Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Dit het begin met ’n dispuut by ’n steenkoolmyn waar die werkers daar opgehou werk het. Die staking het uitgebrei na die Rand toe, en die situasie het vererger met die oorspronklike leiers wat toe vervang is deur ekstremiste wat ’n algemene staking uitgeroep het en hulle toevlug tot geweld geneem het.
Aan die hoof van die oproer was Fisher en Spendriff, twee Australiese kommuniste, en die opstand het onrusbarende proporsies aangeneem. Die gewone lede van die werkers was jong Afrikaners van die plattelandse distrikte, dapper en roekeloos en volgens tradisie reg om argumente met ’n geweer reg te stel.
Rewolusionêre kommando’s het oornag te voorskyn gekom en omdat baie van die oproermakers familie en vriende in die plattelandse gebiede gehad het, was daar die gevaar dat dié brandpunt op ’n nasionale burgeroorlog kon uitloop.
In Johannesburg en die goudmyne het anargie geheers. ’n Werkersrepubliek was uitgeroep; andersdenkende rebelle het die buitegebiede en woonbuurtes oorgeneem. Daar is met die eerste oogopslag op die polisie geskiet, en hulle barakke en stasies is beleër en gebombardeer terwyl brandstigting en straatgevegte aan die orde van die dag was. Johannesburg was geheel en al omring en ons regeringstroepe het met moeite daarin geslaag om die binnesirkel van die stad te behou.
As die jongste lid van die kabinet het ek minder verantwoordelikhede gedra as die ander, maar dit was ’n uitputtende tyd.
Met Johannesburg en die goudmyne feitlik in die hande van die oproermakers, het generaal Smuts krygswet afgekondig. Vyftigduisend berede burgers is opgeroep en hy het ’n dramatiese stormloop deur die rebelle se linies na Johannesburg uitgevoer. Op kort afstand is daar op hom gevuur, maar hy het veilig deurgebars en persoonlik bevel oorgeneem in Johannesburg.
Hy het hulle die volgende dag met voetsoldate en kanonne aangeval en hulle bastion by Fordsburg met perderuiters omring. Na strooibiljette uit vliegtuie te laat val is waarin vroue en kinders gewaarsku is om die dorp te verlaat, het die regeringskommando’s onder dekking van geweervuur Fordsburg ingeneem. Terwyl ons manne binnegedring het, het Fisher en Spendriff hulself geskiet en die opstand het in duie gestort.
Dit was ’n duur affêre. Meer as sewehonderd mense het gesterf en daar was grootskaalse materiële skade. Polities was die gevolge rampspoedig. Ons opponente het ons beskuldig dat ons te hardhandig opgetree het, en ons ondersteuners weer het ons geblameer dat ons nie vroegtydig genoeg opgetree het nie, en so was ons tussen die hamer en die aambeeld vasgevang.
En toe om ons probleme te vererger, het die verhoor van ’n klomp van die belhamels gevolg. Hulle was nie vervolg vir hoogverraad nie, maar wel vir koelbloedige moord op burgerlikes.
Soos gewoonlik het daar ’n reaksie gevolg. Daar is duisende wat vergete lê op slagvelde, maar die publiek deins terug van teregstellings. Toe vyf van die ergste oortreders die doodstraf gekry het, is massa vergaderings uitgeroep, petisies is onderteken en daar is aangedring op begenadiging. Maar ons het besluit die manne moet hang. Hulle het wreedaardige moorde gepleeg, nie in die hitte van die aksie nie, maar deur nie-strydendes doelbewus dood te maak.
Ek dink ons het onder die omstandighede die regte ding gedoen, maar ons moes boet vir dit wat daardie mense, wat die regte ding in ’n demokrasie doen, wedervaar. Die rewolusie het ons aansien erg skade aangedoen en die voltrekking van die doodsvonnis in die Pretoriase tronk het ons selfs meer gekos.
’n Man genaamd Taffy Long wat opgehang is, het ons die meeste benadeel. Hy was ’n soldaat met ’n goeie oorlogsrekord. Hy het by Gallipoli diens gedoen en het ’n dekorasie ontvang vir dapperheid. Elke teruggekeerde soldaat in die Unie het luid geprotesteer vir sy ontslag en prins Arthur van Connaught (ons goewerneur-generaal) het aanvanklik geweier om die magtiging vir die doodstraf te onderteken. Nogtans is hy skuldig bevind op ’n wreedaardige moord, en ons het gevoel, hoe beter hy was as ’n soldaat, hoe minder regverdiging was daar vir sy optrede.
Ek het sy lot betreur hoewel ek in die kabinet vir sy dood gestem het. Hy was ’n dapper man. Die aand voor sy doodstraf voltrek sou word, het hy gevra vir iets om te lees en ’n Bybel is vir hom gegee. Hy het na die heilige boek gekyk, die titel gelees, en dit toe al tollende by die oop deur van sy sel uitgegooi in die gang na buite. Hy het gesê: “Bybel, die Bybel verdomp, bring my een van Nat Gould se romans.” Die volgende oggend het hy die ewigheid ingegaan al singende aan die “Red Flag”.
Next →
← Previous