’n Ou Storie en ’n Ou Liedjie

Posted on October 10, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
Uit Unto Dust
 
deur Herman Charles Bosman

 

Marie du Preez was nie vir ’n lang ruk weg uit die Marico nie – het oom Schalk Lourens gesê – maar haar besoek oorsee het haar prikkelbaar gemaak.

Dit was natuurlik iets wat ek nie kon verstaan nie. Ek was ook al by vreemde plekke. Gedurende die Boereoorlog was ek ’n prisonier op St Helena. En ek was al twee keer in Johannesburg.

Een ding van St Helena: daar was geen Uitlanders daar nie. Daar was net Boere en Engelse en Kleurlinge en Indiërs, net soos jy hulle hier in die Marico raakloop. Daar was geeneen van daardie allerlei soorte verby wie jy op die Johannesburgse sypaadjies moet skuur nie.

En elke keer wat ek weer terug was op my eie plaas, en ek op my eie stoep kon sit en my pyp met opregte Magaliesbergtabak kon stop, was dit lekker om te dink dat ek weg was van al daardie sondes waarvan ’n mens in die Bybel lees.

Maar dit was anders met Marie du Preez.

Nadat sy teruggekeer het van Europa af, het Marie du Preez baie gepraat oor hoe ongelukkig ’n mens met ’n sensitiewe natuur kan wees oor sekere aspekte van die lewe in die Marico.

Ons was nie onwillig om met haar saam te stem nie.

“Toe ek daardie oggend op Nietverdiend wakker geword het,” het Willie Prinsloo vir Marie op ’n partytjie by die Du Preez opstal gesê, “en uitgevind het dat ek nie my osse kon inspan nie, want my trekketting was gesteel – wel, vir ’n persoon met ’n sensitiewe natuur, kan ek jou vertel hoe ongelukkig ek toe oor die Marico gevoel het.”

Marie het gesê dat dit dié soort ding was wat haar siek gemaak het – wel, amper.

~

Kort daarna het Marie du Preez ’n opmerking gemaak wat my seergemaak het – wel, so ’n bietjie.

“Die mense hier in die Marico sê almal dieselfde dinge, weer en weer ’n keer,” het Marikie aangekondig. “Niemand sê ooit iets nuuts nie. Julle praat almal net soos die mense in oom Schalk Lourens se stories. Wanneer ons ook al besoekers het, is dit altyd dieselfde ding. As dit ’n man en ’n vrou is, sal die man altyd eerste begin praat. En hy sal sê dat dit maar sleg gaan met sy Afrikanerbeeste wat hartwater het. Selfs al jaag hy sy beeste reguit die veld in met die eerste ryp en selfs hou hy by die sewedaagse dip, kan hy net nie ontslae raak van die hartwaterbosluise nie.”

Marie du Preez het ’n rukkie stilgebly. Aanvanklik het nie een van ons iets gesê nie. Ek het net geweet wat ek gedink het. Ek het gedink dat, hoewel ek slegs my beeste dip wanneer die regering se inspekteur van Onderstepoort af in die omgewing is, verloor ek steeds net soveel Afrikanerbeeste as enige van die ander boere hier rond wat gereeld hulle sewedaagse dip doen.

“Hulle behoort die Onderstepoortse inspekteur elke sewe dae te dip,” het Jurie Bekker skielik dit gesê wat ons almal gevoel het.

“En hulle behoort die Onderstepoortse inspekteur met die eerste ryp reguit die veld in te jaag,” het Willie Prinsloo bygevoeg.

Ek kan jou sê, dit het ons lekker opgewen.

“En dis dieselfde met die vrouens,” het Marie du Preez verder aangegaan. “Bespreek julle ooit boeke of modes of musiek? O nee. Julle praat net soos daardie simpel boervrouens van wie oom Schalk se kop so vol is. Hulle praat van hoeveel sand die Indiër in die winkel by Ramoutsa gemeng het met die laaste sak geel suiker wat hulle by hom gekoop het. Jy weet, ek het dieselfde ding al so baie gehoor – ek is verbaas dat daar nog enige sand in die Kalahariwoestyn oor is op die manier wat die Indiër dit opgebruik.”

Vir dié van ons wat daardie aand in die Du Preez se voorkamer was, was dit ook, ten spyte daarvan dat ons dit amusant gevind het, treurig toe ons teruggedink het aan hoe Marie du Preez verander het van hoe sy was, soos ’n saailing wat al te veel kere in verskeie soorte grond oorgeplant is.

“Een ding waarvoor ek egter bly is,” het Marie na ’n rukkie gesê, “is dat, sedert my terugkeer uit Europa, ek nog nie ’n meisie uit Marico raakgeloop het wat ’n selonsroos in haar hare gedra het om haar aantrekliker te laat lyk vir ’n jongman nie – soos dit keer op keer in oom Schalk se stories gebeur.”

Hierdie opmerking van Marie het ’n nuwe wending aan die geselskap gegee, en ek het verlig gevoel. Vir ’n oomblik was ek bang dat Marie du Preez ook verslaaf sou raak aan daardie soort bosveldgeselskap waaroor sy so gekla het, en dat sy ook besig was om te begin om dieselfde ding oor en oor te sê.

’n Hele paar vrouens het toe daarna begin praat oor hoe moeilik dit was om blomme in die Marico aan die groei te kry as gevolg van die langdurige droogtes. Hulle kon nie vir veel meer hoop as om ’n bos selonsrose naby die kombuisdeur aan die lewe te hou nie. Dit was ’n blom wat gelyk het of dit in die felle sonlig en seperige skottelgoedwater, en met min ander dinge, in die grond van die Marico gefloreer het, het die vrouens gesê.

~

’n Ruk later het Theunis du Preez ’n jongkêrel, Joachem Bonthuys, in diens geneem om as ’n bywoner op sy plaas te kom werk. Joachem was ’n neef van Philippus Bonthuys, en ek was by die poskantoor toe hy op die lorrie van Zeerust af, op Drogedal aangekom het. Theunis du Preez en sy dogter, Marie, was daar om hom te ontmoet.

Ek het gedink dat Joachem Bonthuys se voorkoms nie te aantreklik was nie. Hy het ietwat onbeholpe hande geskud met die boere wat opgedaag het om die lorrie te ontmoet en om so hulle melkkanne af te haal. Dit het nie gelyk of Joachem te veel vir homself te sê gehad het nie, totdat sy nuwe werkgewer, Theunis du Preez, hom gevra het hoe dit gegaan het met sy reis van Zeerust af.

“Die hele pad vêr is die veld droog,” het hy geantwoord. “En ek het nog nooit soveel hartwater onder die Afrikanerkuddes gesien nie. Hulle behoort hulle beeste elke sewe dae te dip.”

Joachem Bonthuys het toe lank gepraat, en ek kon nie help om so by myself te glimlag toe ek Marie du Preez sien wegdraai nie. Op daardie oomblik het ek ’n warmer gevoel vir Joachem gekry. Ek het gevoel dat hy in elk geval nie die soort jongman was wat vreemde liedjies onder ’n respektabele Boerenooi se venster sou gaan staan en sing nie.

Al dié goed neem my terug na wat ek besig was om te sê oor ’n ou liedjie en ’n ou storie. Want dit was ’n hele ruk voor ek weer ’n geleentheid gehad het om die Du Preez’s se plaas te besoek. En toe ek saam met Theunis du Preez op sy stoep gesit en rook het, was dit net soos ’n ou storie om hom oor sy rumatiek te hoor praat.

Marie het met ’n skinkbord op die stoep uitgekom om vir ons koffie te bring. – Ja, jy het dit alles al voorheen gehoor, dieselfde soort van ding. Dieselfde stoep. Dieselfde skinkbord. – En om daardie rede, toe sy die glasbakkie vir my uitgehou het, het Marie du Preez om verskoning gevra vir die geel suiker.

“Dis vol Kalaharisand, oom Schalk,” het sy gesê. “Dis daardie Indiër op Ramoutsa.”

En toe sy omgedraai het kombuis toe, en die twee ou mans met hulle stories daar gelos het, was dit nie moeilik om te raai wie die jong man was vir wie sy die halfrooi blom in haar hare gedra het nie.

Posted in Afrikaans


Next

Previous