Uit Lara – The Untold Story That Inspired Doctor Zhivago
deur Anna Pasternak
Boris het gewis hard aan sy roman gewerk. Op 12 Desember het hy van Moskou af as volg aan Frederick, Josephine en Lydia geskryf: “My liewe Fedia en meisies!” In die brief maak hy dit duidelik dat hy alles moontlik doen om die eerste helfte van Doctor Zhivago, wat reeds in manuskripvorm was, by hulle uit te kry. Hy wou weet of hulle van ’n goeie Russiese kopieertikster kennis gedra het? En as daar enige geld in Engeland aan hom verskuldig was vir vertaalwerk, kon hulle die tikster betaal om drie afskrifte te maak, en hulle kontroleer? Hy wou graag hê dat die manuskrip aan Maurice Bowra (’n hoogaangeskrewe Engelse literêre geskiedkundige), Stefan Schimanski (’n Engelse kritikus en vertaler van Pasternak se werke in Russies) en hulle vriend, die Engelse geskiedkundige en filosoof, Isaiah Berlin, gestuur word.
“Om dit te druk – ek bedoel, om die drukwerk uit te gee – is geheel en al buite die kwessie, óf dit die oorspronklike óf die vertaling is – jy moet dit baie mooi aan die literêre mense, aan wie ek dit graag wil wys, verduidelik,” het hy voortgegaan, en hulle op datum gebring aangaande die vordering van sy werk: “In die eerste plek, dit is nie klaar nie, dis net halfpad klaar, daar moet verder daaraan gewerk word. Tweedens, om dit in die buiteland te publiseer, sou my blootstel aan die mees katastrofiese, en moontlik noodlottige, gevare. Beide die gees van die werk, en my situasie soos dit hier ontwikkel het, beteken dat die roman nie in die openbaar mag verskyn nie: Die enigste Russiese werke wat toegelaat word om in die buiteland te sirkuleer, is vertalings van werke wat hier gepubliseer is.”
Omdat hy bevrees was dat sy susters hom sou kritiseer, het hy geskryf: “Julle sal nie van die roman hou nie, want daar is ’n gebrek aan deurlopendheid en dit was inderhaas geskryf. Een rede is dat ek dit nie kon uitrek nie. Ek is nie meer jonk nie en in elk geval is dit moontlik dat daar van dag tot dag enigiets kan gebeur, en daar was ’n paar goed wat ek wou neerpen. En ek het geskryf wanneer ek tyd gehad het, sonder betaling en in aller yl sodat ek nie my begroting oorbelas nie, maar om te probeer om tyd te maak om iets wat betaal het, te doen.”
Ten spyte van sy eie geringskatting by sy familie, was lofbetuiginge van sy literêre vriende, aan wie hy geslaag het om die eerste tikwerk te stuur, aan die opbou. Op 29 November 1948 het hy die volgende brief uit Sint Petersburg van sy niggie Olga Freidenburg ontvang (sy was ’n voortreflike student wat later ’n professor geword het): “Jou boek is verhewe bo enige kritiek. Alles wat jy sê oor die geskiedenis as die tweede heelal, kan in jou boek opgespoor word ... dit is ’n spesiale variasie van Genesis. Om die filosofiese redevoering daarin te lees, laat my vel behoorlik kriewel. Ek is net bevrees dat ek op die punt staan om die finale geheim wat iemand binne homself wegsteek, te ontdek – sy hele lewe lank wens hy om uiting daaraan te gee en wag hy om dit in die vorm van kuns of wetenskap te openbaar en daarvoor is hy doodbang, want dit moet ’n ewigdurende raaisel bly.”
Pasternak het intense druk ervaar om sy werk deur daardie mense wat hy gerespekteer het, gelees te kry, want hy was buitengewoon trots op sy boek. Om ’n lang prosawerk oor sy generasie en die historiese lotsbestemming daarvan voort te bring, was die antwoord op ’n lewenslange droom. Alle skrywers is onderhewig aan frustrasies, en hulle leef in vrees dat hul werk nie gepubliseer sal word nie, wat nog te sê dat dit nie die toets van die tyd sal kan deurstaan nie. Pasternak wat reeds vir dertien jaar aan die roman gewerk het, het geweet dat dit ’n enorme waagstuk was om die kontroversionele politieke materiaal vertroulik te versprei. Aanvanklik was hy optimisties aangaande die Bolsjewieke rewolusie, want hy het geglo dat dit die groot meerderheid van die bevolking sou bevry, maar toe hy die realiteit van die oorlog wat die rewolusie teweeg gebring het, gesien het, het hy ’n vurige teenstander van die Sowjet-regime geword. Hy het kollektivisasie geblameer omdat dit die landelike ekonomie vernietig het en die lewens van miljoene Russe geruïneer het.
Boris Pasternak kon nie sy veragting vir die politieke elite duideliker gemaak het nie. Soos Yury Zhivago verduidelik: “Gewone mense is angstig om hulle teorieë in die praktyk te toets en om deur ervaring te leer, maar daardie mense wat die septer swaai, is so gretig om die mite van hulle eie onfeilbaarheid te bewerkstellig dat hulle hul rûe, so goed as hul kan, op die waarheid draai. Politiek beteken vir my net mooi niks. Ek hou nie van mense wat onverskillig staan teenoor die waarheid nie.”
Pasternak was totaal onbewus daarvan dat Stalin opdrag gegee het dat hy beskerm moes word terwyl gewone burgers om die lewe gebring is, of na die goelakstrafkampe gestuur is omdat hulle anti-Stalinistiese sienswyses in hulle eie huise verkondig het. Die sirkulasie van sy eie skerp standpunte in sy roman was dus om letterlik met die dood te flankeer.
Pasternak het dié gevare raakgesien en hulle in die brief, wat vir amper ’n dekade die laaste aan sy familie sou wees, beskryf. (As gevolg van die ‘era van agterdog’ was hy gedwing om al sy korrespondensie met sy susters te staak, en het hy dit eers na die somer van 1956, gedurende die Khrushchev ‘ontdooiing’, hervat.) “Selfs al sou julle eendag hoor dat ek opgehang is, of uitgemergeld of gevierendeeld is,” het hy aan hulle vertel, “moet julle weet dat ek ’n besonder gelukkige lewe gelei het, beter as wat ek my dit ooit kon voorgestel het, en ek is op hierdie oomblik en in my onlangse verlede op my gelukkigste en bestendigste ooit, want ek het uiteindelik die kuns aangeleer om my gedagtes in skrif uit te druk – ek besit dié vaardigheid tot op die punt wat ek dit nodig het, en dit was nooit voorheen die geval nie.”
Hy het dié brief geskryf op die kruin van sy affair met Olga. Sy seun Evgeny het dit so verduidelik: “Die impak van hulle gelukkige verhouding gedurende die eerste drie jaar is onthul in Lara se beeld, haar voorkoms en die liriese warmte van die hoofstukke wat aan haar toegewy is. My pa het altyd geglo dat dit die ontwaking was van ’n ‘akute en gelukkige persoonlike indruk’ wat hom die krag gegee het om die moeilikhede van sy werk aan die roman te hanteer.”
Hoe min was Olga bewus daarvan dat, as gevolg van die algemene kennis van haar verhouding met Boris, en haar onwrikbare ondersteuning van die boek wat hy aan die skryf was, dit nie Boris was wat ‘gehang, uitgemergel en gevierendeeld’ sou wees nie, maar dat sy haarself binnekort onwelkome besoekers sou ontvang.
Next →
← Previous