Dit was ’n eenvoudige en onopgesmukte verhaal wat Gerrit van Biljon my vertel het, en dit het hom lank geneem om dit te vertel, en na hy die storie klaar vertel het, het dit glad nie na ’n storie geklink nie. En dit was een van die redes hoekom ek van sy storie gehou het.
“Ek plant bloekombome,” het Gerrit van Biljon gesê, “in die gate wat ek nou hier aan die grawe is. Vir skaduwee.”
Ek was sprakeloos.
“Maar bome, neef Gerrit,” het ek gesê, “bome! Maar sweerlik man, die hele Marico is dan vol bome. Jy weet mos, hier is niks anders as bome nie. Ons kan nie eers mielies hier plant nie. Jitte man, jy moes dan honderde bome uitkap om die plek skoon te maak vir jou opstal en die beeskraal. En hulle is ook almal bome wat skaduwees gooi.”
Gerrit van Biljon het sy kop geskud. En hy het my die storie vertel van hoe hy in Schweizer-Reneke sy vrou, Sarie, voor die plaashuis onder ’n hoë bloekomboom op haar pa se plaas ontmoet het. Dit was ’n eenvoudige storie van ’n seun en ’n meisie wat op mekaar verlief geraak het. Van voorletters wat op ’n wit boomstam uitgekerf is. Van ’n glimlag in die skemer. En hande wat mekaar aanraak en ’n hupse soentjie. En trane. O ja, dit was ’n baie eenvoudige storie wat Gerrit van Biljon my vertel het. En terwyl hy gepraat het, kon ek sien dat dit ’n storie was wat vir altyd sou aangaan. Twee minnaars in die aand en ’n bleekvaal wind in ’n hoë boom. En Sarie se rooi lippies. En die geur van die bloekombome wat vir ewig in hulle harte sal bybly. Nee wat, daar het niks in daardie storie gesteek nie. Dit was die soort van ding wat daagliks aan die gebeure is. Dit was maar net ’n verspotte ding rakende die hart van ’n mens.
“En as dit enige ander boom en nie ’n bloekomboom was nie,” het Gerrit van Biljon gesê, “sou dit nie dieselfde gewees het nie.”
Ek het beter geweet, maar ek het hom dit liewer nie vertel nie.
Toe het Gerrit verduidelik dat hy ’n ry bloekombome voor sy huis gaan plant.
“Ek het die plantjies van die regering se proefplaas op Potchefstroom bestel,” het hy verder vertel. “Ek kry slegs die beste plante. Dit vat ’n bloekom slegs twaalf jaar om tot sy volle hoogte te groei. Vir die eerste paar jaar sal die bome omtrent niks groei nie omrede al die klippe. Maar na ’n paar jaar wanneer die wortels hulle pad na dieper grond gevind het, sal die boom baie vinnig groter word. En laat in die middae sal ek langs my vrou onder die grootste bloekom sit, en ons kinders sal daar rondspeel. Die roerende geluid van die wind deur ’n bloekom klink anders as wanneer dit deur enige ander boom waai. En die skaduwee van ’n bloekom op die grond het ’n heel ander gevoel as enige ander soort skaduwee. Dit is in elk geval hoe dit vir my is.”
Gerrit van Biljon het bygevoeg dat hy self ook nie juis sou omgee as ’n vark so nou en dan met voertyd, van die trog agter die huis afdwaal om homself teen die stam van een van die bloekombome te kom krap nie. Dit was hoe verdraagsaam die gedagte van die bloekoms hom laat voel het.
“Maar,” het hy heel gou bygevoeg, “ek hoop net die vark sal nie te ver gaan en dit oordoen nie. Ek wil natuurlik nie hê hy moet ’n gewoonte daarvan maak nie.”
“Miskien sal ek eendag selfs ’n boek onder die boom sit en lees,” het Gerrit ten slotte gesê. “Jy sien, behalwe vir die Bybel het ek nog nooit ’n boek gelees nie. Net stukkies in die koerant, ensovoorts. Ja, miskien sal ek tog ’n boek lees. Maar ek wil meestal – wel, die meeste van die tyd, sal ek net daar sit en rus.”
En so het Gerrit van Biljon se storie geklink.
~
Soos hy voorspel het, was die bloekoms aanvanklik nie lus om te groei nie, maar skielik het hulle opgeskiet, en na iets soos agt jaar was hulle amper volgroeid.
En ek het Sarie gereeld onder die hoogste boom sien sit, terwyl haar jongste kind op die gras langs haar gespeel het. En ek was seker dat Gerrit van Biljon net so rustig onder die withaak aan die voet van die koppie by die verste end van die plaas gerus het soos hy in die skadu van die bloekomboom sou gedoen het.
Uit Vin de Constance
deur Michel Roux Jr.
“Vin de Constance: … ’n naam, ’n titel en ’n wynstyl wat behoue gebly en bo die tyd uitgestyg het, in weerwil van die grille en giere van die geskiedenis en die affêres en gedoentes van mense”. – Michael Fridjhon
Dit het byval gevind by konings en keisers, die aristokrasie het voorkeur daarvoor getoon en dit is deur generaals bekom – hierdie “soet, wellustige en uitmuntende wyn” uit Constantia. Dit het in die 18de en 19de eeue teen die gewildheid van Tokaywyn in die Europese howe meegeding.
Hierdie gesogte status was geen geringe prestasie vir ’n Hollandse nedersetting aan die punt van Afrika nie. Hulle het wynstokke geplant met die doel om wyn te voorsien aan die skepe van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie wat die speseryhandel bedryf het.
Die eerste wyn aan die Kaap die Goeie Hoop is in 1659 geproduseer. Maar die storie van die legendariese Constantiawyn het in 1685 met goewerneur Simon van der Stel begin. Hy het die klein kolonie nie as ’n verversingstasie na Indië beskou nie, maar eerder as ’n poort na Europa.
Hoewel die dienaars van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie verbied was om private eiendom te besit, het Van der Stel met sy voorliefde vir wyn, vir hom ’n stuk grond wat die grootte van die destydse Amsterdam was, aangeskaf. Hy het dit Constantia genoem. Die stuk grond is nie lukraak gekies nie, maar is versigtig in ’n vallei tussen twee groot seë – die Atlantiese en die Indiese oseane – uitgesoek, waar daar koel, voggelaaide winde gewaai het en met grond wat sy doel gedien het. In hierdie stukkie paradys het hy begin om die beste wyn te maak wat die Kaap kon produseer.
Anders Sparman, die Sweedse plantkundige, wat saam met kaptein Cook om die wêreld geseil het, het in 1772 Constantia verskeie kere besoek, en hy het sy verbasing uitgespreek oor die mate van aanvraag wat daar uit Europa bestaan het vir dié “pikante, heel delikate dessertwyn met iets besonders in sy aroma”.
Amper al die gekroonde hoofde het dit geproe en toe bestel. In ’n wynregister wat uit 1777 dateer, is opgeteken dat koning Frederik die Grote van Pruise, 52 bottels “Cap S. Constantia” in sy kelder by Schloss Sanssouci gehad het – dis die kasteel wat hy by Potsdam gebou het wat nou ’n wêrelderfenisterrein is. In ’n vindingryke restourasieprojek word die kelder as ’n museum bewaar en is dit opnuut voorsien van moderne gelykwaardige wyne net soos dié wat destyds deur die koning geniet is. Vin de Constance staan trots in hulle midde.
Terwyl Van der Stel Constantia sy reputasie vir uitstekende wyn blywend gemaak het, was dit eintlik Hendrik Cloete wat vyftig jaar na die goewerneur se dood, laasgenoemde se droom verwesentlik het. Hoewel hy nie na gelang van familiebande ’n direkte opvolger was nie, was Van der Stel se erfgenaam eintlik Hendrik omdat beide van hulle ’n intense liefde vir die grond gehad het, en hulle het ’n vasberadenheid gedeel om die beste wyn in die land te maak en te bemark.
Constantiawyn het hoë pryse op goed ondersteunde veilings in stede soos Amsterdam, Rotterdam en Delft begin bereik. Die wyn se gewildheid is beaam deur ’n brief wat deur een van die menigte toeriste wat Hendrik se gasvryheid geniet het, terug Engeland toe gestuur is. “Die roem van Constantiawyn het regdeur Europa versprei … dis merkwaardig om te hoor hoe ’n obskure plaasboer in Afrika praat oor die monargs in Europa wat sy geesdriftige klante is”.
So bekorend was sy wyn, so “soet soos heuning”, dat daar gesê is dat dit die beweegrede vir die Britse besetting van die Kaap was. Die Franse kunstenaar en reisiger, Milbert, wat Constantia in 1804 besoek het en toe die nektar geproe het, het die gerug herhaal dat die Britte, as die enigste groot maritieme gesag in die wêreld wat nie hulle eie wyn geproduseer het nie en wat ’n enorme dorstige vloot moes onderhou, die Kaap alleenlik vir sy wingerde gebuit het.
Hoewel dit ongetwyfeld Galliese oordrywing is, het hulle verseker Constantia geteiken. ’n Nasleep van die Slag van Blouberg was toe ’n Britse bataljon by Hendrik se kelder ingebreek het, sy vaatjies gebreek en gulsig aan die kosbare wyn gesuip het.
Dit was ’n gesonde beleid om sy veroweraars soet te hou. ’n Groot hoeveelheid Constantia is na Engeland verskeep – volgens William Wilberforce Bird “om die gramstorigheid van die ministers te temper en die lippe van die koningshuis te versoet”. Briewe wat heen en weer van en na Downing Street gestuur is, het die aflewering van sestig vaatjies Constantia “vir sy majesteit se gebruik” gereël. Afgesien van George IV se koninklike deel, is ’n honderd half-aams aan die eerste minister toegewys, die koloniale sekretaris het vyftig gekry en die vernuftige goewerneurs, admiraals, regters en betaalmeesters en so aan, het elk ’n vaatjie of twee bekom.
Kolonel Arthur Wellesley van die 33ste regiment, wat later bekendheid verwerf het as die hertog van Wellington, het ook mnr. Cloete se wyn na sy smaak gevind. Toe hy gedurende sy verblyf in die Kaap by die offisiersmenasie in Wynberg ingekwartier was, het hy selde uitnodigings aanvaar, maar hy het ’n uitsondering gemaak vir die weeklikse aandetes aan die huis van ’n mnr. Walker wie se hoofkelner ’n vrygestelde slaaf was, maar ook ’n Kaapse wynkenner. Die kolonel was egter verstandig met sy inname en hy kon altyd op homself staatmaak om weer by die huis uit te kom.
Wellington het sy smaak met sy Franse vyand gedeel. Napoleon het daagliks, gedurende sy vyf jaar lange ballingskap op die eiland van St. Helena, sy vertroosting in ’n bottel Constantia gevind. (’n “Algemene Verklaring van die Wyn voorsien aan generaal Bonaparte se Huishouding”, gedateer Oktober 1816 tot 30 Junie 1817, toon aan dat die driemaandelikse getal gewissel het tussen 90 en 92 bottels. Die keiser het sy voorraad vir sy eie persoonlike genot gehou, en daar is gesê dat hy op sy sterfbed vir ’n glas Constantia gevra het.
Gastronome soos Brillat-Savarin en die Marquis de Béchamel het die wyn se soet sintuiglikheid geniet. Destydse romanskrywers het die wyn se ondersteunende kwaliteite hoog geprys. Prakties soos altyd het Jane Austin aanbeveel dat Elinore Dashwood, die heldin in Sense and Sensibility, ’n glas Constantia vir sy “helende kragte vir ’n teleurgestelde hart” moes probeer. In Edwin Drood het Charles Dickens in ’n soortgelyke trant “die ondersteuning wat in ’n glas Constantia en ’n tuisgemaakte beskuit ingesluit was” beskryf.
~
In 1986 is die eerste oes van die nuwe uitsoekwyn, Vin de Constance, vrygestel en met groot applaus deur die kritici begroet. ’n Goue, aromatiese wyn met ’n lewendige en dralende soetigheid, dit was van wynstokke gemaak wat op die laagliggende skuinstes van Klein Constantia – eens deel van Van der Stel se oorspronklike plaas – geplant is.
Die “soet, wellustige en uitstekende” wyn was weereens op die mark en elke bottel het sy historiese tradisie weerspieël.
Ná Suid-Afrika vir twee jaar in die greep van ’n verskriklike droogte was, het die land nou op soortgelyke wyse rampspoedige oorstromings beleef. Met ons is dit altyd uiterstes: dis óf oorvloed óf hongersnood. Die land is óf uitgedor en versmag van die dors, óf die sluise van die hemel word oopgetrek.
Ek het genoem van die droogtelenigingswet, wat ons nou moes verander in ’n vloedondersteuningsmaatreël. My pa het my op ’n slag vertel hoe hy deur ’n woud in Knysna gery het en op ’n ou bosbewonersvrou afgekom het. Sy het daar ewe mistroostig langs die pad gestaan. Toe hy langs haar stilgehou het om uit vind wat verkeerd was, het sy geantwoord: “Ag meneer, die olifante en die wurms het my akkers laasnag aangeval.” Die grootste viervoetige diere en die kleinste insekte het saamgesnoer om haar gewasse te plunder, en dit is tipies van hoe uiterstes hier in Suid-Afrika bymekaarkom.
En dit was hoe dit daar gegaan het. Waar daar onlangs nog horingdroë landstreke was met kuddes wat van die dors gevrek het, het daar nou van oraloor verslae ingekom van swaar reëns, en van mense en diere wat dit nie oorleef het nie.
Dit was vroeg in 1934. Ek het saam met my familie Kaap toe gegaan in afwagting op die parlementêre sessie. Ná ek die hele dag lank saam met my twee seuns in die baai visgevang het, was daar met my tuiskoms telegramme wat die nuus gebring het dat die Oranjerivier in vloed was en dat die mense op die eilande, aan die onderkant van Upington, in groot gevaar verkeer het.
Toe ek voorheen die minister van Lande was, het ek ’n opname van daardie eilande laat doen en toe setlaars daar laat vestig. Nou egter was hulle in lewensgevaar, en ek besluit om self te gaan sien wat daar aangegaan het. Ons lugmag het ’n ou Wapiti tweesitplekvliegtuig besit wat in Kaapstad sy staanplek gehad het, en ek het dit toe aangevra. Die loods was luitenant Viljoen en ons twee het die volgende dag met dagbreek vertrek. Ná ses ure het ons die Oranje in sig gekry.
Dertig jaar gelede al het ek reeds kennis gemaak met daardie deel van die rivier, maar wat ek nou gesien het, was ’n heel ander toneel. In plaas van smal stroompies en kanale wat langs die eilande verby gekronkel het, het daar ’n sterk, drie myl wye stroom gevloei, en slegs die hoogste punte van die groter eilande was nog sigbaar bokant die water. Die kleiner eilande was reeds oorstroom.
Ek het op Upington geland en dadelik soveel inligting as moontlik ingewin. Brûe was onder water, die spoorlyn het weggespoel, en telegraaf- en telefoonkommunikasie is onderbreek. Niemand het enige nuus van die eilandbewoners gehad nie. Daar was ’n gehawende motorboot wat as ’n veerboot diens gedoen het, en ek het vrywilligers gevra om dit vir ons te beman. Van die ses mense wat hulself beskikbaar gestel het, was vier plaaslike Joodse handelaars. Elkeen van ons het ’n motorkar se opgeblaasde binneband as reddingsboei saamgeneem, en van die meeste van ons klere ontslae geraak, want die water was rof en onstuimig.
Ná ’n gevaarlike oorvaart het ons Kanoneiland bereik. Met die landing het die bewoners ons toegejuig. Hulle huise en landerye het weggespoel, maar hulle was in geen onmiddellike gevaar nie, want die vloed kon nie die hoër vlakke bereik nie. Toe het ons die ander eilande wat nie onder water was nie, besoek. By een van hulle het daar nog net ’n paar vierkante jaarts bokant die water uitgesteek. Op hierdie klein bietjie grond het twee bewoners ’n wa getrek, met ’n kombuistafel daarop en twee stoele op die tafel, waarop hulle heel filosofies hul pype gesit en rook het. Nie een van dié twee kon swem nie, en toe ek hulle gevra het wat sou gebeur as die water hoër sou styg, het hulle net hulle skouers opgelig en gesê dat hulle dan saam met die ander sou wegspoel.
Ek het hulle uitgenooi om by ons op die boot aan te sluit, maar nadat hulle die vaartuig mooi bekyk het, het hulle die aanbod van die hand gewys. Dit was wys van hulle, want kort nadat ons van hulle af weggevaar het, het ons in ’n stroomversnelling beland wat ons skip laat sink het.
Gelukkig was ons na aan ’n wal en met moeite en ’n bietjie geluk het ons daarin geslaag om deur die vlakker water die wal te bereik. Dit was amper donker en ons was sopnat, terwyl die meeste van ons ander klere saam met die boot gesink het. Koud en honger het ons styf langs mekaar vir ’n bietjie warmte, op die landtong van sand gesit. Die naaste vasteland was een en ’n half myl anderkant ’n geweldige stroomversnelling waarin geen boot dit sou maak nie.
Die nuus oor ons benarde situasie moes die rondte gedoen het, want kort ná middernag het ons die kopligte van motors begin sien, en dit was duidelik dat hulle ons probeer opspoor het. Die gedreun van die water het verhoed dat hulle ons harde geskreeuery kon hoor. Toe het ons egter met die vreemde stomp-swemmetode van die Hottentotte langs die rivier kennisgemaak. Hulle vat ’n boomstomp wat ses voet lank is. Aan die bokant van die stomp word ’n sterk houtpen ingedryf sodat dit as ’n handvatsel kan dien, en met hierdie primitiewe vlot durf hulle vreesloos die waters aan, ongeag die sterkte van die stroom. Met een hand aan die houtpen en een been oor die stomp, word die los arm en been gebruik om hulself voort te dryf.
Terwyl ons in die donker gesit en bewe het, het ons ’n geroep gehoor, en ’n man het sopnat uit die water by ons aangekom. Dit was ’n Hottentot wat deur die distriksmagistraat gestuur is. Toe hy gehoor het dat ons nie teruggekeer het nie, het hy soveel boomstamswemmers as moontlik bymekaar gekry en hulle die opdrag gegee om die rivier aan te durf en die eilande te deursoek.
Voor dit donker geword het, het ek oor die bruisende, woelende water gekyk, en nie gehou van wat ek gesien het nie. Rotslae onder die water het die stroom in golwe van tien tot vyftien voet hoog opgebreek, en om helder oordag hierin rondgesmyt te word, het onverskrokkenheid vereis, maar die Hottentot-swemmers, sorgwekkend wydsbeen oor hulle boomstompe, het nie gehuiwer om die oorvaart in die donker aan te durf nie.
Die man wat ons bereik het, het dit as iets onbelangriks afgemaak, en toe ons hom vertel het wat ons aan hom wou oordra, het hy die stroom weer aangedurf en die nag in verdwyn. Hy het sy terugtog veilig voltooi, want nie lank na dagbreek nie, het ons ’n groot boot met ’n Hottentotsbemanning van die bokant van die rivier af sien aankom. Ons het hulle angstig dopgehou, maar omdat die boot met die stroom af gevaar het, en nie dwars teen die stroom nie, was dit makliker en het hulle goed daarin geslaag om ons op te laai en van die eiland af te kry.
Dit was ’n moeilike terugtog, maar na ’n hewige gesukkel het ons, onder entoesiastiese applous van die skare wat daar vergader het om die reddingsoperasie dop te hou, die wal bereik.
Daar is aan my gesê dat hierdie swemboomstompe soos familie-erfstukke van pa na seun oorgedra word, en ek het gehoor dat ’n Europeër wat probeer het om een van die stompe op te kap vir vuurmaakhout, amper vermoor is voordat hy bevry is.
Die eienaar van ’n motorkar het met my teruggehaas Upington toe, want ek het beplan om voorrade met valskerms vir die hulpbehoewendes neer te laat. Deur lakens en tafeldoeke te gebruik, het ons valskerms vervaardig en blikkieskos en ander soorte kos daaraan vasgemaak. Belaai met hierdie voorrade, het ons ’n hele paar vlugte oor die geteisterde area uitgevoer, en elke keer het ons dit reggekry om die bomme heel akkuraat te laat val, en kon ons mans en vrouens en kinders sien hardloop om dit te gaan optel, en met ons verbyvlug het hulle uit dankbaarheid vir ons gewaai.
Nadat ons hulle so goed as wat ons kon van lewensmiddels voorsien het, het ek die volgende dag afgegaan na die rivier toe om te sien wat met die konstruksiewerk by Vioolsdrift gebeur het.
Soos voorheen het ons verby Kanoneiland en die ander eilande gevlieg, en toe af na Keimoes en Kakamas waar ek ontsaglike skade kon sien. Kort verby Kakamas, het ons ’n enorme rookpluim in die lug waargeneem. Dit was watersproei wat vanuit die Augrabieswaterval opgestyg het. Ons het daarom gesirkelvlieg en opgemerk dat, aan die bokant van die waterval, die rivier drie of vier myl breed was, en van daar af het die water die kloof binnegevloei en by die canyon afgestort, vyfhonderd voet na benede.
Dit was ’n asemrowende toneel, en ek glo dat ek en my loods die eerste mense was wat die Augrabies vanuit die lug in vloed gesien het, want gewoonlik wanneer dit reën, is dit onmoontlik om daar naby te kom. My rekord om in die ravyn op te swem, het steeds gestaan.
Ons het verder rivier af gevlieg en na ’n ruk was ons oor Goodhouse. Nie lank van tevore nie het ek die plek besoek, en by daardie geleentheid het ou Carl Weidner my weer verplig om na sy gunsteling onderwerp te luister – Suid-Afrika was besig om op te droog.
Toe ons oor sy plaas gevlieg het, was sy boorde en landerye onder water en slegs die dak van sy plaaswoning het uitgesteek. Die arme kêrel het daar op ’n bultjie, sonder sy baadjie, die verwoesting gestaan en gadegeslaan. Ek het vir hom ’n boodskap laat val: “Baie jammer, maar jy het gesê Suid-Afrika is besig om op te droog.”
Die nota het amper by sy voete grondgevat en ek het gesien hoe hy dit opgetel het. Hy het dit gelees en toe sy gebalde vuis in die rigting van die vliegtuig gewys. Maar toe ons mekaar lank daarna weer ontmoet het, het hy net gegrinnik, en maar ’n grap daarvan gemaak.
Van hier af het ons Vioolsdrif toe gevlieg. Die ingenieurs is vroegtydig gewaarsku, en hulle het daarin geslaag om die meeste van die trekkers en masjiene te beveilig. Tussen die wit tente op die heuwel kon ek die werkers sien soos hulle die vloed se vordering besigtig het, en ook hier het ek ’n boodskap van sterkte laat val.
Anderkant Vioolsdrif het ons oor die mees bergagtige en onherbergsame stuk aarde wat ek tot nog toe in my lewe gesien het, gevlieg – berge wat uitgestaan het soos haaitande – en dit was juis op daardie oomblik dat ons enjin besluit het om ons die skrik op die lyf te jaag. Daar was ’n opeenvolging van harde knalgeluide en ’n geklop wat gevoel het of die masjien aan stukke geruk is. Ek kon met luitenant Viljoen by wyse van die oorfone kommunikeer en ek het hom hoor sê: “Jammer meneer, masjienprobleem.” Dit was maar te duidelik en ’n oomblik daarna het hy gesê: “Meneer, ek is bevrees ons sal moet spring.”
Die valskerms wat ons in daardie dae gedra het, was swaar en lomp en ek het myne vroeër losgegespe en in die tonnel agter die stuurkajuit gegooi. Dit was nie maklik om in daardie beperkte holte af te kruip nie, maar binne sekondes het ek hande-viervoet dit tog gedoen en die ding in die hande gekry. Die gehoes en geproes van die enjin het nog aangegaan. En laat ek maar sê, die gedagte om uit te spring en af te val na daardie afskrikwekkende bergreeks toe, was angswekkend. Ek het die oorfone skuins teruggeplaas en kon net die loods se stem flouweg hoor sê dat ek nie moes spring voordat hy sy hand omhoog gehou het nie. Ten spyte van die skoppende en rukkende silinders, het die skroef nog gedraai, en luitenant Viljoen het die Wapiti se neus lugwaarts gehou. Hy het geklim tot die enjin die gees gegee het, en in die betreklike stilte wat gevolg het, het hy oor die oorfone gesê dat hy gedink het ons sou dit maak. Ek het nie geweet wat hy bedoel het nie, maar toe ek voor by die venster uitgekyk het, het ek in die verte die Atlantiese oseaan sien glinster. Baie behendig het hy van ons hoogte gebruik gemaak en die masjien op só ’n manier hanteer dat, na ’n spannende halfuur, hy gladweg op die strand gesweefland het.
Ons was gelukkig, want bo en behalwe ’n goeie landing, het ons bevind dat ons by die staatsdiamantdelwerye naby Alexanderbaai was. Die bestuurder en sy span was gou op die toneel, en in plaas daarvan om uit ’n vliegtuig te spring en op ’n verafgeleë, barre woestyn te land, het ons ’n warm ontvangs geniet met gerieflike kwartiere tot ons beskikking.
Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
En toe het ons Upington toe gery, ’n dorp aan die noordelike oewer van die Oranjerivier. ’n Langdurige droogte het groot verwoesting aan beide kante van die rivier gesaai, en ek het ondersoek gaan instel. Om Upington te bereik was dit nodig om tweehonderd myl deur ’n dorre landstreek te swoeg. Ons het via Rietfontein gereis – die afgesonderste buitepos in Suidelike Afrika – asook deur Hakskeenpan. Dit is dertig myl lank met ’n vloer so glad en hard dat ons karre teen sestig myl per uur geen stof opgejaag en geen spore nagelaat het nie.
Die gevolge van die droogte was verskriklik. Die Hottentotte wat hierdie wêreld bewoon, het selfs in goeie tye op die soom van bestaan, op die buiterand van aan-die-lewe-bly, gelewe, want hierdie deel van die wêreld is een van die ontoegeeflikste op aarde. Ons het gesien hoe hulle van springkane en wortels gelewe het en hoe hulle miere opgegrawe het. Ek het een van hulle gevra hoe dit met hulle gegaan het, en hy het in Afrikaans gesê: “Meneer, ons Hottentotte kan op die wind en die son lewe, maar met die wit mense hier gaan dit maar helsleg.”
Die Oranjerivier was net ’n rits stagnante poele. Honderde wit boere het na die rivier toe beweeg op soek na water en ’n bietjie weiding – die bietjie wat nog op die walle van die rivier was.
Ons het die rivier oorgesteek en haastig in ’n suidelike rigting gery. Ons is verby Goodhouse, Pella-Pella en ander ongemerkte plekke op die landkaart en het met ’n wye draai weer by die rivier uitgekom, by Vioolsdrif. Oral langs die pad het ons dooie beeste, skape en perde gesien, en geruik. Dit was ’n miserabele reis.
’n Paar families het ’n heenkome by Vioolsdrif gesoek. Hulle het weggevlug van hulle swaar beproefde plase af, want hier het hulle ten minste water gehad om te drink, en die diere wat nog gelewe het, kon darem ’n bietjie kos kry deur aan die wilgers en die riete te vreet.
Toe ons naby die vernouing van die rivier in die kloof op groepe gesinne afgekom het, was hulle totaal uitgehonger. Waar daar ’n boom te vinde was, het ’n hele familie daaronder vir ’n bietjie beskutting gekamp, en net soos die Hottentotte het hulle miere uitgegrawe en jakkalse in ’n strik gevang vir voedsel. Hulle was dapper, geharde mense saam met wie ek gelewe het in die dae van die guerrillaoorlog, en daar het ek hulle voortreflike eienskappe leer ken.
Dit was pateties om te sien hoe die mans ’n kanaal probeer grawe het om die bietjie water wat daar was, na ’n stuk gelyke grond te lei. Hulle het gehoop om koring en mielies daar te saai, maar die vlak was verkeerd, en die ongelyke grond en ’n uitstaande rots het hulle harde werk gekortwiek. Ondergang het hulle in die gesig gestaar.
Ek het een van my karre teruggestuur beskawing toe, en binne twee weke het ingenieurs daar aangekom en binne ’n maand was driehonderd man besig aan die bou van ’n dam en die konstruksie van ’n kanaal.
Waar ek afgekom het op ’n gemeenskap wat aan die sterwe was, is daar vandag tienduisende akkers lande en tuine onder besproeiing en talle gerieflike wonings en families met glimlaggende gesigte. Dit het die belastingbetaler negentigduisend pond gekos, maar hierdie nedersetting wat uit die woestyn opgestaan het, is iets tasbaars wat ek tot stand gebring het.
Ek het later ’n eenvoudige brief ontvang. Die inhoud is as volg:
‘Agbare Heer. Ons, die ondergetekendes, bedank u. U het belowe om ons te help, waaraan ons getwyfel het. Maar u kar se spore was nog sigbaar in die sand toe u werkers hier opgedaag het om die dam te bou, en nou is ons gered.’
Onderaan was die handtekeninge van baie mense.
Met die volgende parlementêre sessie is ek gekritiseer, maar ek het ’n dapper gemeenskap gehelp – mense wat ek jare terug geleer het om te respekteer – en daaroor is ek nie spyt nie.
Uit Divinity Student
deur Herman Charles Bosman
Ons kon nie help om te voel dat At Naudé op ’n buitengewone en ’n taamlike eienaardige manier opgetree het nie. Hy het eers so half opgestaan en ’n beswaarde kreun geuiter. Toe het hy skielik weer teruggesak in sy riempiestoel, terwyl hy terselfdertyd op ’n wanhopige manier met sy regterhandse palm teen sy voorkop geklap het. Sy gelaatstrekke was merkbaar verwronge.
“Dieselfde kinderagtigheid,” het At Naudé uitgeroep, “wat veronderstel is om slim te wees, of wat veronderstel is om snaaks te wees. Ek kan dit net nie meer vat nie, hierdie swarigheid wat kamstig Marico-pret is. As dit nie Jurie Steyn is wat dit doen nie, is dit Chris Welman. Of dis Gysbert van Tonder. En as dit nie Jurie Steyn se vrou is nie, is dit oupa Bekker, of dis ek. En as dit nie ek is nie, is dit – o, ek sê jou, dit maak my mal. En wanneer ek die draadloos aanskakel, is dit dieselfde ding.”
~
Toe het oupa Bekker gesê dat as dit die beskawing was waarvan At Naudé wou wegkom, wel, daar was altyd Durban. Hy was nog net een keer in Durban, het oupa Bekker gesê. En hoe hy in die eerste plek by Durban gekom het, was nogal ’n hele storie, het oupa Bekker bygevoeg. Maar Durban was ’n taamlike goeie plek om te besoek as jy genoeg gehad het van die beskawing.
“Dis dieselfde ou storie,” het At Naudé vir oupa Bekker laat verstaan. “En ek weet nou ook presies wat jy gaan sê. Dit was in die ou dae. En jy het met ’n muilwa daarheen gegaan. Of jy was ’n transportryer, en jy het met ’n ossewa daarnatoe gegaan. En op pad daarheen het jy ’n jong teologiestudent tot by Kimberley laat saamry.”
~
“Elke keer wat oupa Bekker praat, klink dit vir my asof hy deur ’n aankondiger oor die draadloos bekend gestel word, en asof daar iemand is wat die klavier speel vir agtergrondeffek. Jy verstaan, vir my is oupa Bekker nie meer eg en opreg nie.
“Selfs die manier wat hy agter sy stoel spoeg – jy sien, vir my lyk dit asof dit ’n soort aanstellerige manier van spoeg is. Ek voel nie dat oupa Bekker spoeg sommer net omdat hy dit moet doen nie.”
Ons het met verbasing na At Naudé gekyk. Dit was duidelik dat hy heel ontstem was en dat dit beroerd met hom gegaan het – dit was as gevolg van die lees van koerante, en omdat hy te veel beskawing oor die draadloos gekry het. Daar was geen manier om te weet waar dié soort van ding kon eindig nie. Ons het gevoel dat, as ons kon, ons hom graag wou help.
Vir At Naudé se onthalwe, was dit vir ons ’n verligting om weer ’n keer oupa Bekker se stem te hoor.
“Die laaste keer wat ek Durban toe gegaan het, was nie in die ou dae nie, maar twee jaar gelede,” het oupa Bekker gesê. “En waarom ek gesê het dat dit soos ’n storie was, was omdat ek met ’n trein daarheen gegaan het. Ek het nog nooit in my lewe so ver met ’n trein gery nie. En vir my was dit ’n wonderlike ding. Anders sou ek nooit geglo het dat mens so ver met ’n trein kon reis nie. Dit was nie eers een keer nodig om uit te klim en te loop nie, of om oor te klim na ’n poswa nie, of om op ’n klaar opgesaalde perd te klim waarmee ons op ’n ruiterpaadjie oor die ergste deel van die rante kon kom nie.”
“Dan kon dit nie in die Unie gewees het nie,” het Chris Welman dit uitgebasuin om te probeer om daarvan ’n grap te maak. “Jou reistog kon tog nie met die S.A.S. gewees het nie.”
Ons was bly dat oupa Bekker vir Chris Welman geïgnoreer het.
“Die hele reis deur was daar geen probleme nie,” het oupa Bekker aangegaan. “Dít het eers gekom toe ek by die stasie afgeklim het en ’n Zoeloe gekom het en my reistas uit my hande geneem het. In my hele lewe het ek nog nooit so ’n Zoeloe gesien nie. Hy het die horings van ’n bul op sy kop gehad en skulpe uit die see aan sy voete. Dit was net soos my oupa my vertel het hoe die Zoeloes by Vegkop aangetrek was.”
Hieroor het ons natuurlik lekker gelag. Jy sien, dié van ons wat al in Durban was, het geweet van die riksjaboys – die manier wat hulle aangetrek het om boosaardig te lyk. Maar al wat hulle gedoen het, was om jou en jou bagasie na ’n hotel toe te vervoer.
“Daardie soort praatjies …” het At Naudé begin, met sy lippe smalend opgetrek, “en ek veronderstel dat, toe jy by die hotel aangekom het …”
“Dis hoekom ek sê dat Durban so onbeskaaf is,” het oupa Bekker verduidelik. “Want dit was eers toe ons by die hotel aangekom het dat die riksjatrekker verskoning begin maak het oor die bruin skoenpolitoer wat van sy ken begin afkom het. Hy moes werk om by die kollege te kon studeer, het hy my vertel. Hy het gesê dat dié werk bestendiger was as om babas op te pas of om gras te sny. En die skulpe aan hom het geratel terwyl hy gepraat het.
“Die riksjaboy het gesê dat hy ’n teologiestudent was.”
“Wat van daardie keer toe ons volksraadslid se swaer self stasie toe gestap het om heel ernstig en ferm met die stasiemeester te gaan praat?” het Gysbert van Tonder voortgegaan. “En hy het die stasiemeester gevra of hy gedink het dat elke boer in die Groot Marico ’n beesdief was. Dit het hy hom sommer reguit gevra, want hy het getuies saam met hom gehad. En die stasiemeester het ‘nee’ gesê, maar hy het geweet dat elke Marico boer ’n beesboer was, en hy het geweet dat enige beesboer ’n fout kon maak.”
Toe het ons almal gesê dat dit iets heeltemal anders was. En ons het gesê dat, as jy nie daar was om self toesig te kon hou nie, en jy dit aan ’n Betsjoeana-veewagter oorgelaat het om ’n klomp beeste na Johannesburg te verspoor, wel, dan kon jy seker wees dat daar foute sou insluip, het ons gesê. Vervolgens het At Naudé ons begin vertel van ’n fout wat een van sy Betsjoeana-veewagters op ’n sekere geleentheid gemaak het. Die gevolg was dat ses van Koos Nienaber se beste trekosse saam met ’n klomp pruldiere wat At Naudé mark toe gestuur het, op die spoor na Johannesburg beland het.
“Dit was daardie keer toe Koos Nienaber Johannesburg toe gegaan het om sy ou Mauser te laat opknap,” het At Naudé verduidelik. “En dit het toe só gebeur dat Koos Nienaber nie geweet het waar om af te klim nie, en is hy toe op ’n syspoor êrens verby Johannesburg gerangeer. En dit was toe só dat, presies op daardie oomblik toe Koos Nienaber vanuit sy tweedeklaskompartement afgeklim het, sy ses trekosse uit ’n wa aan die anderkant van die spoor uitgestap het. Dit het natuurlik ’n hele klomp moeilikheid veroorsaak. En voordat hy sy ses trekosse teruggekry het, moes Koos Nienaber aan die magistraat verduidelik wat sy bedoeling was om al vyf die kamers van sy Mauser daar op die spoorwegplatform te laai – en dit ten spyte daarvan dat die grendel en die visier bietjie regmaak nodig gehad het. Die magistraat het glo gesê dat daar elke dag in Johannesburg heeltemal genoeg bakleierye en relletjies was wat te doene gehad het met die rondgeneukery met vuurwapens. En dit sonder dat ’n boer die hele pad van die Marico af met ’n geroeste Mauser moes kom om tot die onaangenaamheid by te dra. Natuurlik het ek daarna my Betsjoeana-veewagter goed die Leviete voorgelees omdat hy so dom was.
En hier het At Naudé stilgebly asof hy een van ons uitgenooi het om iets te sê. Maar nie een van ons het iets gehad om te sê nie. Want ons het lank gelede al Koos Nienaber se kant van die storie gehoor. En van dit wat hy ons vertel het, het dit nie gelyk of al die foute by At Naudé se veewagter gelê het nie. Dit het gelyk of At Naudé self ook so bietjie deel van die storie was.
“In elk geval,” het At Naudé met ’n skewe soort van glimlag bygevoeg, “wat Koos Nienaber die meeste in die hof oor gekrenk gevoel het, was dat die Johannesburgse magistraat na sy Mauser verwys het as ’n geroeste ou “fowling-piece”.
Koos Nienaber het nie juis te veel beswaar gemaak teen die “fowling-piece” gedeelte nie, het At Naudé gesê, want hy was nie heeltemal seker wat ’n “fowling-piece” was nie. Maar dit het hom ’n hele ruk geneem om oor die gedagte te kom dat die magistraat gesê het dat sy Mauser geroes was.
Weereens was daar ’n ongemaklike stilte. Dit is deur Johnny Coen verbreek. Baie keer in die verlede wanneer daar ’n misverstand in Jurie Steyn se poskantoor opgeduik het, het Johnny Coen iets te sê gehad om dinge mooi uit te stryk.
“Miskien is dit soos wat daar in die Boek der Boeke gesê word,” het Johnny Coen opgemerk. “Miskien het dit met Mammon te doen. As ons miskien die Koninkryk van die hemele meer opsoek, dan sou sulke onbesonne dinge nie plaasvind nie. Soos wat ’n plaasboer per ongeluk sy buurman se beeste mark toe stuur. Dit is ’n fout wat omtrent met elke trokvrag gebeur. Ek het by die Ottoshoopspoorhalte gewerk, en ek weet. Dit het die stasiemeester gewoonlik gryshare gegee – om ’n klomp beeste op die trok te laai en om dan nie te weet hoeveel jy weer sou moes aflaai voordat die lokomotief daardie trok kom haal nie. En die hele tyd was dit natuurlik as gevolg van een of ander fout. ’n Fout deur ’n dom Betsjoeana-veewagter.
Dit was toe dat een van ons die soortgelyke fout wat diaken Kirstein se veewagter ’n lang ruk gelede gemaak het, onthou het. Ons het nie net ’n bietjie pyn gevoel om daardie foute te noem nie, as jy al die eerbied wat ons vir diaken Kirstein gehad het, in ag neem – en hy was Jurie Steyn se vrou se neef, nogal. Ons het dit ook net genoem as gevolg van die omstandigheid dat daardie fout van die diaken se veewagter jare lank al aan die gebeure was voordat dit ontdek is. En miskien sou hulle die fout nooit agtergekom het nie, as dit nie was nie dat saam met die trok vol van diaken Kirstein se groot wit varke, daar ook ’n span muile opgelaai is wat aan ’n buurman van diaken Kirstein, daar naby aan hom, behoort het.
En omdat hy alreeds ’n diaken was, het ons baie jammer gevoel vir diaken Kirstein, om te dink dat sy veewagter so dom kon wees. En ons het in daardie dae ook nogal baie vir mekaar geknipoog – soos een Marico-plaasboer vir ’n ander knipoog. En ons het gesê dat dit darem ’n groot jammerte was dat diaken Kirstein so ’n dom veewagter moes hê, wat nou nie eers die verskil kon sien tussen ’n Groot Witte en ’n muil nie. En ons het ’n hele paar keer weer geknipoog.
Dit was die rigting wat die gesprek ewe skielik daar in Jurie Steyn se poskantoor ingeslaan het. Ons was maar net besig om die ou dae in herinnering terug te roep, het ons aan mekaar gesê.
En ons het hierdie geselsery oor die verlede baie geniet. En ons kon sien dat Jurie Steyn dit ook baie geniet het. En toe het Johnny Coen probeer om dit alles te gaan staan en bederf. Johnny Coen het, sonder dat iemand hom gevra het, begin praat oor die Bergpredikasie. En laat enigeen van ons wat sonder sonde is, het Johnny Coen bygevoeg, die eerste klip gooi.
Jurie Steyn het dit alles opgesom.
“Miskien word daar hier in my poskantoor ’n hele klomp sin gepraat,” het Jurie Steyn gesê, “maar ’n hele klomp stront ook.”
Jurie Steyn het daardie woord saggies gesê, want hy wou nie sy vrou dit laat hoor nie.
“Baie jare sal verbygaan. Ek sal nie meer lewe nie. Daar sal geen terugkeer wees na die dae van ons vaders en grootvaders nie. Dit sal inderdaad beide ongewens en onnodig wees. Maar einde ten laaste sal daar meer dinge te voorskyn kom, dinge wat lank sluimerend gelê het: edele, skeppende en groot dinge. Dit sal ’n tyd van finale afrekening wees. Soos nog nooit tevore nie, sal jou lewe ryk en vrugbaar wees.
Dan moet jy aan my dink.”
~
Toe ek met die skryf van Lara begin het, was ek heimlik besorg dat ek sou ontdek dat Boris vir Olga misbruik het. Maar soos ek dieper in die storie gedelf het, was ek verlig dat dit glad nie die geval was nie. Olga was deur die owerhede misbruik. Dit is waar dat Boris nie in die openbaar “aanspraak” op haar gemaak het nie. Maar hy het haar liefgehad. Ek glo die diepte en passie van sy hartstog het verskil van enigiets wat hy vir beide van sy vrouens gevoel het. Dit was nie net uit dankbaarheid dat Olga haar lewe op die spel geplaas het deur hom lief te gehad het en ondersteun het nie – sy het hom verstaan; sy het ’n diep intieme wete gehad dat dit vir hom nodig was om Doctor Zhivago te skryf, sodat hy in homself ’n rusplek van verwesentliking kon vind.
Hoewel hy nie die een ding gedoen het wat Olga ontsettend graag wou gehad het nie – hy het nie sy vrou gelos ten gunste van haar nie – van die oomblik af wat hy homself aan haar verbind het, het hy sy bes gedoen om haar en haar familie te verheerlik binne die beperkinge van sy huislike situasie. Hy het hulle finansieel ondersteun en Irina liefgehad soos die dogter wat hy nooit gehad het nie. Verder het hy Olga vertrou met sy kosbaarste kommoditeit – sy werk. Hy het haar raad verkry en sy het hom gehelp met die redigering en die tikwerk. En wat anders kan Doctor Zhivago tog wees as ’n lang, innige liefdesbrief aan haar?
Terwyl ek Lara geskryf het, het dit my verbaas dat ek ’n verdraagsamer toegeneentheid teenoor Boris ontwikkel het. Ek het soos ’n hegte vriend of familielid gevoel wat toesig gehou het oor iemand se ontstellende eienaardighede – in Boris se geval, sy selfbehepte alleensprake, sy vals beskeidenheid, sy verwaandheid, sy verslawing aan die hoogs dramatiese – as gevolg van ’n wesentlike en ontluikende liefde daarvoor. Toe Boris Doctor Zhivago begin skryf het en geweier het dat die druk van die Sowjetstaat hom ondergekry het, het my bewondering vir hom begin groei. Ek loof sy granietvaste weerstand en prys sy rebelse gees en sy enorme moed, veral sy publiseer-en-na-die-duiwel houding teenoor Feltrinelli en die publikasie van die roman.
Toe ek hom begin ondersteun het, het ek die meeste van sy tekortkominge oor die hoof gesien, net soos Olga en Erina. Ek kon die kompleksiteit van die man en sy situasie insien. Die inkonsekwensie van sy karakter – hy was beide held en lafaard, genie en naïewe gek, gefolterde neuropaat en kliniese strateeg. Sy lojaliteit aan Rusland en die Russiese volk het nooit gewankel nie. Sy lojaliteit teenoor Olga was nooit bestendig nie. Ten spyte van alles wat sy vir hom gedoen het en dat sy ook bereid was om vir hom te sterf, kon sy tog nie op hom vertrou en staatmaak nie.
Daar was tye dat ek mateloos gefrustreerd gevoel het deur sy swakheid; sy brief aan Olga van Tbilisi af, toe hy haar begeerte om met hom te trou, verwerp het. Dat hy hulle mitiese verbondenheid as belangriker beskou het as iets so aards soos alledaagse egverbintenis, het my woedend gemaak. Olga was reg; hy was verkeerd. As hy met haar getrou het, sou die Sowjet-owerhede dit nie gewaag het om haar na sy dood so sonder rede so wreed te behandel het nie.
Tog was daar ander tye wat ek medelye met hom gehad het. Toe ek geskryf het oor die wreedheid wat hy na die Nobelprystoekenning ervaar het, was sy pyn amper tasbaar en sy lyding smartlik. As dit nie vir Olga was nie, kon hy dalk selfmoord gepleeg het. Sy was sy krag toe sy vasberadenheid uiteindelik geblus was; sy was sy rigsnoer toe alles om hom eindeloos donker was. Toe hulle van mekaar geskei was, het sy briewe die omvang van sy liefde vir haar gewys – hoe hy haar gemis het en hoe nodig hy haar gehad het.
Maar aan die einde, ten spyte van al sy briljantheid, het hy Olga nie gered nie. Ek kan verstaan hoe, aan die einde van sy lewe, hy nie die energie gehad het om verder te baklei nie. Elke greintjie van sy krag en vermoë was getap deur die trotsering van die owerhede om te verseker dat Doctor Zhivago gepubliseer is. Hiermee het hy ten minste verseker dat Olga, sy Lara, nooit vergeet sou word nie. Terwyl sy vir hom in Lubyanka baklei het, het hy haar ten minste opgehemel en verheerlik in die bladsye van sy boek. Sy het twee van sy kinders verloor; die erflating van Doctor Zhivago is hulle enigste kind. Beide Lara en Yury het onsterflikheid deur Yury se gedigte bereik – die ware vrugte van hulle liefde. Pasternak was deurentyd van voorneme om sy skuld te delg deur Olga onsterflik te maak – deur Lara. Miskien was hy oor een ding reg – hulle liefde sou vir ewig onsterflik bly. Soos hy in Doctor Zhivago geskryf het:
“Hulle het mekaar nie uit noodsaak liefgehad nie. Nie ‘verslaaf deur hartstog’ soos minnaars beskryf word nie. Hulle het mekaar liefgehad omdat alles om hulle dit só wou gehad het – die bome en die wolke en die lug bokant hulle en die aarde onder hulle voete. Miskien was die wêreld om hulle – die vreemdelinge wat hulle in die straat ontmoet het, die landskap wat daar vir hulle op hulle wandelinge te sien was, die kamers waarin hulle gewoon of ontmoet het – selfs meer ingenome met hulle liefde as wat hulle self was.”