ergste soort van brandende rook wat jy jou kon voorstel, het Chris Welman gesê. Wat die Mtosa-vrou gebruik het om die vuur mee te maak, het hy geen idee van gehad nie. Hy het geweet van beesmis en bitterbessie. Dit was die soort van brandstof wat toe nog gewild was in die afgeleë areas langs die Malopo. En dit het ’n soort rook gemaak wat, as dit in jou oë sou kom, jou vir solank as miskien ’n kwartier tydelik blind kon maak.
Chris Welman het verder gesê dat hy nie heeltemal onvertroud was met die gevolge van die rook van die renosterbos nie, as gevolg van die feit dat hy sy kinderjare op ’n plaas in die oostelike provinsie baie goed kon onthou. Daar was dit nog steeds heel ongewoon om ’n huis sonder ’n oudmodiese abba-kombuis teen te kom.
Chris Welman het diep gesug. Gedeeltelik het ons gevoel dat daardie sug sy wortels in ’n heimwee vir die verlede gehad het. Sy volgende woorde het egter gewys dat dit verbind kon word met ’n wreder soort van werklikheid.
“Toe ek weer terug by die kop van die rant gekom het,” het Chris Welman dit eenvoudig gestel, “was die twee polisiemanne nie meer daar by die polisiepos nie. En Koos Nienaber is alreeds voorheen soveel keer boetes opgelê, dat die magistraat dié keer hom nie net met ’n boete laat wegkom het nie. Koos Nienaber het dit soos ’n man gevat toe die magistraat hom ses maande gegee het,” het Chris Welman afgesluit.
Meer as net een van ons wat in Jurie Steyn se voorkamer gesit het, het toe ook gesug. Ons het ook geweet hoe dit was om op die verkeerde oomblik rook in jou oë te kry. En ons het ook geweet hoe dit was om ’n skielike en onverwagse gesprek met ’n polisieman op grenspatrollie te voer, terwyl jy senuweeagtig ’n draadtang van een hand na die ander verskuif het.
Gysbert van Tonder het die gesprek weer teruggebring na die onderwerp van die sterre.
“As die Amerikaanse sterrekundiges uit Suid-Afrika vertrek omdat hulle nie ons soort van rook kan verdra nie,” het Gysbert van Tonder aangekondig, “wel, dan neem ek aan is daar nie veel wat ons daaraan kan doen nie. Ek het nie gedink dat ’n sterrekundige wat in die nag na die sterre met sy teleskoop kyk, te veel bekommerd oor rook sou wees nie – of, sover dit dié saak aanbetref, oor kooltjies, as hy in die nag by ’n treinvenster uitkyk – wat in sy oë kon kom nie. Ek het gemeen dat ’n sterrekundige op een of ander manier verhewe bo so iets sou wees.
Dit was moontlik vir die jong Vermaak, die skoolonderwyser, om Gysbert van Tonder daar reg te stel. “Dis nie die rook wat in jou oë kom nie,” het hy verduidelik. “Dis die rook in die atmosfeer wat inmeng met die waarnemings en die wiskundige berekeninge wat die sterrekundiges moet maak om kennis van die beweging van die hemelliggame te verkry.”
Toe het ons na mekaar gekyk met gevoelens van ontsag. Oor die algemeen natuurlik, het ons nie veel respek vir die onderwyser gehad nie, in die lig daarvan dat hy maar net boekgeleerdheid besit het, maar wat ons op daardie geleentheid tot nadenke gestem het, was die gedagte dat daar in die jong onderwyser se brein – net binne sy kop wat nie veel anders gelyk het as een van ons eie koppe nie – soveel kennis kon wees.
Net Jurie Steyn het hom nie so gou laat afsit nie.
“Dis soos daardie boek wat my vrou voor ons troue so graag bestudeer het,” het Jurie Steyn gesê. “Ek het julle al voorheen daarvan vertel. Dit word Napoleon se droomboek genoem. Dit is baie soos wat die jong Vermaak nou net van gepraat het. Agter in Napoleon se droomboek staan daar “Wat die Sterre Voorspel” vir elke dag van die jaar. Dit sê dat jy op Woensdae groen moet dra, en op ander dag moet jy ’n brief aan ’n familielid skryf, een wat jy wie weet wanneer laas gesien het. In elk geval, ek veronderstel dat dit is waarom daardie Amerikaanse sterrekykers Johannesburg verlaat. Ek verwag dat dit iets is wat hulle in die sterre gesien het.”
Chris Welman het gesê dat hy gewonder het of dit wat die Amerikaanse sterrekundiges deur hulle teleskope gesien het, die ster van die Amerikaanse nasie was wat besig was om op te gaan, of besig was om onder te gaan.
“Miskien kan Jurie Steyn se vrou dit met haar droomboek verklaar,” het Gysbert van Tonder gesê.
Marie du Preez was nie vir ’n lang ruk weg uit die Marico nie – het oom Schalk Lourens gesê – maar haar besoek oorsee het haar prikkelbaar gemaak.
Dit was natuurlik iets wat ek nie kon verstaan nie. Ek was ook al by vreemde plekke. Gedurende die Boereoorlog was ek ’n prisonier op St Helena. En ek was al twee keer in Johannesburg.
Een ding van St Helena: daar was geen Uitlanders daar nie. Daar was net Boere en Engelse en Kleurlinge en Indiërs, net soos jy hulle hier in die Marico raakloop. Daar was geeneen van daardie allerlei soorte verby wie jy op die Johannesburgse sypaadjies moet skuur nie.
En elke keer wat ek weer terug was op my eie plaas, en ek op my eie stoep kon sit en my pyp met opregte Magaliesbergtabak kon stop, was dit lekker om te dink dat ek weg was van al daardie sondes waarvan ’n mens in die Bybel lees.
Maar dit was anders met Marie du Preez.
Nadat sy teruggekeer het van Europa af, het Marie du Preez baie gepraat oor hoe ongelukkig ’n mens met ’n sensitiewe natuur kan wees oor sekere aspekte van die lewe in die Marico.
Ons was nie onwillig om met haar saam te stem nie.
“Toe ek daardie oggend op Nietverdiend wakker geword het,” het Willie Prinsloo vir Marie op ’n partytjie by die Du Preez opstal gesê, “en uitgevind het dat ek nie my osse kon inspan nie, want my trekketting was gesteel – wel, vir ’n persoon met ’n sensitiewe natuur, kan ek jou vertel hoe ongelukkig ek toe oor die Marico gevoel het.”
Marie het gesê dat dit dié soort ding was wat haar siek gemaak het – wel, amper.
~
Kort daarna het Marie du Preez ’n opmerking gemaak wat my seergemaak het – wel, so ’n bietjie.
“Die mense hier in die Marico sê almal dieselfde dinge, weer en weer ’n keer,” het Marikie aangekondig. “Niemand sê ooit iets nuuts nie. Julle praat almal net soos die mense in oom Schalk Lourens se stories. Wanneer ons ook al besoekers het, is dit altyd dieselfde ding. As dit ’n man en ’n vrou is, sal die man altyd eerste begin praat. En hy sal sê dat dit maar sleg gaan met sy Afrikanerbeeste wat hartwater het. Selfs al jaag hy sy beeste reguit die veld in met die eerste ryp en selfs hou hy by die sewedaagse dip, kan hy net nie ontslae raak van die hartwaterbosluise nie.”
Marie du Preez het ’n rukkie stilgebly. Aanvanklik het nie een van ons iets gesê nie. Ek het net geweet wat ek gedink het. Ek het gedink dat, hoewel ek slegs my beeste dip wanneer die regering se inspekteur van Onderstepoort af in die omgewing is, verloor ek steeds net soveel Afrikanerbeeste as enige van die ander boere hier rond wat gereeld hulle sewedaagse dip doen.
“Hulle behoort die Onderstepoortse inspekteur elke sewe dae te dip,” het Jurie Bekker skielik dit gesê wat ons almal gevoel het.
“En hulle behoort die Onderstepoortse inspekteur met die eerste ryp reguit die veld in te jaag,” het Willie Prinsloo bygevoeg.
Ek kan jou sê, dit het ons lekker opgewen.
“En dis dieselfde met die vrouens,” het Marie du Preez verder aangegaan. “Bespreek julle ooit boeke of modes of musiek? O nee. Julle praat net soos daardie simpel boervrouens van wie oom Schalk se kop so vol is. Hulle praat van hoeveel sand die Indiër in die winkel by Ramoutsa gemeng het met die laaste sak geel suiker wat hulle by hom gekoop het. Jy weet, ek het dieselfde ding al so baie gehoor – ek is verbaas dat daar nog enige sand in die Kalahariwoestyn oor is op die manier wat die Indiër dit opgebruik.”
Vir dié van ons wat daardie aand in die Du Preez se voorkamer was, was dit ook, ten spyte daarvan dat ons dit amusant gevind het, treurig toe ons teruggedink het aan hoe Marie du Preez verander het van hoe sy was, soos ’n saailing wat al te veel kere in verskeie soorte grond oorgeplant is.
“Een ding waarvoor ek egter bly is,” het Marie na ’n rukkie gesê, “is dat, sedert my terugkeer uit Europa, ek nog nie ’n meisie uit Marico raakgeloop het wat ’n selonsroos in haar hare gedra het om haar aantrekliker te laat lyk vir ’n jongman nie – soos dit keer op keer in oom Schalk se stories gebeur.”
Hierdie opmerking van Marie het ’n nuwe wending aan die geselskap gegee, en ek het verlig gevoel. Vir ’n oomblik was ek bang dat Marie du Preez ook verslaaf sou raak aan daardie soort bosveldgeselskap waaroor sy so gekla het, en dat sy ook besig was om te begin om dieselfde ding oor en oor te sê.
’n Hele paar vrouens het toe daarna begin praat oor hoe moeilik dit was om blomme in die Marico aan die groei te kry as gevolg van die langdurige droogtes. Hulle kon nie vir veel meer hoop as om ’n bos selonsrose naby die kombuisdeur aan die lewe te hou nie. Dit was ’n blom wat gelyk het of dit in die felle sonlig en seperige skottelgoedwater, en met min ander dinge, in die grond van die Marico gefloreer het, het die vrouens gesê.
~
’n Ruk later het Theunis du Preez ’n jongkêrel, Joachem Bonthuys, in diens geneem om as ’n bywoner op sy plaas te kom werk. Joachem was ’n neef van Philippus Bonthuys, en ek was by die poskantoor toe hy op die lorrie van Zeerust af, op Drogedal aangekom het. Theunis du Preez en sy dogter, Marie, was daar om hom te ontmoet.
Ek het gedink dat Joachem Bonthuys se voorkoms nie te aantreklik was nie. Hy het ietwat onbeholpe hande geskud met die boere wat opgedaag het om die lorrie te ontmoet en om so hulle melkkanne af te haal. Dit het nie gelyk of Joachem te veel vir homself te sê gehad het nie, totdat sy nuwe werkgewer, Theunis du Preez, hom gevra het hoe dit gegaan het met sy reis van Zeerust af.
“Die hele pad vêr is die veld droog,” het hy geantwoord. “En ek het nog nooit soveel hartwater onder die Afrikanerkuddes gesien nie. Hulle behoort hulle beeste elke sewe dae te dip.”
Joachem Bonthuys het toe lank gepraat, en ek kon nie help om so by myself te glimlag toe ek Marie du Preez sien wegdraai nie. Op daardie oomblik het ek ’n warmer gevoel vir Joachem gekry. Ek het gevoel dat hy in elk geval nie die soort jongman was wat vreemde liedjies onder ’n respektabele Boerenooi se venster sou gaan staan en sing nie.
Al dié goed neem my terug na wat ek besig was om te sê oor ’n ou liedjie en ’n ou storie. Want dit was ’n hele ruk voor ek weer ’n geleentheid gehad het om die Du Preez’s se plaas te besoek. En toe ek saam met Theunis du Preez op sy stoep gesit en rook het, was dit net soos ’n ou storie om hom oor sy rumatiek te hoor praat.
Marie het met ’n skinkbord op die stoep uitgekom om vir ons koffie te bring. – Ja, jy het dit alles al voorheen gehoor, dieselfde soort van ding. Dieselfde stoep. Dieselfde skinkbord. – En om daardie rede, toe sy die glasbakkie vir my uitgehou het, het Marie du Preez om verskoning gevra vir die geel suiker.
“Dis vol Kalaharisand, oom Schalk,” het sy gesê. “Dis daardie Indiër op Ramoutsa.”
En toe sy omgedraai het kombuis toe, en die twee ou mans met hulle stories daar gelos het, was dit nie moeilik om te raai wie die jong man was vir wie sy die halfrooi blom in haar hare gedra het nie.