Kalahari-omswerwinge

Posted on January 14, 2016 by Cape Rebel

 Uit No Outspan 
deur Deneys Reitz

Ek is onbestrede herkies vir die Laeveld en my vrou, wat meer polities aangelê was as ek, is vir Parktown-Noord, ’n belangrike Johannesburgse kiesafdeling, gekies. Sy was die eerste vroulike lid van die parlement in Suid-Afrika.

Met die verkiesing agter die rug en ’n oorwinning vir ons, het die parlement daarna vir ’n kort sessie in Kaapstad bymekaargekom; en toe, net soos met my eerste aanstelling as minister, het ek op reis gegaan om ’n gedeelte van my koninkryk, wat ek nog nie voorheen besoek het nie, te gaan besigtig.

Ek het besluit om die Kalahari, wat onder my beheer was, van nader te gaan bekyk. Hierdie woestyn lê tussen Duits Suidwes-Afrika aan die een kant en Transvaal en Suid-Rhodesië aan die ander kant – in breedte so om en by vierhonderd myl – en in lengte strek dit vanaf die Oranjerivier in die suide tot by die Okavango-moerasse – seshonderd myl noordwaarts.

Groot gedeeltes daarvan is geskik vir beesboerdery, en daar is heelwat wild. Verder is daar ook nomadiese Boesmanstamme – die “primitiefste” van alle menslike wesens.

Sommige amptenare wat my sou vergesel, het vooruitgegaan Kuruman toe, die sendeling-middelpunt waar die Moffats en David Livingstone in vervloë dae in ’n ietwat vrugtelose wyngaard geswoeg het, en ek het daarna per lug gevolg. By Kuruman het karre en ’n vragmotor met petrol en water op my gewag, en ná ek die vliegtuig teruggestuur het Pretoria toe, het ons die pad gevat.

Deur in die droë loop van die Kurumanrivier te ry, het ons tweehonderd myl gereis tot by die sameloop met die Molopo, ’n ander dooie rivier wat slegs op seldsame tussenposes, miskien twee maal in ’n eeu ná swaar reëns, gevloei het.

In hierdie land van nimmereindigende sand het ons teen tien myl per uur voortgeploeg. Ná dae van moeilike vordering het ons ’n punt bereik waar die Nosop en die Oup, twee ander fossielriviere, bymekaarkom, en toe het ons al met die Oup op geswoeg en gesweet tot by Mata-Mata op die suidwestelike grens.

Op ’n vroeëre geleentheid het die kurators van die Krugerwildtuin ’n driehoek van die grond, ’n miljoen akker in omvang, in hierdie area opsygesit as ’n reservaat vir gemsbokke (Oryx Gazelli) en die opregte hartebees (Bubalis Cama). Hierdie wildsoorte is amper uitgewis deur nomadiese stropers en Boesmanjagters. Ons het dié stuk wêreld uitgekies deur na landkaarte te kyk, want nie een van ons was al voorheen in die omgewing nie; trouens, daar is baie min mense in die Unie wat al ooit daarvan gehoor het.

Van die Oup af het ons toe deur die veld gery om die Reservaat te besigtig, en ek was die eerste lid van die Raad [van Kuratore van die Krugerwildtuin] om dit te sien – ’n wildernis van duine wat ons met behulp van ’n kompas genavigeer het. Ons het ’n tegniek van ons eie ontwerp om oor die sandheuwels te kom. Die geheim was om die bande halfpad af te blaas, en om nooit ’n sandduin teen die skuinste aan te durf nie; om liewer reguit vorentoe vet te gee, sodat die impetus die kar agt tot tien voet opwaarts teen die duin sou neem tot die masjien gaan staan, en om dan terug te gaan al op die uitgeryde spoor wat die wiele gemaak het – om dan weer die bult storm te loop, ’n bietjie verder hoër op. So word daar aangehou tot jy bo-op die duin kom. Die meganisme en die onderstel word tot die uiterste ingespan, maar op dié manier het ons ’n hele reeks duine kafgeloop, en binne ’n paar dae dwarsdeur die reservaat gereis teen ’n algemene spoed van omtrent twee myl per uur.

Ons het gemsbokke en hartebeeste gesien en af en toe ’n Boesman wat rieme neergelê het met die aanskoue van die vreemde monsters wat sy voorvaderlike jagvelde binnegeval het. Ons het ook verskeie Kalahari-leeus gesien – ’n kleiner en geler spesie as dié in Transvaal.

Met ons aankoms het die kameelpatrollie, wat ek gereël het, ons ingewag, en hier het ek weer eens iets nuuts oor leeus geleer. Ons het een aand langs die Nosoprivier aangeland, en terwyl ons ons tente opgeslaan het, was ek verras om te sien dat ons kameeldrywers hulle diere gekniehalter en in die bos losgelaat het om te gaan wei. Ons het met sononder ’n leeu sien rondsluip, en dit het vir my na moedswillige wreedheid gelyk om die kamele so hulpeloos die donkerte in te jaag; maar die drywers was heel op hulle gemak. Hulle het gesê dat ’n leeu nooit ’n kameel, gekniehalter of nie, sou aanval nie. ’n Leeu val altyd van agter af aan, en aangesien ’n kameel altyd lyf omdraai om na die gevaar te kyk, word hulle nie gemolesteer nie. Ek glo egter dat leeus nie die muwwe kameelreuk kan verdra nie. In elk geval, ons diere het daar ongedeerd gewei. Af en toe het ek op ’n kameel gery, maar oor die algemeen het ek verkies om te loop.

Ná ek die reservaat geïnspekteer het, het ons aangestoot met ons rit in die bedding van die Nosoprivier na ’n punt op die landkaart wat as Union’s End aangestip is. Hier het ons ’n stam basters van omtrent ’n honderd of so, aangetref wat vir meer as twee jaar daar afgesny en vasgevang was – ’n onderafdeling van Simon Kooper se nasie. Hulle het na Union’s End gekom om te jag, maar die droogte het hulle daar vasgepen en hulle was verplig om sedertdien daar te bly, want dit was al plek in ’n omtrek van honderd en twintig myl, waar daar water was.

Gelukkig vir hulle het die Suid-Afrikaanse regering in die 1915-veldtog ’n boorgat daar vir die troepe gesink. Die gat was ’n honderd en sewentig voet diep, en aangesien daar geen pomp of windpomp was nie, kon die water slegs bereik word deur ’n gallon-paraffienblik, vasgemaak met gemsbokrieme, daarin te laat afsak. Dit was ’n voltydse taak, en aflosspanne het dag en nag gewerk. As die riem sou gebreek het, sou die blik afgeval het en die gat geblokkeer gewees het, en sou hulle almal van dors omgekom het. Hulle het nog nooit ’n motorkar gesien nie en toe ek aangebied het om vragmotors te laat kom om hulle na veiligheid te bring, was hulle te bang vir hierdie vreemde voertuie. Ons het hulle toe maar daar gelos. Ek het agterna gehoor dat, met die reëns wat later geval het, hulle veilig uitgekom het.

In daardie deel van die wêreld drink die diere nie, want daar is geen water op die oppervlakte nie. Hulle verkry vloeistof van die tsamma en ander kruie en groenigheid.

Wat leeus en ander karnivore betref, word daar gesê dat hulle die bloed van hulle prooi drink, maar volgens die Boesmans, les hulle hul dors van die vloeistof in die grootderm van die diere wat hulle doodmaak. Daar is aan my gesê dat die jagters in die Kalahari genoeg water in ’n gemsbok se pens vind om te drink en te was; en as hulle eers daaraan gewoond geraak het, is vars water vir hulle laf en smaakloos.

Toe ons al met die rivier langs teruggery het, het ons op twee ratels afgekom. In Afrikaans het ons ’n gesegde, “so taai soos ’n ratel”, en ek sou graag wou byvoeg, “so dapper soos ’n ratel”, want toe ons by hulle verbygegaan het, het ons ’n paar welpies gesien – so groot soos krimpvarkies. Ten tyde het ek langs die bestuurder van die waterlorrie gesit, en die ratels het gedink dat ons ’n gevaar vir hul kleingoed ingehou het. Die lorrie moes vir hulle twintig keer groter gelyk het as ’n mastodon vir ’n oerjagter, maar tog was hulle vreesloos. Hulle het vorentoe gestorm om hulle kleinspan te beskerm, en die onverskrokke skepseltjies het inderdaad die bande gebyt en gekrap terwyl hulle woedend gekermskreeu het. Ek het my drywer aangesê om hulle nie te beseer nie, en die brawe diertjies het daarna heel triomfantelik weggedraf om weer saam met hulle spruite te kon wees.

 

Posted in Afrikaans


Next

Previous