Ná Suid-Afrika vir twee jaar in die greep van ’n verskriklike droogte was, het die land nou op soortgelyke wyse rampspoedige oorstromings beleef. Met ons is dit altyd uiterstes: dis óf oorvloed óf hongersnood. Die land is óf uitgedor en versmag van die dors, óf die sluise van die hemel word oopgetrek.
Ek het genoem van die droogtelenigingswet, wat ons nou moes verander in ’n vloedondersteuningsmaatreël. My pa het my op ’n slag vertel hoe hy deur ’n woud in Knysna gery het en op ’n ou bosbewonersvrou afgekom het. Sy het daar ewe mistroostig langs die pad gestaan. Toe hy langs haar stilgehou het om uit vind wat verkeerd was, het sy geantwoord: “Ag meneer, die olifante en die wurms het my akkers laasnag aangeval.” Die grootste viervoetige diere en die kleinste insekte het saamgesnoer om haar gewasse te plunder, en dit is tipies van hoe uiterstes hier in Suid-Afrika bymekaarkom.
En dit was hoe dit daar gegaan het. Waar daar onlangs nog horingdroë landstreke was met kuddes wat van die dors gevrek het, het daar nou van oraloor verslae ingekom van swaar reëns, en van mense en diere wat dit nie oorleef het nie.
Dit was vroeg in 1934. Ek het saam met my familie Kaap toe gegaan in afwagting op die parlementêre sessie. Ná ek die hele dag lank saam met my twee seuns in die baai visgevang het, was daar met my tuiskoms telegramme wat die nuus gebring het dat die Oranjerivier in vloed was en dat die mense op die eilande, aan die onderkant van Upington, in groot gevaar verkeer het.
Toe ek voorheen die minister van Lande was, het ek ’n opname van daardie eilande laat doen en toe setlaars daar laat vestig. Nou egter was hulle in lewensgevaar, en ek besluit om self te gaan sien wat daar aangegaan het. Ons lugmag het ’n ou Wapiti tweesitplekvliegtuig besit wat in Kaapstad sy staanplek gehad het, en ek het dit toe aangevra. Die loods was luitenant Viljoen en ons twee het die volgende dag met dagbreek vertrek. Ná ses ure het ons die Oranje in sig gekry.
Dertig jaar gelede al het ek reeds kennis gemaak met daardie deel van die rivier, maar wat ek nou gesien het, was ’n heel ander toneel. In plaas van smal stroompies en kanale wat langs die eilande verby gekronkel het, het daar ’n sterk, drie myl wye stroom gevloei, en slegs die hoogste punte van die groter eilande was nog sigbaar bokant die water. Die kleiner eilande was reeds oorstroom.
Ek het op Upington geland en dadelik soveel inligting as moontlik ingewin. Brûe was onder water, die spoorlyn het weggespoel, en telegraaf- en telefoonkommunikasie is onderbreek. Niemand het enige nuus van die eilandbewoners gehad nie. Daar was ’n gehawende motorboot wat as ’n veerboot diens gedoen het, en ek het vrywilligers gevra om dit vir ons te beman. Van die ses mense wat hulself beskikbaar gestel het, was vier plaaslike Joodse handelaars. Elkeen van ons het ’n motorkar se opgeblaasde binneband as reddingsboei saamgeneem, en van die meeste van ons klere ontslae geraak, want die water was rof en onstuimig.
Ná ’n gevaarlike oorvaart het ons Kanoneiland bereik. Met die landing het die bewoners ons toegejuig. Hulle huise en landerye het weggespoel, maar hulle was in geen onmiddellike gevaar nie, want die vloed kon nie die hoër vlakke bereik nie. Toe het ons die ander eilande wat nie onder water was nie, besoek. By een van hulle het daar nog net ’n paar vierkante jaarts bokant die water uitgesteek. Op hierdie klein bietjie grond het twee bewoners ’n wa getrek, met ’n kombuistafel daarop en twee stoele op die tafel, waarop hulle heel filosofies hul pype gesit en rook het. Nie een van dié twee kon swem nie, en toe ek hulle gevra het wat sou gebeur as die water hoër sou styg, het hulle net hulle skouers opgelig en gesê dat hulle dan saam met die ander sou wegspoel.
Ek het hulle uitgenooi om by ons op die boot aan te sluit, maar nadat hulle die vaartuig mooi bekyk het, het hulle die aanbod van die hand gewys. Dit was wys van hulle, want kort nadat ons van hulle af weggevaar het, het ons in ’n stroomversnelling beland wat ons skip laat sink het.
Gelukkig was ons na aan ’n wal en met moeite en ’n bietjie geluk het ons daarin geslaag om deur die vlakker water die wal te bereik. Dit was amper donker en ons was sopnat, terwyl die meeste van ons ander klere saam met die boot gesink het. Koud en honger het ons styf langs mekaar vir ’n bietjie warmte, op die landtong van sand gesit. Die naaste vasteland was een en ’n half myl anderkant ’n geweldige stroomversnelling waarin geen boot dit sou maak nie.
Die nuus oor ons benarde situasie moes die rondte gedoen het, want kort ná middernag het ons die kopligte van motors begin sien, en dit was duidelik dat hulle ons probeer opspoor het. Die gedreun van die water het verhoed dat hulle ons harde geskreeuery kon hoor. Toe het ons egter met die vreemde stomp-swemmetode van die Hottentotte langs die rivier kennisgemaak. Hulle vat ’n boomstomp wat ses voet lank is. Aan die bokant van die stomp word ’n sterk houtpen ingedryf sodat dit as ’n handvatsel kan dien, en met hierdie primitiewe vlot durf hulle vreesloos die waters aan, ongeag die sterkte van die stroom. Met een hand aan die houtpen en een been oor die stomp, word die los arm en been gebruik om hulself voort te dryf.
Terwyl ons in die donker gesit en bewe het, het ons ’n geroep gehoor, en ’n man het sopnat uit die water by ons aangekom. Dit was ’n Hottentot wat deur die distriksmagistraat gestuur is. Toe hy gehoor het dat ons nie teruggekeer het nie, het hy soveel boomstamswemmers as moontlik bymekaar gekry en hulle die opdrag gegee om die rivier aan te durf en die eilande te deursoek.
Voor dit donker geword het, het ek oor die bruisende, woelende water gekyk, en nie gehou van wat ek gesien het nie. Rotslae onder die water het die stroom in golwe van tien tot vyftien voet hoog opgebreek, en om helder oordag hierin rondgesmyt te word, het onverskrokkenheid vereis, maar die Hottentot-swemmers, sorgwekkend wydsbeen oor hulle boomstompe, het nie gehuiwer om die oorvaart in die donker aan te durf nie.
Die man wat ons bereik het, het dit as iets onbelangriks afgemaak, en toe ons hom vertel het wat ons aan hom wou oordra, het hy die stroom weer aangedurf en die nag in verdwyn. Hy het sy terugtog veilig voltooi, want nie lank na dagbreek nie, het ons ’n groot boot met ’n Hottentotsbemanning van die bokant van die rivier af sien aankom. Ons het hulle angstig dopgehou, maar omdat die boot met die stroom af gevaar het, en nie dwars teen die stroom nie, was dit makliker en het hulle goed daarin geslaag om ons op te laai en van die eiland af te kry.
Dit was ’n moeilike terugtog, maar na ’n hewige gesukkel het ons, onder entoesiastiese applous van die skare wat daar vergader het om die reddingsoperasie dop te hou, die wal bereik.
Daar is aan my gesê dat hierdie swemboomstompe soos familie-erfstukke van pa na seun oorgedra word, en ek het gehoor dat ’n Europeër wat probeer het om een van die stompe op te kap vir vuurmaakhout, amper vermoor is voordat hy bevry is.
Die eienaar van ’n motorkar het met my teruggehaas Upington toe, want ek het beplan om voorrade met valskerms vir die hulpbehoewendes neer te laat. Deur lakens en tafeldoeke te gebruik, het ons valskerms vervaardig en blikkieskos en ander soorte kos daaraan vasgemaak. Belaai met hierdie voorrade, het ons ’n hele paar vlugte oor die geteisterde area uitgevoer, en elke keer het ons dit reggekry om die bomme heel akkuraat te laat val, en kon ons mans en vrouens en kinders sien hardloop om dit te gaan optel, en met ons verbyvlug het hulle uit dankbaarheid vir ons gewaai.
Nadat ons hulle so goed as wat ons kon van lewensmiddels voorsien het, het ek die volgende dag afgegaan na die rivier toe om te sien wat met die konstruksiewerk by Vioolsdrift gebeur het.
Soos voorheen het ons verby Kanoneiland en die ander eilande gevlieg, en toe af na Keimoes en Kakamas waar ek ontsaglike skade kon sien. Kort verby Kakamas, het ons ’n enorme rookpluim in die lug waargeneem. Dit was watersproei wat vanuit die Augrabieswaterval opgestyg het. Ons het daarom gesirkelvlieg en opgemerk dat, aan die bokant van die waterval, die rivier drie of vier myl breed was, en van daar af het die water die kloof binnegevloei en by die canyon afgestort, vyfhonderd voet na benede.
Dit was ’n asemrowende toneel, en ek glo dat ek en my loods die eerste mense was wat die Augrabies vanuit die lug in vloed gesien het, want gewoonlik wanneer dit reën, is dit onmoontlik om daar naby te kom. My rekord om in die ravyn op te swem, het steeds gestaan.
Ons het verder rivier af gevlieg en na ’n ruk was ons oor Goodhouse. Nie lank van tevore nie het ek die plek besoek, en by daardie geleentheid het ou Carl Weidner my weer verplig om na sy gunsteling onderwerp te luister – Suid-Afrika was besig om op te droog.
Toe ons oor sy plaas gevlieg het, was sy boorde en landerye onder water en slegs die dak van sy plaaswoning het uitgesteek. Die arme kêrel het daar op ’n bultjie, sonder sy baadjie, die verwoesting gestaan en gadegeslaan. Ek het vir hom ’n boodskap laat val: “Baie jammer, maar jy het gesê Suid-Afrika is besig om op te droog.”
Die nota het amper by sy voete grondgevat en ek het gesien hoe hy dit opgetel het. Hy het dit gelees en toe sy gebalde vuis in die rigting van die vliegtuig gewys. Maar toe ons mekaar lank daarna weer ontmoet het, het hy net gegrinnik, en maar ’n grap daarvan gemaak.
Van hier af het ons Vioolsdrif toe gevlieg. Die ingenieurs is vroegtydig gewaarsku, en hulle het daarin geslaag om die meeste van die trekkers en masjiene te beveilig. Tussen die wit tente op die heuwel kon ek die werkers sien soos hulle die vloed se vordering besigtig het, en ook hier het ek ’n boodskap van sterkte laat val.
Anderkant Vioolsdrif het ons oor die mees bergagtige en onherbergsame stuk aarde wat ek tot nog toe in my lewe gesien het, gevlieg – berge wat uitgestaan het soos haaitande – en dit was juis op daardie oomblik dat ons enjin besluit het om ons die skrik op die lyf te jaag. Daar was ’n opeenvolging van harde knalgeluide en ’n geklop wat gevoel het of die masjien aan stukke geruk is. Ek kon met luitenant Viljoen by wyse van die oorfone kommunikeer en ek het hom hoor sê: “Jammer meneer, masjienprobleem.” Dit was maar te duidelik en ’n oomblik daarna het hy gesê: “Meneer, ek is bevrees ons sal moet spring.”
Die valskerms wat ons in daardie dae gedra het, was swaar en lomp en ek het myne vroeër losgegespe en in die tonnel agter die stuurkajuit gegooi. Dit was nie maklik om in daardie beperkte holte af te kruip nie, maar binne sekondes het ek hande-viervoet dit tog gedoen en die ding in die hande gekry. Die gehoes en geproes van die enjin het nog aangegaan. En laat ek maar sê, die gedagte om uit te spring en af te val na daardie afskrikwekkende bergreeks toe, was angswekkend. Ek het die oorfone skuins teruggeplaas en kon net die loods se stem flouweg hoor sê dat ek nie moes spring voordat hy sy hand omhoog gehou het nie. Ten spyte van die skoppende en rukkende silinders, het die skroef nog gedraai, en luitenant Viljoen het die Wapiti se neus lugwaarts gehou. Hy het geklim tot die enjin die gees gegee het, en in die betreklike stilte wat gevolg het, het hy oor die oorfone gesê dat hy gedink het ons sou dit maak. Ek het nie geweet wat hy bedoel het nie, maar toe ek voor by die venster uitgekyk het, het ek in die verte die Atlantiese oseaan sien glinster. Baie behendig het hy van ons hoogte gebruik gemaak en die masjien op só ’n manier hanteer dat, na ’n spannende halfuur, hy gladweg op die strand gesweefland het.
Ons was gelukkig, want bo en behalwe ’n goeie landing, het ons bevind dat ons by die staatsdiamantdelwerye naby Alexanderbaai was. Die bestuurder en sy span was gou op die toneel, en in plaas daarvan om uit ’n vliegtuig te spring en op ’n verafgeleë, barre woestyn te land, het ons ’n warm ontvangs geniet met gerieflike kwartiere tot ons beskikking.
Next →
← Previous