Die lerse Balie-biblioteek

Posted on October 24, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
Uit Edward Carson QC 

deur Edward Majoribanks

Die Ierse balie was een van die beste klubs waaraan ’n jong Ierse heer kon behoort: In daardie dae was dit grootliks ’n voortsetting van die doen en late in Trinity Kollege, en met ’n paar uitsonderings, is dit goed in stand gehou deur sy protestantse oudstudente, want die meeste van sy lede was toe protestante en unioniste. Dit was ’n kleiner en huisliker vereniging as die Engelse balie, en hoewel sy belonings minder was en sy fooie laer, het dit in aangename kameraadskap vergoed waar dit in ghienies te kort geskiet het.

Advokate het geen afsonderlike kamers by of naby die Vier Howe gehad nie. Dié gebou wat ongelukkig, maar moedswillig, deur Rory O’Connor in 1922 vernietig is, was een van die mooiste en grootse geboue in die Britse Ryk. In die hoofgebou was die beroemde balie-biblioteek die plek waar advokate saamgedrom en bymekaargekom het. Die hoofkamer was reghoekig met smal galerye om die kante waaronder daar boekrakke was. Daar was ’n klein agthoekige kamertjie op elke hoek, en nog ’n kamer, die “Lang Kamer”, was reghoekig daarmee met ’n opening aan die een kant. Die ingang was deur een van die klein kamertjies wat ’n voorkamer geword het waar prokureurs en hulle klerke met advokate kon praat.

Die advokate het op banke by lang lessenaars gesit of by die “Ronde Tafel”, ’n groot tafel in die middel van die hoofkamer oorkant die groot kaggel (waar daar twaalf mense gesit het), of by klein ronde tafeltjies of afsonderlike lessenaars in die hoekkamers, of anders kon hulle enige beskikbare plek beset. Die akkommodasie was heel onvoldoende vir die getalle wat dit benodig het, en die balie was volgepak soos kinders in ’n armoedige skool in die slegte ou dae, maar met baie meer ongerief as wat nou in so ’n plek geduld sou word.

Dit is maklik verstaanbaar dat, met kwartiering so na aan mekaar, die lede van die balie ’n gemeenskap was wat baie nader aan mekaar was as hulle broeders in Londen. Jaloesie en skinderpraatjies was buite die kwessie en vriendskap en kameraadskap was nie net aan die orde van die dag nie, maar noodsaaklik onder sulke omstandighede.

In daardie dae het elke advokaat in die stad gewoon en gereeld elke oggend hof toe gekom. Na hy sy toga aangetrek het en homself gepruik het, en of hy verwag het om in die hof te verskyn of nie, het hy na die biblioteek toe gegaan om te werk of om reg te maak om hof toe te gaan. Net soos in die Laerhuis was daar nie spesiale sitplekke waarop hulle geregtig was nie, maar elke man het uit gewoonte tog ’n eie sitplek bekom.

As gevolg van die beperkte hoeveelheid regsake, was dit nie moontlik om te spesialiseer soos in Engeland nie, en ’n junior advokaat moes bereid wees om in enige hof sake te behartig of advies te gee. Die algemene kennis wat as gevolg hiervan noodgedwonge verwerf is, was besonder nuttig vir Carson toe hy na die Engelse balie gegaan het, en op baie geleenthede het hy die Engelse regters en sy eie kollegas, soos A. H. Bremner, verras met sy kennis van die obskuurste regskundige doktrines, wat vir die alledaagse Engelse regsgeleerde ’n geslote boek was.

Nogtans het die biblioteek sy eie algemene verdelings gehad. Die Long Room het byvoorbeeld hoofsaaklik die “Chancery” manne en die aktebesorgers gehuisves. Wanneer hulle nie in die howe betrokke was nie, het almal hul dae in die biblioteek deurgebring. Die verwende Engelse advokaat, met sy private kamers en sy senior en junior klerk, kan seker net wonder hoe die Iere daarin geslaag het om hulle sake daar te verrig.

Die “crier” het by die ingang van die hoofkamer gestaan – hierdie formidabele amptenaar was in Carson se tyd ’n voormalige sersant-majoor met die naam Bramley, wat ’n helder, kragtige stem gehad het. Prokureurs of hulle klerke – advokate het nie klerke gehad nie – wat gevra het om ’n advokaat te spreek, of om hom na die hof  te ontbied, het na die deur van die biblioteek gekom en die naam van die besondere advokaat genoem. Bramley het daarop die naam uitgebasuin – sy stem kon ver anderkant die verste hoek van die biblioteek gehoor word – en die advokaat het dan dadelik sy voorbereiding of studie gestaak en deur toe gegaan.

Bramley se stem het van die vroeë ure in die oggend af tot laat in die middag, sy dinamiek behou, en, laat dit in alle opregtheid aangeteken word, die sersant-majoor se keel het baie min olie nodig gehad. Hy het ’n gedrukte bladsy met die name van die advokate by hom gehad, en ’n advokaat wat by die biblioteek uitgeloop het, moes hom eers vertel waarheen hy oppad was – soos “Rolls”, “Common Pleas” of “Exchequer”. Bramley het dan ’n nota van sy bestemming agter die man se naam gemaak, en wanneer iemand daarna die advokaat gesoek het en hy nie gereageer het op die uitroep van sy naam nie, kon Bramley die navraer vertel waar om na hom te gaan soek.

Die roep van die name en die rondlopery van die mense tussen hulle sitplekke en die deur, het ’n groot lawaai veroorsaak. Verder was daar die “biblioteek boys” (sommige van hierdie “boys” was manne wat al baie oud was) wat genoodsaak was om op ’n drafstap, of so vinnig as wat hulle al strompelende kon, na die gevraagde boeke vir die balielede te gaan soek. Ook het daar heelwat van ’n gepratery en ’n gelaggery plaasgevind – heel onbeheersd – hoofsaaklik om die kaggel en die Round Table wat die middelpunt van regskundige geskinder en skandale in die Ierse koninkryk was.

Vir ’n nuweling soos Carson in 1877, het die plek meer na ’n moerse deurmekaarspul gelyk as ’n plek om in te werk. Hy het gewonder hoe hy, wanneer ’n prokureur na hom sou verneem, sy naam bo só ’n kabaal sou kon hoor, om nie eers daarvan te praat om in so ’n plek te studeer nie. Gou egter, net soos al die ander, het hy daaraan gewoond geraak, en het dit vir hom moontlik geword om sy ore teen elke klank te sluit, behalwe Bramley se bulderende “E. H. Carson”, wat aanvanklik nie veel gehoor is nie, maar wel ’n roepstem wat later soos die jare verbygegaan het, amper vervelig geword het as gevolg van die dikwelse herhaling daarvan. In die biblioteek het Carson agtergekom dat ’n algemene geraas, maak nie saak hoe hard dit was nie, nie so kwellend vir ’n werker was as wanneer twee persone naby mekaar in ’n fluistergesprek gewikkel was nie.

Die biblioteekstelsel het groot voordele gehad: Die here van die balie vanuit die “ses Ierse streke” – in 1877 was daar ses hofstreke – was saamgevoeg, en soos die katolieke en die nasionaliste begin het om na die balie toe te kom, het die biblioteek ’n aangename sentrum van vriendskap en kameraadskap tussen persone wat polities en godsdienstig sterk met mekaar verskil het, geword. Die balie was inderdaad die beste sosiale klub in Dublin. Verder was dit ’n groot voordeel vir ’n jong man om tussen ouer en meer ervarenes te beweeg – ’n junior kon altyd vir ’n senior om bystand vra, en sulke hulp was vrylik beskikbaar.

Advokate wat saam in ’n saak betrokke was, kon dit met mekaar bespreek, en die nuttigste oorlegplegings was dáárdie wat informeel in die biblioteek gehou is. Meer formele beraadslagings is in die aand aan huise van die advokate gehou, of in konsultasiekamers in die howe direk voor of na die howe verdaag het. As die “formele” konsultasies aan huise van Iere gehou is, het dit egter dikwels gedegenereer na informaliteit toe. En glasies drankoffers van rooi wyn en sjampanje is vrolik geklink op die Muse van regsgeleerdes – sy wat nooit op dié manier deur haar Engelse aanhangers, in hulle waardige en deftige professionele kamers, vereer is nie.

Posted in Afrikaans


Next

Previous