In Die Wildernis met Tito en die Partisans

Posted on November 06, 2015 by Cape Rebel

Uit Eastern Approaches  
deur Fitzroy Maclean

 

Oorloë verbreek die versperrings wat ons in vredestye skei. Soos ons tussen die Partisans gewoon het, het ons hulle goed leer ken, van Tito en die ander leiers tot by die dosyn of so gewone soldate wat opgetree het as ons lyfwagte en daagliks na ons behoeftes omgesien het.

Een ding het hulle almal in gemeen gehad: ’n geweldige trots in hulle beweging en sy prestasies. Vir hulle was die buitewêreld nie van onmiddellike belang nie. Wat wel saak gemaak het, was hulle oorlog van Nasionale Bevryding, hulle stryd teen die invaller, hulle oorwinnings, hulle opofferings. Hieroor was hulle die trotsste, dat hulle niks aan niemand verskuldig was nie, dat hulle sonder enige hulp tot sóver gevorder het. In hulle oë het ons meriete verdien deur die blote feit dat ons daar in hulle midde was. Ons was lewende bewys van die belangstelling wat die buitewêreld uiteindelik in hulle begin toon het. Ons was saam met hulle “in die wildernis”. Dit op sigself was ’n stewige verbintenis.  

Saam met hierdie ingenomenheid het ’n gees van toewyding gegaan wat moeilik was om nie te bewonder nie. Die lewe van ’n ieder en ’n elk is regeer deur ’n onbuigsame selfbeheersing, volkome selfverloëning, geheelonthouding, geen plundery en geen seks nie. Dit was asof elkeen van hulle gebind is deur ’n eed, ’n eed wat deels ideologies en deels militêr was, want, onder die omstandighede waaronder hulle geveg het, sou enige afname  van dissipline rampspoedig gewees het; en enige eie begeertes en gevoelens kon nie toegelaat geword het om van enige belang te wees nie.

Maar, ten spyte van al dié dinge, was die Partisans nie vervelige mense om mee saam te leef nie. As dit wel die geval sou gewees het, sou hulle nie ware Jugoslawiërs gewees het nie. Hulle ingebore onrustigheid, hulle natuurlike onafhanklikheid en hulle diepgaande dramatiese aanvoeling het voortdurend op verskeie onverwagte maniere uiting gevind.

Tito het kop en skouers bo die ander uitgestaan. Wanneer dit nodig was om besluite te neem, het hy dit gedoen; of dit polities of militêr was, hy het dit kalm en bedaard aangehoor en na hy na die argumente van beide kante geluister het, het hy die besluite geneem. My eie sake is uitsluitlik met hom onderhandel. Ek kon seker daarvan wees dat hy my ’n spoedige en reguit antwoord oor enige onderwerp sou gee, hoe dit ookal sy, belangrik of niksbeduidend. Ons het dikwels meningsverskille gehad, maar Tito was altyd bereid om verskilpunte te debatteer, en om sy standpunt te verander as ’n sterk saak aan die teenkant uitgemaak is. Dikwels, as argumente op ’n dooie punt uitgeloop het vanweë die hardkoppigheid van sy ondergeskiktes, sou hy, nadat hy genader is, ingryp en die besluit omkeer.

Ek het gou uitgevind dat daar een argument was wat altyd baie gewig by hom gedra het: die voorstel – wat op die regte sielkundige oomblik geopper moes wees – dat hierdie of daardie manier van optrede van pas of onvanpas sou wees vir ’n beskaafde nasie. Deur die taktvolle gebruik van dié argument, het ek op meer as een geleentheid hom oorreed om af te sien daarvan om ’n ding te doen wat ’n rampspoedige uitwerking op ons verhouding sou kon gehad het. Terselfdertyd kon hy net so hewig reageer op enigiets wat hoegenaamd beskou kon word as ’n geringskatting, ’n verkleinering van die nasionale waardigheid van Jugoslawië. Hierdie nasionale trots, so het dit my voorgekom, was ’n onverwagte karaktertrek in iemand wie se grootste lojaliteit as ’n kommunis, noodwendig vir ’n buitelandse moondheid, die Sowjet-unie, moes wees.

Tito het heelwat onverwagte eienskappe gehad: sy verbasende breë uitkyk op die lewe; sy altyd teenwoordige sin vir humor; sy onbeskaamde behae in die klein genietinge van die lewe; ’n natuurlike beskroomdheid in sy menslike verhoudinge wat altyd ruimte gemaak het vir ’n natuurlike vriendelikheid; ’n vurige temperament wat skielik kon opvlam in ’n woedeaanval; ’n bedagsaamheid en ’n vrygewigheid wat deurentyd op dosyne wyses te voorskyn gekom het; ’n verbasende bereidwilligheid om beide kante van ’n saak te sien. Dié was menslike eienskappe, moeilik om te versoen met die algemene begrip van ’n kommunistiese jabroer, en dit het beter persoonlike verhoudings tussen ons makliker gemaak as wat ek voor kon gehoop het.

En tog het ek nie vir een oomblik vergeet dat ek te doen gehad het met ’n man wie se beginsels hom sou regverdig om niks te ontsien nie, en om só alles in sy vermoë te doen tot bedrieëry, oëverblindery en geweld om sy doeleindes te bereik, en dat dié dinge, wat buite ons onmiddellike militêre doelwitte gestaan het, heel waarskynlik lynreg in stryd was met my eie beginsels.

Posted in Afrikaans


Next

Previous