’n Vuisslanery op die Speelgrond

Posted on October 01, 2015 by Cape Rebel

 

Uit The Valley
deur C Louis Leipoldt

Die opwinding oor die omstandighede in die Noorde het ’n onmiskenbare weerklank onder die skoolseuns gevind. Die aanhoor van wat hulle ouers oor dié dinge gedink het, is tweedehands weerspieël wanneer hulle die saak op die speelgrond bespreek het. Daar was drie onderskeie verdelings onder die seuns, net soos daar drie duidelike groepe onder die dorpsgemeenskap was.

Een van hulle, beslis in die minderheid, het voorgegee asof hulle buite die debat gestaan het, te apaties of afsydig om oor enige van die opvattings te twis, en sodoende ’n eng Laodicese houding ingeneem. Die leier van dié groep was John Tomory, die tronkbewaarder se seun, wat sy pa se vêrgesogte sosialistiese idees aangeneem het. Dié beskouings het daarop gesinspeel dat niks juis saakgemaak het nie en dat die hele ding net ’n geknoeiery was waarin die belange van die Boere, aan die een kant, en dié van die Transvaalse Uitlanders, aan die ander kant, bloot pionne in ’n verdomde komedie was wat deur die kapitaliste beheer is.

Die tweede groep was vurige Boere-ondersteuners, wat geweldig opvlieënd teenoor ander was wat enigsins iets te sê gehad het ten gunste van die Invallers.

Die derde seksie het kragte met ou mevrou Quakerley saamgesnoer in hulle lojaliteitsbetuiging teenoor Britse belange, en op dieselfde wyse die aansprake van die Uitlanders voorgestaan.

Meneer Mance-Bisley was ’n te goeie onderwyser om onbewus te kon wees van die onderstrominge onder sy skoliere, en ook heeltemal te verstandig om dit in ander kanale te probeer afdraai.

~

“Dit sal vriendelik van jou wees, meneer Quakerley,” het die rektor gesê, daar waar hy op Andrew se stoep in die skadu van die bome gesit en tee drink het, “as jy sal verduidelik presies wat die posisie is. Dis ’n groot verleentheid, soms – ek bedoel, mens vind dit so moeilik om te verstaan wat hierdie mense regtig wil hê. En soos jy weet, dis ’n ellende om … om …”

“Jy moenie jou steur aan dit wat die seuns sê nie, Rektor,” het die ou man met ’n glimlag gesê. “Hulle herhaal maar net hulle ouers se uitlatings. Dis maar net kafpraatjies, Rektor, niks anders nie. Natuurlik spyt dit my net soveel as vir jou dat daar oor hierdie dinge gepraat word. Op die lange duur moet dit tot kwade gevoelens lei.”

“Ja, dis so, dis so,” het die rektor ewe klaend uitgeroep. “Daar was vanoggend ’n heel onbetaamlike rusie op die speelgrond. Ek moes drie van hulle met die rottang bykom en ek weet nie of ek die regte ding gedoen het nie, maar mens moet dissipline handhaaf. Ek het met klein Storam gepraat, maar om jou die waarheid te vertel, meneer Quakerley, die seun stel my teleur.”

“Dis ’n verrassing om jou dit te hoor sê, Rektor. Ek sou gedink het dat Martin die beste hoofseun was wat jy tot dusver gehad het.”

“So is hy, so is hy, op ’n manier. Maar sedert … sedert al die opwinding, meneer Quakerley, weet ek nie mooi hoe ek oor hom voel nie. Kyk nou maar byvoorbeeld na vanoggend. Dis sy plig om orde op die speelgrond te handhaaf. Jy weet ek maak nie kapsie teen ’n eerlike bakleiery nie, as daar iets is waaroor daar baklei kan word, en die kêrels weet dit. Amptelik, natuurlik, is ek nie veronderstel om te weet wanneer sulke petaljes plaasvind nie, en offisieel neem ek geen kennis daarvan wanneer hulle dit doen nie. Maar vanoggend se twis kon nie juis oor die hoof gesien geword het nie.”

“Wat presies het eintlik gebeur, Rektor? Charlie het my sy weergawe meegedeel .”

“O ja, jou kleinseun was betrokke, maar ek het hom met ’n waarskuwing oor die hoof gesien. Dit lyk of die hele besigheid begin het met een van daardie verspotte argumente oor Jameson en die Uitlanders, en ’n algemene bakleiery het kort voor lank uitgebreek. Toe ek by Storam wou weet wat aangegaan het, was sy verskoning dat hy nie kon verhoed dat die ouens die saak bespreek nie, en dat klein Tomory en ’n paar ander ‘daarvoor gesoek het’ – om sy eie uitdrukking te gebruik. En ek moet jou eerlik vertel, Crest se optrede het nie net ’n bietjie tot die opskudding bygedra nie. Toe die vuisgeveg op sy hoogtepunt was, het ek hom gesien waar hy op die heining gesit het en uit volle bors God save the Queengesing het.”

“Dis sy ouma daardie,” het die ou man met ’n inskiklike glimlag gesê. “Alice is geweldig strydlustig, Rektor, en Charlie is nog jonk. Jy moet maar so bietjie toegeeflik wees.”

“So is ek, so is ek,” die rektor se stem het weer ietwat klaerig begin word, “maar die hele ding is deur en deur sieltergend. Daar is net eenvoudig geen rede daarvoor nie, en ek kan dit nie in my skool duld nie.” 

“Ek stem heeltemal saam, Rektor, heeltemal saam. Maar dis moeilik om ’n einde daaraan te bring. Die kinders in jou skool is, op stuk van sake, maar net ’n spieëlbeeld van wat daar buite bestaan, en ek kan jou vertel wat jy waarskynlik net so goed soos ek weet – so te sê dieselfde ding is daar buite aan die gang.”

“Hierdie Inval het ’n kloof hier tussen ons veroorsaak, Rektor. Jy mag dit dalk nie besef nie, maar ek weet. Ek het my lewe lank hier gewoon; ek weet wat sy invloed is; en ek dink ek kan voorspel hoe dit in die toekoms gaan wees.”

Posted in Afrikaans


Next

Previous