Die Slegste van Tye, die Beste van Tye

Posted on February 11, 2016 by Cape Rebel

Uit Kommando – Van Perde en Manne 
deur Deneys Reitz

 

Omdat ek nog steeds mank geloop het, het ek stadigaan agtergeraak. Om dinge nog erger te maak, het my klein merrie geboorte geskenk aan ’n doodgebore vulletjie. Ten spyte van die baringsnood wat op haar gewag het, het sy die trek so onwrikbaar verdra, dat ek nie eens daarvan bewus was dat iets met haar verkeerd was nie. Maar toe was sy gedaan. Na ’n rukkie het sy op haar voete gestrompel. Omdat ek dit nie kon waag om so naby aan die Engelse kampe te bly nie – hulle vure was nog in die verte sigbaar – het ek haar stadig vorentoe gelei. Teen daardie tyd het die res van ons manskappe in die donker verdwyn en ek moes nog vir ’n uur of twee in die donker alleen aanploeter. Ek het my arme perd agter my aangesleep totdat sy nie ’n voet verder kon versit nie. Ek het besluit om daar halt te roep tot die volgende môre. Dit was bitterkoud – so koud dat ek vroeër daardie aand van die manne hoor sê het dat dit die koudste nag was wat hulle ooit ervaar het. Omdat ek geen vuurmaakhout kon vind nie, het ek my kombers om my skouers gevou en daar al bibberend en bewend tot die volgende dag gesit. Met die aanbreek van die daeraad, het ek gevind ek was op ’n droewige wye vlakte wat myle ver gestrek het sonder enige teken van die kommando.

By ’n doringboom in die verte, het ek vier van my Duitse vriende gevind waar hulle bymekaar gedrom het teen die koue. Hulle het gesê dat hulle in die nag agtergekom het ek was nie daar nie. Hulle was bewus daarvan dat ek mank geloop het en hulle was so gaaf dat hulle goedgunstiglik agtergebly het om vir my te wag.

Nadat ons alle moontlike vuurmaakhout in die barre omgewing opgetel het, het ons ’n klein vuurtjie aan die gang gekry en ’n bietjie vleis gebraai. Ons het die spore van die kommando gevolg, maar die vordering was baie stadig, want my kamerade se perde was nie in ’n veel beter kondisie as my eie nie. Teen nege- of tienuur die volgende oggend, het daar onheilspellende stofpilare agter ons die lug ingestyg. Dit het ons gewaarsku dat die Engelse kolonne van die vorige aand besig was om in ons rigting terug te keer.

Ons kon die troepe nog nie sien nie, maar as mens die toestand van ons perde in ag sou neem, was daar min kans om voor hulle te bly wanneer hulle verkenners eers op die gesigseinder sou verskyn. Ons het dus maar so goed as moontlik aangestoot. Net toe ons so af en toe ’n perderuiter ver agter ons gesien het, het ons genadiglik die Hartsrivier bereik. Dit was meer ’n barre stuk sand oor die vlakte as ’n rivier. Daar het geen bome op die wal gegroei nie, en van vyftig treë af, kon mens glad nie die walle sien nie. Dit was ons redding. Skaars was ons en ons perde buite sig op die droë bedding, of die troepe het in hulle hordes by die rivier aangekom. Alles het egter goed afgeloop. Toe die Engelse die wal bereik het, het hulle begin om ’n helling vir hulle kanonne en waens te grawe. Dit het hulle ure geneem voordat hulle hul transport deurgekry het, waartydens ons, bevrees dat ons ontdek sou word, oor die wal geloer het. Ons het egter voor donker die bevrediging gesmaak om die stert van die konvooi oor die horison te sien verdwyn.

Dit was alles goed en wel, maar die vraag het gebly, hoe sou ons weer ons mense kon inhaal. Om tydelik afgesny te wees, was nie noodwendig so belangrik nie, en dit het ons nie veel gepla nie, maar as gedink word aan die wisselvalligheid van guerilla-oorlogvoering, was ons grootste angs die swak toestand van ons perde.

 

~

 

Die vier Duitsers was ’n interessante mengsel. Die oudste, Herman Haase, was ’n man van omtrent vyf en veertig. Hy het gelyk soos die tipiese Duitse wors-eter van die Engelse strokiesprente, maar soos ek uitgevind het, ’n goedgeaarde heer en Johannesburgse handelaar wat van die begin van die oorlog af in die veld was. Hy was die laaste persoon wat mens kon verwag ’n voorliefde vir oorlog sou hê. Hy het net die hele tyd gepraat van sy vrou en familie en die genietinge van die huislike lewe.

Die volgende was W. Cluver, ’n skrander, siniese Berlynse student wat my baie interessanthede van die lewe in die ou wêreld vertel het. Verder was daar Pollatchek, ook ’n Berlynse student, wat uitgekom het om vir die Boere te veg, amper asof op ’n kruistog. Hy het my vertel dat sy aanvanklike geesdrif lank gelede reeds verdwyn het, maar hy het van die lewe van avontuur gehou en hy het dus gebly. Hy was ’n aangename, vrolike kêrel van wie ek baie leer hou het.

Die laaste was ’n boerekneg genaamd Wiese. Hy was ’n onhandige, dommerige plaasjapie, maar heel dapper. Saam met dié vier manne was ek toe aan die noodlot, oorgelaat. Wiese en Cluver het dit nie ver gemaak nie, maar ek was lank saam met Haase en Pollatchek, hoewel hulle ook teen die einde omgedraai het.

Ons het gou voorbereidings getref om Kaap toe te gaan. Ons het ’n verdwaalde skaap geslag en die vleis in repe gesny om winddroog te word (ons het mos nie sout gehad nie). Ons het ’n hoeveelheid mielies tot mieliemeel gemaal met behulp van ’n klein koffiemeul wat Haase in sy saalsak saam met hom gedra het. Die volgende oggend het ons die pad gevat.

 

~

 

Vir ’n hele paar dae was dit nie moontlik vir ons om in ’n reguit koers te ry nie, want ons het agtergekom dat die wêreld vol Britse soldate was wat in alle rigtings beweeg het. Ons het uitgewerk dat ons seker vyf en twintigduisend van hulle moes gesien het voordat ons daardie gebied ontruim het. Dit was duidelik met die vee-manier wat hulle vorentoe beweeg het, dat hulle weer met een van hulle dryftogte besig was. Omdat ons egter nie ’n enkele burger of enige teken van ’n kommando gesien het nie, het dit gelyk of hulle poging nie juis veel vrugte afgewerp het nie. Generaal De la Rey moes weer een van sy taktiese bewegings uitgevoer het om die groot saamtrek van troepe te vermy deur sy manne te verdeel wat die Britte se slaankrag uitgeput het. 

My kennis van die veld en die vernuf om daar te oorleef, het ons goed te staan gekom en veilig tot by Vaalrivier gebring. My vorige ervarings was waardevol en ons het suksesvol deur die Engelse kolonne gekronkel en gevleg sonder dat dit eenmaal nodig was om ’n skoot te skiet nie. Daar was ’n geleentheid waar ons vir ’n halwe dag in ’n doringbos, binne skree-afstand van ’n Engelse groep wat afgesaal het, moes wegkruip. Op ’n ander keer het ek en Cluver probeer om twee Engelse offisiere in ’n lokval te lei, maar hulle het ons te gou opgemerk en het weggekom. Terwyl daardie gebeure aan die gang was, moes ons vir Heinrich Wiese aan die noodlot agterlaat. Sy perd het ingegee en hy het blare onder sy voete ontwikkel. Ons het hom naby ’n Engelse kolon agtergelaat waar ons seker was dat hy opgetel en versorg sou word.

My been het mooi herstel, maar ons het nog bitter swaar gekry in die koue nagte. Verder het ons die opwinding van om uit die pad van die Engelse magte en patrollies te bly, amper begin geniet. Die Duitsers het gesê dat dit die lekkerste tyd was wat hulle in die oorlog gehad het.

Posted in Afrikaans


Next

Previous