Verliefde Jongman

Posted on February 11, 2016 by Cape Rebel

Uit Jurie Steyn's Post Office 
deur Herman Charles Bosman

 

“Julle wil nie na my luister nie,” het Oupa Bekker gesê. “Julle laat my nooit klaarmaak wat ek besig is om te sê nie. Julle laat my altyd net tot só ver gaan. Dan sê iemand iets doms, en so kan ek dan nie by die belangrike ding uitkom nie.

“Nou wat ek wou gesê het, is dat At Naude heeltemal reg is. En Johnny Coen kom hiernatoe. Hy kom vanmiddag hiernatoe, want hy wil weet wat ons dink. ’n Jong man wat verlief is, is mos so. Hy wil weet wat ons het om te sê. En die hele tyd sal hy in sy mou lag, in die stilligheid, oor die dinge wat ons sê. ’n Verliefde jongman is so, net so. En hy sal homself mooimaak en optooi met die kort lemmetjie van sy sakmes en ’n handvol droë gras – ja-nee, julle het geen idee hoe ydel ’n jong verliefde man kan wees nie.

“En hy maak homself nie stylvol vir die meisie se onthalwe nie, maar vir homself. Dis hy homself wat dink hy is so wonderlik. Hy weet minder as enigiemand anders hoe sy is, hierdie meisie op wie hy verlief is. En hy sal net die beste soort varkvet met roet meng om sy gekoopte skoene mee blink te maak. En omdat hy verlief is op die meisie, dink hy hy’s iets. O ja, Johnny Coen sal vanmiddag hier omkom, so waar. En wat ek wil sê ”.

Op hierdie tydstip is Oupa Bekker weereens in die rede geval. En omdat dit Jurie Steyn was wat op sy diskoers inbraak gemaak het, het oupa Bekker op beleefde wyse toegegee. Die poskantoor waarin hulle gesit het, was tog darem maar Jurie Steyn se eie voorkamer. Daar was iets van die gees van ouwêreldse hoflikheid in die manier wat Oupa Bekker die stilswye bewaar het.

 jou dan, Jurie Steyn,” het Oupa Bekker gesê. “Praat jy dan maar.”

’n Hele paar van ons het in die rigting van die kombuis gekyk. Ons was verlig om te sien dat die deur toe was. Dit het beteken dat Jurie Steyn se vrou nie die platvloerse uitdrukking wat Oupa Bekker gebruik het, gehoor het nie.

“Wat ek graag wil sê,” het Jurie Steyn gesê, “is dat ek die eer gehad het om juffrou Pauline Gerber in my muilwaentjie na haar huis toe te dryf daardie dag toe sy hier by my poskantoor aangekom het, toe sy van die regeringslorrie afgeklim het en alles .”

“Wat bedoel jy met ‘en alles’?” het Gysbert van Tonder op aangedring.

Jurie Steyn het met ’n uitdrukking van verwondering om hom rondgekyk.

“Maar julle was almal hier,” het Jurie Steyn uitgeroep. “Alles het hier gebeur. Miskien is dit wat ek bedoel met ‘en alles’. Ek is seker ek weet nie. Maar julle het Pauline Gerber gesien. Julle, elkeen van julle, het haar gesien. Toe sy daardie dag, met haar terugkoms van die afrondingskool in die Kaap hier van die Zeerust-lorrie afgeklim het. Julle het gesien op watter manier sy hier in my voorkamer rondgeloop het, hoe netjies hoog sy haar hakkies gelig het – en ek neem haar nie kwalik nie. En haar ken in die lug. En so pragtig soos kan wees. Nou ja, julle het gesien hoe mooi sy was, nie waar nie? En hoe sy geruik het. Het julle haar geruik? Julle moes. Dit was te lieflik lekker. Dit wys jou watter soort parfuum jy in die Kaap kan kry.

“En ek is seker as ’n kerk-ouderling haar ruik – selfs al sou hy ’n Enkelgereformeerde-ouderling vanuit die verste deel van die Waterberge wees, is ek seker dat die Waterberg-ouderling sou geweet het, Pauline Gerber het styl – net deur haar te ruik, jy weet. Ek is seker die reukwater wat Pauline in die Kaap gekoop het, het ten minste sewe sjielings en sikspens ’n bottel gekos.

“Kyk nou byvoorbeeld na my vrou. Wel, op ’n keer het ek vir haar ’n bottel laventel by die Indiërwinkel op Ramoutsa gekoop. En wat ek vir julle sê is dit: Jy kan die verskil ruik tussen my vrou en … Pauline Gerber.”

Chris Welman wat tot dusver nog nie gepraat het nie, het gou opgemerk dat daar ook ander maniere was waarin mens die verskil kon sien.

Dit was ’n insinuasie wat, gelukkig genoeg, die algemene aandag ontwyk het.

Want juis op daardie oomblik was dit Johnny Coen in lewende lywe wat by die voordeur van die poskantoor sy opwagting gemaak het. Op ’n manier was dit die Johnny Coen wat ons altyd geken het. Maar tog ook was dit nie hy nie. Johnny Coen het op ’n subtiele manier ’n verandering ondergaan.

Na hy ons gegroet het, het hy vir homself ’n plek op ’n riempiestoel gekry, en daar heel regop gesit.

Op dié manier het dit gelyk of hy heeltemal onbewus was van ons teenwoordigheid terwyl hy met ’n vuurhoutjie, wat hy skerp gemaak het, begin het om die aanpaksel onder sy vingernaels uit te krap.

Gysbert van Tonder wat altyd daarvan gehou het om op die man af oor dinge te praat, was die eerste aan die woord.

“Die reën het nogal mooi daar by jou kant afgekom, Johnny,” het Gysbert opgemerk. “Ek vermoed jou damme is seker nou lekker vol.”

“O ja, inderdaad,” het Johnny Coen geantwoord.

“Heelwat water in die spruit ook, sou ek dink,” het Gysbert aangegaan.

“Ja, dit is nogal so,” het Johnny Coen geantwoord.

“En daar waar jy die vlakte gebrand het, is die nuwe gras seker mooi aan die uitloop,” het Gysbert van Tonder aangegaan.

“Ja, baie mooi,” het Johnny saamgestem.

“Wat is verkeerd met jou man – kan jy nie praat nie?” het Gysbert daarna met mening volgehou. “Jy weet baie goed wat ek probeer sê. Het jy haar al gesien van dat sy terug is?”

“Ek het haar gister gesien,” het Johnny Coen gesê, “langs die pad naby haar huis. Ek moes ’n hele ompad ry om toe dáár verby te kon gaan.”

Gysbert van Tonder het ’n vinnige berekening gemaak. “Dis net ’n kwessie van omtrent elf myl uit jou pad uit, as jy die kortpad deur die withaakbosse byreken,” het hy aangekondig. “Het sy baie gehad om te sê?”

“Moet my asseblief nie vra nie,” het hy Gysbert amper gesmeek, “want ek kan regtig nie onthou nie. Ons het met mekaar gepraat, dit weet ek. Maar na sy daar weg is, kon ek glad nie onthou wat ons gesê het nie. Alles was so anders toe sy nie meer daar was nie. Ek wens ek kon onthou wat ons gesê het. Wat ek gesê het, moes seker vir haar so simpel geklink het; so waar.”

Gysbert van Tonder was nie van plan dat Johnny Coen hom so maklik gaan ontduik nie.

“Nou ja, hoe’t sy gelyk?” het Gysbert gevra.

“Dis wat ek ook probeer onthou het – daarna,” het Johnny Coen te kenne gegee. “Hoe sy gelyk het. Wat sy gedoen het. Al daai dinge. Maar ek kon net nie onthou nie. Na sy daar weggegaan het, was alles net asof dit ’n droom was, en was daar niks wat ek as ’n feit kon onthou nie. Sy was daar langs die pad besig om geel blomme te pluk, so waar, om in haar hare te steek. Of sy het ’n sak vuurmaakhout op haar rug gedra vir die vuur in die kombuis, so waar. En vir my sou daar geen verskil gewees het nie – die manier hoe ek gevoel het. Maar ek weet nie. Al wat ek daarna ”.

“Dis wat ek aan hulle wou verduidelik het, Johnny,” het Oupa Bekker hom in die rede geval, “maar hulle laat my nooit klaarmaak met dit wat ek begin sê nie. Hulle sal altyd ”.

“Daarna,” het Johnny Coen herhaal, “na sy weg was, jy weet, was daar ’n soort van soetigheid in die lug. Dit was amper asof dit in die lug gesweef het, soort van. Eers het ek gedink dis ’n soort reukwater, dit wat sommige vrouens op hulle klere sit wanneer hulle Nagmaal toe gaan. Maar natuurlik het ek geweet dat dit nie so kon wees nie. Ek bedoel, ek weet Pauline sou nie laventel aan haar self sit nie, ek bedoel. Sy’s nie daai soort nie.”

“Wat ek vroeër wou gesê het, toe julle almal my in die rede geval het,” het Oupa Bekker ewe selfvoldaan aangekondig, “is dat ’n verliefde jongman presies só is.”

Posted in Afrikaans


Next

Previous