Uit Eastern Approaches
deur Fitzroy Maclean
Met ’n ruk het my valskerm oopgevou en het ek daar geswaaihang, asof aan die einde van ’n tou, hoog bokant ’n stille bergvallei, groengrys en mistig in die lig van die maan. Dit het, so het ek gedink, aanloklik koel en verfrissend gelyk na die sand en felle songloed van Noord-Afrika. Êrens bokant my het die vliegtuig, wat toe sy sending voltooi het, die lugpad huis toe gevat. Die geluid van die motore het geleidelik in die verte verflou.
Ver onderkant my en ’n hele entjie weg, kon ek ’n aantal vure sien brand. Ek het gehoop hulle was die regte vure, want die Duitsers het ook vure op verskillende plekke in die nag in die Balkans aangesteek met die hoop dat hulle voorrade en valskermspringers van hulle doelwitte, waarheen hulle op pad was, kon laat afwyk. Soos ek laer afgedaal het, kon ek ’n vae skreeugeluid uit die rigting van die vure hoor. Ek kon steeds nie die aarde reg onder my sien nie. Ek het gedink dat ons besonder hoog moes gevlieg het omdat dit so lank gevat het om neer te daal.
Toe, sonder enige verdere waarskuwing, was daar ’n stampval, en het ek in nat gras in die veld gelê. Daar was niemand sigbaar nie. Ek het die harnas losgemaak, my valskerm in ’n bondel opgerol, en begin met my soektog na die Partisans.
~
Na ons vir ’n uur of twee gery het, het ons by ’n klein sonverligte dorpie, hoog in die heuwels van Bosnië, aangekom. Die houthuisies daar was na aanmekaar om ’n vierkant vol skaduryke bome. Bokant hulle het die minaret van ’n moskee uitgerys. Die naam daarvan was Mrkonićgrad, of, soos sersant Duncan dit genoem het, Maconochie-grad. En hier in dié plek was die hoofkwartier van die plaaslike Partisan-bevelvoerder, Slavko Rodić, saam met wie ons ontbyt sou gaan nuttig.
Rodić, ’n vurige en lewenslustige jongman van omtrent twintig, het, op ’n offisier se strydros, gebuit van die Duitsers, uitgekom om ons te ontmoet. Saam met hom was sy stafhoof en sy politieke kommissaris, ’n groot joviale Serwiër met ’n lang welige snor. Ons het saam na ’n boerehuisie gegaan waar ontbyt op ons gewag het. By die deur het ’n frisgeboude skildwag met ’n handmasjiengeweer ons met sy gebalde vuis gesalueer. ’n Mooi meisie met ’n pistool en ’n tros moorddadig lykende handgranate aan haar gordel, het ’n bietjie water uit ’n kruik oor my hande uitgegooi en dit toe met ’n handdoek afgedroog. Ons het gaan aansit vir ontbyt van droë swart brood en ronde na ronde pienk vanilla brandewyn waarmee ons dit afgesluk het. Ons het verskeie onderwerpe bespreek soos perde, valskermspring en politiek, maar die geselskap het, so het ek agtergekom, telkens weer teruggekom na die een onderwerp wat bo aan in almal se gedagtes was: wanneer gaan die geallieerdes die Partisans wapens laat kry?
Terwyl ons daar gesit het, het boodskappers deurentyd situasieverslae van nabygeleë areas waar operasies in swang was, afgelewer. Op ’n manier het dit alles vreemd maar bekend voorgekom: die boerehuisie, die jong op en wakker bevelvoerder, die gawe persoonlikheid van die politieke kommissaris met sy walrussnor en die hamer en sekelkenteken op sy pet, die meisie met die pistool en handgranate, die algemene atmosfeer van aktiwiteit en verwagting.
Aanvanklik kon ek nie dink waar ek dit alles van tevore gesien het nie. Toe het ek onthou. Die hele toneel, net soos dit daar ontvou het, kon van een van die ou Sowjet-films van die burgeroorlog wat ek sewe of agt jaar vroeër gesien het, geneem gewees het. In Rusland het ek die rewolusie eers twintig jaar na die gebeurtenis gesien, toe dit verkramp, pretensieus en stewig gevestig was soos enige ander regeringstelsel in Europa. Hier het ek toe die worsteling in sy aanvangstadium gesien, met die rewolusionêres wat vir hulle voortbestaan en vryheid teen ’n geweldige oormag geveg het.
~
Met vyandelike vliegtuie en troepe wat die omgewing gepatrolleer het, het dit geblyk, was dit nie raadsaam om ons reis na die hoofkwartier voort te sit voor dit aand was nie, en wat ons betref, was ’n ruskans baie welkom. In ’n nabygeleë boord het ons in die skadu van ’n paar pruimbome gaan lê. Die sonlig wat deur die blare gefiltreer het, het veranderlike patrone op die gras gemaak. Die laaste ding wat ek kon onthou voor ek aan die slaap geraak het, was die geluid van ’n Duitse vliegtuig wat hoog bokant ons gedreun het, salig onbewus van ons teenwoordigheid.
Toe ek wakker geword het, het die son al gesak en was dit tyd om aanstaltes te maak. Die Partisans het ’n verrassing vir ons gehad. Daar staande in die dorpsplein was ’n gekaapte Duitse trok, vol gate geskiet, maar skynbaar nog in ’n werkende toestand. Twee of drie Partisans het petrol en water daarin gegooi en ’n ander was besig om die slinger met mening te draai. ’n Hele klomp kinders het oor die trok geswerm. ’n Enorme rooi vlag het oor die masjienkap gewapper. Of dit ’n aanduiding van gevaar was en of dit die politieke sienswyse van die drywer aangedui het, was nie duidelik nie. Dit was ’n groot geleentheid. Met ’n gevoel dat ons onaangenaam opsigtelik was, het ons ingeklim en weggery.
Die motorpaadjie het ons al langs die oewer van ’n meer geneem, met steil heuwels aan alle kante. Ons het die paadjie ’n paar myl gevolg. Maar skielik het die vallei vernou en ons het opgekyk na die donker vorm van ’n kasteelruïne sigbaar hoog bokant die pad. Om die kasteel was daar ’n klompie huise terwyl nog ligte uit ander huise aan die anderkant van die bergstroom sigbaar was. Êrens naby ons af was die gedreun van ’n waterval hoorbaar. Nog steeds teen volle spoed het ons drywer afgeswenk en oor ’n wankelrige brug gery en toe die remme aangeslaan. Ons het ons bestemming bereik: Jajce.
Ons het skaars ons benodigdhede in die huis wat vir ons aangewys is, uitgepak toe Velebit, wat vir ’n rukkie afwesig was, teruggekom het om te sê dat die bevelvoerder bly sou wees as ek en my stafhoof saam met hom aandete kon kom nuttig. Dit was duidelik dat ’n stafhoof noodsaaklik was; inderdaad, terwyl ek daarmee besig was, kon ek maar net sowel twee hê, een Brit en nog een Amerikaans. Dienooreenkomstig is beide Vivian en Slim Farish tot daardie posisies bevorder. Sersant Duncan het my persoonlike lyfwag geword en ons het vertrek.
Met Velebit wat voor geloop het, het ons weer die brug oorgesteek en opgeklim na die ruïne van die kasteel op die heuwel waarna ons vroeër gekyk het. Terwyl ons ons pad deur die bome gebaan het, het ’n Partisan-skildwag uit die skaduwee gestap, ons aangeroep, en na ons die wagwoord gegee het, ons deur die verbrokkelende mure na ’n oop ruimte geneem waar daar ’n man onder ’n boom gesit en ’n landkaart by ’n flikkerende lamp bestudeer het.
Next →
← Previous