Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
En toe het ons Upington toe gery, ’n dorp aan die noordelike oewer van die Oranjerivier. ’n Langdurige droogte het groot verwoesting aan beide kante van die rivier gesaai, en ek het ondersoek gaan instel. Om Upington te bereik was dit nodig om tweehonderd myl deur ’n dorre landstreek te swoeg. Ons het via Rietfontein gereis – die afgesonderste buitepos in Suidelike Afrika – asook deur Hakskeenpan. Dit is dertig myl lank met ’n vloer so glad en hard dat ons karre teen sestig myl per uur geen stof opgejaag en geen spore nagelaat het nie.
Die gevolge van die droogte was verskriklik. Die Hottentotte wat hierdie wêreld bewoon, het selfs in goeie tye op die soom van bestaan, op die buiterand van aan-die-lewe-bly, gelewe, want hierdie deel van die wêreld is een van die ontoegeeflikste op aarde. Ons het gesien hoe hulle van springkane en wortels gelewe het en hoe hulle miere opgegrawe het. Ek het een van hulle gevra hoe dit met hulle gegaan het, en hy het in Afrikaans gesê: “Meneer, ons Hottentotte kan op die wind en die son lewe, maar met die wit mense hier gaan dit maar helsleg.”
Die Oranjerivier was net ’n rits stagnante poele. Honderde wit boere het na die rivier toe beweeg op soek na water en ’n bietjie weiding – die bietjie wat nog op die walle van die rivier was.
Ons het die rivier oorgesteek en haastig in ’n suidelike rigting gery. Ons is verby Goodhouse, Pella-Pella en ander ongemerkte plekke op die landkaart en het met ’n wye draai weer by die rivier uitgekom, by Vioolsdrif. Oral langs die pad het ons dooie beeste, skape en perde gesien, en geruik. Dit was ’n miserabele reis.
’n Paar families het ’n heenkome by Vioolsdrif gesoek. Hulle het weggevlug van hulle swaar beproefde plase af, want hier het hulle ten minste water gehad om te drink, en die diere wat nog gelewe het, kon darem ’n bietjie kos kry deur aan die wilgers en die riete te vreet.
Toe ons naby die vernouing van die rivier in die kloof op groepe gesinne afgekom het, was hulle totaal uitgehonger. Waar daar ’n boom te vinde was, het ’n hele familie daaronder vir ’n bietjie beskutting gekamp, en net soos die Hottentotte het hulle miere uitgegrawe en jakkalse in ’n strik gevang vir voedsel. Hulle was dapper, geharde mense saam met wie ek gelewe het in die dae van die guerrillaoorlog, en daar het ek hulle voortreflike eienskappe leer ken.
Dit was pateties om te sien hoe die mans ’n kanaal probeer grawe het om die bietjie water wat daar was, na ’n stuk gelyke grond te lei. Hulle het gehoop om koring en mielies daar te saai, maar die vlak was verkeerd, en die ongelyke grond en ’n uitstaande rots het hulle harde werk gekortwiek. Ondergang het hulle in die gesig gestaar.
Ek het een van my karre teruggestuur beskawing toe, en binne twee weke het ingenieurs daar aangekom en binne ’n maand was driehonderd man besig aan die bou van ’n dam en die konstruksie van ’n kanaal.
Waar ek afgekom het op ’n gemeenskap wat aan die sterwe was, is daar vandag tienduisende akkers lande en tuine onder besproeiing en talle gerieflike wonings en families met glimlaggende gesigte. Dit het die belastingbetaler negentigduisend pond gekos, maar hierdie nedersetting wat uit die woestyn opgestaan het, is iets tasbaars wat ek tot stand gebring het.
Ek het later ’n eenvoudige brief ontvang. Die inhoud is as volg:
‘Agbare Heer. Ons, die ondergetekendes, bedank u. U het belowe om ons te help, waaraan ons getwyfel het. Maar u kar se spore was nog sigbaar in die sand toe u werkers hier opgedaag het om die dam te bou, en nou is ons gered.’
Onderaan was die handtekeninge van baie mense.
Met die volgende parlementêre sessie is ek gekritiseer, maar ek het ’n dapper gemeenskap gehelp – mense wat ek jare terug geleer het om te respekteer – en daaroor is ek nie spyt nie.
Next →
← Previous