Uit Jurie Steyn's Post Office
deur Herman Charles Bosman
“Julle wil nie na my luister nie,” het Oupa Bekker gesê. “Julle laat my nooit klaarmaak wat ek besig is om te sê nie. Julle laat my altyd net tot só ver gaan. Dan sê iemand iets doms, en so kan ek dan nie by die belangrike ding uitkom nie.
“Nou wat ek wou gesê het, is dat At Naude heeltemal reg is. En Johnny Coen kom hiernatoe. Hy kom vanmiddag hiernatoe, want hy wil weet wat ons dink. ’n Jong man wat verlief is, is mos so. Hy wil weet wat ons het om te sê. En die hele tyd sal hy in sy mou lag, in die stilligheid, oor die dinge wat ons sê. ’n Verliefde jongman is so, net so. En hy sal homself mooimaak en optooi met die kort lemmetjie van sy sakmes en ’n handvol droë gras – ja-nee, julle het geen idee hoe ydel ’n jong verliefde man kan wees nie.
“En hy maak homself nie stylvol vir die meisie se onthalwe nie, maar vir homself. Dis hy homself wat dink hy is so wonderlik. Hy weet minder as enigiemand anders hoe sy is, hierdie meisie op wie hy verlief is. En hy sal net die beste soort varkvet met roet meng om sy gekoopte skoene mee blink te maak. En omdat hy verlief is op die meisie, dink hy hy’s iets. O ja, Johnny Coen sal vanmiddag hier omkom, so waar. En wat ek wil sê –”.
Op hierdie tydstip is Oupa Bekker weereens in die rede geval. En omdat dit Jurie Steyn was wat op sy diskoers inbraak gemaak het, het oupa Bekker op beleefde wyse toegegee. Die poskantoor waarin hulle gesit het, was tog darem maar Jurie Steyn se eie voorkamer. Daar was iets van die gees van ouwêreldse hoflikheid in die manier wat Oupa Bekker die stilswye bewaar het.
“– jou dan, Jurie Steyn,” het Oupa Bekker gesê. “Praat jy dan maar.”
’n Hele paar van ons het in die rigting van die kombuis gekyk. Ons was verlig om te sien dat die deur toe was. Dit het beteken dat Jurie Steyn se vrou nie die platvloerse uitdrukking wat Oupa Bekker gebruik het, gehoor het nie.
“Wat ek graag wil sê,” het Jurie Steyn gesê, “is dat ek die eer gehad het om juffrou Pauline Gerber in my muilwaentjie na haar huis toe te dryf daardie dag toe sy hier by my poskantoor aangekom het, toe sy van die regeringslorrie afgeklim het en alles –.”
“Wat bedoel jy met ‘en alles’?” het Gysbert van Tonder op aangedring.
Jurie Steyn het met ’n uitdrukking van verwondering om hom rondgekyk.
“Maar julle was almal hier,” het Jurie Steyn uitgeroep. “Alles het hier gebeur. Miskien is dit wat ek bedoel met ‘en alles’. Ek is seker ek weet nie. Maar julle het Pauline Gerber gesien. Julle, elkeen van julle, het haar gesien. Toe sy daardie dag, met haar terugkoms van die afrondingskool in die Kaap hier van die Zeerust-lorrie afgeklim het. Julle het gesien op watter manier sy hier in my voorkamer rondgeloop het, hoe netjies hoog sy haar hakkies gelig het – en ek neem haar nie kwalik nie. En haar ken in die lug. En so pragtig soos kan wees. Nou ja, julle het gesien hoe mooi sy was, nie waar nie? En hoe sy geruik het. Het julle haar geruik? Julle moes. Dit was te lieflik lekker. Dit wys jou watter soort parfuum jy in die Kaap kan kry.
“En ek is seker as ’n kerk-ouderling haar ruik – selfs al sou hy ’n Enkelgereformeerde-ouderling vanuit die verste deel van die Waterberge wees, is ek seker dat die Waterberg-ouderling sou geweet het, Pauline Gerber het styl – net deur haar te ruik, jy weet. Ek is seker die reukwater wat Pauline in die Kaap gekoop het, het ten minste sewe sjielings en sikspens ’n bottel gekos.
“Kyk nou byvoorbeeld na my vrou. Wel, op ’n keer het ek vir haar ’n bottel laventel by die Indiërwinkel op Ramoutsa gekoop. En wat ek vir julle sê is dit: Jy kan die verskil ruik tussen my vrou en … Pauline Gerber.”
Chris Welman wat tot dusver nog nie gepraat het nie, het gou opgemerk dat daar ook ander maniere was waarin mens die verskil kon sien.
Dit was ’n insinuasie wat, gelukkig genoeg, die algemene aandag ontwyk het.
Want juis op daardie oomblik was dit Johnny Coen in lewende lywe wat by die voordeur van die poskantoor sy opwagting gemaak het. Op ’n manier was dit die Johnny Coen wat ons altyd geken het. Maar tog ook was dit nie hy nie. Johnny Coen het op ’n subtiele manier ’n verandering ondergaan.
Na hy ons gegroet het, het hy vir homself ’n plek op ’n riempiestoel gekry, en daar heel regop gesit.
Op dié manier het dit gelyk of hy heeltemal onbewus was van ons teenwoordigheid terwyl hy met ’n vuurhoutjie, wat hy skerp gemaak het, begin het om die aanpaksel onder sy vingernaels uit te krap.
Gysbert van Tonder wat altyd daarvan gehou het om op die man af oor dinge te praat, was die eerste aan die woord.
“Die reën het nogal mooi daar by jou kant afgekom, Johnny,” het Gysbert opgemerk. “Ek vermoed jou damme is seker nou lekker vol.”
“O ja, inderdaad,” het Johnny Coen geantwoord.
“Heelwat water in die spruit ook, sou ek dink,” het Gysbert aangegaan.
“Ja, dit is nogal so,” het Johnny Coen geantwoord.
“En daar waar jy die vlakte gebrand het, is die nuwe gras seker mooi aan die uitloop,” het Gysbert van Tonder aangegaan.
“Ja, baie mooi,” het Johnny saamgestem.
“Wat is verkeerd met jou man – kan jy nie praat nie?” het Gysbert daarna met mening volgehou. “Jy weet baie goed wat ek probeer sê. Het jy haar al gesien van dat sy terug is?”
“Ek het haar gister gesien,” het Johnny Coen gesê, “langs die pad naby haar huis. Ek moes ’n hele ompad ry om toe dáár verby te kon gaan.”
Gysbert van Tonder het ’n vinnige berekening gemaak. “Dis net ’n kwessie van omtrent elf myl uit jou pad uit, as jy die kortpad deur die withaakbosse byreken,” het hy aangekondig. “Het sy baie gehad om te sê?”
“Moet my asseblief nie vra nie,” het hy Gysbert amper gesmeek, “want ek kan regtig nie onthou nie. Ons het met mekaar gepraat, dit weet ek. Maar na sy daar weg is, kon ek glad nie onthou wat ons gesê het nie. Alles was so anders toe sy nie meer daar was nie. Ek wens ek kon onthou wat ons gesê het. Wat ek gesê het, moes seker vir haar so simpel geklink het; so waar.”
Gysbert van Tonder was nie van plan dat Johnny Coen hom so maklik gaan ontduik nie.
“Nou ja, hoe’t sy gelyk?” het Gysbert gevra.
“Dis wat ek ook probeer onthou het – daarna,” het Johnny Coen te kenne gegee. “Hoe sy gelyk het. Wat sy gedoen het. Al daai dinge. Maar ek kon net nie onthou nie. Na sy daar weggegaan het, was alles net asof dit ’n droom was, en was daar niks wat ek as ’n feit kon onthou nie. Sy was daar langs die pad besig om geel blomme te pluk, so waar, om in haar hare te steek. Of sy het ’n sak vuurmaakhout op haar rug gedra vir die vuur in die kombuis, so waar. En vir my sou daar geen verskil gewees het nie – die manier hoe ek gevoel het. Maar ek weet nie. Al wat ek daarna –”.
“Dis wat ek aan hulle wou verduidelik het, Johnny,” het Oupa Bekker hom in die rede geval, “maar hulle laat my nooit klaarmaak met dit wat ek begin sê nie. Hulle sal altyd –”.
“Daarna,” het Johnny Coen herhaal, “na sy weg was, jy weet, was daar ’n soort van soetigheid in die lug. Dit was amper asof dit in die lug gesweef het, soort van. Eers het ek gedink dis ’n soort reukwater, dit wat sommige vrouens op hulle klere sit wanneer hulle Nagmaal toe gaan. Maar natuurlik het ek geweet dat dit nie so kon wees nie. Ek bedoel, ek weet Pauline sou nie laventel aan haar self sit nie, ek bedoel. Sy’s nie daai soort nie.”
“Wat ek vroeër wou gesê het, toe julle almal my in die rede geval het,” het Oupa Bekker ewe selfvoldaan aangekondig, “is dat ’n verliefde jongman presies só is.”
Uit Kommando – Van Perde en Manne
deur Deneys Reitz
Omdat ek nog steeds mank geloop het, het ek stadigaan agtergeraak. Om dinge nog erger te maak, het my klein merrie geboorte geskenk aan ’n doodgebore vulletjie. Ten spyte van die baringsnood wat op haar gewag het, het sy die trek so onwrikbaar verdra, dat ek nie eens daarvan bewus was dat iets met haar verkeerd was nie. Maar toe was sy gedaan. Na ’n rukkie het sy op haar voete gestrompel. Omdat ek dit nie kon waag om so naby aan die Engelse kampe te bly nie – hulle vure was nog in die verte sigbaar – het ek haar stadig vorentoe gelei. Teen daardie tyd het die res van ons manskappe in die donker verdwyn en ek moes nog vir ’n uur of twee in die donker alleen aanploeter. Ek het my arme perd agter my aangesleep totdat sy nie ’n voet verder kon versit nie. Ek het besluit om daar halt te roep tot die volgende môre. Dit was bitterkoud – so koud dat ek vroeër daardie aand van die manne hoor sê het dat dit die koudste nag was wat hulle ooit ervaar het. Omdat ek geen vuurmaakhout kon vind nie, het ek my kombers om my skouers gevou en daar al bibberend en bewend tot die volgende dag gesit. Met die aanbreek van die daeraad, het ek gevind ek was op ’n droewige wye vlakte wat myle ver gestrek het sonder enige teken van die kommando.
By ’n doringboom in die verte, het ek vier van my Duitse vriende gevind waar hulle bymekaar gedrom het teen die koue. Hulle het gesê dat hulle in die nag agtergekom het ek was nie daar nie. Hulle was bewus daarvan dat ek mank geloop het en hulle was so gaaf dat hulle goedgunstiglik agtergebly het om vir my te wag.
Nadat ons alle moontlike vuurmaakhout in die barre omgewing opgetel het, het ons ’n klein vuurtjie aan die gang gekry en ’n bietjie vleis gebraai. Ons het die spore van die kommando gevolg, maar die vordering was baie stadig, want my kamerade se perde was nie in ’n veel beter kondisie as my eie nie. Teen nege- of tienuur die volgende oggend, het daar onheilspellende stofpilare agter ons die lug ingestyg. Dit het ons gewaarsku dat die Engelse kolonne van die vorige aand besig was om in ons rigting terug te keer.
Ons kon die troepe nog nie sien nie, maar as mens die toestand van ons perde in ag sou neem, was daar min kans om voor hulle te bly wanneer hulle verkenners eers op die gesigseinder sou verskyn. Ons het dus maar so goed as moontlik aangestoot. Net toe ons so af en toe ’n perderuiter ver agter ons gesien het, het ons genadiglik die Hartsrivier bereik. Dit was meer ’n barre stuk sand oor die vlakte as ’n rivier. Daar het geen bome op die wal gegroei nie, en van vyftig treë af, kon mens glad nie die walle sien nie. Dit was ons redding. Skaars was ons en ons perde buite sig op die droë bedding, of die troepe het in hulle hordes by die rivier aangekom. Alles het egter goed afgeloop. Toe die Engelse die wal bereik het, het hulle begin om ’n helling vir hulle kanonne en waens te grawe. Dit het hulle ure geneem voordat hulle hul transport deurgekry het, waartydens ons, bevrees dat ons ontdek sou word, oor die wal geloer het. Ons het egter voor donker die bevrediging gesmaak om die stert van die konvooi oor die horison te sien verdwyn.
Dit was alles goed en wel, maar die vraag het gebly, hoe sou ons weer ons mense kon inhaal. Om tydelik afgesny te wees, was nie noodwendig so belangrik nie, en dit het ons nie veel gepla nie, maar as gedink word aan die wisselvalligheid van guerilla-oorlogvoering, was ons grootste angs die swak toestand van ons perde.
~
Die vier Duitsers was ’n interessante mengsel. Die oudste, Herman Haase, was ’n man van omtrent vyf en veertig. Hy het gelyk soos die tipiese Duitse wors-eter van die Engelse strokiesprente, maar soos ek uitgevind het, ’n goedgeaarde heer en Johannesburgse handelaar wat van die begin van die oorlog af in die veld was. Hy was die laaste persoon wat mens kon verwag ’n voorliefde vir oorlog sou hê. Hy het net die hele tyd gepraat van sy vrou en familie en die genietinge van die huislike lewe.
Die volgende was W. Cluver, ’n skrander, siniese Berlynse student wat my baie interessanthede van die lewe in die ou wêreld vertel het. Verder was daar Pollatchek, ook ’n Berlynse student, wat uitgekom het om vir die Boere te veg, amper asof op ’n kruistog. Hy het my vertel dat sy aanvanklike geesdrif lank gelede reeds verdwyn het, maar hy het van die lewe van avontuur gehou en hy het dus gebly. Hy was ’n aangename, vrolike kêrel van wie ek baie leer hou het.
Die laaste was ’n boerekneg genaamd Wiese. Hy was ’n onhandige, dommerige plaasjapie, maar heel dapper. Saam met dié vier manne was ek toe aan die noodlot, oorgelaat. Wiese en Cluver het dit nie ver gemaak nie, maar ek was lank saam met Haase en Pollatchek, hoewel hulle ook teen die einde omgedraai het.
Ons het gou voorbereidings getref om Kaap toe te gaan. Ons het ’n verdwaalde skaap geslag en die vleis in repe gesny om winddroog te word (ons het mos nie sout gehad nie). Ons het ’n hoeveelheid mielies tot mieliemeel gemaal met behulp van ’n klein koffiemeul wat Haase in sy saalsak saam met hom gedra het. Die volgende oggend het ons die pad gevat.
~
Vir ’n hele paar dae was dit nie moontlik vir ons om in ’n reguit koers te ry nie, want ons het agtergekom dat die wêreld vol Britse soldate was wat in alle rigtings beweeg het. Ons het uitgewerk dat ons seker vyf en twintigduisend van hulle moes gesien het voordat ons daardie gebied ontruim het. Dit was duidelik met die vee-manier wat hulle vorentoe beweeg het, dat hulle weer met een van hulle dryftogte besig was. Omdat ons egter nie ’n enkele burger of enige teken van ’n kommando gesien het nie, het dit gelyk of hulle poging nie juis veel vrugte afgewerp het nie. Generaal De la Rey moes weer een van sy taktiese bewegings uitgevoer het om die groot saamtrek van troepe te vermy deur sy manne te verdeel wat die Britte se slaankrag uitgeput het.
My kennis van die veld en die vernuf om daar te oorleef, het ons goed te staan gekom en veilig tot by Vaalrivier gebring. My vorige ervarings was waardevol en ons het suksesvol deur die Engelse kolonne gekronkel en gevleg sonder dat dit eenmaal nodig was om ’n skoot te skiet nie. Daar was ’n geleentheid waar ons vir ’n halwe dag in ’n doringbos, binne skree-afstand van ’n Engelse groep wat afgesaal het, moes wegkruip. Op ’n ander keer het ek en Cluver probeer om twee Engelse offisiere in ’n lokval te lei, maar hulle het ons te gou opgemerk en het weggekom. Terwyl daardie gebeure aan die gang was, moes ons vir Heinrich Wiese aan die noodlot agterlaat. Sy perd het ingegee en hy het blare onder sy voete ontwikkel. Ons het hom naby ’n Engelse kolon agtergelaat waar ons seker was dat hy opgetel en versorg sou word.
My been het mooi herstel, maar ons het nog bitter swaar gekry in die koue nagte. Verder het ons die opwinding van om uit die pad van die Engelse magte en patrollies te bly, amper begin geniet. Die Duitsers het gesê dat dit die lekkerste tyd was wat hulle in die oorlog gehad het.
Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Ek is onbestrede herkies vir die Laeveld en my vrou, wat meer polities aangelê was as ek, is vir Parktown-Noord, ’n belangrike Johannesburgse kiesafdeling, gekies. Sy was die eerste vroulike lid van die parlement in Suid-Afrika.
Met die verkiesing agter die rug en ’n oorwinning vir ons, het die parlement daarna vir ’n kort sessie in Kaapstad bymekaargekom; en toe, net soos met my eerste aanstelling as minister, het ek op reis gegaan om ’n gedeelte van my koninkryk, wat ek nog nie voorheen besoek het nie, te gaan besigtig.
Ek het besluit om die Kalahari, wat onder my beheer was, van nader te gaan bekyk. Hierdie woestyn lê tussen Duits Suidwes-Afrika aan die een kant en Transvaal en Suid-Rhodesië aan die ander kant – in breedte so om en by vierhonderd myl – en in lengte strek dit vanaf die Oranjerivier in die suide tot by die Okavango-moerasse – seshonderd myl noordwaarts.
Groot gedeeltes daarvan is geskik vir beesboerdery, en daar is heelwat wild. Verder is daar ook nomadiese Boesmanstamme – die “primitiefste” van alle menslike wesens.
Sommige amptenare wat my sou vergesel, het vooruitgegaan Kuruman toe, die sendeling-middelpunt waar die Moffats en David Livingstone in vervloë dae in ’n ietwat vrugtelose wyngaard geswoeg het, en ek het daarna per lug gevolg. By Kuruman het karre en ’n vragmotor met petrol en water op my gewag, en ná ek die vliegtuig teruggestuur het Pretoria toe, het ons die pad gevat.
Deur in die droë loop van die Kurumanrivier te ry, het ons tweehonderd myl gereis tot by die sameloop met die Molopo, ’n ander dooie rivier wat slegs op seldsame tussenposes, miskien twee maal in ’n eeu ná swaar reëns, gevloei het.
In hierdie land van nimmereindigende sand het ons teen tien myl per uur voortgeploeg. Ná dae van moeilike vordering het ons ’n punt bereik waar die Nosop en die Oup, twee ander fossielriviere, bymekaarkom, en toe het ons al met die Oup op geswoeg en gesweet tot by Mata-Mata op die suidwestelike grens.
Op ’n vroeëre geleentheid het die kurators van die Krugerwildtuin ’n driehoek van die grond, ’n miljoen akker in omvang, in hierdie area opsygesit as ’n reservaat vir gemsbokke (Oryx Gazelli) en die opregte hartebees (Bubalis Cama). Hierdie wildsoorte is amper uitgewis deur nomadiese stropers en Boesmanjagters. Ons het dié stuk wêreld uitgekies deur na landkaarte te kyk, want nie een van ons was al voorheen in die omgewing nie; trouens, daar is baie min mense in die Unie wat al ooit daarvan gehoor het.
Van die Oup af het ons toe deur die veld gery om die Reservaat te besigtig, en ek was die eerste lid van die Raad [van Kuratore van die Krugerwildtuin] om dit te sien – ’n wildernis van duine wat ons met behulp van ’n kompas genavigeer het. Ons het ’n tegniek van ons eie ontwerp om oor die sandheuwels te kom. Die geheim was om die bande halfpad af te blaas, en om nooit ’n sandduin teen die skuinste aan te durf nie; om liewer reguit vorentoe vet te gee, sodat die impetus die kar agt tot tien voet opwaarts teen die duin sou neem tot die masjien gaan staan, en om dan terug te gaan al op die uitgeryde spoor wat die wiele gemaak het – om dan weer die bult storm te loop, ’n bietjie verder hoër op. So word daar aangehou tot jy bo-op die duin kom. Die meganisme en die onderstel word tot die uiterste ingespan, maar op dié manier het ons ’n hele reeks duine kafgeloop, en binne ’n paar dae dwarsdeur die reservaat gereis teen ’n algemene spoed van omtrent twee myl per uur.
Ons het gemsbokke en hartebeeste gesien en af en toe ’n Boesman wat rieme neergelê het met die aanskoue van die vreemde monsters wat sy voorvaderlike jagvelde binnegeval het. Ons het ook verskeie Kalahari-leeus gesien – ’n kleiner en geler spesie as dié in Transvaal.
Met ons aankoms het die kameelpatrollie, wat ek gereël het, ons ingewag, en hier het ek weer eens iets nuuts oor leeus geleer. Ons het een aand langs die Nosoprivier aangeland, en terwyl ons ons tente opgeslaan het, was ek verras om te sien dat ons kameeldrywers hulle diere gekniehalter en in die bos losgelaat het om te gaan wei. Ons het met sononder ’n leeu sien rondsluip, en dit het vir my na moedswillige wreedheid gelyk om die kamele so hulpeloos die donkerte in te jaag; maar die drywers was heel op hulle gemak. Hulle het gesê dat ’n leeu nooit ’n kameel, gekniehalter of nie, sou aanval nie. ’n Leeu val altyd van agter af aan, en aangesien ’n kameel altyd lyf omdraai om na die gevaar te kyk, word hulle nie gemolesteer nie. Ek glo egter dat leeus nie die muwwe kameelreuk kan verdra nie. In elk geval, ons diere het daar ongedeerd gewei. Af en toe het ek op ’n kameel gery, maar oor die algemeen het ek verkies om te loop.
Ná ek die reservaat geïnspekteer het, het ons aangestoot met ons rit in die bedding van die Nosoprivier na ’n punt op die landkaart wat as Union’s End aangestip is. Hier het ons ’n stam basters van omtrent ’n honderd of so, aangetref wat vir meer as twee jaar daar afgesny en vasgevang was – ’n onderafdeling van Simon Kooper se nasie. Hulle het na Union’s End gekom om te jag, maar die droogte het hulle daar vasgepen en hulle was verplig om sedertdien daar te bly, want dit was al plek in ’n omtrek van honderd en twintig myl, waar daar water was.
Gelukkig vir hulle het die Suid-Afrikaanse regering in die 1915-veldtog ’n boorgat daar vir die troepe gesink. Die gat was ’n honderd en sewentig voet diep, en aangesien daar geen pomp of windpomp was nie, kon die water slegs bereik word deur ’n gallon-paraffienblik, vasgemaak met gemsbokrieme, daarin te laat afsak. Dit was ’n voltydse taak, en aflosspanne het dag en nag gewerk. As die riem sou gebreek het, sou die blik afgeval het en die gat geblokkeer gewees het, en sou hulle almal van dors omgekom het. Hulle het nog nooit ’n motorkar gesien nie en toe ek aangebied het om vragmotors te laat kom om hulle na veiligheid te bring, was hulle te bang vir hierdie vreemde voertuie. Ons het hulle toe maar daar gelos. Ek het agterna gehoor dat, met die reëns wat later geval het, hulle veilig uitgekom het.
In daardie deel van die wêreld drink die diere nie, want daar is geen water op die oppervlakte nie. Hulle verkry vloeistof van die tsamma en ander kruie en groenigheid.
Wat leeus en ander karnivore betref, word daar gesê dat hulle die bloed van hulle prooi drink, maar volgens die Boesmans, les hulle hul dors van die vloeistof in die grootderm van die diere wat hulle doodmaak. Daar is aan my gesê dat die jagters in die Kalahari genoeg water in ’n gemsbok se pens vind om te drink en te was; en as hulle eers daaraan gewoond geraak het, is vars water vir hulle laf en smaakloos.
Toe ons al met die rivier langs teruggery het, het ons op twee ratels afgekom. In Afrikaans het ons ’n gesegde, “so taai soos ’n ratel”, en ek sou graag wou byvoeg, “so dapper soos ’n ratel”, want toe ons by hulle verbygegaan het, het ons ’n paar welpies gesien – so groot soos krimpvarkies. Ten tyde het ek langs die bestuurder van die waterlorrie gesit, en die ratels het gedink dat ons ’n gevaar vir hul kleingoed ingehou het. Die lorrie moes vir hulle twintig keer groter gelyk het as ’n mastodon vir ’n oerjagter, maar tog was hulle vreesloos. Hulle het vorentoe gestorm om hulle kleinspan te beskerm, en die onverskrokke skepseltjies het inderdaad die bande gebyt en gekrap terwyl hulle woedend gekermskreeu het. Ek het my drywer aangesê om hulle nie te beseer nie, en die brawe diertjies het daarna heel triomfantelik weggedraf om weer saam met hulle spruite te kon wees.
Uit Eastern Approaches
deur Fitzroy Maclean
Oorloë verbreek die versperrings wat ons in vredestye skei. Soos ons tussen die Partisans gewoon het, het ons hulle goed leer ken, van Tito en die ander leiers tot by die dosyn of so gewone soldate wat opgetree het as ons lyfwagte en daagliks na ons behoeftes omgesien het.
Een ding het hulle almal in gemeen gehad: ’n geweldige trots in hulle beweging en sy prestasies. Vir hulle was die buitewêreld nie van onmiddellike belang nie. Wat wel saak gemaak het, was hulle oorlog van Nasionale Bevryding, hulle stryd teen die invaller, hulle oorwinnings, h
Saam met hierdie ingenomenheid het ’n gees van toewyding gegaan wat moeilik was om nie te bewonder nie. Die lewe van ’n ieder en ’n elk is regeer deur ’n onbuigsame selfbeheersing, volkome selfverloëning, geheelonthouding, geen plundery en geen seks nie. Dit was asof elkeen van hulle gebind is deur ’n eed, ’n eed wat deels ideologies en deels militêr was, want, onder die omstandighede waaronder hulle geveg het, sou enige afname van dissipline rampspoedig gewees het; en enige eie begeertes en gevoelens kon nie toegelaat geword het om van enige belang te wees nie.
Maar, ten spyte van al dié dinge, was die Partisans nie vervelige mense om mee saam te leef nie. As dit wel die geval sou gewees het, sou hulle nie ware Jugoslawiërs gewees het nie. Hulle ingebore onrustigheid, hulle natuurlike onafhanklikheid en hulle diepgaande dramatiese aanvoeling het voortdurend op verskeie onverwagte maniere uiting gevind.
Tito het kop en skouers bo die ander uitgestaan. Wanneer dit nodig was om besluite te neem, het hy dit gedoen; of dit polities of militêr was, hy het dit kalm en bedaard aangehoor en na hy na die argumente van beide kante geluister het, het hy die besluite geneem. My eie sake is uitsluitlik met hom onderhandel. Ek kon seker daarvan wees dat hy my ’n spoedige en reguit antwoord oor enige onderwerp sou gee, hoe dit ookal sy, belangrik of niksbeduidend. Ons het dikwels meningsverskille gehad, maar Tito was altyd bereid om verskilpunte te debatteer, en om sy standpunt te verander as ’n sterk saak aan die teenkant uitgemaak is. Dikwels, as argumente op ’n dooie punt uitgeloop het vanweë die hardkoppigheid van sy ondergeskiktes, sou hy, nadat hy genader is, ingryp en die besluit omkeer.
Ek het gou uitgevind dat daar een argument was wat altyd baie gewig by hom gedra het: die voorstel – wat op die regte sielkundige oomblik geopper moes wees – dat hierdie of daardie manier van optrede van pas of onvanpas sou wees vir ’n beskaafde nasie. Deur die taktvolle gebruik van dié argument, het ek op meer as een geleentheid hom oorreed om af te sien daarvan om ’n ding te doen wat ’n rampspoedige uitwerking op ons verhouding sou kon gehad het. Terselfdertyd kon hy net so hewig reageer op enigiets wat hoegenaamd beskou kon word as ’n geringskatting, ’n verkleinering van die nasionale waardigheid van Jugoslawië. Hierdie nasionale trots, so het dit my voorgekom, was ’n onverwagte karaktertrek in iemand wie se grootste lojaliteit as ’n kommunis, noodwendig vir ’n buitelandse moondheid, die Sowjet-unie, moes wees.
Tito het heelwat onverwagte eienskappe gehad: sy verbasende breë uitkyk op die lewe; sy altyd teenwoordige sin vir humor; sy onbeskaamde behae in die klein genietinge van die lewe; ’n natuurlike beskroomdheid in sy menslike verhoudinge wat altyd ruimte gemaak het vir ’n natuurlike vriendelikheid; ’n vurige temperament wat skielik kon opvlam in ’n woedeaanval; ’n bedagsaamheid en ’n vrygewigheid wat deurentyd op dosyne wyses te voorskyn gekom het; ’n verbasende bereidwilligheid om beide kante van ’n saak te sien. Dié was menslike eienskappe, moeilik om te versoen met die algemene begrip van ’n kommunistiese jabroer, en dit het beter persoonlike verhoudings tussen ons makliker gemaak as wat ek voor kon gehoop het.
En tog het ek nie vir een oomblik vergeet dat ek te doen gehad het met ’n man wie se beginsels hom sou regverdig om niks te ontsien nie, en om só alles in sy vermoë te doen tot bedrieëry, oëverblindery en geweld om sy doeleindes te bereik, en dat dié dinge, wat buite ons onmiddellike militêre doelwitte gestaan het, heel waarskynlik lynreg in stryd was met my eie beginsels.
Toe ons ingestap het, het Tito vorentoe gekom om ons te ontmoet. Ek het hom sorgvuldig bekyk, want hier, so het dit vir my gelyk, was een van die sleutels tot ons probleem. “Gedurende oorlog,” het Napoleon gesê, “is dit nie die mense nie, maar die man wat tel.”
Hy was van gemiddelde lengte, skoon geskeer, met songebrande onberispelike gelaatstrekke en ysterkleurige hare. Hy het ’n ferm mond en op en wakker blou oë gehad. Hy het ’n donker semimilitêre baadjie en kortbroek gedra, sonder enige kentekens; ’n netjiese das met kolle was die enigste toevoeging tot kleur. Ons het hande geskud en gaan sit.
Hoe, het ek gewonder, sou hy vergelyk met die kommuniste wat ek in Rusland teëgekom het? Almal, van die lede van die Politburo af tot die NKVD-spioene wat my dopgehou en agtervolg het, het een ding in gemeen gehad, hulle angs vir verantwoordelikheid, hulle teensinnigheid om vir hulself te kon dink, hulle blinde onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan ’n Party-gedragslyn wat deur ’n hoër gesag gedikteer is, die verskriklike atmosfeer van vrees en agterdog wat hulle lewens deurdring en beheer het. Sou Tito een van daardie soort kommuniste wees?
’n Skildwag met ’n Schmeisser-handmasjiengeweer wat oor sy rug geswaai was, het ’n bottel pruimbrandewyn gebring en vir ons ingeskink. Ons het ons glase geledig. Daar was ’n verposing.
Dit was duidelik dat ons in die eerste plek ’n gemeenskaplike taal moes vind. Ek het gevind dat dit geen probleem was nie. Tito het Duits en Russies vlot gepraat, en hy was ook heeltemal gereed om my by te staan in my eerste poging om Serbo-Croat te praat. Na ’n paar rondtes pruimbrandewyn, was ons druk in gesprek met mekaar.
Een ding het my dadelik opgeval: Tito se gewilligheid om enige vraag op sy meriete te bespreek en, indien nodig, daar en dan ’n besluit te neem. Hy het geheel en al selfversekerd voorgekom; ’n hoof, nie ’n ondergeskikte nie. Om sulke selfvertroue, sulke onafhanklikheid in ’n kommunis te vind, was vir my ’n nuwe ervaring.
Ek het begin deur hom te vertel wat die doelwit van my sending was. Die Britse regering, het ek gesê, het verslae oor Partisan-weerstand ontvang en was gretig om te help. Hulle was egter steeds sonder akkurate inligting wat betref die omvang en aard van die Partisan-beweging. Saam met ’n span militêre deskundiges is ek gestuur om ’n volledige verslag op te stel en ook om die opperbevelhebber van raad te bedien oor hoe hulp die beste verleen kon word.
Tito het geantwoord dat hy bly was om dit te hoor. Die Partisans was toe besig om alleen te veg, en was vir twee jaar al sonder hulp betrokke teen ’n oorweldigende oormag. Vir voorrade was hulle afhanklik van wat hulle van die vyand kon buit. Die Italiaanse kapitulasie was vir hulle van enorme hulp. Maar hulp van buite was wat hulle die meeste nodig gehad het. Dit was waar dat daar af en toe in die voorafgaande weke vragte voorrade per valskerm laat val is, maar die klein bietjie wat hulle op hierdie manier bereik het, hoewel met dankbaarheid ontvang, was maar van min praktiese nut wanneer dit tussen meer as 100 000 Partisans uitgedeel moes word.
~
Soos dit later in die aand geword het, het ons geselskap afgedwaal van die dringende militêre probleme waaroor ons gepraat het, en Tito, wie se aanvanklike beskroomdheid lankal vervaag en verdwyn het, het my toe so ietwat aangaande sy verlede vertel. Die uitgelate gedeeltes in sy verhaal het ek later bygevoeg.
As die seun van ’n Kroatiese kleinboer, het hy in die Eerste Wêreldoorlog in die geledere van die keiserlike Oostenryk-Hongaarse weermag geveg. Hy is na die Russiese front gestuur waar hy deur die tsaar se magte gewond en gevange geneem is. Sodoende, in 1917, ten tyde van die Bolsjewistiese rewolusie, het hy homself in Rusland bevind. Al die oorlogsprisoniers is vrygelaat en hy het vrywillig aangesluit by die nuutgevormde Rooi Weermag. Hy het regdeur die burgeroorlog daarin diens gedoen. Dit was sy eerste kennismaking met die nuwe idees, en hy het na sy eie land teruggekeer as ’n oortuigte kommunis.
Die lewe wat toe begin het vir Tito, of Josip Broz, om sy regte naam te gebruik, was dié van ’n professionele rewolusionêr, van ’n lojale dienaar van Kommunisme Internasionaal. Daarvan het hy geen geheim gemaak nie. In die nuwe koninkryk van Jugoslawië, waarvan hy toe ’n burger was, is die kommunistiese party amper net ná dit gestig is, onwettig verklaar, en verskeie dwangmaatreëls is teen hulle lede ingestel. En so het hy toe die daaropvolgende twintig jaar binne en buite die tronk deurgebring, asook om weg te kruip of om in ballingskap te verkeer. Ewe trots het hy my ’n foto van homself gewys wat die Partisans in ’n ou polisieregister raakgeloop het, en wat hy toe as ’n aandenking aangehou het van dié tydperk in sy lewe.
Toe het daar in 1937 ’n nuwe fase in sy loopbaan begin. Kommunisme Internasionaal het die buitelandse kommunistiese partye gesuiwer. In Jugoslawië het hulle gevind dat die party erg gedisorganiseerd was en ernstig afgedwaal het. ’n Sleutelstreek in Suid-Oos Europa is bedreig. ’n Betroubare, vasberade man is benodig om sake weer reg te stel. Gorkić, die sekretaris-generaal van die Jugoslaafse kommunistiese party, is gelikwideer en Jossip Broz is in sy pos aangestel.
Hy was ’n goeie organiseerder. In sy ondergrondse weermag het hy nuwe aanstellings gemaak, nuwe take is toegewys en ’n nuwe dissipline is op die been gebring. Hy het mense laat kom en hulle vertel wat hulle moes doen. “Jy,” het hy aan hulle in Serbo-Croat gesê, “sal dit doen; en jy, dat” – “Ti, to; ti, to.” Hy het dit so gereeld gedoen dat sy vriende begin het om hom Tito te noem. Die naam het geklou. Dit het gegroei tot meer as net ’n bynaam. Dit het ’n roepstem tot aksie geword, ’n saamtrekpunt.
Uit Eastern Approaches
deur Fitzroy Maclean
Met ’n ruk het my valskerm oopgevou en het ek daar geswaaihang, asof aan die einde van ’n tou, hoog bokant ’n stille bergvallei, groengrys en mistig in die lig van die maan. Dit het, so het ek gedink, aanloklik koel en verfrissend gelyk na die sand en felle songloed van Noord-Afrika. Êrens bokant my het die vliegtuig, wat toe sy sending voltooi het, die lugpad huis toe gevat. Die geluid van die motore het geleidelik in die verte verflou.
Ver onderkant my en ’n hele entjie weg, kon ek ’n aantal vure sien brand. Ek het gehoop hulle was die regte vure, want die Duitsers het ook vure op verskillende plekke in die nag in die Balkans aangesteek met die hoop dat hulle voorrade en valskermspringers van hulle doelwitte, waarheen hulle op pad was, kon laat afwyk. Soos ek laer afgedaal het, kon ek ’n vae skreeugeluid uit die rigting van die vure hoor. Ek kon steeds nie die aarde reg onder my sien nie. Ek het gedink dat ons besonder hoog moes gevlieg het omdat dit so lank gevat het om neer te daal.
Toe, sonder enige verdere waarskuwing, was daar ’n stampval, en het ek in nat gras in die veld gelê. Daar was niemand sigbaar nie. Ek het die harnas losgemaak, my valskerm in ’n bondel opgerol, en begin met my soektog na die Partisans.
~
Na ons vir ’n uur of twee gery het, het ons by ’n klein sonverligte dorpie, hoog in die heuwels van Bosnië, aangekom. Die houthuisies daar was na aanmekaar om ’n vierkant vol skaduryke bome. Bokant hulle het die minaret van ’n moskee uitgerys. Die naam daarvan was Mrkonićgrad, of, soos sersant Duncan dit genoem het, Maconochie-grad. En hier in dié plek was die hoofkwartier van die plaaslike Partisan-bevelvoerder, Slavko Rodić, saam met wie ons ontbyt sou gaan nuttig.
Rodić, ’n vurige en lewenslustige jongman van omtrent twintig, het, op ’n offisier se strydros, gebuit van die Duitsers, uitgekom om ons te ontmoet. Saam met hom was sy stafhoof en sy politieke kommissaris, ’n groot joviale Serwiër met ’n lang welige snor. Ons het saam na ’n boerehuisie gegaan waar ontbyt op ons gewag het. By die deur het ’n frisgeboude skildwag met ’n handmasjiengeweer ons met sy gebalde vuis gesalueer. ’n Mooi meisie met ’n pistool en ’n tros moorddadig lykende handgranate aan haar gordel, het ’n bietjie water uit ’n kruik oor my hande uitgegooi en dit toe met ’n handdoek afgedroog. Ons het gaan aansit vir ontbyt van droë swart brood en ronde na ronde pienk vanilla brandewyn waarmee ons dit afgesluk het. Ons het verskeie onderwerpe bespreek soos perde, valskermspring en politiek, maar die geselskap het, so het ek agtergekom, telkens weer teruggekom na die een onderwerp wat bo aan in almal se gedagtes was: wanneer gaan die geallieerdes die Partisans wapens laat kry?
Terwyl ons daar gesit het, het boodskappers deurentyd situasieverslae van nabygeleë areas waar operasies in swang was, afgelewer. Op ’n manier het dit alles vreemd maar bekend voorgekom: die boerehuisie, die jong op en wakker bevelvoerder, die gawe persoonlikheid van die politieke kommissaris met sy walrussnor en die hamer en sekelkenteken op sy pet, die meisie met die pistool en handgranate, die algemene atmosfeer van aktiwiteit en verwagting.
Aanvanklik kon ek nie dink waar ek dit alles van tevore gesien het nie. Toe het ek onthou. Die hele toneel, net soos dit daar ontvou het, kon van een van die ou Sowjet-films van die burgeroorlog wat ek sewe of agt jaar vroeër gesien het, geneem gewees het. In Rusland het ek die rewolusie eers twintig jaar na die gebeurtenis gesien, toe dit verkramp, pretensieus en stewig gevestig was soos enige ander regeringstelsel in Europa. Hier het ek toe die worsteling in sy aanvangstadium gesien, met die rewolusionêres wat vir hulle voortbestaan en vryheid teen ’n geweldige oormag geveg het.
~
Met vyandelike vliegtuie en troepe wat die omgewing gepatrolleer het, het dit geblyk, was dit nie raadsaam om ons reis na die hoofkwartier voort te sit voor dit aand was nie, en wat ons betref, was ’n ruskans baie welkom. In ’n nabygeleë boord het ons in die skadu van ’n paar pruimbome gaan lê. Die sonlig wat deur die blare gefiltreer het, het veranderlike patrone op die gras gemaak. Die laaste ding wat ek kon onthou voor ek aan die slaap geraak het, was die geluid van ’n Duitse vliegtuig wat hoog bokant ons gedreun het, salig onbewus van ons teenwoordigheid.
Toe ek wakker geword het, het die son al gesak en was dit tyd om aanstaltes te maak. Die Partisans het ’n verrassing vir ons gehad. Daar staande in die dorpsplein was ’n gekaapte Duitse trok, vol gate geskiet, maar skynbaar nog in ’n werkende toestand. Twee of drie Partisans het petrol en water daarin gegooi en ’n ander was besig om die slinger met mening te draai. ’n Hele klomp kinders het oor die trok geswerm. ’n Enorme rooi vlag het oor die masjienkap gewapper. Of dit ’n aanduiding van gevaar was en of dit die politieke sienswyse van die drywer aangedui het, was nie duidelik nie. Dit was ’n groot geleentheid. Met ’n gevoel dat ons onaangenaam opsigtelik was, het ons ingeklim en weggery.
Die motorpaadjie het ons al langs die oewer van ’n meer geneem, met steil heuwels aan alle kante. Ons het die paadjie ’n paar myl gevolg. Maar skielik het die vallei vernou en ons het opgekyk na die donker vorm van ’n kasteelruïne sigbaar hoog bokant die pad. Om die kasteel was daar ’n klompie huise terwyl nog ligte uit ander huise aan die anderkant van die bergstroom sigbaar was. Êrens naby ons af was die gedreun van ’n waterval hoorbaar. Nog steeds teen volle spoed het ons drywer afgeswenk en oor ’n wankelrige brug gery en toe die remme aangeslaan. Ons het ons bestemming bereik: Jajce.
Ons het skaars ons benodigdhede in die huis wat vir ons aangewys is, uitgepak toe Velebit, wat vir ’n rukkie afwesig was, teruggekom het om te sê dat die bevelvoerder bly sou wees as ek en my stafhoof saam met hom aandete kon kom nuttig. Dit was duidelik dat ’n stafhoof noodsaaklik was; inderdaad, terwyl ek daarmee besig was, kon ek maar net sowel twee hê, een Brit en nog een Amerikaans. Dienooreenkomstig is beide Vivian en Slim Farish tot daardie posisies bevorder. Sersant Duncan het my persoonlike lyfwag geword en ons het vertrek.
Met Velebit wat voor geloop het, het ons weer die brug oorgesteek en opgeklim na die ruïne van die kasteel op die heuwel waarna ons vroeër gekyk het. Terwyl ons ons pad deur die bome gebaan het, het ’n Partisan-skildwag uit die skaduwee gestap, ons aangeroep, en na ons die wagwoord gegee het, ons deur die verbrokkelende mure na ’n oop ruimte geneem waar daar ’n man onder ’n boom gesit en ’n landkaart by ’n flikkerende lamp bestudeer het.
Die opwinding oor die omstandighede in die Noorde het ’n onmiskenbare weerklank onder die skoolseuns gevind. Die aanhoor van wat hulle ouers oor dié dinge gedink het, is tweedehands weerspieël wanneer hulle die saak op die speelgrond bespreek het. Daar was drie onderskeie verdelings onder die seuns, net soos daar drie duidelike groepe onder die dorpsgemeenskap was.
Een van hulle, beslis in die minderheid, het voorgegee asof hulle buite die debat gestaan het, te apaties of afsydig om oor enige van die opvattings te twis, en sodoende ’n eng Laodicese houding ingeneem. Die leier van dié groep was John Tomory, die tronkbewaarder se seun, wat sy pa se vêrgesogte sosialistiese idees aangeneem het. Dié beskouings het daarop gesinspeel dat niks juis saakgemaak het nie en dat die hele ding net ’n geknoeiery was waarin die belange van die Boere, aan die een kant, en dié van die Transvaalse Uitlanders, aan die ander kant, bloot pionne in ’n verdomde komedie was wat deur die kapitaliste beheer is.
Die tweede groep was vurige Boere-ondersteuners, wat geweldig opvlieënd teenoor ander was wat enigsins iets te sê gehad het ten gunste van die Invallers.
Die derde seksie het kragte met ou mevrou Quakerley saamgesnoer in hulle lojaliteitsbetuiging teenoor Britse belange, en op dieselfde wyse die aansprake van die Uitlanders voorgestaan.
Meneer Mance-Bisley was ’n te goeie onderwyser om onbewus te kon wees van die onderstrominge onder sy skoliere, en ook heeltemal te verstandig om dit in ander kanale te probeer afdraai.
~
“Dit sal vriendelik van jou wees, meneer Quakerley,” het die rektor gesê, daar waar hy op Andrew se stoep in die skadu van die bome gesit en tee drink het, “as jy sal verduidelik presies wat die posisie is. Dis ’n groot verleentheid, soms – ek bedoel, mens vind dit so moeilik om te verstaan wat hierdie mense regtig wil hê. En soos jy weet, dis ’n ellende om … om …”
“Jy moenie jou steur aan dit wat die seuns sê nie, Rektor,” het die ou man met ’n glimlag gesê. “Hulle herhaal maar net hulle ouers se uitlatings. Dis maar net kafpraatjies, Rektor, niks anders nie. Natuurlik spyt dit my net soveel as vir jou dat daar oor hierdie dinge gepraat word. Op die lange duur moet dit tot kwade gevoelens lei.”
“Ja, dis so, dis so,” het die rektor ewe klaend uitgeroep. “Daar was vanoggend ’n heel onbetaamlike rusie op die speelgrond. Ek moes drie van hulle met die rottang bykom en ek weet nie of ek die regte ding gedoen het nie, maar mens moet dissipline handhaaf. Ek het met klein Storam gepraat, maar om jou die waarheid te vertel, meneer Quakerley, die seun stel my teleur.”
“Dis ’n verrassing om jou dit te hoor sê, Rektor. Ek sou gedink het dat Martin die beste hoofseun was wat jy tot dusver gehad het.”
“So is hy, so is hy, op ’n manier. Maar sedert … sedert al die opwinding, meneer Quakerley, weet ek nie mooi hoe ek oor hom voel nie. Kyk nou maar byvoorbeeld na vanoggend. Dis sy plig om orde op die speelgrond te handhaaf. Jy weet ek maak nie kapsie teen ’n eerlike bakleiery nie, as daar iets is waaroor daar baklei kan word, en die kêrels weet dit. Amptelik, natuurlik, is ek nie veronderstel om te weet wanneer sulke petaljes plaasvind nie, en offisieel neem ek geen kennis daarvan wanneer hulle dit doen nie. Maar vanoggend se twis kon nie juis oor die hoof gesien geword het nie.”
“Wat presies het eintlik gebeur, Rektor? Charlie het my sy weergawe meegedeel .”
“O ja, jou kleinseun was betrokke, maar ek het hom met ’n waarskuwing oor die hoof gesien. Dit lyk of die hele besigheid begin het met een van daardie verspotte argumente oor Jameson en die Uitlanders, en ’n algemene bakleiery het kort voor lank uitgebreek. Toe ek by Storam wou weet wat aangegaan het, was sy verskoning dat hy nie kon verhoed dat die ouens die saak bespreek nie, en dat klein Tomory en ’n paar ander ‘daarvoor gesoek het’ – om sy eie uitdrukking te gebruik. En ek moet jou eerlik vertel, Crest se optrede het nie net ’n bietjie tot die opskudding bygedra nie. Toe die vuisgeveg op sy hoogtepunt was, het ek hom gesien waar hy op die heining gesit het en uit volle bors God save the Queengesing het.”
“Dis sy ouma daardie,” het die ou man met ’n inskiklike glimlag gesê. “Alice is geweldig strydlustig, Rektor, en Charlie is nog jonk. Jy moet maar so bietjie toegeeflik wees.”
“So is ek, so is ek,” die rektor se stem het weer ietwat klaerig begin word, “maar die hele ding is deur en deur sieltergend. Daar is net eenvoudig geen rede daarvoor nie, en ek kan dit nie in my skool duld nie.”
“Ek stem heeltemal saam, Rektor, heeltemal saam. Maar dis moeilik om ’n einde daaraan te bring. Die kinders in jou skool is, op stuk van sake, maar net ’n spieëlbeeld van wat daar buite bestaan, en ek kan jou vertel wat jy waarskynlik net so goed soos ek weet – so te sê dieselfde ding is daar buite aan die gang.”
“Hierdie Inval het ’n kloof hier tussen ons veroorsaak, Rektor. Jy mag dit dalk nie besef nie, maar ek weet. Ek het my lewe lank hier gewoon; ek weet wat sy invloed is; en ek dink ek kan voorspel hoe dit in die toekoms gaan wees.”