Uit Commando – Van Perde en Manne
deur Deneys Reitz
’n Week tevore het ’n kolonianer met die naam van Lemuel Colaine daar aangekom met ’n storie dat die Engelse hom onder ’n valse aanklag van verraad in ’n tronk in Clanwilliam gestop het. Hy het vertel dat hy een nag oor ’n muur ontsnap het en na hulle toe gekom het om in weerwraak, wapens teen hulle, die Engelse, op te neem. Hulle het sy storie geglo en hom ’n geweer gegee, en hy het by die kommando aangesluit.
Colaine was egter ’n betaalde Britse spioen en, na hy sy inligting ingesamel het, het hy verdwyn. Daar was nie veel aandag gegee aan sy afwesigheid nie, aangesien die manne gedurig weggegaan het op besoeke aan plase, of om by vriende wat by poste ver weg gestasioneer was, te gaan kuier. Die mense het maar gedink dat hy dieselfde gedoen het. Daar het egter ’n wrede ontnugtering op hulle gewag toe ’n Engelse perdekommando, met Colaine heel vooraan, skielik met oggendskemer op hulle toegeslaan het. Sewentien manskappe het gesterf of het wonde opgedoen, asook my jong vriend Michael du Preez.
Die aanval was so geheel en al onverwags dat die troepe deur die kamp gejaag en hulle swaarde kon gebruik het. Hulle het veilig die ander kant bereik voor ons manne tot verhaal gekom het. Almal was woedend oor Colaine se verraad en het gehoop dat hy eendag in hulle hande sou val. Nemesis, die godin van wraaknemende geregtigheid, het later aan hulle kant kom staan.
~
Toe ons deur die kamers geloop het met omgegooide stoele ens., soos daar in die geveg handgemeen geraak was, het ons ’n man in burgerklere onder die boog van die vuurmaakplek in die kombuis sien wegkruip. Ek het gedink dit was die eienaar van die plaas wat nog nie oor sy skrik van die gebeure gekom het nie. Toe ek Wyndell se aandag daarop gevestig het, het hy uitgeroep: “Goeie God, dis Colaine!” Ek het nie Colaine geken nie, maar Wyndell het hom by die huis uitgesleep en aan die manne buite geskree om te kom kyk wie daar was. Spoedig het daar dosyne dreigende en swetsende manne om die verpeste verraaier gestaan.
Hy was ’n man van omtrent vyf en veertig wat soos ’n tipiese agterveldse Boer daar uitgesien het, met ’n lang baard en ferweelbroek. Hy was taamlik moedig, want toe die manne hom woedend verseker oor wat die noodlot definitief vir hom ingehou het, het hy net sy skouers opgehaal en geen teken van vrees gewys nie. Kommandant Bouwer het daar aangekom terwyl ons so om hom gestaan het. Hy het twee manne beveel om oor hom wag te staan totdat generaal Smuts in kennis gestel is.
~
Toe ek by die woonhuis by Aties aangekom het, was generaal Smuts in die eetkamer besig om met die eienaar, Isaac van Zijl, te gesels. Sy vrou en dogters was ook daar. Nie lank daarna nie is die spioen Colaine deur die wagte daar ingelei. Hulle wou weet wat hulle met die prisonier moes doen. Generaal Smuts het voorheen die verhaal van Colaine se verraad gehoor en, nadat hy by die wagte seker gemaak het van Colaine se identiteit, het hy hom ter dood veroordeel sonder enige verdere formaliteit. Die generaal het aan die wagte gesê: “Vat hom uit en skiet hom!” Toe het Colaine se moed hom begewe. Hy het op sy knieë geval en om genade gesmeek terwyl die vrouens in trane die kamer uitgevlug het. Generaal Smuts het sy opdrag herhaal, maar terwyl die veroordeelde man die kamer uitgelei is, het ds. Kriel binnegekom en toestemming gevra om vir die armsalige sondaar se siel te gaan bid. Colaine is na die klein smidswinkeltjie agter die woonhuis geneem en, toe ek ’n rukkie later gaan kyk het, het ek hom en die predikant langs ’n ploegstert diep in gebed, gesien.
Andries de Wet van ons staf is aangesê om ’n vuurpeloton bymekaar te kry. Omdat hy nie van dié taak gehou het nie, het hy my gevra om saam met hom te gaan. Ons het ’n paar plaas-bediendes gestuur om ’n graf weg van die huis af (om die huismense se gevoelens te respekteer), te grawe. Drie manne wat in die tuin afgesaal het, is aangesê om hulle gewere te gaan haal en ons het toe na die smidswinkel se deur toe gestap. Ons het ds. Kriel se oog gevang en De Wet het met sy vinger na die prisonier gewys. Die predikant het die knielende man se skouer aangeraak en gesê: “Broer, wees ’n man, jou tyd het aangebreek.”
Colaine het die nuus kalm aangehoor, opgestaan, die dominee se hand geskud, die wagte gegroet, en gesê dat hy gereed was. Ons het hom uitgelei na waar hulle besig was om sy graf te grawe. Terwyl ons daarheen gestap het, het hy met ons gepraat. Hy het gesê dat hy geweet het dat hy verdien het om te sterf, maar hy was ’n arm man en het bloedgeld aanvaar om sy vrou en kinders aan die lewe te hou.
Die plaas-bediendes het net die graf klaar gegrawe toe ons daar aangekom het. Die armsalige man het doodsbleek geword toe hy die vlak graf gesien het. Miskien het hy nog gehoop op genade tot hy die graf gesien het. Selfs toe het hy tyd probeer wen deur ons te versoek om vir ds. Kriel te laat kom om ’n finale gebed te doen. Hy het na my toe gedraai en gevra dat ek generaal Smuts moet gaan haal. Ons het egter gevoel hoe gouer dit verby was, hoe beter. De Wet het hom geblinddoek en hom aan die koppenent van die graf laat staan.
Toe hy besef het dit die einde was, het Colaine sy hande in die lug opgesteek en in ’n lae stem die Onse Vader gebid terwyl die peleton hulself in posisie gekry het. Op die laaste “Amen” het hulle geskiet. Met ’n stuiptrekkende ruk het hy agteroor die graf ingestort. Die verskrikte knegte het hom gou met grond toegegooi.
Next →
← Previous