Uit The Valley
deur C. Louis Leipoldt
Vir ds. Mance-Bisley was dit ongelooflik dat daar in die Britse Ryk ’n skool kon bestaan, waar, in die senior sekondêre afdeling ter voorbereiding vir die matrikulasie-eksamen, daar seuns was, stewig van voorkoms en slaggereed, wat nie krieket gespeel het nie. Hy was behoorlik geskok toe hy agtergekom het dat daar nie eens een seun was wat ’n krieketkolf besit het nie. Na ’n sorgvuldige opname was al wat verkry kon word ’n stel paaltjies en ʼn paar gebreekte balkies. Hy het daar en dan aan ’n firma in Kaapstad geskryf, en mettertyd het daar met die poskar ’n hele paar kriekettoerustings vir die skool aangeland. In die oggend se saalbyeenkoms het hy met geesdrif oor dié onderwerp gepraat. Hy het krieket as sy tema gekies, en hoewel hy as persoon en as onderwyser te voorbeeldig en te ervare was om te verwys na die moontlikheid dat daar in die toekoms ’n veldslag in Suid-Afrika op die krieketveld gewen kon word, het hy dit duidelik gemaak dat hy verwag het dat elke seun dit as sy plig moes beskou om krieket te leer speel.
~
“Sal ons ingaan, meneer Quakerley?”
“Onnodig rektor, onnodig. Ek het maar net gekom om hierdie jong knaap aan jou voor te stel. Hy’s my kleinseun, Charles Crest, hoewel ek nie kan verstaan waarom hulle hom nie Andrew genoem het nie. Van Australië af, jy weet. Ek het gedink dat jy dalk daarvan sal hou om hom in jou klas te hê.”
“Die termyn is al amper verby,” het die rektor gesê terwyl hy die seun goed bekyk het. “Dit sal beter wees as hy in Januarie begin. In watter standerd is hy?”
“Ek weet regtig nie. Ek veronderstel die standerds in die Australiese skole verskil van ons s’n. Kan jy asseblief kyk wat hy kan doen, rektor. Kom Charlie, sê vir meneer Mance-Bisley wat jy kan doen.”
“Somme en lees en skryf,” sê die seun ietwat skamerig. “En kaartteken en geskiedenis, Oupa. En ons het net begin met algebra toe ons vertrek het.”
“Hoe oud is jy?” het die rektor gevra. Hy het met bevrediging opgemerk dat die seun goeie maniere gehad het. Hy het ’n soort van kinderlike waardigheid besit, en verder het hy sonder ’n sweempie van die hinderlike “koloniale” stembuiging, wat so algemeen onder die dorp se jeug voorgekom het, gepraat.
“Tien, Meneer,” het die antwoord gekom, en daarmee was die rektor nog meer tevrede. Dis duidelik dat die knapie goed geleer is. Die skoolseuns van die dorp het “meneer” soos ’n nagedagte by hulle antwoorde aangelas en gewoonlik is dit heeltemal weggelaat. Die kêreltjie het ’n amper vreemde innemendheid besit, iets wat hom herinner het aan jong seuntjies in ’n Engelse laerskool, iets heeltemal anders as die bruingebrande, bonkige seuns in hierdie halftropiese deel van die wêreld, waar die samesyn van twee tale gelei het tot verwronge uitsprake en aksente. Ou Andrew het wegbeweeg na waar sy aandag afgetrek was deur iets wat in die tuin gegroei het, maar, hoewel die seun se oë sy oupa gevolg het, het hy geen poging aangewend om hom te volg nie, en het hy eerbiedig op aandag bly staan.
“Laat ons kyk wat ons kan doen, Crest,” het die rektor gesê. “Ek dink jy moet vanmiddag na my toe kom, en bring jou boeke saam met jou. Het jy al begin met Latyn?”
“Nee, Meneer.”
“Hmm, jy sal een of ander tyd daarmee moet begin, en so gou as moontlik sal seker ’n goeie tyd wees. Jy moes eintlik lankal terug daarmee begin het. Ek neem aan meneer Quakerley sal wil hê dat jy moet matrikuleer. Ons sal ’n bietjie daaraan moet dink. Miskien is jy gereed vir standerd vyf, of ten minste vier.” Hy het na die ou man toe omgedraai waar hy daar naby hom besig was om ’n klomp geel blomme, wat op ’n sanderige kol gegroei het, met groot belangstelling te bekyk. “Dalk kan jy hom toelaat om my vanmiddag te kom sien, meneer Quakerley.”
~
Charlie, aan wie gesê is om te gaan loop en speel, het na sy oupa geluister en weggedwaal in die rigting van die watervoor en die badhuisie wat in die skadu van lowerryke akkerbome was. Daar, teen die deur van die badhuisie, het hy ’n krieketkolf gesien waarmee hy toe besig was om denkbeeldige balle, wat verby die trappe van die badhuisie gezoem het, te blokkeer. Meneer Mance-Bisley het bewus geword van ’n emosie wat soos ’n golf in hom opgewel het. Daar was grasie, aksie en ’n aanduiding van daardie instinkmatige voorliefde in dit wat hy gedoen het, wat afwesig was by sy seuns – iets wat hy meermale al betreur het. Hy het die ou man verras deur vorentoe te spring en so hard as wat hy kon uit te roep – want meneer Mance-Bisley was spontaan en het gou opgewerk geraak – “Wag, wag ’n bietjie. Ek gaan ’n bal kry om na jou toe te boul.”
Hy het sy baadjie uitgetrek en sy hempsmoue opgerol, sy kruisbande met twee knoopsgate verkort, en gehuppeldraf – met ’n ratsheid wat mens skaars sou verwag het van ’n persoon so rond en plomp – op met die tuinpaadjie terwyl hy geboul het. Hoe sy bril op sy neus gebly het met sulke energieke bewegings van arms en bene, was ’n wonderwerk. En klaarblyklik het sy ledemate hulle goed van hul taak gekwyt, want hy het met vernuf geboul, ’n goeie lengte gehandhaaf en sy vaart afgewissel. Aan die begin was die kolwertjie ietwat angstig, maar later het sy groeiende selfvertroue en bestendigheid die volwassenes beïndruk. Sy tikhoue en blokwerk is met lofwaardige oordeel uitgevoer. Ou Andrew het die gemaklike grasie van die seun bewonder. Charlie se gesig was ’n blos van opwinding en geesdrif. Hy het die kolf, wat duidelik te groot vir hom was, met behendigheid hanteer, en dit het gewys dat hy al so bietjie touwys gemaak is. Die rektor het foute raakgesien, die gevolg van gebrekkige afrigting, soos ’n paar swak houe wat hy anders kon gespeel het. Maar die speler was op en wakker – sy flinkheid van hand en oog en die durf waarmee hy die boulaanval gekonfronteer het, was opvallend. Die jongeling was onafgerond, maar hy het styl gehad, en daar was kenmerke van ’n eersterangse krieketspeler, of ten minste ’n voortreflike kolwer.
Die rektor, vuurwarm na sy inspanning, het die bal aan Charlie oorhandig. “Kom ons kyk wat jy met die bal kan doen,” het hy aan die seun gesê. “Nog net so ’n klein rukkie, meneer Quakerley, ek wil regtig graag sien hoe hy met die bal vaar.”
“So, ja,” het hy gesê nadat hy hom klaar laat boul het en opgemerk het dat daar in die boulaksie ook heelwat foute was wat uitgeskakel moes word, maar daar was ook voortreflikhede wat enige krieketafrigter sou waardeer. Vir meneer Mance-Bisley was krieket ’n passie en hy het min ander alledaagse dinge só verheerlik, behalwe sy vrou. Jare lank reeds was hy op die uitkyk vir ’n belowende jong knaap wat hy kon besiel met ’n geesdrif amper soos syne, en nou het hy gevoel dat hy uiteindelik gevind het na wie hy gesoek het.
Next →
← Previous