Click Here to Play Podcast
Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Dit was Augustus 1939. Oorlogswolke het in Europa saamgepak, maar ons het daarvan bewus geword dat ons eerste minister, generaal Hertzog, hom na die afgeslotenheid van sy plaas onttrek het, en ons kon geen inligting uit hom kry nie. As daar oorlog sou uitbreek tussen Duitsland en Engeland, sou die regering van Suid-Afrika noodwendig sy beleid moes verklaar. Ons sou moes sê of ons van plan was om by die res van die Statebond te staan al dan nie.
Ek het my daarvan weerhou om ons kabinet se probleme gedurende die ses jaar wat ek onder generaal Hertzog gedien het, te beklemtoon en te openbaar. Hy was ’n gekultiveerde man en ’n heer, maar hy het ’n ongemaklike temperament besit, en daar was herhaaldelike onenighede en verskeie akute krisisse wat tot die bedankings van sommige van ons kollegas gelei het. Dit het gelyk asof generaal Hertzog nie besef het dat hy en sy Verenigde Party-vleuel in die minderheid was nie, en dat generaal Smuts, aan ons kant van die koalisie, hom aan die bewind gehou het. Hy het selde met ons beraadslaag, en op verskeie geleenthede was daar onaangename voorvalle, en onsmaaklike maatreëls is op ons afgedwing.
Generaal Smuts het deurgaans ware staatsmanskap gewys. Hy het geweet dat baie van sy volgelinge van mening was dat hy swak opgetree het en dat hy beledigings eenvoudig aanvaar het, en keer op keer moes hy geduld beoefen. Hy het gesê dat ons in ’n wesentlike poging betrokke was om die Afrikaners en die Engelse te oorreed om saam te werk, en as daar uiteindelik ’n breuk moes kom, behoort dit op grond van ’n kwessie van nasionale belang te wees en nie as gevolg van geringe gekibbelry nie.
Daardie tyd het nou aangebreek. Reg van die begin af was die Verenigde Party net in naam verenig. Die ou Nasionale staatmakers wat in 1933 by die nuwe party onder generaal Hertzog aangesluit het, het dit met heimlike voorbehoude gedoen, en ons van ons kant af het die akkoord met bedenkinge aangegaan.
Nietemin het beide groepe hul bes probeer en op ’n manier voortgeploeter, en tog het ons op die een of ander manier daarin geslaag om die boot vlot te hou. Nou het die beslissende toets aangebreek.
Vroeër in die jaar toe almal kon sien dat Europa binnekort in ’n konflik gedompel sou word, het generaal Hertzog herhaaldelik belowe dat hy die parlement byeen sou roep voordat hy ten gunste van oorlog sou besluit. Maar hy het nooit onderneem om met die parlement te beraadslaag in geval hy sou besluit om nie by die oorlog aan te sluit nie, en die gedagte het nooit by iemand opgekom om vrae oor dáárdie punt aan hom te stel nie.
Daar was vir my rede om te glo dat hy en sy vleuel in die kabinet ooreengekom het om neutraal te bly, en dat hulle van plan was om dit te doen sonder om die parlement byeen te roep.
Dit sou generaal Smuts en sy ondersteuners in ’n vreeslike verknorsing gedompel het, want daar sou geen konstitusionele manier gewees het om die neutrale besluit om te keer nie.
’n Unieke toeval het ons dié dilemma laat vryspring. Die Suid-Afrikaanse grondwet het bepaal dat alle wette gesamentlik deur beide die Volksraad en die Senaat goedgekeur moes word. Dit het só gebeur dat, ongeveer halfpad deur Augustus, die regering se wetgewende raadgewers ontdek het dat die Senaat se termyn binne ’n paar weke sou verstryk, en tensy beide Huise nie byeen sou kom om ’n wet goed te keur wat die periode sou verleng nie, sou geen wetgewing wat alleenlik deur die Laerhuis goedgekeur is, geldig wees nie.
Heel teensinnig het generaal Hertzog die Parlement byeengeroep vir ’n kort driedaagse sessie, met die doel om dié tegniese tekortkoming reg te stel.
Die laaste ding wat hy wou hê om te gebeur, was vir die oorlog om los te bars terwyl die Huis in sitting was. Maar dit was presies wat gebeur het. Met dat ons spesiale parlementêre trein die oggend van Vrydag 1 September die Kaapstadse stasie binnegestoom het, het die nuus ons bereik dat Hitler Pole binnegeval het, en dat Brittanje en Frankryk kort daarna sekerlik in ’n oorlog teen Duitsland betrokke sou wees.
Generaal Hertzog se geluk het teen hom gedraai. Hy het in ’n strik beland. Die Parlement was byeen en hy kon nie die Huis verhinder om te stem of daar oorlog of vrede sou wees nie, en sy plan om sonder parlementêre toestemming neutraal te bly, was gefnuik.
Next →
← Previous