Bewolkte Aande

Posted on June 17, 2016 by Cape Rebel

Uit “Starlight on the Veld” in Mafeking Road
deur Herman Charles Bosman

 

Toe die hout hoog op die vure gepak is, het Jan Ockerse weer gesê dat dit ’n snaakse aand was, en weer eens oor die sterre begin praat.

“Schalk, wat dink jy doen matrose op die see,” het hy gevra, “as hulle verdwaal het en nie weet waarheen nie, en as daar geen ander skepe om hulle is wat hulle kan vra nie?”

“Hulle het alles op ’n stukkie papier geskryf met ’n klomp rooi en blou daarop,” het ek geantwoord. “En daar is swart strepe wat jou die pad wys van Kaapstad af na St Helena toe. En as die skip sink, is daar syfers om jou te wys hoeveel myle diep hy in die see kan afsak. Ek het gedurende die Anglo-Boereoorlog St Helena toe gegaan.

“Op ’n skip kan jy net soos op ’n ossewa lewe. Behalwe natuurlik dat ’n skip nie so gerieflik is nie. En dit is verder om te gaan tussen uitspanplekke.”

“Ek het êrens gehoor dat matrose na die sterre kyk om te sien waarheen om te gaan,” het Jan Ockerse gesê. Ek wonder watse soort mense my sulke dinge wil vertel.”

Hy het vir ’n rukkie daar stilswygend gelê en opkyk na die sterre terwyl hy gedink het.

“Ek onthou hoe ek een aand op Annie Steyn se stoep gestaan het en met haar oor die sterre gepraat het,” het Jan Ockerse later gesê. “As gevolg van die droogte was ek op die punt om met die beeste Limpopo toe te trek. Ek het aan Annie gesê dat ek weg sou wees tot die reëns weer gekom het. Ek het haar vertel dat, elke aand terwyl ek weg was, sy na ’n sekere ster moes kyk en aan my moes dink. Ek het haar gewys watter ster. Daardie drie sterre daar wat in ’n reguit ry naby mekaar lê. Sy moes my onthou wanneer sy na die middelste een sou kyk, het ek gesê.

“Maar Annie het verduidelik dat Willem Mostert, wat ’n week vantevore na die Limpopo toe getrek het, reeds die middelste ster vir haar gekies het om hom te onthou.

“O ek sien, het ek gesê, dan sal die boonste een reg wees.

“Maar Annie het gesê dat daardie een reeds aan Stoffel Brink behoort.

“Aan die einde het ek ingestem dat sy my deur die onderste ster kon onthou.

“Annie was nog besig om te sê dat sy elke aand na die onderste van die drie sterre sou kyk en aan my sou dink, toe haar pa, wat klaarblyklik agter die deur gestaan het, op die stoep uitgekom en gesê het: ‘Wat van bewolkte aande?’ Hy’t dit op ’n manier gesê wat hy gedink het ’n heel slim ding was om te sê.”

“En wat het toe gebeur?” het ek Jan Ockerse gevra.

“Annie was baie vies,” het hy geantwoord. “Sy het haar pa vertel dat hy altyd dinge bederf. Sy het hom vertel dat hy glad nie snaaks was nie, regtigwaar, veral omdat ek die derde jongkêrel was aan wie hy dieselfde ding gesê het. Sy het gesê dat dit nie saakgemaak het hoe geklik ’n jongman mog wees nie, maar dat haar pa nie die reg gehad het om sulke grappe in sy teenwoordigheid te maak nie.

“Dit was gaaf om te hoor op watter manier Annie vir my opgekom het. Hoe ook al, wat daarna gebeur het, was ’n lang storie.

“Ek het Willem Mostert en Stoffel Brink by die Limpopo raakgeloop. En vir ’n hele aantal maande het ons bymekaargebly. Vir ’n vreemdeling moes dit ’n buitengewone gesig gewees het om elke aand drie jong mans om ’n kampvuur te kon sien sit en opkyk na die sterre.

“Ná ’n ruk het ons goeie vriende geword, en toe die reëns gekom het, het ons drie teruggetrek Marico toe. En ek het toe uitgevind dat Annie se pa reg was. Ek bedoel aangaande die bewolkte aande.

“Aan my is later gesê dat dit juis só ’n soort van ’n nag was dat Annie met ’n bywoner weggeloop het Johannesburg toe. Hy het daar werk op die myne gaan soek.”

Jan Ockerse het gesug en teruggekeer na sy gedinkery.

So terwyl ons besig was om te praat en te slaap, het die meeste van die nagtelike ure verbygeglip. Ons het net een vuur aan die brand gehou, en ek en Jan Ockerse het beurte geneem om dit met hout te stook.

Dit word baie koud net voor die dag breek, en ons altwee het gebewe van die koue.

“In elk geval,” het Jan Ockerse ná ’n rukkie gesê, “nou weet jy hoekom ek geïnteresseerd is in die sterre. Ek was ’n jongman toe hierdie dinge plaasgevind het. En ek het baie min mense hiervan vertel. So sewentien sou ek sê. Die ander wou nie luister nie.

“Maar altyd op ’n helder aand, wanneer ek daardie drie sterre in ’n ry sien, kyk ek vir ’n lang ruk na die onderste ster; en die manier waarop dit skyn, lyk vir my na iets baie vriendeliks. Dit lyk na my ster, en sy lig is anders as die lig van die ander sterre …”


Next

Previous